Ons beskou die wêreld
Die verstand beïnvloed die hart
Spanning verhoog die risiko van ’n tweede hartaanval, sê Tufts University Health & Nutrition Letter, en tog “is daar al hoe meer getuienis dat die verstand ook ’n rol in die ontwikkeling van hartsiekte speel”. Onlangse studies toon dat “opvlieënde mense se risiko om ’n hartaanval te kry of aan ’n hartsiekte te sterf bykans drie keer groter is as die van ander” en dat “die gevolge van vyandigheid blykbaar redelik vroeg in die lewe reeds ’n uitwerking het”. Spanning beskadig die hartspier en die bloedvate wat die hart voed en omring. Depressie kan die risiko van ’n hartaanval of ’n ander hartsiekte met meer as 70 persent verhoog. Maar wanneer iemand baie sosiale ondersteuning kry—familie en vriende—kan die gevolge van depressie verminder word, sê die navorsers.
’n Omstrede keuse
In September 2000 het pous Johannes-Paulus II voortgegaan met die heiligverklaring van Pius IX (pous, 1846-78). Die Franse geskiedskrywer René Rémond het in die Katolieke dagblad La Croix gesê dat Pius IX “besluite [geneem] het wat ’n Christelike verstand skok—soos om die teregstelling van Italiaanse patriotte toe te laat wat ter dood veroordeel is omdat hulle sy mag as staatshoof bevraagteken het”. Die koerant Le Monde het hom die “laaste Europese alleenheerser” genoem en het verwys na die onverdraagsaamheid van hierdie pous-koning en veral sy stryd teen “gewetensvryheid, menseregte en die bevryding van die Jode”. Die koerant het bygevoeg dat Pius IX “demokrasie, godsdiensvryheid en skeiding van Kerk en Staat veroordeel het”, asook “vryheid van die pers, denke en assosiasie”. Dit was Pius IX wat in 1869 die eerste Vatikaanse konsilie geopen het, waar die leerstelling van pouslike onfeilbaarheid in sake van geloof en sedes uiteengesit is.
Vlytige tonnelgrawers
Boere in Chili het te kampe met die coruro, ’n klein swart, wollerige knaagdiertjie wat tonnels in die bogrond grawe wat tot 600 meter lank is. Onlangs is ’n deeglike studie van hulle omvattende tonnelstelsel gedoen. Twee dierkundiges, een van die Universiteit van Essen, Duitsland, en haar Chileense kollega, het die tuiste van ’n kolonie van 26 diere heeltemal opgegrawe. In die stoorkamers het hulle 5 000 plantbolle gevind wat vir die droë seisoen weggebêre is. Die tonnelstelsel het ook neste gehad wat met gras en plastieksakke uitgevoer is. Maar ongeag hoe oulik en indrukwekkend hierdie klein swart knaagdiertjies met hulle groot snytande is, boere beskou hulle as ’n verpesting. Beeste kan maklik ’n been breek wanneer hulle op ’n tonnel trap en dit meegee.
Daardie verbasende onkruid—die perdeblom
Die perdeblom “word oral deur golfbaanopsigters en puntenerige grasperkeienaars beskryf as die allergrootste plaag” en as “die onkruid waarvan ’n mens eenvoudig nie ontslae kan raak nie”, sê The News van Mexikostad. Tog is die perdeblom “een van die geneeskragtigste plante ter wêreld” en is dit baie goed vir jou gesondheid en dieet. Die perdeblom is ryk aan vitamien A en kalium en is voedsamer as broccoli of spinasie. Al sy dele is nuttig. Die jong blare kan gebruik word as blaargroente in slaaie of in amper enige resep wat spinasie moet kry; die gedroogde, geroosterde wortels vir ’n drankie soortgelyk aan koffie en die blomme vir wyn. Die perdeblom is in die ou tyd gebruik as ’n lewertonikum en -reiniger, as ’n bloedsuiweraar en -bouer en as ’n sagwerkende urineermiddel. Die perdeblom is “een van die ses belangrikste kruie in die Chinese medisynekas”, sê The News. En mense wat ’n grasperk het of by ’n weiveld kan uitkom, kan perdeblom verniet kry.
Ys in die Andes smelt
In die laaste 67 jaar het die voorpunt van party gletsers in die Andesgebergte van Peru tussen 850 en 1 500 meter teruggeskuif, berig die koerant El Comercio van Lima. Volgens studies deur die Franse gletserkenner Antoine Erout het die smeltende ys in net meer as 20 jaar oor die 70 nuwe mere gevorm—waarvan ’n groot aantal waarskynlik sal oorloop en hulle walle sal breek. Die verlies van gletserys en sneeu het beteken dat daar minder varswater is vir plase, besproeiingsprojekte en hidro-elektriese kragsentrales. Hierdie watervoorraad is ook die hoofbron van drinkwater vir drie Latyns-Amerikaanse hoofstede: Lima, Peru; Quito, Ecuador, en La Paz, Bolivia. “Kan jy jou indink wat sal gebeur as daardie sneeu- en ysneerslae verdwyn?” vra El Comercio. Erout meen dat een van die hoofoorsake van hierdie probleem die klimaatsveranderinge kan wees wat met die El Nino-verskynsel verbind word.
“‘Skielike rykdom’-sindroom”
“Die aantal miljoenêrs in die Verenigde State en Kanada het sedert 1997 met amper 40% toegeneem tot 2,5 miljoen”, sê die Kanadese koerant National Post. Die koerant het ook opgemerk dat die hipertegnologiese wêreld talle jongmense baie ryk maak. Maar volgens ’n sielkundige, dr. Stephen Goldbart, kan party nie hulle skielike rykdom verwerk nie. “Dit kan hulle lewe verwoes, hulle gesin uitmekaar skeur en hulle op ’n weg van vernietigende gedrag lei. Geld bring nie altyd vrede en voldoening nie”, het Goldbart gesê. Volgens party sielkundiges het die hipertegnologiese wêreld “’n nuwe siekte—‘skielike rykdom’-sindroom” geskep, met ernstige depressie, paniekaanvalle en slaaploosheid as simptome. Volgens die Post “voel party pas rykes skuldig omdat hulle soveel geld het en voel hulle dat hulle nie daarop geregtig is nie of dat hulle dit nie verdien nie”. Ander raak paranoïes en vrees dat hulle uitgebuit sal word. Dr. Goldbart stel voor dat ongelukkige rykes by die gemeenskap betrokke raak en nie net tjeks vir liefdadigheidsorganisasies uitskryf nie.
Die oormatige gebruik van antibiotika
“Niemand gee gehoor aan die herhaalde waarskuwings deur gesondheidsbeamptes oor die oormatige gebruik van antibiotika nie”, sê die tydskrif New Scientist. “’n Opname onder 10 000 mense in nege state in die VSA het getoon dat 32 persent van hulle nog steeds glo dat antibiotika ’n verkoue kan genees, 27 persent dink dat dit sal keer dat ’n mens ernstiger siektes kry as jy antibiotika gebruik wanneer jy ’n verkoue het en 48 persent verwag ’n voorskrif vir antibiotika wanneer hulle weens verkouesimptome dokter toe gaan.” Maar antibiotika werk nie vir virus-infeksies, soos verkoues, nie. Dit werk net vir bakteriële infeksies. Die oormatige gebruik van antibiotika word beskou as ’n belangrike oorsaak van siektes wat teen antibiotika bestand is. (Sien die Ontwaak! van 22 Desember 1998, bladsy 28.) Brian Spratt van die Universiteit van Oxford sê: “Ons moet ’n beter manier vind om die regte boodskap oor te dra.”
Die merkwaardige ysgogga
“Een van die eerste foto’s van ’n seldsame en sku ‘ysgogga’ wat in die Rotsgebergte en dele van Rusland gevind word, gaan in die nuut saamgestelde Handbook of Insects verskyn”, berig The Sunday Telegraph van Londen. Hierdie noordelike rotsbesie leef hoog bo seespieël van dooie prooi of insekdele wat deur die wind rondgewaai word. Die insek is ligbruin en geel, met lang voelers, maar sonder vlerke, en sy kleintjies lyk amper soos onvolwasse oorkruipers. Hy is tot drie sentimeter lank en is deel van ’n insekorde wat minder as 100 jaar gelede ontdek is. “Hy is so goed aangepas by sy yskoue omgewing dat hy van hittesteek sal sterf as ’n mens hom in jou hand vashou”, verduidelik die koerant. Dr. George McGavin van die Universiteit van Oxford se Museum van Natuurgeskiedenis, die skrywer van die handboek, sê dat skaars ’n vyfde van die wêreld se insekte al geïdentifiseer is.
Waarom is daar kafeïen in koeldrank?
“As kafeïen nie die smaak van koeldrank verbeter nie, wat doen dit dan?” vra die tydskrif New Scientist. “Wetenskaplikes by die Johns Hopkins-universiteit in Baltimore het gevind dat net 2 uit 25 volwasse koladrinkers die verskil kon proe tussen koeldrank met kafeïen en die kafeïenvrye soort.” Tog het 70 persent van die 15 miljard blikkies gaskoeldrank wat in 1998 deur Amerikaners gedrink is, kafeïen bevat. In ’n vroeëre studie het die psigofarmakoloog Roland Griffiths en sy kollegas “bewyse van onttrekkingsimptome gevind in kinders wat nie hulle gewone hoeveelheid koeldrank met kafeïen gekry het nie”. Griffiths sê: “Hulle voeg ’n matig verslawende middel by, wat sekerlik daartoe bydra dat mense baie meer koeldrank met kafeïen drink as die kafeïenvrye soort.”