Hoe my geestelike dors geles is
SOOS VERTEL DEUR LUCIA MOUSSANETT
TUSSEN die berge in die noordwestelike hoekie van Italië, naby die Switserse Alpe en nie ver van Frankryk se beroemde Mont Blanc nie, lê die streek Valle d’Aosta. Ek is in 1941 hier gebore in die klein gemeenskap van Challant St. Anselme.
Ek is die oudste van vyf kinders en het vier broers. My ma was ’n harde werker en ’n vroom Katoliek. My pa het ook uit ’n godsdienstige gesin gekom. Twee van sy susters was nonne. My ouers het baie materiële opofferings vir my gemaak, wat dit vir my moontlik gemaak het om skool toe te gaan. Omdat daar nie skole in ons klein gemeenskap was nie, het my ouers my na ’n kosskool gestuur wat deur nonne bestuur is, toe ek 11 jaar oud was.
Daar het ek onder andere Latyn en Frans as vak gehad. Toe ek 15 geword het, het ek ernstig begin dink oor hoe om God te dien. Ek het geredeneer dat die beste manier om dit te doen, sou wees om na ’n klooster te gaan. My ouers het egter nie van hierdie idee gehou nie, aangesien my ma vir my broers sou moes sorg. Hulle het gehoop dat my opvoeding tot ’n goeie beroep sou lei sodat ek die gesin finansieel sou kon help.
Hoewel my ouers se reaksie my hartseer gemaak het, wou ek ’n werklike doel in die lewe hê en het ek gevoel dat God die eerste plek moes kry. In 1961 het ek dus na ’n Rooms-Katolieke klooster gegaan.
My lewe as ’n non
Gedurende die eerste maande het ek die standaarde en reëls van die kerk bestudeer en fisiese werk by die klooster gedoen. In Augustus 1961 het ek met my novisiaat, of proeftyd, begin en ook die tradisionele drag van ’n non begin dra. Ek het ook ’n nuwe naam gekies, Ines, my ma se naam. Toe dit aanvaar is, het ek as suster Ines bekend geword.
Hoewel die meeste novises by die klooster gewerk het, het ek genoeg opvoeding gehad om as ’n laerskoolonderwyseres te werk. Twee jaar later, in Augustus 1963, het ek die kloostergelofte afgelê en ’n non geword in die orde van die Susters van San Giuseppe in Aosta, Italië. Later het die klooster my na die Maria Santissima Assunta-universiteit in Rome gestuur om verder te studeer.
Nadat ek my studies in Rome voltooi het, het ek in 1967 na Aosta teruggekeer en by ’n hoërskool begin onderwys gee. In 1976 is ek ’n pos as skoolhoof aangebied. Hoewel ek nog party klasse gegee het, het ek op die skoolbestuur begin dien en ’n lid geword van die streekskoolraad van Valle d’Aosta.
My werklike begeerte was om die armes te help. My hart het na hulle uitgegaan. Ek het dus verskeie maatskaplike programme gereël, insluitende een om terminaal siekes wat geen gesin het nie, by te staan. Ek het ook ’n program op die been gebring om kinders van immigrante te onderrig. Daarbenewens het ek werk en behuising vir die armes gevind en betrokke geraak by die voorsiening van mediese hulp aan behoeftiges. Ek het in ooreenstemming met die kerk se godsdiensbeginsels probeer lewe.
Destyds het ek die Katolieke teologie aanvaar, wat kerkleringe soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en die Katolieke beskouing oor die mens se ewige toekoms ingesluit het. Teen dié tyd het Katolieke teologie ook beskouings soos pluraliteit van geloof toegelaat, wat aanvaarding van en samelewing met ander godsdienste beteken het.
Dinge wat my begin pla het
Daar was nogtans party bedrywighede in die Katolieke Kerk wat my gepla het. Ouers en kinders is byvoorbeeld veronderstel om voor hulle doop en aanneming te leer wat hierdie stappe beteken. Die meeste van hulle het egter nooit klasse bygewoon nie, en ander het hulle nie ingespan om te studeer nie. Verder het party wat nie vir doop en aanneming in een gemeente aanvaar is nie, eenvoudig na ’n ander gemeente gegaan om daar gedoop en aangeneem te word. Dit was vir my oppervlakkig en skynheilig.
Soms het ek gewonder en ander nonne gevra: “Moet ons nie eerder die Evangelie verkondig as om ons aan allerhande ander bedrywighede te wy nie?” Die antwoord wat ek gekry het, was: “Ons verkondig dit deur goeie dade te verrig.”
Daarbenewens het ek dit moeilik gevind om te glo dat ek na ’n priester moes gaan om my sondes te bely. Ek het geredeneer dat ek met God oor sulke persoonlike sake kon praat. Boonop was die idee om gebede te memoriseer en te herhaal vir my swaar om te aanvaar. Dit was ook vir my moeilik om te glo dat die pous onfeilbaar is. Mettertyd het ek geredeneer dat ek my eie siening van sulke sake sou hê en eenvoudig met my godsdienslewe sou voortgaan.
Begeerte na Bybelkennis
Ek het altyd ’n diepe respek vir die Bybel gehad, asook ’n begeerte om dit te ken. Wanneer ek ook al ’n besluit moes neem of die behoefte aan God se ondersteuning gevoel het, het ek die Bybel gelees. Hoewel ons dit nooit in die klooster bestudeer het nie, het ek dit op my eie gelees. Die verslag in Jesaja 43:10-12, waar Jehovah God gesê het: “Julle is my getuies”, het altyd ’n indruk op my gemaak. Ek het destyds egter nie die volle betekenis van daardie woorde verstaan nie.
Terwyl ek in die middel-1960’s na die universiteit in Rome gegaan het, het ek ’n teologiekursus van vier jaar geloop wat deur die Vatikaan geborg is. Maar die Bybel was nie een van die handboeke nie. Nadat ek na Aosta terugkeer het, het ek baie ekumeniese konferensies bygewoon, selfs dié wat deur interkerklike en nie-Katolieke organisasies gereël is. Dit het ’n groter begeerte by my gewek om die Bybel te verstaan. Daar het soveel verwarring bestaan onder groepe wat beweer het dat hulle mense uit dieselfde boek leer!
Ek leer meer oor die Bybel
In 1982 het een van Jehovah se Getuies die sentrum besoek waar ek maatskaplike werk gedoen het en ’n gesprek met my oor die Bybel probeer begin. Hoewel ek baie besig was, het die gedagte om van die Bybel te leer my belangstelling gewek. Ek het dus gesê: “Kom asseblief na my skool toe, en wanneer ek ’n uurtjie vry het, kan ons praat.”
Al het die vrou my besoek, was daar nie ’n “uurtjie vry” in my rooster nie. Toe het my ma uitgevind dat sy kanker het, en daarom het ek uiteindelik verlof geneem om haar te help. Ná haar dood in April 1983 het ek na my werk teruggekeer, maar teen dié tyd het die Getuies met my kontak verloor. Kort hierna het ’n ander Getuie, wat in haar middeltwintigerjare was, my egter besoek om oor die Bybel te gesels. Ek was besig om die Bybelboek Openbaring op my eie te lees. Ek het haar dus gevra: “Wie is die 144 000 wat hier in Openbaring hoofstuk 14 genoem word?”
Ek is geleer dat alle goeie mense hemel toe sal gaan en kon dus nie die logika daarin sien dat 144 000 van hulle blykbaar van die ander mense in die hemel geskei word nie. Ek het gewonder: ‘Wie is hierdie 144 000? Wat doen hulle?’ Hierdie vrae het heeltyd deur my kop gemaal. Die Getuie het aangehou om my in die hande te probeer kry, maar sy was onsuksesvol omdat ek nooit by die huis was nie.
Die Getuie het op die ou end my adres vir Marco, ’n ouer man in haar gemeente, gegee. Uiteindelik, in Februarie 1985, het hy my gevind. Ons het slegs ’n paar minute gepraat, aangesien ek besig was, maar ons het ’n afspraak gemaak. Later het hy en sy vrou, Lina, my gereeld besoek en my gehelp om die Bybel te verstaan. Ek het gou gesien dat Katolieke grondleerstellings soos die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en helse vuur eenvoudig nie op die Bybel gebaseer is nie.
Omgang met die Getuies
Toe ek ’n vergadering van Jehovah se Getuies by hulle Koninkryksaal bygewoon het, was dit duidelik dat dinge heelwat anders was as in die Katolieke Kerk. Almal het gesing, nie net ’n koor nie. Daarna het hulle ook aan die vergadering deelgeneem. Ek het ook begin sien dat die hele organisasie uit “broers” en “susters” bestaan. Hulle het almal waarlik vir mekaar omgegee. Hierdie dinge het my beïndruk.
Gedurende hierdie tyd het ek die vergaderinge in my nonnedrag bygewoon. Dit was duidelik dat party verbaas was om ’n non by die Koninkryksaal te sien. Ek het die vreugde en tevredenheid geniet wat kom wanneer ’n mens die oorvloedige liefde van ’n groot gesin ervaar. Namate ek gestudeer het, het ek ook begin sien dat baie van die beginsels waarvolgens ek my lewe gelei het, nie in ooreenstemming met God se Woord is nie. Die Bybel sê byvoorbeeld nie dat knegte van God spesiale drag moet aantrek nie. Die Kerk se hiërargiese stelsel en die vertoon waarmee hulle dinge doen, het heeltemal verskil van wat die Bybel leer oor nederige ouer manne wat die leiding neem in die gemeente.
Dit het gevoel asof ek in dryfsand staan en daar geen vaste grond onder my voete was nie. Ek kon nie glo dat ek 24 jaar lank op ’n dwaalspoor was nie. Maar ek kon die waarheid uit die Bybel duidelik sien. Dit het my bang gemaak om te dink dat ek op 44-jarige ouderdom my lewe van voor af moes begin. Maar hoe kon ek dit ignoreer noudat ek gesien het wat die Bybel werklik leer?
’n Belangrike besluit
Ek het geweet dat sodra ek die klooster verlaat, ek materieel niks sou hê nie. Maar ek het onthou dat Dawid gesê het dat hy nooit gesien het dat die regverdige ‘verlate is of dat sy nageslag brood soek nie’ (Psalm 37:25). Ek het geweet dat ek ’n mate van fisiese sekuriteit sou verloor, maar ek het my vertroue in God geplaas en geredeneer: ‘Waarvoor moet ek nou eintlik bang wees?’
My gesin het gedink dat ek kranksinnig is. Hoewel dit my gepla het, het ek Jesus se woorde onthou: ‘Dié wat groter geneentheid vir vader of moeder het as vir my, is my nie waardig nie’ (Matteus 10:37). Terselfdertyd het eenvoudige dade deur Getuies my aangemoedig en versterk. Wanneer ek in my nonnedrag met die straat afgeloop het, het hulle uit hulle pad gegaan om my te groet. Dit het my laat voel dat ek selfs nader aan die broederskap en deel van hulle gesin was.
Ek het uiteindelik na die moederowerste gegaan en verduidelik waarom ek besluit het om die klooster te verlaat. Hoewel ek aangebied het om haar uit die Bybel te wys waarom ek hierdie besluit geneem het, het sy geweier om te luister en gesê: “As ek enigiets in die Bybel wil verstaan, kan ek na ’n Bybelgeleerde gaan!”
My besluit het die Katolieke Kerk geskok. Hulle het my daarvan beskuldig dat ek onsedelik is en dat ek my verstand verloor het. Maar dié wat my geken het, het geweet dat die beskuldigings vals is. Mense wat saam met my gewerk het, het op verskillende maniere gereageer. Sommige het my moed bewonder. Ander is gegrief omdat hulle gedink het dat ek ’n verkeerde koers inslaan. Party het my selfs jammer gekry.
Ek het op 4 Julie 1985 die Katolieke Kerk verlaat. Omdat die Getuies geweet het hoe ander behandel is wat die kerk verlaat het, het hulle vir my veiligheid gevrees en my amper ’n maand lank weggesteek. Hulle het my vir die vergaderinge kom haal en my daarna by die huis gaan aflaai. Ek het uit die oog gebly totdat dinge bedaar het. Hierna het ek, op 1 Augustus 1985, saam met Jehovah se Getuies aan die bediening begin deelneem.
Toe ek later daardie maand ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het, het die media uitgevind dat ek die kerk verlaat het en daaroor berig gelewer. Toe ek uiteindelik op 14 Desember 1985 gedoop is, het die plaaslike televisiediens en koerant gedink dat dit so verregaande was dat hulle weer daaroor berig gelewer het om seker te maak dat almal sou weet wat ek gedoen het.
Toe ek die klooster verlaat het, het ek absoluut niks gehad nie. Ek het geen werk, geen tuiste en geen pensioen gehad nie. Daarom het ek omtrent ’n jaar lank ’n verlamde persoon versorg. In Julie 1986 het ek ’n pionier geword, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Ek het na ’n gebied getrek waar daar ’n klein, pas gestigte gemeente was. Daar het ek privaat taallesse en ander klasse gegee, en op dié manier uit my opvoeding voordeel getrek. Dit het my ’n aanpasbare rooster gegee.
Diens in ’n anderstalige veld
Noudat ek Bybelwaarheid geleer het, wou ek soveel mense moontlik daarvan vertel. Aangesien ek Frans kon praat, het ek daaraan gedink om in die een of ander Afrikaland te dien waar Frans gebruik word. Maar toe het Jehovah se Getuies in 1992 wetlike erkenning in die nabygeleë land Albanië verkry. Teen die einde van daardie jaar is ’n groepie pioniers uit Italië soontoe gestuur. Onder hulle was Mario en Cristina Fazio van my gemeente. Hulle het my genooi om hulle te besoek en te oorweeg om in Albanië te dien. Ná sorgvuldige oorweging en gebed het ek dus op 52-jarige ouderdom weer eens relatiewe sekuriteit prysgegee en ’n heeltemal ander soort wêreld betree.
Dit was in Maart 1993. Toe ek daar aankom, het ek dadelik opgemerk dat, hoewel hierdie land fisies nie ver van my tuisland af was nie, ek my in ’n ander wêreld bevind. Mense het gestap waar hulle wou wees en het Albanees gepraat, ’n taal wat vir my heeltemal onverstaanbaar was. Die land het geweldige veranderings ondergaan, terwyl dit besig was om van een politieke stelsel na ’n ander oor te gaan. Nogtans het mense gedors na Bybelwaarheid en was hulle lief om te lees en te studeer. Bybelstudente het vinnig geestelike vordering gemaak. Dit het my hart verbly en my gehelp om in dié nuwe omgewing aan te pas.
Toe ek in 1993 in Tirana, die hoofstad, aangekom het, was daar net een gemeente in Albanië en bietjie meer as 100 Getuies in die land. In daardie maand, by die eerste spesiale byeenkomsdag wat ooit in Tirana gehou is, was 585 teenwoordig en is 42 gedoop. Al het ek niks verstaan nie, was dit roerend om die Getuies te hoor sing en te sien dat hulle so aandagtig luister. In April is die herdenking van Jesus Christus se dood deur 1 318 bygewoon! Van toe af het Christelike bedrywighede in Albanië van krag tot krag gegaan.
Ek het dikwels van my balkon op die vierde verdieping oor Tirana uitgekyk en gewonder: ‘Wanneer sal ons ooit al hierdie mense kan bereik?’ Jehovah God het toegesien dat dit gebeur. Daar is tans 23 gemeentes van Jehovah se Getuies in Tirana. Oor die hele land is daar 2 846 Getuies in 68 gemeentes en 22 groepe. Al dié groei in net ’n paar jaar! En in 2002 was daar 12 795 by die Gedenkmaal!
Tydens my tien jaar in Albanië het ek die voorreg gehad om minstens 40 persone te help om tot doop te vorder. ’n Aantal van hulle dien nou ook as pioniers en in ander aspekte van die voltydse diens. Deur die jare heen is ses groepe Italiaanse pioniers na Albanië gestuur om met die werk te help. Elke groep het ’n taalkursus van drie maande geloop, en ek het ’n uitnodiging ontvang om die afgelope vier klasse aan te bied.
Toe my vriende aanvanklik gehoor het van my besluit om die kerk te verlaat, was hulle hewig ontsteld. Maar ná al die jare het hulle gesindheid versag, want hulle kan sien dat ek kalm is en gemoedsrus geniet. Gelukkig is my familie, onder andere ’n 93-jarige tante wat nog steeds ’n non is, nou baie meer ondersteunend.
Vandat ek Jehovah leer ken het, het hy in baie verskillende omstandighede vir my gesorg! Hy het my na sy organisasie gerig. Wanneer ek terugkyk, onthou ek my begeerte om die armes, minderbevoorregtes en behoeftiges te help sowel as my wens om my ten volle aan God se diens te wy. Daarom dank ek Jehovah, omdat hy toegesien het dat my geestelike dors geles word.
[Prent op bladsy 21]
’n Albanese familie met wie ek die Bybel gestudeer het. Elf is al gedoop
[Prent op bladsy 21]
Die meeste van hierdie vroue in Albanië met wie ek die Bybel gestudeer het, is nou in die voltydse bediening