Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 3/8 bl. 26-27
  • Namibië se mobiele beeldhouwerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Namibië se mobiele beeldhouwerk
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ander kunstenaars aan die werk
  • ’n Temperamentele kunstenaar
  • Die wonder van sand
    Ontwaak!—2003
  • Pole se uitsonderlike kusduine
    Ontwaak!—2004
  • ’n Kykie na die sku woestynkat
    Ontwaak!—2013
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 3/8 bl. 26-27

Namibië se mobiele beeldhouwerk

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

DIE kunstenaar se styl verander voortdurend, en tog is die effek aangenaam. Die medium is sand. Die kunstenaar? Die wind, wat die mobiele sandduine in kenmerkende vorms verander. Die halfmaanvorm is moontlik die bekendste. Die sy van die “beeldhouwerk” waarteen die wind waai, het ’n geleidelike skuinste. Die skuinste aan die lykant is steiler en korter. Die borand van die duin lyk vlymskerp, hoewel hierdie vorm maklik deur ’n lomp stewel verander kan word.

Die Namib-woestyn in suidwestelike Afrika is ’n goeie plek om hierdie mobiele beeldhouwerk te sien. Hier is van die hoogste duine in die wêreld, wat tot meer as 400 meter hoog is. Die oppervlakte van die Namib is egter kleiner as dié van die wêreld se groot woestyne. Dit strek vanaf die Atlantiese Oseaan hoogstens 160 kilometer die binneland in en is 1 900 kilometer lank.

Ander kunstenaars aan die werk

Die wind is nie die enigste kunstenaar wat in hierdie afgeleë ‘kunsgalery’ werk nie. ’n Nadere ondersoek van die duine toon die kenmerkende ontwerpe van ander kunstenaars. Jy sien byvoorbeeld dalk iets wat soos ’n lang, fyn kettinkie lyk wat sommer so in die verbygaan oor die sand gegooi is. As jy lank genoeg wag, sien jy dalk selfs die kunstenaar aan die werk. Die “kettinkie” word gemaak deur die voetspore van kewers wanneer hulle snags oor die sand loop. Nie ver van die “kettinkie” af nie, is ’n simmetriese ry wat na piepklein gaatjies in die sand lyk. Dit is ook voetspoortjies wat deur ’n rondeoorklaasneus agtergelaat is terwyl hy na sy bestemming spring. Skielik besef jy dat hierdie afgeleë, oënskynlik onvrugbare kunsgalery van die lewe wemel.

In die noorde, langs die Seekus van die Dood, kan jy die werk van ander woestynkunstenaars sien. Hulle werk rof met die sand, en die eindproduk is nogal ontsierend. Oppas! Hier kom hulle oor die duin aan. Een ding is seker, hulle geniet hulle skeppingswerk. Hierdie groot diere hardloop met verbasende spoed teen die duin af en sprei sand in alle rigtings. Aangesien hulle nie net wil hardloop nie, gly hulle ook, terwyl hulle hulle agterpote sleep en slote in die sand laat. Hulle storm na ’n nabygeleë watergat, spring in en baljaar soos vrolike kinders. Hierdie kunstenaars, Afrika-olifante, weeg elkeen omtrent ses ton!

’n Ander eksentrieke kunstenaar met ’n eienaardige spoor, hoewel nie so rof nie, is die Namibwoestyn-adder. Sy grafiese ontwerp op die sand lyk soos ’n reeks krom stokkies. Die slang los hierdie spoor agter terwyl hy op ’n snaakse manier sydelings voortbeweeg. Skielik hou die spore op, en die adder is nêrens in sig nie. Waarheen het hy gegaan? As jy baie mooi kyk, sien jy dalk twee skrefiesoë wat in die sand na jou loer. Die res van die slang is geheel en al onder die sand begrawe. Omdat hy dus gekamoefleer is, wag hy geduldig vir ’n ete—gewoonlik ’n verbygaande akkedis.

Een ontwerp op die sand is miskien nie so esteties bevredigend nie. Breë wielspore is sigbaar, wat agtergelaat is deur driewielmotorfietse wat spesiaal ontwerp is om hierdie terrein te trotseer. Die mens het ook sy merk gelaat.

’n Temperamentele kunstenaar

Baie ander, te veel om op te noem, laat hulle merk op hierdie sand. Dit sluit renosters in, asook leeus, kameelperde en rooijakkalse, wat by die Seekus van die Dood se wildtuin en elders gesien kan word.

Maar die wind is die vernaamste kunstenaar. Dit bepaal die algemene voorkoms van die galery en rangskik die vorms na willekeur. Dit bring voortdurend veranderinge aan. As jy oor ’n jaar na hierdie galery toe terugkeer, sal jy opmerk dat party van die duine in jou afwesigheid tot 30 meter geskuif is! Dit is wat Namibië se winde kan doen.

[Kaart op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

NAMIBIË

[Prent op bladsy 26]

Rondeoorklaasneus

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Des en Jen Bartlett

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel