Ek verheerlik vrede pleks van oorlog
SOOS VERTEL DEUR DOROTHY HORLE
In 1919 is ek in ’n Italiaanse Katolieke gesin gebore in Wilmington, Delaware, VSA. My ouers het nooit kerkdienste bygewoon nie, maar hulle het my en my twee susters gestuur. Ek was beïndruk deur die indrukwekkende kerke met hulle mooi argitektuur, beelde en plegtighede.
MET verloop van jare het ek belangstelling in Katolisisme verloor. Die Bybel, wat my pa hooggeag en gereeld gelees het, is nie deur die kerk benadruk nie. Ek was ontsteld oor kerknuusbriewe waarin die name van skenkers en die bedrae wat hulle gegee het, verskyn het. Daar was ook baie gerugte oor eiesinnige priesters. Teen die tyd dat ek 15 was, was ek nie meer ’n belydende Katoliek nie. Dit het my meer tyd gegee om aan my verdere kunsopleiding te wy.
’n Loopbaan in die kunste
In 1940, toe ek 21 jaar oud was, het ek met William Horle getrou, ’n jong man wat dit geniet het om enigiets te teken wat met die weermag verband gehou het—vliegtuie, soldate, gewere, skepe. Bill was bly dat ek ’n kunstenaar was, en hy het vir my my eerste olieverfstel gekoop. Ek het die tegnieke van die ou meesters begin leer.
Nadat ons ongeveer twee jaar getroud was, het Bill met die stokperdjie begin om militêre miniatuurbeeldjies uit lood te maak. Speelgoedsoldaatjies? Geensins nie! Hy wou graag oorspronklike kunswerke skep. Ander vakmanne het met plastiek, hout of gips gewerk, maar lood was ’n geskikte medium omdat Bill as ’n masjienwerker opgelei was.
Hy het gewoonlik ’n beeldjie ontwerp, ’n vorm gemaak en dan die beeldjie in lood gegiet. Mettertyd was hy nogal heel bedrewe daarin om gietvorms aanmekaar te sit, te soldeer, te vyl en te poleer. Hy het later sy vorms van tandheelkundige mengsels gemaak in plaas van gips. Dit het hom in staat gestel om in fyner besonderhede te werk.
Dit was my werk om elke soliede metaalstuk af te rond nadat dit voltooi is. Deur breedvoerige navorsing het ons beskrywings van ou militêre uniforms gekry—selfs van die knope, galonne, rangwapens en kleure.
Met behulp van ’n vergrootglas het ek olieverf aangewend wat vervaardig is om aan metaal te kleef. Dit het gehelp om ons beeldjies lewensgetrou te laat lyk. In ons klein kelder in Philadelphia, Pennsilvanië, is Indiane, soldate van burgeroorloë, Amerikaanse seesoldate, Napoleontiese perde en ruiters, Egiptiese Mammelukke, Algerynse Zouawe en ander gemaak.
Toe het Bill ’n uitnodiging van die Amerikaanse Marinekorps ontvang om ’n afbeelding te maak van die eerste berede seeafdeling in Peking (nou Beijing), China, voor 1939. Ons het onophoudelik daaraan gewerk, en in 1954 het ons dit aan die Smithsonian-instituut in Washington, DC, beskikbaar gestel. ’n Paar jaar later het president Lyndon Johnson gevra of dit na die Wit Huis geneem kon word. Ons het natuurlik ingestem.
Ons het nooit ons beeldjies verkoop nie, maar Bill het honderde weggegee. Ons is gunstig vermeld in baie boeke oor modelsoldate. Ons werk is in 1965 by die Wêreldtentoonstelling in Flushing Meadow, in Queens, New York, ten toon gestel. Museums wou van ons modelle hê. Bruce Catton, ’n Amerikaanse burgeroorloggeskiedkundige, het verskeie van ons dioramas en beeldjies gebruik om sy boeke te illustreer.
Vrae oor die lewe neem toe
Om en by die tyd toe ek 40 geword het, het dinge egter vir my begin verander. Ek het oor God begin wonder. Op ’n Kersdag het vyf Katolieke kinders in ’n huis doodgebrand terwyl hulle ouers in die kerk was. Ek het gedink: ‘Hoe kon God toelaat dat so iets op sy verjaarsdag gebeur?’ Ek het ’n boek gesien wat oor die gruweldade gedurende die Joodse Slagting gehandel het. Hierdie en ander verskriklike gebeure in die wêreld het my laat vra: ‘Waar is God? Hy doen nie wat hy veronderstel is om te doen nie!’
Vanweë my pa se vroeë voorbeeld het ek gevoel dat die antwoord in die Bybel moet wees. Daarom het ek na die Katolieke pastorie naby ons huis in Philadelphia gegaan en ’n afspraak met ’n priester gemaak om oor die Bybel te gesels. Ek het gewag en gewag, maar hy het nie opgedaag nie. Ek het elke week, vier weke lank, na die pastorie gegaan, maar ek het nie een bespreking met die priester gehad nie.
Een aand het ek wanhopig opgekyk na die hemel en gebid: “Ek weet nie wie u is nie. Ek weet nie watter godsdiens met u verband hou nie, maar ek weet dat u daar is. Laat my asseblief toe om u te ken!” Kort daarna het Jehovah se Getuies by my deur aangeklop.
Soms het ek gesien hoe die Getuies hulle motors parkeer, uitklim en na verskillende huise toe gaan. Hoewel ek niks van hulle geweet het of waarom hulle mense besoek het nie, was ek nuuskierig oor hulle werk.
Daardie dag in 1961 toe die Getuies my besoek het, was ek terneergedruk omdat ek nêrens gekom het in my soeke na God nie. Terwyl ek my huis se voordeur skoongemaak het, het ’n middeljarige vrou met die naam Marge Brion met die trappies opgeklim en my gegroet. Ek het aanvanklik nie omgedraai om haar te groet nie. Maar terwyl sy oor die aarde gepraat het wat in ’n pragtige paradys verander gaan word, het ek aandagtig na elke woord geluister. Uiteindelik het sy gevra: “Luister jy na my?”
Ek het alles herhaal wat sy gesê het, insluitende die Bybelteks wat sy uit Jesaja 55:11 aangehaal het. Toe het ek omgedraai, haar aan die arm gegryp en gesê: “Kom binne!” Sy het vir my my eerste Bybel en die Bybelstudiehulp Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys gegee. Sy het ook aangebied om gereeld die Bybel met my te bespreek—die einste soort studie wat ek gehoop het die Katolieke Kerk my sou gee.
Met twee sessies per week het ek vinnig vooruitgang gemaak in my studie van die Bybel. Dit was gou duidelik dat ek die waarheid gevind het. Om God se naam, Jehovah, te leer ken, was vir my ’n baie emosionele ervaring (Psalm 83:18, NW). Dink net—dit was die God wat ek so graag van jongs af wou leer ken! Ek het ook geleer dat sy Seun, Jesus Christus, nie ’n geheimsinnige deel van ’n drie-enige godheid is nie (Johannes 14:28). Kort voor lank het ek die Christelike vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon en met verlange daarna uitgesien om ’n voltydse verkondiger van die Bybel se boodskap te wees.
Ek neem belangrike besluite
Nou het ek voor my grootste toets te staan gekom. Sou ek die kunsspan van William en Dorothy Horle opbreek? Hoe kon ek die God van vrede en sy Seun, die Vredevors, dien terwyl ek oorlog in kuns verheerlik? (Jesaja 9:5). Het Jehovah nie belowe dat hy “oorloë [sal] laat ophou tot by die einde van die aarde” nie? (Psalm 46:10). Waarom moet ek dan iets bevorder wat God gaan beëindig? En het Jesaja nie voorspel dat God se volk “van hul swaarde pikke [sal] smee” en nie meer sal leer om oorlog te voer nie? (Jesaja 2:4). Ek het lank en ernstig hieroor gedink en gebid. “Ek kan hulle nie meer verf nie!” het ek besluit. Op 25 April 1964 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.
Bill het dikwels gesê hoe jammer hy was dat ons eendag deur die dood geskei sou word. Toe ek die Bybel begin studeer het, het ek hom vertel: “Bill, ons kan vir ewig in God se nuwe wêreld lewe!” (Jesaja 25:8; Openbaring 21:4, 5). Hy het gedink ek is mal. Toe ek verduidelik waarom ek nie meer met ’n skoon gewete militêre beeldjies kon verf nie, het hy kwaad geword en gedreig om my te verlaat. Wat hy toe ook later gedoen het.
Bill het daarna baie jare lank op sy eie militêre beeldjies gemaak. Maar hy het nie ver weggetrek nie en het my en my seun, Craig, wat in 1942 gebore is, bly ondersteun. In 1988 het Bill teruggekeer, en ons het tien jaar lank tot sy dood bymekaargebly.
Intussen het ek in 1966 my doelwit verwesenlik om ’n pionier te word. Sedertdien het ek nog nooit teruggekyk nie. Ek het die voorreg gehad om die Bybel met my ouer suster te studeer. Sy het die leringe daarin aanvaar, en vandag is sy nog steeds ’n bedrywige Getuie. My pa het na die Bybel se boodskap geluister en het binne twee weke die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Hy is op die ouderdom van 75 jaar gedoop en het getrou aan God gebly tot sy dood op 81. My ma het Jehovah ook as haar God aanvaar, hoewel sy oorlede is voordat sy haar kon toewy. Sy was byna 94.
Deur die jare heen is ek ryklik geseën deur Jehovah, die God van vrede. Nou op die ouderdom van 81 is ek nog steeds ’n pionier, hoewel ek sukkel om te loop. Ek voel soos die apostel Paulus wat geskryf het: “Ek is dankbaar teenoor Christus Jesus, ons Here, wat my krag gegee het, omdat hy my getrou geag het deur ’n bediening aan my toe te wys” (1 Timoteus 1:12). Wat ’n wonderlike bediening was dit tog nie! Tientalle met wie ek die Bybel gestudeer het, het hulle eie opofferings gemaak om ons barmhartige God te dien.
Ek is regtig jammer dat my hele gesin nie op Bybelwaarhede gereageer het nie. Miskien sal meer mettertyd reageer. Maar in my geval was Jesus se woorde waar dat sy dissipels “nou in hierdie tydperk honderdvoudig [sou] kry: huise en broers en susters en moeders en kinders” (Markus 10:30). Jehovah het my inderdaad ryklik beloon. Wat ’n eer en vreugde is dit tog om roem en oorlog vir God en vrede te verruil!
[Prent op bladsy 22]
Saam met generaal L. C. Shepherd jr. in 1954
[Erkenning]
Defense Dept. photo (Marine Corps)
[Prent op bladsy 23]
(Werklike grootte)
[Prent op bladsy 24]
Op 81 jaar pionier ek al meer as 30 jaar lank