Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/22 bl. 20-23
  • My ouers het my verlaat, maar God het my lief

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My ouers het my verlaat, maar God het my lief
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Waar is my ma?”
  • Kloosterlewe
  • Ek pas aan by die lewe buite die klooster
  • Uiteindelik geestelike voedsel
  • Toetse van ons geloof
  • Bybelwaarhede bevry ’n non in Bolivia
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Hoe my geestelike dors geles is
    Ontwaak!—2003
  • Eers nonne, maar nou ware geestelike susters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/22 bl. 20-23

My ouers het my verlaat, maar God het my lief

SOOS VERTEL DEUR BERNADETTE FINN

Toe ek nog nie eers vier jaar oud was nie, is ek na ’n klooster geneem, saam met my drie ouer susters. Bridie 12, Phyllis 8 en Annamay 7 onthou hoe ek weke lank onophoudelik geskreeu het om by my ouers te wees. Waarom is ons daar gelos?

EK IS op 28 Mei 1936 vir ouers in ’n groot Katolieke gesin gebore. Ons het saam met ons ouers in ’n klein huis in Duncormick, in die graafskap Wexford, Ierland, gewoon. Ek was die agtste kind en het ’n groot bed met sewe ouer broers en susters gedeel. ’n Broer en suster wat kort daarna gebore is, het in die laaie van ’n spieëlkas geslaap.

Ons vader was ’n hardwerkende plaasarbeider. Hy het baie min geld verdien; gevolglik was daar nie baie kos vir ons gesin nie. Af en toe kon my ma ’n klein middagete vir my ouer broers en susters gee om saam skool toe te neem. Ons situasie was regstreeks beïnvloed deur die algemene armoede regdeur Ierland en deur die wrede oorheersing van die Katolieke Kerk gedurende daardie tyd.

Ons gesin het gereeld kerk toe gegaan, maar my ma het nie baie in geestelike dinge belanggestel nie. My susters onthou egter dat sy voor die vuurherd gesit en geestelike lektuur gelees het. Sy het van die dinge wat sy gelees het vir ons probeer verduidelik.

“Waar is my ma?”

Ek sal die dag toe ek na die klooster geneem is, nooit vergeet nie. My ouers het in die voorportaal gestaan en ernstig met ’n non gepraat, en ek het, salig onbewus van die gesprek, met van die ander dogtertjies begin speel wat daar was. Skielik het ek omgekyk, en tot my ontsteltenis was my ma en pa weg. “Waar is my ma?” het ek hardop geskreeu. Soos ek aan die begin genoem het, het ek weke lank geskreeu.

My drie ouer susters kon my ten minste ’n bietjie troos. Maar aangesien hulle in ’n ander deel van die klooster was, het ek hulle nie baie gesien nie. Omdat hulle twee uur later gaan slaap het as ons jongeres, het ek wakker gebly tot ek hulle bed toe hoor gaan het. Dan het ek stilletjies uit my bed geklim en na die bokant van die trap gegaan sodat my susters vir my kon waai. Ek het elke dag vir daardie kosbare oomblik gelewe.

Die klooster het blykbaar nie daarvan gehou dat die ouers en kinders mekaar sien nie; gevolglik het ons ons ouers selde gesien. Dit was vir my baie moeilik om hierdie vervreemding te hanteer. Trouens, met die enigste besoek van my ouers wat ek kan onthou, het ek nie naby aan hulle gegaan nie, en hulle het nie naby aan my gekom nie. My ouer susters onthou egter ’n paar ander besoeke.

Mettertyd het ek die klooster as my gesin, my huis en my wêreld begin beskou. Gedurende die 12 jaar wat ek daar was, het ek dit net twee keer buite die klooster gewaag. Hierdie uitstappies na die nabygeleë platteland was baie opwindend, aangesien ons bome en diere gesien het. Andersins het ons meisies nooit motors, busse of winkels gesien nie; trouens, ons het selde mans gesien, met die uitsondering van die priester.

Kloosterlewe

Kloosterlewe het baie aspekte gehad—’n paar positief, heelparty negatief. ’n Baie vriendelike jong non het ons na die beste van haar vermoë aangaande God probeer leer. Sy het vir ons gesê dat God ’n liefdevolle vader is. Ek was verheug daaroor, en ek het besluit dat ek van daardie dag af aan God as my vader sou dink omdat hy liefdevoller en goedhartiger as my regte vader is. Van toe af het ek dikwels in eenvoudige, kinderlike gebede met God gepraat. Ek het daardie non gemis toe sy die klooster verlaat het.

Ek het ’n goeie basiese opvoeding ontvang, waarvoor ek dankbaar is. Maar ek onthou die “dagmeisies”, soos ons hulle genoem het, wat voorkeurbehandeling gekry het wanneer hulle vir skoolopleiding na die klooster toe gekom het. Hulle was van welgestelde gesinne, en wanneer hulle gekom het, moes ons die klaskamers verlaat. Die nonne het ons gereeld daaraan herinner dat ons net weeskinders is en dat ons ons plek moet ken.

Daar was baie reëls in die klooster. Van die reëls het sin gemaak, en die meeste van ons kon dus verstaan waarom dit nodig was. Ons is nuttige lesse oor gedrag, maniere, ensovoorts geleer. Ek het dit nooit vergeet nie en het my hele lewe lank daarby baat gevind. Maar party reëls was onbenullig en het onregverdig gelyk, terwyl ander verwarrend en ontstellend was. Volgens een van hierdie reëls is jy gestraf as jy jou bed in die nag natmaak; en volgens ’n ander een is jy gestraf as jy in die nag toilet toe moes gaan.

Terwyl ek eendag met die trap opgegaan het, het ek met die meisie langs my begin praat. ’n Non het my teruggeroep, en ek is gestraf omdat ek gepraat het. Die straf? Ek moes tydens die yskoue Ierse winter net my somerrok dra! Ek was ’n sieklike meisie en het gereeld asma-aanvalle en mangelontsteking gekry. Ek het baie siek geword en tering (TB) gekry, soos baie ander meisies in die klooster. Hoewel ons in ’n aparte slaapsaal geplaas is, het ons geen mediese behandeling ontvang nie, en party is dood, insluitende my beste vriendin.

Party van ons is erg geslaan vir geringe oortredings van die reëls. Gedurende ’n byeenkoms het ons gesien hoe een meisie meer as twee uur lank deur ’n non geslaan word. Ons het almal gehuil. Ek moet in alle eerlikheid sê dat nie al die nonne natuurlik so gemeen was nie. Maar wat tot vandag toe nog vir my ’n raaisel bly, is hoe enigiemand so geweldig wreed teenoor weerlose kinders kan wees. Ek sal dit nooit verstaan nie.

Uiteindelik het Bridie en Phyllis die klooster verlaat en my en Annamay agtergelaat. Ons was vir mekaar die belangrikste mense in die wêreld. Annamay het my getroos met stories oor hoe ons ouers eendag gaan kom en ons van die klooster sal wegneem na ’n plek waar die nonne ons nooit sal vind nie. Toe Annamay die klooster verlaat het, was my hart gebroke. Ek het nog drie jaar daar gebly.

Ek pas aan by die lewe buite die klooster

Dit was vir my ’n angswekkende ondervinding om op 16-jarige ouderdom die klooster te verlaat. Ek het niks geweet van die wêreld buite die kloostermure nie, en dit was werklik verwarrend. Toe ek op ’n bus geklim het, het hulle my vir my busgeld gevra, maar ek het geen benul gehad waarvan hulle praat nie. Omdat ek in elk geval geen geld gehad het nie, moes ek dadelik van die bus afklim en na my bestemming loop. By ’n ander geleentheid wou ek met die bus ry, maar daar was geen bus nie. Ek het nie geweet dat jy na ’n bushalte toe moet gaan nie.

Maar met ’n bietjie bravade en bluffery het ek geleidelik begin verstaan wat van my verwag word. Ek het ’n eenvoudige werk gekry, maar nadat ek ’n paar maande gewerk het, het ek besluit om terug huis toe te gaan om my ma te gaan sien. Daar het ek vir die eerste keer van my jonger broers en susters ontmoet—teen daardie tyd het ek altesaam 14 broers en susters gehad. Aangesien daar nie vir my plek was om by hulle te bly nie, het my ouers gereël dat ek na Wallis toe gaan om by my suster Annamay te gaan woon. My pa het saam met my daarheen gegaan, maar toe onmiddellik vertrek.

Ek het feitlik niks gehad nie, maar op die een of ander manier het ek aan die lewe gebly. Later, in 1953, het ek na Londen, Engeland, getrek, waar ek by die Maria-legioen, ’n lekewelsynsorganisasie van die Rooms-Katolieke Kerk, aangesluit het. Maar om saam met hulle te werk, het my baie teleurgestel, aangesien ek verwag het dat daar ’n mate van geestelikheid sou heers as ’n mens saam met sulke mense werk. Ek het daarvan gehou om oor geestelike dinge te praat, maar my werk by die Maria-legioen was vervelig, en dit het gevoel asof daar nooit enige tyd vir geestelike besprekings was nie.

Terwyl ek in Londen gewoon het, het ek Patrick ontmoet, wat ’n vriend van my broers was. Ons het verlief geraak en is in 1961 getroud. Ons eerste twee kinders, Angela en Stephen, is daar gebore. Later, in 1967, het ons na Australië geïmmigreer, waar ons derde kind, Andrew, gebore is. Ons het ons in die plattelandse dorp Bombala, in Nieu-Suid-Wallis, gevestig.

Uiteindelik geestelike voedsel

Kort ná ons aankoms in Australië het ’n jong man met die naam Bill Lloyd ons in Bombala besoek om met ons oor die Bybel te praat. Ek was so opgewonde om te hoor hoe my antwoorde direk uit die Bybel beantwoord word. Maar hoewel Bill se woorde vir my na die waarheid geklink het, het ek baie met hom gestry, om hom daar te hou en om meer verduidelikings uit die Bybel te hoor. Later het Bill vir my ’n Bybel en tydskrifte gebring om te lees.

Ek het die tydskrifte baie geniet, maar tot my ontsteltenis het ek besef dat die mense wat dit uitgee, nie in die Drie-eenheid glo nie. Ek het dus die tydskrifte weggesteek sodat dit nie Patrick se geloof sou ondermyn as hy dit lees nie. Ek het besluit om dit terug te gee wanneer Bill weer kom, maar tydens sy volgende besoek het hy vir my gewys dat die leerstelling van drie persone wat een Godheid uitmaak, heeltemal in stryd met Bybelleringe is. Dit het gou vir my duidelik geword dat Jesus God se Seun is, dat hy deur sy Vader, Jehovah God, geskep is—derhalwe het hy ’n begin gehad—en dat die Vader groter as Jesus is.—Matteus 16:16; Johannes 14:28; Kolossense 1:15; Openbaring 3:14.

Ek het gou uitgevind dat ander dinge wat ek as ’n Katoliek geleer is, verkeerd is. Byvoorbeeld, die Bybel leer nie dat mense ’n onsterflike siel het of dat daar ’n brandende hel van foltering is nie (Prediker 9:5, 10; Esegiël 18:4). Dit was die wonderlikste verligting om dit te leer! Eendag het ek uit pure blydskap in die kombuis rondgedans, omdat ek uiteindelik die Vader gevind het wat ek nog altyd liefgehad maar nooit geken het nie. My geestelike honger kon nou bevredig word. My vreugde is vergroot toe Patrick dieselfde entoesiasme vir hierdie nuutgevonde leringe getoon het.

Bill het ons uitgenooi om ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Temora, ’n ander plattelandse dorp, by te woon. Hoewel dit baie kilometers van ons af was, het ons die uitnodiging met graagte aanvaar en vroeg Vrydagaand in Temora aangekom. Saterdagoggend het groepe by die byeenkomssaal bymekaargekom om aan die huis-tot-huis-bediening deel te neem. Ek en Patrick was opgewonde oor die geleentheid, aangesien ons dit al lankal wou doen. Maar Bill het gesê dat ons nie saam met hulle velddiens sou kon doen nie omdat ons albei nog gerook het. Toe Bill weg was, het ek en Patrick egter by ’n ander groep aangesluit. Hulle het aangeneem dat ons Getuies is en ons dus saamgeneem.

Ons het gou geleer wat die skriftuurlike vereistes is om te kwalifiseer om die goeie nuus te verkondig (Matteus 24:14). Uiteindelik het ons albei opgehou rook, en ek en Patrick het ons toewyding aan Jehovah God in Oktober 1968 deur waterdoop gesimboliseer.

Toetse van ons geloof

Namate ons kennis van die Bybel toegeneem en ons verhouding met Jehovah intiemer geraak het, het ons geloof in God se beloftes al hoe sterker geword. Ná ’n tyd is Patrick as ’n ouer man aangestel in ’n gemeente van Jehovah se Getuies in Canberra, Australië se hoofstad. Ons het ons bes gedoen om ons kinders in die verstandsregulering van Jehovah groot te maak en het te kampe gehad met al die natuurlike uitdagings wat deel daarvan is om tieners groot te maak.—Efesiërs 6:4.

Op die ouderdom van 18 het ons seun Stephen tragies in ’n motorongeluk gesterf. Ten spyte van ons hartseer, was die feit dat Stephen ’n aanbidder van Jehovah geword het ’n ware vertroosting vir ons. Ons sien daarna uit om hom weer te sien wanneer Jehovah diegene in die gedenkgrafte opwek (Johannes 5:28, 29). Die volgende jaar, 1983, het ek by ons dogter, Angela, in die voltydse bediening aangesluit, en ek is tot vandag toe in die voltydse bediening. Om ons Bybelse hoop aan ander bekend te maak, het my gehelp om ’n positiewe lewensbeskouing te behou, en dit het gehelp om die pyn in my hart te verlig. Tot my groot vreugde het ek onlangs uitgevind dat my suster Annamay die Bybel saam met Jehovah se Getuies in Wallis begin studeer het.

In 1984 het Patrick ’n siekte ontwikkel wat destyds na ’n geheimsinnige siekte gelyk het. Later is dit as chroniese moegheidsindroom gediagnoseer. Uiteindelik moes hy ophou werk en het hy gevra om nie meer as ’n Christen- ouer man te dien nie. Gelukkig het hy tot ’n mate herstel, en hy dien nou weer as ’n aangestelde kneg in die gemeente.

My vroeë kinderjare het my dissipline en selfopoffering geleer, asook hoe om ’n eenvoudige lewe te lei en met min dinge tevrede te wees. Dit was egter nog altyd vir my ’n raaisel waarom ons 4 meisies na die klooster geneem is, maar die ander 11 kinders by die huis gebly het. Ek troos my met die gedagte dat my ouers, wat jare gelede oorlede is, die beste gedoen het onder omstandighede wat ek seker nooit ten volle sal kan verstaan nie. Dit was swaar tye, waarin moeilike besluite geneem moes word. Ten spyte hiervan is ek dankbaar teenoor my ouers vir die gawe van lewe wat ek van hulle ontvang het en dat hulle na die beste van hulle vermoë vir my gesorg het. Bowenal dank ek Jehovah vir sy vaderlike sorg.

[Prent op bladsy 22]

Toe ons pasgetroudes was

[Prent op bladsy 23]

Toe ons kinders klein was

[Prent op bladsy 23]

Saam met Patrick vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel