Die werklikheid van moderne oorlogvoering
DIE vlugtelingkamp is inderhaas opgerig om na die 1 548 vlugtelinge om te sien wat skielik van ’n aangrensende Afrikaland opgedaag het. Blou en kakie tente het in ’n modderige oopte in ’n palmbos gestaan. Daar was geen elektrisiteit of beddegoed nie, en daar was geen waterkrane of toilette nie. Dit het gereën. Die vlugtelinge het stokke gebruik om klein slote te grawe sodat die water nie die tente oorstroom nie. Twee internasionale noodlenigingsagentskappe het alles in hulle vermoë gedoen om lewenstoestande te verbeter.
Vroeër het die vlugtelinge die geleentheid aangegryp om aan boord van ’n ou vragvliegtuig te gaan om van die burgeroorlog te vlug wat hulle land al jare lank teister. Die oorlog is nie gevoer met rye tenks of met groot bomwerpers nie. Dit het begin toe ongeveer 150 soldate gewapen met aanvalsgewere in die land ingekom het. Gedurende die daaropvolgende jare het die soldate dorpie na dorpie ingeneem, heffings van burgerlikes geëis, nog soldate gewerf en enigiemand wat in hulle pad gestaan het, doodgemaak. Uiteindelik het hulle die hele land verower.
Een van die vlugtelinge in die kamp was ’n jong vrou met die naam Esther. “Die slegste ondervinding van my lewe was toe ek my man in hierdie oorlog verloor het”, het sy gesê. “Hulle het hom geskiet. Daar is soveel vrees. Jy hoor iemand skreeu, en jy dink iemand kom om jou dood te maak. Wanneer jy iemand met ’n geweer sien, dink jy hy gaan jou doodmaak. Ek was nooit gerus nie. Dit is net hier waar ek snags kan slaap. By die huis kon ek nie slaap nie. Hier slaap ek soos ’n baba.”
“Selfs in hierdie nat tente?” het ’n Ontwaak!-medewerker gevra.
Esther het gelag. “Selfs as ek in hierdie modder moet slaap, sal ek beter slaap as waar ek vandaan kom.”
Ambrose, wat tien jaar oud is, het die grootste deel van sy lewe saam met sy gesin uit oorlogsones gevlug. “Ek wil graag vrede sien en teruggaan skool toe”, het hy gesê. “Ek word groot.”
Kpana, wat nege jaar oud is, het pragtige bruin oë. Toe sy gevra is wat haar eerste herinneringe is, het sy sonder om te huiwer, geantwoord: “Oorlog! Gevegte!”
Die soort oorlog waarvan hierdie mense gevlug het, is iets algemeens in onlangse jare. Volgens een bron is 46 van die 49 groot oorloë sedert 1990 uitsluitlik met ligte wapens gevoer. Anders as ’n swaard of ’n spies, wat vaardigheid en krag vereis om doeltreffend in ’n geveg gebruik te word, het kleingewere dit vir professionele soldate sowel as amateurs moontlik gemaak om in oorloë te veg.a Dikwels word tieners en kinders gewerf en gedwing om te plunder, te vermink en dood te maak.
Baie van hierdie oorloë is nie tussen lande nie, maar in lande. Dit word in die meeste gevalle deur burgerlikes in stede en dorpies gevoer, en nie deur opgeleide soldate op ’n slagveld nie. Omdat baie van die gevegte gevoer word deur persone wat geen militêre opleiding ontvang het nie, is daar min gewetenswroegings oor die verbreking van tradisionele oorlogsreëls. Gevolglik is wrede aanvalle op ongewapende mans, vroue en kinders algemeen. Blykbaar is meer as 90 persent van diegene wat vandag in oorloë doodgemaak word burgerlikes. In sulke oorloë speel kleingewere en ligte wapens ’n groot rol.
Vuurwapens is natuurlik nie regstreeks vir konflikte verantwoordelik nie—lank voor buskruit uitgevind is, het mense al geveg. Maar groot voorrade vuurwapens moedig gevegte aan, nie onderhandelings nie. Wapens kan baie keer oorloë langer laat aanhou en die bloedbad vergroot.
Hoewel die wapens wat in vandag se oorloë gebruik word lig is, het mense beslis nie lig daarvan afgekom nie. Gedurende die 1990’s het sulke wapens meer as viermiljoen mense doodgemaak. Meer as 40 miljoen ander het of vlugtelinge geword of is uit hulle land verdryf. Kleingewere het polities, maatskaplik, ekonomies en wat die omgewing betref ’n verlammende uitwerking op oorloggeteisterde gemeenskappe gehad. Die koste vir die internasionale gemeenskap weens noodleniging, vlugtelingsorg, vredesbewaring en militêre ingryping beloop miljarde rande.
Waarom speel kleingewere so ’n groot rol in moderne konflikte? Waar kom hulle vandaan? Wat kan gedoen word om hulle dodelike uitwerking te beperk of heeltemal uit die weg te ruim? Ons sal hierdie vrae in die volgende artikels bespreek.
[Voetnoot]
a Die term “kleingewere” verwys na gewere en handgewere—wapens wat deur een persoon vasgehou kan word; die uitdrukking “ligte wapens” sluit masjiengewere, mortiere en granaatwerpers in, wat soms deur twee persone hanteer moet word.
[Foto-erkenning op bladsy 3]
UN PHOTO 186797/J. Isaac