Die liefdeslied van die kriek
DIE kriek, wat maar omtrent 50 millimeter lank is, lyk heel moontlik nie na ’n indrukwekkende knapie nie. Tog trek die lied van hierdie kriek regoor die wêreld die aandag van miljoene mense. Hoe sing hierdie diertjie, en met watter doel?
Interessant genoeg, onder die sowat 2 400 krieksoorte is dit net die mannetjies wat sing of tjir. Kriekmannetjies gebruik nie hulle keel nie, maar hulle vlerke om musiek te maak. Een ensiklopedie verduidelik dat kriekmannetjies tjir deur ’n deel van hulle voorvlerk teen ’n ry van ongeveer 50 tot 250 tandjies van die teenoorgestelde voorvlerk te skuur. Die herhaling van die tjirgeluid hang af van hoeveel tandjies per sekonde gevryf word. Die trillings vul die lug met die kenmerkende lied van die kriek.
Maar die kriekmannetjie sing tog sekerlik nie net om sy menseluisteraars te vermaak nie! Hoegenaamd nie! Die gehoor wat hierdie musikant in gedagte het, is ’n potensiële maat. Die boek Exploring the Secrets of Nature verduidelik: “In sy soeke na ’n maat sing die kriekmannetjie, wat ’n ervare kommunikeerder is, drie verskillende liedjies: een om sy teenwoordigheid aan te kondig, een om ’n wyfie die hof te maak en een om ongewenste mededingers te verjaag.” Party krieke hou aan sing om hulle teenwoordigheid aan te kondig totdat ’n kriekwyfie belangstelling toon. Die wyfie wat die lied deur die “ore” op haar voorpote hoor, is nie tevrede om oor ’n lang afstand die hof gemaak te word nie. Terwyl sy die bron van die gekriek nader, sal die kriekmannetjie met ’n aanhoudende trilgeluid begin sing, die paringslied. Hierdie serenade lok die wyfie na haar voornemende maat toe, en die twee krieke paar.
In Oos-Asië hou sommige mense kriekmannetjies as troeteldiertjies aan omdat hulle van die gekriek hou. Ander verkies om sulke musiek in ’n kriek se natuurlike habitat te geniet. Waar dit ook al is, die lied van die klein kriek bekoor menseluisteraars oor die hele wêreld en bring lof aan sy Ontwerper.