Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 6/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Landmyne word opnuut omskryf
  • ’n Hoër lewensverwagting
  • Nuttige vitamien
  • Selfoon-verwante ongelukke
  • Gesindhede en vliegtuigongelukke
  • Koraal in groot gevaar
  • Egskeiding onder afgetredenes
  • Franse vrygewigheid
  • Die vigsepidemie
  • Landmyne—Die prys wat betaal word
    Ontwaak!—2000
  • Sterwende koraalriwwe—Is die mens daarvoor verantwoordelik?
    Ontwaak!—1996
  • Koraal word bedreig en sterf uit
    Ontwaak!—1996
  • Landmyne—’n wêreldwye bedreiging
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 6/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Landmyne word opnuut omskryf

Meer as 135 lande het alreeds die Ottawa-verdrag onderteken wat antipersoneelmyne verbied, en die Verenigde State sal in 2006 sy handtekening daarby voeg. “Maar daar is ’n verontrustende neiging om tegniese taal te gebruik wat bedoel is om die definisie te verander van wat ’n verbode myn is”, sê New Scientist. “Japan . . . meen dat ploftoestelle wat op strande geplant word, nie antipersoneelmyne is nie solank hulle afstandbeheerde myne is. . . . Pleks van dit ’n landmyn te noem, word dit ’n ‘werptoestel’ genoem.” Die Verenigde State gebruik tans antipersoneelmyne om pantserafweermyne te beskerm, en daarom is hulle besig om pantserafweermyne te ontwikkel wat kan rondspring om pogings te verydel om ’n mynveld onskadelik te stel. As party myne onskadelik gestel of vernietig word om ’n pad deur die mynveld te maak, sal die oorblywende pantserafweermyne “agterkom dat die ander myne weg is en rondspring totdat hulle weer ’n vaste patroon vorm”, berig die tydskrif. Die selfherstelmyne “sal ’n kragtige suieraangedrewe voet aan hulle basis hê wat hulle meer as 10 meter hoog in die lug sal kan skiet”.

’n Hoër lewensverwagting

Volgens ’n onlangse verslag deur die Verenigde Nasies oor menslike ontwikkeling het die lewensverwagting in Peru gedurende die afgelope 25 jaar met 12,8 jaar toegeneem. Terwyl die lewensverwagting 55,5 jaar tussen 1970 en 1975 was, het dit tussen 1995 en 2000 tot 68,3 jaar gestyg. Die hoër lewensverwagting, sê die koerant El Peruano, kan toegeskryf word aan verbeterde gesondheidsorg, wat die sterftesyfer verminder het van pasgebore babas van 115 per 1 000 tot 43 per 1 000 en van kinders onder vyf jaar van 178 per 1 000 tot 54 per 1 000 gedurende dieselfde tydperk. Daar word bereken dat “23 persent van die bevolking tot 60 jaar oud sal word” gedurende die volgende tydperk van vyf jaar, berig die El Peruano.

Nuttige vitamien

Wanneer ons voor ’n rekenaar sit en werk, reageer ons oë gedurig op die helder en donker ligkolletjies op die skerm, sê Zdrowie, ’n Poolse gesondheidstydskrif. Hoe groter die kontras is, hoe meer gebruik ons oë rodopsien, ’n liggevoelige pigment wat ons in staat stel om te sien. Vitamien A is noodsaaklik vir die vervaardiging van rodopsien. Volgens Zdrowie is lewer en lewertraan ryk aan vitamien A. Mense wat hulle vet- en cholesterol-inname moet beperk, kan kos eet wat betakaroteen bevat, wat die liggaam met behulp van sonlig in vitamien A omsit. Betakaroteen kan gevind word in geel, oranje, rooi en groen groentesoorte en in vrugte soos appelkose, perskes, gedroogde pruime, spanspek en mango’s.

Selfoon-verwante ongelukke

Paaie is nie die enigste plek waar die gebruik van ’n sellulêre telefoon tot ongelukke kan bydra nie. Spoorwegamptenare in Japan sê dat passasiers wat op platforms wag, in selfoongesprekke verdiep raak en vergeet waar hulle is. Een van die onlangse ongelukke waaroor die Asahi Evening News berig het, is dié van ’n jong man wat te na aan die rand van ’n platform gestaan het terwyl hy oor sy selfoon gepraat het. Toe hy onbewustelik ’n buiging gemaak het vir die persoon met wie hy gepraat het, het ’n aankomende trein sy kop skrams geraak. Gelukkig het hy met net “’n sny bokant sy regteroog” daarvan afgekom. Maar in ’n ander geval is “’n hoërskoolleerling wat oor ’n selfoon gepraat het en te na aan die rand van die platform gestaan het, deur ’n goederetrein doodgestamp”. Stasiepersoneel sê dat mense se telefone soms op die spoorlyne val. ’n Ses-en-twintigjarige man wat afgespring het om sy telefoon op te tel, is deur ’n trein “vergruis”. Spoorwegamptenare vra mense “om in gedagte te hou dat platforms baie gevaarlike plekke is”.

Gesindhede en vliegtuigongelukke

’n Artikel in Singapoer se koerant The Straits Times verwys na die interaksie in die stuurkajuit van vliegtuie as een van ’n paar moontlike oorsake van vliegongelukke. Die verslag sê dat “interaksie in die stuurkajuit tussen die kaptein en sy medevlieënier in Asië baie van rangorde afhang. Die kaptein is die onbetwiste baas, en daarom sal die medevlieënier wat ’n onreëlmatigheid opmerk, dalk huiwerig wees om die aandag daarop te vestig uit vrees dat hy die kaptein se gesag sal betwis.” Volgens die koerant voorsien mense dalk ’n moontlike probleem, maar rapporteer dit nie “omdat dit hulle in ’n ongunstige lig kan stel”. Of hulle meen moontlik dat hulle geloofwaardigheid in twyfel getrek sal word weens “hulle plek in die hiërargie”. In die stuurkajuit van ’n vliegtuig kan ’n medevlieënier wat nie praat wanneer dit nodig is nie, die kanse van ’n ongeluk vergroot.

Koraal in groot gevaar

Van Suid-Afrika tot Indië is koraalriwwe in die Indiese Oseaan in groot gevaar, sê The Economist. Mariene bioloë het onlangs die ontstellende ontdekking gemaak dat “50-95% van die oseaan se koraalriwwe die afgelope twee jaar gesterf het”. Die rede is dat die koraal nie kan aanpas by ’n seetemperatuur wat ’n paar weke lank een tot twee grade Celsius hoër is nie. “In 1998 was die temperatuur om die Seychelles weke lank 3°C hoër as die normale temperatuur”, luidens die verslag. Die navorsers glo dat dit ’n “oortuigende bewys van aardverwarming” is. Koraal wat sterf, het die Maledive-eilande in 1998/99 ongeveer R494 miljoen gekos. The Economist sê dat toeriste wat verwag om pragtige riwwe te sien, “teleurgesteld wegdraai van hope onooglike, grys puin”. Olof Linden, een van die skrywers van die verslag, het gesê dat “’n groot deel van die rykste ekosisteme op ons planeet versteur is”. Omdat koraalriwwe belangrike kweekplekke in die see is, hou die situasie ook niks goeds in vir kusbevolkings wat op visvangs staatmaak nie.

Egskeiding onder afgetredenes

In Frankryk het “die aantal egpare bo 55 jaar wat skei, binne vier jaar met 52 persent toegeneem”, berig die koerant Le Figaro. Gedurende dieselfde tydperk het die egskeidingsyfer onder egpare bo 70 meer as verdubbel, en dit is al hoe meer vroue wat ’n egskeiding aanvra. Een van die faktore is die moeilike aanpassing by die afgetrede lewe. Probleme wat hanteerbaar was terwyl ’n huweliksmaat gewerk het, word dikwels ondraaglik met albei maats by die huis. Boonop is daar ’n toename in die aantal finansieel onafhanklike vroue bo 50. Hierdie vroue is meer geneig om van hulle ontroue mans te skei as vroue in vorige geslagte. Hoewel afgetrede mans dikwels ’n jonger maat vind, vind ’n toenemende aantal vroue in hulle sestiger- en sewentigerjare wat nie weduwees is nie, dat hulle alleen is.

Franse vrygewigheid

Vroue is vrygewiger as mans, en bejaardes is vrygewiger as jongmense. Dit is twee bevindings van ’n jaar lange meningspeiling in opdrag van die Fondation de France, ’n liefdadigheidsorganisasie. Die uitslag toon dat die helfte van die Franse bevolking vrygewig is en dat 28 persent van hulle verskeie kere ’n jaar gee—geld, tyd of op ’n ander manier. Volgens die verslag is bevind dat “godsdiensverbintenis en betrokkenheid by ’n organisasie” vrygewigheid bevorder. Op grond van die studie skets die Paryse koerant Le Monde die tipiese Franse gierigaard as ’n ongetroude man wat nie kerk toe gaan nie en wat waarskynlik op die Mediterreense kus of op die platteland woon.

Die vigsepidemie

Meer as vyfmiljoen mense is gedurende die jaar 2000 met die vigs-virus besmet, sê ’n verslag deur die Verenigde Nasies se Gesamentlike MIV/vigs-program (UNAIDS) en die Wêreldgesondheidsorganisasie. Dit bring die wêreldwye getal mense met MIV op oor die 36 miljoen te staan, wat meer as 50 persent hoër is as vooruitskattings in 1991. Die epidemie het vinnig uitgebrei in Oos-Europa waar die aantal besmette individue—hoofsaaklik binneaarse dwelmgebruikers—in ’n jaar byna verdubbel het. Die verslag toon ook dat die wêreld se ryker lande, waar vigs hoofsaaklik onder binneaarse dwelmgebruikers en homoseksuele mans versprei, nie meer pogings aanwend om die siekte te voorkom nie. Daarenteen lyk dit asof die aantal nuwe infeksies in Afrika suid van die Sahara, waar 25,3 miljoen mense besmet is, vir die eerste keer gestabiliseer het. Sedert die epidemie uitgebreek het, het meer as 21 miljoen mense al weens die siekte gesterf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel