Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jong kinders en skokkende musiek
  • “Sint” Columbus?
  • Vermy skuld
  • Vindingryke herwinning
  • Fetusse leer en het ’n geheue
  • Vroue en hartsiekte
  • Longkanker onder Britse vroue
  • Vars kos sonder ’n yskas
  • Die wêreld verloor twee diererasse per week
  • Wat vroue oor borskanker moet weet
    Ontwaak!—1994
  • Borskanker—Die verwagtinge en die vrese
    Ontwaak!—2011
  • Die sleutels tot oorlewing
    Ontwaak!—1994
  • Die soektog na speserye, goud, bekeerlinge en roem
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Jong kinders en skokkende musiek

Kinders van net sewe of agt jaar word blootgestel aan musiek met vloektaal, seksueel eksplisiete en gewelddadige lirieke, berig die Chicago Tribune. “In die verlede het kinders van kleuterskool- tot laerskoolouderdom hulle eie ‘kindermusiek’ gehad”, maar “vandag se laerskoolkinders luister heel moontlik na dieselfde stasies as hulle ouers of tienderjarige broers en susters”. En hoewel platemaatskappye in die Verenigde State waarskuwings op laserplate met gewelddadige of eksplisiete lirieke moet sit sodat kinders dit nie kan koop nie, kan daar maklik na sulke musiek in luisterhokkies in musiekwinkels geluister word. Diane Levin, ’n spesialis op die gebied van mediakultuur en kinders by Wheelock-kollege in Boston, het gewaarsku: “Ons raak al hoe ongevoeliger namate dinge al hoe erger word.”

“Sint” Columbus?

“Daar word druk op die Vatikaan uitgeoefen om Christophorus Columbus ’n heilige te maak”, berig The Times van Londen. Geleerdes wat die Vatikaan se argief ondersoek, beweer dat dit nie koning Ferdinand en koningin Isabella van Spanje was wat Columbus se seereise gefinansier het nie, maar pous Innocentius VIII wat hom op ’n geheime sending gestuur het om die Kruistogte te finansier en “siele vir die Christelike godsdiens te wen”. ’n Nota wat in 1851 deur pous Pius IX geskryf is, sê gedeeltelik: “Daar sal sonder enige twyfel bewys word dat Columbus sy uitstekende plan op aandrang van en met die hulp van sy apostoliese setel uitgevoer het.” Die volgende pous, Leo XIII, het die ontdekkingsreisiger as “’n man van die Kerk” beskryf. Toe Columbus egter in 1493 na Spanje terugkeer het, is die regte op sy ontdekkings aan die Spaanse troon oorgedra deur pous Aleksander VI van die Spaanse Borgia, wat Innocentius VIII opgevolg het.

Vermy skuld

’n Verbruikerswaghond in die Verenigde Koninkryk het “’n groot veldtog, Moenie dat krediet skuld word nie, van stapel gestuur om mense teen die gevare van te veel skuld te waarsku”, berig Newstream.com. Volgens die Kantoor van Regverdige Handel (KRH) het verbruikerskrediet in die VK die afgelope vier jaar met meer as 60 persent toegeneem. Boonop het die gemiddelde persoon onversekerde skuld van ongeveer R29 000. Die KRH stel voor dat jy die volgende doen voordat jy krediet verkry: “Vra jou eerlik af of jy dit kan bekostig.” Kyk tweedens eers goed rond. Baie mense is op soek na die beste prys wanneer hulle goedere koop, maar aanvaar enige rentekoers wat die handelaar hulle bied. Vergelyk die jaarlikse rentekoers van banke of kredietkaartmaatskappye om te sien of jy krediet teen ’n goedkoper koers kan kry. En derdens, as jy onder ’n skuldlas gebuk gaan, moet jy hulp soek.

Vindingryke herwinning

’n Groep boere het ’n agt kilometer lange waterleiding naby Trujillo, in noordelike Peru, gebou deur weggooibare plastiekbottels te gebruik. Volgens Lima se koerant die El Comercio het 81 boere ’n stuk land in ’n droë gebied gekoop en ’n waterbron gevind, maar hulle kon dit nie bekostig om die nodige pype te koop om die water na hulle land te lei nie. Een van die boere het ’n ander voorstel gehad om die probleem op te los. Hulle het gebruikte plastiekbottels gekoop en 14 dae lank gewerk om albei kante af te sny en 39 000 van die bottels as een aaneenlopende pyp te las. Die waterleiding sal as ’n tydelike watertoevoer dien totdat ’n put gegrawe kan word.

Fetusse leer en het ’n geheue

“Babas leer nie net terwyl hulle in die baarmoeder is nie, maar hulle het ook ’n korttermyngeheue van 10 minute sowel as ’n langtermyngeheue van 24 uur”, berig die nuusdiens Reuters. Nederlandse navorsers by die Universiteitshospitaal in Maastricht het vibrasies en klankgolwe gebruik om “25 fetusse tussen 37 en 40 weke van swangerskap” te stimuleer en “hulle reaksies met ’n ultraklankaftaster waargeneem”. Nadat die eerste toetse gedoen is, is die stimulasies met tussenposes van 10 minute en 24 uur herhaal. “As die baba ’n ledemaat binne een sekonde ná die stimulasie beweeg het, is dit as ’n positiewe reaksie beskou”, sê Reuters, maar “wanneer die baba ná vier opeenvolgende stimuli nie gereageer het nie, het dit aangedui dat die baba die stimulus herken het”. Die wetenskaplikes het gevind dat wanneer die toetse herhaal is, die fetusse aangepas en nie meer op die stimulus gereageer het nie, wat daarop dui dat hulle die stimuli onthou het.

Vroue en hartsiekte

“Hartsiekte word al lank as ’n siekte onder mans beskou, selfs al sterf dieselfde aantal mans en vroue elke jaar daaraan”, berig The Toronto Star. Die koerant sê dat hartsiekte onder vroue dikwels te laat gediagnoseer word. Die simptome van hartsiekte—Noord-Amerika se vernaamste doodsoorsaak—verskil tussen mans en vroue. “Terwyl mans dikwels ernstige borspyn ondervind wat na die nek, rug en skouers kan versprei, is vroue meer geneig om kakebeenpyn, kortasemigheid en naarheid te ondervind”, sê die Star. Simptome kom meestal onder vroue bo 55 jaar voor, wanneer estrogeenvlakke laag is. “Wanneer dit heeltemal verdwyn, haal ons mans baie vinnig in wat hartsiekte betref”, sê dr. Stephanie Brister, ’n hartchirurg by Toronto se Algemene Hospitaal.

Longkanker onder Britse vroue

“Die aantal sterfgevalle weens longkanker het borskanker vir die eerste keer onder Britse vroue verbygesteek, wat dit die dodelikste kanker onder vroue maak”, berig The Daily Telegraph van Londen. Vroue wat nou aan die siekte sterf, is dieselfde persone wat vier dekades gelede begin rook het toe die gewoonte geadverteer is as ’n hulpmiddel om gewig te verloor. Brittanje se Kankernavorsingsinstituut sê dat die aantal sterfgevalle weens borskanker onder vroue die afgelope 20 jaar met 5 persent gedaal het, terwyl sterfgevalle weens longkanker met 36 persent gestyg het. Gedurende dieselfde periode het die aantal mans wat aan longkanker gesterf het, met 31 persent gedaal, wat toon dat minder mans rook. Professor Gordon McVie, direkteur-generaal van die instituut, sê dat “meer jong meisies as seuns met hierdie gewoonte begin”, en dit ondanks waarskuwings.

Vars kos sonder ’n yskas

Dit is moeilik om bederfbare kos koud en vars te hou sonder ’n elektriese yskas. Maar ’n eenvoudige, goedkoop uitvinding word met groot sukses in die halfdorre noordelike Nigerië gebruik. ’n Mens sit een erdepot binne-in ’n ander en vul die spasie tussen die twee potte met nat sand. Kos word in die kleiner pot gesit, en die pot word met ’n klam doek bedek. “Die warm lug om die pot trek vog na die buitekant van die buitenste pot, waar dit dan verdamp”, sê die tydskrif New Scientist. “Hitte beweeg saam met die waterdamp na buite, met die gevolg dat hitte in hierdie proses voortdurend van die binnekant van die pot na die buitekant beweeg, mits die sand en doek klam gehou word.” Wanneer hierdie metode gebruik word, kan tamaties en rissies meer as drie weke en eiervrug byna ’n maand lank vars bly. Die uitvinder van die “pot-binne-’n-pot”-stelsel, Mohammed Bah Abba, sê dat boere nou produkte kan verkoop wanneer daar ’n aanvraag daarvoor is en dat hulle dogters, wat bedags gewoonlik by die huis sou bly om kos te verkoop, nou skool toe kan gaan.

Die wêreld verloor twee diererasse per week

Die wêreld verloor elke week 2 plaasdierrasse, en 1 350 rasse word deur uitwissing bedreig, berig Italië se koerant Corriere della Sera. Navorsers van die VN se Voedsel- en Landbou-Organisasie (VLO) het tien jaar lank 6 500 mak soogdiere en voëls in 170 lande bestudeer. Volgens dr. Keith Hammond, senior amptenaar van die VLO se Dieregenetika-groep, “sal ’n derde van die rasse in die volgende 20 jaar uitsterf as daar nie iets gedoen word nie”. ’n Nuusberig van Reuters vanuit Rome verduidelik dat diere wat van ontwikkelde lande af uitgevoer word, hierdie probleem vererger het. Die ingevoerde diere paar dalk met die plaaslike diere, wat daartoe lei dat plaaslike rasse uitsterf. “Die probleem”, sê dr. Hammond, “is egter dat hierdie diere hoofsaaklik geskik is vir die toestande in die land waar hulle vandaan kom, en hulle vind dit moeilik om in die dikwels geharde omgewing van ontwikkelende lande aan te pas.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel