Krieket of bofbal—Wat is die verskil?
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
TOE Engeland se koningin Victoria haar jubileum in 1897 gevier het, was ’n kwart van die wêreld se landoppervlak onder Britse beheer. Nou is die eens magtige Britse Ryk net ’n herinnering. En tog is dit verbasend dat die land se invloed vandag nog in baie lande van die wêreld gesien en gevoel word. Een so ’n erfenis is die interessante Engelse spel krieket.
Dit is gewild in baie lande wat vroeër onder Britse beheer was, soos in Asië, in die Wes-Indiese Eilande en in Afrika—maar nie in die Verenigde State nie waar bofbal die voorrang geniet. Tog word daar berig dat daar ten minste ’n honderd krieketklubs in daardie eertydse kolonie is. Ter verduideliking aan diegene wat nog nooit na krieket gekyk het nie: Dit is ’n spel wat op ’n groot ovaalvormige veld gespeel word, waarin al die spelers in wit geklee is en waarin boulers probeer om ’n paaltjie wat deur ’n kolwer beskerm word te tref of om te gooi. Maar later meer daaroor.
Is daar ooreenkomste tussen krieket en bofbal?
Ja en nee. Krieket lyk vir die meeste bofbalgeesdriftiges na ’n stil en taamlik stadige spel, ‘bofbal op Valium’ soos een Amerikaanse komediant dit gestel het. Maar party krieketterme sal bekend klink. Daarenteen is die doel van die spel en die spelreëls taamlik anders. As jy verstaan wat elke span op die krieketveld probeer bereik, sal dit jou eerder fassineer as frustreer.
Krieket het, net soos bofbal, twee spanne wat teen mekaar speel. Elke span bestaan uit 11 spelers en ’n speler wat as die 12de man bekend staan as reserwe. Dit verskil van die bofbalspan wat uit nege spelers bestaan. Die vorm van die krieketkolf is heel anders as dié van ’n bofbalkolf. (Sien illustrasie, bladsy 23.) Ook word die speler wat die bal gooi ’n bouler genoem, en nie ’n gooier nie. Die uitdrukking “lopies aanteken” is algemeen in albei sportsoorte, hoewel die telling anders bereken word. Die term “kolfbeurt” word in albei sportsoorte gebruik. Dit is egter nie verbasend dat die terme dieselfde is nie, want die Encyclopedia International sê vir ons dat bofbal in die laat 19de eeu uit die Engelse krieketspel en ’n ander sportsoort bekend as ‘rounders’ ontwikkel het.
Buiten die voorgemelde ooreenkomste is daar nietemin baie verskille tussen krieket en bofbal. Die kleredrag en houding van spelers, die ontwerp en uitleg van die ovaalvormige krieketveld teenoor die diamantvormige bofbalveld, die posisies wat veldwerkers inneem en die speltempo toon min ooreenkomste. Maar ondanks die verskille vind diegene wat een van die sportsoorte verstaan dit gewoonlik nie baie moeilik om die ander een te verstaan en te geniet as die grondbeginsels van die spel eers verduidelik is nie.
Kom ons kyk nou na die spel!
Die ideale terrein vir krieket is ’n ovaal of ’n veld wat ongeveer 140 meter wyd en 150 meter lank is. Naby die middel van die veld is die kolfblad wat 20 meter lank en 3 meter wyd is. In eersterangse wedstryde is die kolfblad van gras wat gesny en met sorg gerol is. In ander wedstryde kan dit beton of harde klei wees wat met matwerk oorgetrek is. Weerskante van die kolfblad is die paaltjies wat uit drie regop houtpenne bestaan wat 71 sentimeter lank is en altesaam 23 sentimeter uitmekaar staan. Die bal kan dus nie tussen die penne deur beweeg nie. Twee dwarsbalkies, of gevormde stukkies hout, pas teen mekaar in groewe bo-op die penne en pas presies in die spasies tussen die drie penne.
Wit lyne, wat kolfstrepe genoem word, word 1,2 meter voor en parallel met elke paaltjie dwars oor die kolfblad getrek. Hierdie strepe dui die veilige plekke vir kolwers aan wanneer die bal geslaan word. Die bouler moet nie oor hierdie streep tree wanneer hy die bal afstuur nie; anders word dit ’n foutbal genoem en word ’n ekstra lopie outomaties aan die kolfspan toegeken.
Die kapteins gooi ’n muntstuk op om te bepaal watter span eerste kolf. Die wenner kan sy span eerste laat kolf of besluit om die ander span eerste te laat kolf as hy dink dat dit voordelig vir sy span sal wees as gevolg van die weer, die toestand van die kolfblad of ander oorwegings.
Twee kolwers gaan na die kolfstrepe—een aan elke kant van die kolfblad. Albei dra beskermende been- en liggaamskutte en kolfhandskoene, en deesdae dra die meeste professionele kolwers kolfhelms. Al die spelers van die span wat nie kolf nie, word in strategiese plekke om die veld geplaas op verskillende afstande van die kolwer na wie daar geboul word. Hulle posisies word uitgeken deur kleurryke terme soos “die glippe”, “vlak halfby”, “punt”, “die dekveld”, “die gangetjie”, “regby” en “fyn skerpby”. Die goed beskermde paaltjiewagter (vanger, in bofbalterme) staan agter die kolwer se paaltjie en probeer om enige bal te vang wat verby die kolwer gaan, en hy probeer ook om die kolwer uit te vang of te stonk wanneer hy buite sy kolfkampie is.—Sien venster, bladsy 24.
Twee boulers word deur die kaptein aangewys om te boul so lank as wat hy bepaal. Elkeen boul ses agtereenvolgende balle (agt in Australië en Suid-Afrika) aan weerskante van die kolfblad. Hierdie ses balle word gesamentlik ’n “boulbeurt” genoem. Daar is gewoonlik ’n paar boulers in elke span, en die kaptein besluit wanneer daar van snelbouler en mediumsnelbouler na stadiger, of draaibalboulers, verander moet word. Die bal mag nie gegooi word soos in bofbal nie, maar die bouler moet, met ’n oorarmaksie, sy arm reguit hou sonder om die elmboog te buig totdat die hele beweging voltooi is en die bal afgestuur word.—Sien bladsy 2.
’n Krieketbal, gewoonlik rooi en met leer omhul, weeg ongeveer 156 gram en is ’n bietjie kleiner, harder en swaarder as ’n bofbal. Die manier waarop die bouler ’n bal laat tol, wat verkry word deur die swaar gestikte nate te gebruik, beïnvloed hoe die bal deur die lug trek en die rigting waarin dit gaan nadat dit grondvat, want in teenstelling met bofbal vat die bal gewoonlik een keer grond voordat dit die kolwer bereik. Die bouler sal net soms ’n volbal, of volgooi, afstuur, een wat die kolwer kan slaan voordat dit grondvat. ’n Slim draaibalbouler se balle is dikwels moeiliker om te slaan as ’n snelbouler s’n. Hy laat dit tol deur die bal te draai, óf na links óf na regs, net voordat dit sy hand verlaat. Dit veroorsaak twee soorte tolle, wat “wegbreekballe” en “bybreekballe” genoem word.
Die kolwer se groot werk
Elke kolwer het ’n tweeledige rol: om sy paaltjie te beskerm en te verhoed dat hy op ander maniere uitgehaal of uitgeskakel word; en om so vinnig as moontlik lopies op die telbord aan te teken. (Sien venster, bladsy 24.) Maar ’n oorversigtige kolwer wat net daarop konsentreer om sy paaltjie te beskerm en nie om lopies aan te teken nie, word dikwels gekritiseer as ’n “klipmuur” omdat hy die krieket baie vervelig maak.
’n Bedrewe kolwer maak staat op oog-hand-voet-koördinasie, vinnige reflekse en sy vermoë om vinnig tussen paaltjies te hardloop. Elke keer wat hy veilig van een paaltjie na die ander hardloop en met sy spanmaat kante ruil, teken hy een lopie aan. As sy hou die bal na die speelgrens dryf voordat dit gevang word, word vier lopies aan hom toegeken sonder dat hy hoef te hardloop. As sy hou so kragtig is dat die bal oor die speelgrens trek, soos in bofbal se tuislopie, dan word ses lopies by sy telling bygetel.
Elke span bly by die kolfstreep totdat 10 van hulle span uit is, aangesien die 11de kolwer altyd “nie uit” is nie, omdat hy nie ’n kolfmaat het nie. Die verdedigende span word dan ingestuur om meer lopies as hulle opponente te probeer aanteken. As dit ’n wedstryd met een kolfbeurt is, bepaal die hoogste totale telling watter span wen. Maar die meeste eersterangse wedstryde het twee kolfbeurte vir elke span, sodat ’n groot krieketwedstryd (luister mooi, bofbalgeesdriftiges!) drie tot vyf dae kan duur, en elke span kan honderde lopies aanteken! Party beroemde kolwers kon dae lank nie uitgehaal word nie en het meer as 400 lopies aangeteken. Dit is ’n taamlike kontras met bofbal waar ’n spel gewoonlik na drie of vier uur klaar is, hoewel elke span nege kolfbeurte het. En selfs daarna kan ’n span met een lopie teenoor nul wen!
Daar is twee skeidsregters, een aan elke kant van die kolfblad. Een staan ’n entjie weg aan die kant van die kolwer en die ander een direk agter die paaltjie aan die bouler se kant. Die skeidsregters se beslissings is finaal. Dit is nie ‘eerbare gedrag’ om met ’n skeidsregter te stry nie!
Jy raak lief daarvoor
Die aantrekkingskrag van krieket is aansteeklik sodra jy by die spel betrokke raak. Tom, wat saam met sy gesin uit Europa geëmigreer het toe hy net ’n negejarige seuntjie was, het dit kort na sy aankoms in Australië besef. Hy het toe nog nooit van die spel gehoor nie, maar hy het gou ’n krieketgeesdriftige geword. Tom vertel: “Namate ek krieket leer speel en die reëls leer ken het, het my geesdrif gegroei. Ek het gou geleer dat ’n kolwer ’n skerp oog, vinnige reflekse en ’n kalm bedaardheid nodig het wanneer hy op die bal wag wat teen ’n spoed van tot 150 kilometer per uur na hom afgestuur word.”
Daar is natuurlik baie fynere punte van krieket wat nie in hierdie kort artikel gedek is nie. Maar ons hoop dat jy, wanneer jy weer na ’n spel kyk, met meer begrip, miskien selfs gefassineerd, sal kyk, terwyl jy die gewaagde houe van die kolwer en die vaardighede van die bouler aanskou.
[Venster op bladsy 24]
Vernaamste maniere waarop ’n kolwer uitgehaal kan word
Uitgeboul. As die bouler die paaltjie omgooi (tref) en die dwarsbalkies val.
Uitgevang. As ’n bal wat deur die kolwer geslaan is, gevang word voordat dit grondvat.
Gestonk. As die kolwer buite sy kolfkampie beweeg en die paaltjiewagter ’n dwarsbalkie met die bal in sy hand afstamp.
Been voor paaltjie (bvp). As die kolwer ’n bal, wat volgens die skeidsregter die paaltjie andersyds sou getref het, met enige deel van sy liggaam behalwe sy hand afsny.
Uitgehardloop. As ’n veldwerker die bal gooi en die paaltjies waarna die kolwer hardloop, omgooi voordat die kolwer die veiligheid van sy kolfkampie bereik.
Paaltjie getref. As die kolwer sy paaltjie omgooi met sy kolf of enige deel van sy liggaam terwyl hy probeer om die hou uit te voer.
[Prente op bladsy 23]
Ontwikkeling van die krieketkolf deur die eeue heen
Voor- en sykant van moderne kolf
Paaltjie met dwarsbalkies
[Prent op bladsy 24]
Kolwer wat bal van bouler ontvang. Let op na skeidsregter (ver links), paaltjiewagter (ver regs), en tweede kolwer wat op die kolfblad hardloop