Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g03 5/8 bl. 16-19
  • Die wonder van sand

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die wonder van sand
  • Ontwaak!—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van rots tot sand
  • Klein korreltjies, groot voordele
  • Sand voor jou oë
  • Sand wat beweeg
  • Ryk aan lewe
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • ’n Kykie na die sku woestynkat
    Ontwaak!—2013
  • Loop op sand—na beter gesondheid
    Ontwaak!—1995
  • Namibië se mobiele beeldhouwerk
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2003
g03 5/8 bl. 16-19

Die wonder van sand

Sand in jou oë maak seer, maar hoe aangenaam is dit tog onder jou voete! Groot hoeveelhede daarvan word in seewater aangetref, maar dit is ook volop in verskroeide woestyne. Hordes diertjies vlug wanneer dit in hulle habitat indring, maar vir ander is dit hulle tuiste. Dit word dikwels as ’n irritasie beskou, maar daarsonder sou die moderne lewe feitlik onmoontlik wees.

Uit die beskrywing hierbo lyk dit of sand ietwat van ’n paradoks is. Maar wat is sand presies, en waar kom dit vandaan?

Van rots tot sand

Sand bestaan uit deeltjies minerale, klip of grond, met kwarts as die algemeenste bestanddeel daarvan. Bergspitse wat vroeër rotsvas gestaan het, het verweer en sand geword. Hoe vind sulke verwering plaas?

Sand is dikwels die produk van oseaankragte. Golwe breek teen kranse aan die kus, wat stukke rots losmaak en laat afbreek. Enorme rotsblokke swig voor die genadelose aanslag, breek in stukke af en val in die skuimende branders. Die malende see skuur die skerp punte af, en rolblokke word gevorm. Voortdurende beweging laat dit geleidelik tot spoelklippe afslyt, en dit word gemaal totdat dit nog kleiner deeltjies, sand, word. Partykeer dra die see die sand weg, maar op baie plekke spoel golwe die sand weer op die land uit, wat pragtige wit strande vorm.

Wanneer koue weer met oseaankragte saamspan, vries water wat in rotse vasgevang is en vorm dit yswigte wat die klippe oopsplits. Hierdie voortgesette verbrokkeling laat groot rotse in al hoe kleiner stukke opbreek, wat uiteindelik sand word.

Die wind speel ook ’n rol deur sandkorrels op te lig en teen groot rotse vas te waai. Dit laat nog sand vorm. Rotslae wat honderde meters dik is, word deur hierdie natuurlike vorm van sandblasery weggewerk. Intussen verstrooi die wind die sand wat so gevorm is, en word dit soos ’n tapyt oor die woestynvloer uitgesprei.

Deur die millenniums heen het hierdie verweringsprosesse ontelbare tonne sand opgelewer. Baie mense sou tevrede gewees het as dit maar net ’n gemaklike lêplek op die strand voorsien het. Maar soos ons sal sien, is die nut van sand nie net tot die strand beperk nie.

Klein korreltjies, groot voordele

Ons is in groot mate afhanklik van sand vir wat ons eet en drink. Hoe so? Alles wat ons eet, kom op die een of ander manier van die aarde se plante af. Sand sowel as slik en klei, wat uit fyner deeltjies bestaan, voorsien die minerale wat plante nodig het. Daarbenewens laat sand in die grond lug en water toe om te sirkuleer. Gevolglik kan plantwortels voedingstowwe maklik absorbeer. Maar hoe help sand om ons dors te les?

As jy ’n literhouer met droë sand vul, kan jy 300 milliliter water in daardie selfde houer gooi sonder dat dit oorloop. Dit is omdat sand poreus is—met ander woorde, daar is baie ruimte tussen die korrels. Trouens, daar is “waterhouers” wat uit sand bestaan en groot genoeg is om groot stede van die lewegewende vloeistof te voorsien. Waarvan praat ons?

Geologiese formasies wat waterdraers genoem word, lê onder groot dele van die aarde se oppervlak. Dit bestaan uit uitgestrekte lae sand en ander poreuse minerale en bevat water wat moontlik al duisende jare lank afwaarts sypel. Wetenskaplikes bereken dat hierdie onsigbare “waterhouers” 40 keer meer vars water bevat as al die mere en riviere op die aarde. Die kosbare vloeistof in die waterdraers, wat die lewe van miljoene onderhou, word deur middel van boorgate na die oppervlak gebring.

Sand voor jou oë

Jy loop moontlik elke dag op sand sonder om ooit strand toe te gaan. Is die strate of sypaadjies in jou tuisdorp met sementstene geplavei? In party gevalle maak sand ’n kwart van hierdie algemene boumateriaal uit. Honderdmiljoene tonne sand word elke jaar as boumateriaal gebruik, sodat daar in party plekke ’n tekort aan sand ontstaan het.

Hoewel sand gewoonlik onder jou voete is, is dit dalk in ’n ander vorm reg voor jou oë. Jou rekenaarskerm is waarskynlik van sand gemaak, en so ook die lense van teleskope en mikroskope. Dieselfde geld vir kristalvase en jou badkamerspieël. Hierdie voorwerpe is alles van glas gemaak, en sand maak meer as die helfte van die grondstof uit wat in die vervaardiging van glas gebruik word. Hoe word sand gebruik om glas te maak?

Sand en ander bestanddele word gemeng en dan by temperature van meer as 1 400 grade Celsius gesmelt. Die taai vloeistof wat dit voortbring, kan in feitlik enige vorm gerol, geblaas, gebuig, getrek en gespin word. Lap kan selfs van glasvesels geweef word. Maar of dit nou as versiering of in die nywerheid gebruik word, of dit nou lig breek of terugkaats, gladde, deurskynende glas kom van die ondeursigtige sandkorrel.

Sand wat beweeg

Stel jou ’n 75 meter hoë heuwel voor wat beweeg. Dít gebeur wanneer sandheuwels, oftewel duine, deur die wind verskuif word en sodoende migreer. In party dele van die Sahara lyk dit of die duine se golwende riwwe eindeloos uitstrek.

Wanneer mense naby duine woon, kan hierdie sandheuwels ’n onwelkome besoek by hulle kom aflê. Trouens, sand wat beweeg, het al hoofweë versper, huise verswelg en hele dorpe begrawe.

Ryk aan lewe

Hoewel sand leweloos lyk, is dit ’n tuiste vir baie diere. Jakkalse, slange en skerpioene skuil gedurende die dag onder die woestynsand. Hulle slaap terwyl dit warm is en kom snags uit om te jag. Langs Namibië se Seekus van die Dood swerf olifante op die uitgestrekte duine rond. Dit lyk of hulle speel wanneer hulle op hulle pens teen die steil sandduine afgly. Die “skip van die woestyn”, die kameel, deurkruis die sandseë van Asië en Afrika.

Party diere kom uit die see om van die sand gebruik te maak. Wanneer hulle biologiese horlosies die teken gee, swem koningkrappe, seeskilpaaie en koringaarvisse saam met die branders strand toe. Hulle lê hulle eiers in die sagte sand, waar dit uitbroei.

Party blomme aard net so goed op ’n duin as in ’n bedding. Seemostertplante, strand-ertjies en strandtrompettertjies floreer in sand en stoot hulle koppe weer uit selfs wanneer ’n duin hulle begrawe. Hulle lang wortels neem water en voedingstowwe op om delikate bloeisels te voed—spatsels kleur teen die vaal agtergrond.

Sand irriteer ’n mens moontlik as jy dit in jou skoene kry wanneer jy op die strand loop. Maar moenie ontsteld raak daaroor nie. Onthou dat ons van daardie nederige sandkorreltjies afhanklik is! Sand is nog ’n bewys van die wysheid van die Skepper, Jehovah God.—Psalm 104:24.

[Venster/Prente op bladsy 18, 19]

Fassinasie met sand

Sand kom in verskeie kleure voor. In verskillende lande kan ’n mens sand vind wat pikswart, sneeuwit, pers, grys, rooi, oranje, geel en baie skakerings tussenin is. Party soorte sluit vergruisde skulpe in. Die verskeidenheid kleure en teksture van sand fassineer party mense soveel dat hulle dit versamel. Om nuwe byvoegings tot hulle versameling te kry, is baie bereid om geld te betaal, ver te reis en sommer enige plek af te buk om sand in klein glasbotteltjies te versamel. Hulle noem hulleself arenofiele, wat “liefhebbers van sand” beteken.

[Erkenning]

Courtesy Serge tkint

[Prent op bladsy 16, 17]

Die Namib-woestyn, Namibië

[Prente op bladsy 16]

Brekende branders, kragtige golwe en die wind is van die kragte wat sand maak deur rots op te breek

[Prente op bladsy 17]

Sand is die tuiste van insekte, blomme, jakkalse en kamele

[Erkenning]

Jakkalse: Hai-Bar, Yotvata, Israel

[Prente op bladsy 18]

Sand is ’n noodsaaklike bestanddeel van glas en beton

[Erkenning]

Glasmakers: Provided by The Corning Museum of Glass

[Prente op bladsy 18]

Sandduine kan baie hoog wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel