Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 1/1 bl. 2-4
  • Oorlog het ’n ander vorm aangeneem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oorlog het ’n ander vorm aangeneem
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is die oorsake?
  • Die werklikheid van moderne oorlogvoering
    Ontwaak!—2001
  • Oorlog samel ’n jong oes in
    Ontwaak!—1997
  • Wanneer sal mense ophou veg? – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
  • Oorloë eis nou ander slagoffers
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 1/1 bl. 2-4

Oorlog het ’n ander vorm aangeneem

OORLOG was nog altyd wreed. Dit het nog altyd die lewe van soldate verwoes en het nog altyd lyding vir burgerlikes meegebring. Maar in onlangse jare het oorlog ’n ander vorm aangeneem. Hoe so?

Vandag se oorloë is hoofsaaklik burgeroorloë​—oorloë tussen vyandige groepe burgers van dieselfde land. En burgeroorloë duur dikwels langer, is traumatieser vir die bevolking en rig groter verwoesting aan in lande as oorloë wat tussen nasies geveg word. “Burgeroorloë is wrede, bloedige konflikte wat duisende sterftes, seksuele aanrandings, gedwonge ballingskap en, in die uiterste gevalle, volksmoord tot gevolg het”, sê die Spaanse geskiedkundige Julián Casanova. Ja, wanneer burgers van dieselfde land gruweldade teen mekaar pleeg, kan dit eeue neem voordat die wonde genees.

Sedert die einde van die Koue Oorlog is betreklik min oorloë tussen die leërs van verskillende lande geveg. “Van al die groot gewapende konflikte wat vir 1990-2000 opgeteken is, was net drie nie intern nie”, berig Stockholm se Internasionale Vredesnavorsingsinstituut (SIPRI).

Dit lyk miskien of interne konflikte nie so ’n groot bedreiging inhou nie en dit word dalk grotendeels deur die internasionale media geïgnoreer, maar die pyn en verwoesting wat deur sulke vyandelikhede veroorsaak word, is nietemin vernietigend. Miljoene mense het al in interne konflikte gesterf. Trouens, gedurende die laaste twee dekades het bykans vyfmiljoen mense hulle lewe verloor in net drie oorloggeteisterde lande—Afganistan, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Soedan. In die Balkan het byna 250 000 mense hulle lewe weens hewige etniese gevegte verloor, en voortdurende guerrillaoorlogvoering in Colombia het 100 000 lewens geëis.

Die wreedheid van burgeroorlog kan die duidelikste gesien word in die uitwerking wat dit op kinders het. Volgens die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge het meer as tweemiljoen kinders hulle lewe gedurende die laaste dekade in burgerlike konflikte verloor. ’n Verdere sesmiljoen is gewond. ’n Toenemende aantal kinders is gedwing om soldate te word. Een kindersoldaat sê: “Hulle het my opgelei. Hulle het my ’n geweer gegee. Ek het dwelms gebruik. Ek het burgerlikes doodgemaak. Baie van hulle. Dit was oorlog . . . Ek het maar net bevele gehoorsaam. Ek het geweet dat dit verkeerd is. Dis nie wat ek wou hê nie.”

In lande waar burgeroorlog al deel van die lewe is, word baie kinders groot sonder om ooit te weet wat vrede is. Hulle lewe in ’n wêreld waar skole verwoes is en waar samesprekings deur geweerlope gevoer word. Die 14-jarige Dunja sê: “Soveel mense is doodgemaak . . . ’n Mens kan nie meer die voëltjies hoor sing nie, jy hoor net hoe kinders huil oor ’n ma of pa, ’n broer of suster wat hulle verloor het.”

Wat is die oorsake?

Wat blaas die vure van sulke wrede burgeroorloë aan? Etniese en stamhaat, godsdiensverskille, ongeregtigheid en politieke onrus is alles vername faktore. Nog ’n grondoorsaak is gierigheid—gierigheid wat mag en geld betref. Politieke leiers word dikwels deur gierigheid beweeg om die haat aan te blaas wat die gevegte laat voortduur. ’n Verslag wat deur SIPRI gepubliseer is, sê dat baie wat aan gewapende konflikte deelneem, “dit vir eie gewin doen”. Die verslag voeg by: “Gierigheid kom op baie maniere na vore, van grootskaalse handel in diamante deur militêre en politieke leiers tot plundering van dorpies deur jeugdiges met wapens.”

Die feit dat goedkoop dog dodelike wapens geredelik beskikbaar is, dra by tot die slagting. Ongeveer 500 000 sterftes per jaar—hoofsaaklik vroue en kinders—word toegeskryf aan sogenaamde kleingewere. In een Afrikaland kan ’n AK47-aanvalsgeweer gekoop word vir dieselfde prys as ’n hoender. Ongelukkig raak gewere op party plekke al amper so volop soos hoenders. Oor die hele wêreld is daar nou na raming 500 miljoen kleingewere en ligte wapens—1 vir elke 12 mense wat lewe.

Sal bittere burgerlike konflikte kenmerkend van die 21ste eeu word? Kan burgeroorloë beheer word? Sal mense uiteindelik ’n einde maak aan die bloedvergieting? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Venster op bladsy 4]

Die tragiese gevolge van burgeroorloë

In wrede burgeroorloë waar hipertegnologiese wapens nie ’n groot rol speel nie, is 90 persent van die slagoffers burgerlikes en nie soldate nie. “Dit is duidelik dat kinders al hoe meer die teikens van gewapende konflik word, en nie die toevallige slagoffers nie”, sê Graça Machel, die Sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies se Deskundige oor die Impak van Gewapende Konflikte op Kinders.

Verkragting het ’n militêre taktiek geword. In party oorloggeteisterde gebiede verkrag die invallers feitlik elke tienermeisie in die dorpies wat hulle binneval. Die doel van hierdie verkragters is om paniek te saai of familiebande te verbreek.

Hongersnood en siekte volg kort op die hakke van oorlog. ’n Burgeroorlog beteken dat min gewasse geplant en geoes sal word, min indien enige mediese dienste beskikbaar sal wees en min internasionale bystand die behoeftiges sal bereik. Een studie van ’n burgeroorlog in Afrika het aan die lig gebring dat 20 persent van die sterftes weens siekte was en 78 persent weens honger. Net 2 persent het direk as gevolg van die gevegte gesterf.

Gemiddeld elke 22 minute verloor iemand ’n ledemaat of sy lewe deur ’n landmyn af te trap. Na raming lê 60 miljoen tot 70 miljoen landmyne in meer as 60 lande versprei.

Mense word gedwing om uit hulle huise te vlug. Oor die hele wêreld is daar nou 50 miljoen vlugtelinge en ontworteldes—die helfte van hulle is kinders.

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD: Seun: Photo by Chris Hondros/Getty Images

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Photo by Chris Hondros/Getty Images

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel