Ek het twee here probeer dien
SOOS VERTEL DEUR KEN PAYNE
Ek is in 1938 gebore en het op my oupa se veeplaas in Nieu-Mexiko, VSA, grootgeword. Dit was ’n plaas van 9 700 hektaar met strome en prêries en met berge op die agtergrond. Ek onthou nog die geluid van skape, beeste en perde, asook die geklingel van cowboyspore. Partykeer, terwyl ek na die wind in die gras geluister het, het die harde, skril geroep van die kiewiete by die watertenk my aandag getrek.
VROEË invloede in ’n mens se lewe kan ’n diep en blywende indruk op jou maak. Ek het baie ure saam met my oupa deurgebring, wat geweet het hoe om ’n storie van die Wilde Weste te vertel. Hy het selfs van die makkers van Billy the Kid geken, ’n jong misdadiger wat berug geword het omdat hy baie mense doodgemaak het en wat uiteindelik in 1881 doodgeskiet is toe hy 21 was.
My ouers was Jehovah se Getuies, en hulle het my saam met hulle in die Christelike bediening uitgeneem na afgeleë veeplase en nederige kleihuise oral in die Hondo-vallei. Hulle het dikwels ’n grammofoon met Bybelopnames van J. F. Rutherford se stem gebruik, wat in my geheue ingeprent is.a Ons het sy toesprake vir allerhande mense gespeel—veeboere, Mexikaanse boere sowel as Indiane, soos die Apaches en Pueblo’s. Ek het baie van straatwerk met tydskrifte gehou—baie min mense het nee gesê vir ’n klein seuntjie, selfs gedurende die oorlogsjare.
Ja, ek het ’n goeie grondslag gehad. Ek het egter nie ag geslaan op Jesus se waarskuwing nie: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). Ek wens ek kon sê dat ek ’n wonderlike lewe in die voltydse bediening gehad het. Maar ’n vroeë invloed, ’n ander “heer”, het my van daardie weg begin afgelei toe ek net drie jaar oud was.. Wat het gebeur?
Vlieg word my voorliefde
In 1941 het ’n Piper Cub-vliegtuig by die skuur geland. Dit is gebruik om coyotes te jag wat ons skape gevang het. Daar en dan, op driejarige ouderdom, het ek besluit dat ek ’n vlieënier wil word. Die jare het verbygegaan en toe ek 17 was, het ek die huis verlaat en by ’n lughawe in Hobbs, Nieu-Mexiko, gaan werk, waar ek vliegtuigloodse uitgevee en aan vliegtuie gewerk het in ruil vir vlieglesse. Die Christelike bediening het ’n ondergeskikte plek in my lewe ingeneem.
Ek is getroud toe ek 18 was, en uiteindelik het ek en my vrou drie kinders gehad. Hoe het ek ’n bestaan gemaak? Ek het huurvliegtuie en vliegtuie vir plaag- en roofdierbeheer gevlieg, asook vlieglesse gegee. Nadat ek dit ses jaar lank gedoen het, het ek uit Dallas, Texas, vir Texas International Airlines begin vlieg. Dit het my meer bestendigheid in die lewe gegee, en ek het selfs as ’n ouer man in die Denton-gemeente gedien. Ek het ook verskeie Bybelstudies gehou, onder andere met ’n vliegtuigkaptein, sy vrou en hulle kinders, wat almal Bybelwaarheid aangeneem het.
Teen 1973 het ek al ongeveer drie jaar skroefturbinevliegtuie gevlieg, maar ek het belangstelling begin verloor toe die DC-3 uit diens onttrek is. My hart was in werklikheid nog in Nieu-Mexiko. Maar hoe sou ek ’n bestaan maak as ek ophou vlieg?
Kuns word my voorliefde
Sedert 1961 het ek as ’n stokperdjie skilderye van die weste van Amerika geskilder, en dit het goed verkoop. Ek het dus uit die lugredery bedank en teruggetrek na Nieu-Mexiko, die land van bekoring, soos dit bekend staan. Ek het egter nie gebalanseerd gebly nie. Ek het toegelaat dat die liefde vir kuns die belangrikste ding in my lewe word. My werk as skilder en later beeldhouer, asook deeltydse vlieënier, het al my tyd in beslag geneem. Ek het tussen 12 en 18 uur per dag gewerk. Dit het daartoe gelei dat ek my gesin en my God baie verwaarloos het. Wat was die gevolg?
My huwelik het verbrokkel en op ’n egskeiding uitgeloop. Ek het noordwaarts na Montana getrek en my toevlug tot drank geneem. Ek het ’n onchristelike lewenswyse begin lei en dieselfde dwase paadjie as die verlore seun in Jesus se illustrasie geloop (Lukas 15:11-32). Toe, eendag, het ek tot die besef gekom dat ek nie ’n enkele ware vriend het nie. Wanneer ek mense ontmoet het wat in die moeilikheid was, het ek vir hulle gesê: “Praat met Jehovah se Getuies. Hulle sal jou regtig kan help.” Hulle het dan geantwoord: “Waarom is jy dan nie ’n Getuie nie?” Ek moes erken dat ’n mens nie ’n Getuie kan wees en terselfdertyd lewe soos ek gelewe het nie.
Uiteindelik, in 1978, het ek teruggekeer na Nieu-Mexiko en die gemeente waar die Getuies my geken het. Dit was die eerste keer in jare dat ek weer in ’n Koninkryksaal was, en al wat ek kon doen, was om te huil. Hoe barmhartig was Jehovah tog teenoor my. Die broers in die gemeente was baie vriendelik en het my gehelp om weer op Jehovah se weë te wandel.
’n Nuwe huweliksmaat en ’n nuwe begin
In 1980 is ek getroud met Karen, ’n pragtige Getuie wat ek al jare geken het. Sy het twee seuns, Jason en Jonathan, uit haar vorige huwelik gehad. Haar innige liefde vir Jehovah het my lewe bestendigheid gegee, en ons het twee wonderlike seuns, Ben en Phillip, gehad. Maar die lewe was nie altyd maanskyn en rose nie. ’n Tragedie het op ons gewag.
Ek het kuns bestudeer en baie ure daaraan gewy om die anatomie van mense en diere—veral dié van perde—te leer ken, sowel as die beginsels van komposisie, verhouding en perspektief. Ek het beeldhouwerk met klei begin doen, veral van tonele van die Ou Weste—perde, Indiane op perde, cowboys en selfs ’n dokter uit toeka se dae met sy perdekarretjie. Ek het sukses begin behaal. Ons het dus besluit om ’n galery te open. Karen het die naam Mountain Trails Gallery uitgedink.
In 1987 het ons ’n galery in Sedona, Arizona, gekoop en dit daardie naam gegee. Terwyl Karen na die galery omgesien het, het ek by die huis in die ateljee gewerk en na die seuns gekyk. Maar die seuns het siek geword en die verkope was swak. Ons het besluit om plekke te ruil sodat Karen by die huis na die kinders kon omsien. Ek het my klei na die winkel geneem en my beeldhouwerk voor die klante begin doen. Wat ’n verandering het dit tog meegebring!
Mense het my begin uitvra oor die bronsbeelde wat ek gemaak het. Terwyl ek my werk aan hulle verduidelik het en hulle van die artefakte vertel het wat ek as ’n grondslag vir my ontwerpe gebruik, het ek hulle ’n geskiedenisles van die Ou Weste gegee met name, plekke en gebeure wat ek uit al my leeswerk geleer het. Mense het werklik begin belangstel in die modelle waaraan ek gewerk het, en party wou ’n deposito neersit op die beeld waaraan hulle my sien werk het en dan die balans betaal wanneer dit in brons gegiet is. So is die uitdrukking “voorafverkoop” gebore. Oornag het dinge beter begin gaan. My onderneming het so gegroei dat ons uiteindelik drie galerye en ’n groot gietery met 32 werknemers gehad het. Maar dit het soveel van my energie geverg! Ek en Karen het gewonder hoe ons van daardie trapmeul kon afkom. Ons het daaroor gebid. Ek was toe ’n ouer man in die gemeente en het geweet dat ek meer vir Jehovah kon doen.
Ons dien weer een here
In 1996 het ons kringopsiener die gemeente besoek en ons vir middagete genooi. Nog voordat ons begin eet het, het hy met die deur in die huis geval—sal ons dit oorweeg om na die Navajo-Indiane-reservaat te verhuis om ’n nuwe gemeente in Chinle te help stig? Wat ’n uitdaging! Ons het voorheen die reservaat verskeie kere besoek en het al in dele van daardie afgeleë gebied getuig, en nou het dit ons ’n nuwe doel gegee. Dit was ons kans om van die onverbiddelike trapmeul van materialisme af te kom en meer vir Jehovah en sy volk te doen. Ons het weer een here begin dien!
’n Ander ouer man en sy gesin, die Carusettas, met wie ons goeie vriende was, is genooi om hierdie toewysing saam met ons aan te pak. Ons het albei ons gerieflike huise verkoop en woonwaens bestel waarin ons in die reservaat kon bly. Ek het die galerye en uiteindelik die gietery verkoop. Ons het ons lewe vereenvoudig, en ons was vry om meer in die Christelike bediening te doen.
In Oktober 1996 het ons nuwe Chinle-gemeente sy eerste vergadering gehou. Sedertdien het die predikingswerk onder die Navajo-mense uitgebrei, en ons gemeente het uitstekende Navajo-pioniers wat die taal praat. Ons is stadigaan besig om hierdie moeilike taal te leer sodat ons aanvaar kan word al is ons nie Navajo-Indiane nie. Met die toestemming van die Indiane-owerheid het ons grond gekry en ’n Koninkryksaal in Chinle gebou, wat in Junie vanjaar toegewy is.
’n Tragedie tref ons!
In Desember 1996 het Karen die seuns na Ruidoso, Nieu-Mexiko, geneem vir ’n kort vakansie. Ek moes in Chinle agterbly. Stel jou voor hoe geskok en hartseer ons was toe ons 14-jarige seun, Ben, in ’n rots vasgeski en gesterf het! Dit was ’n verskriklike beproewing vir ons almal. Die Bybel se opstandingshoop het ons deur hierdie tragedie onderskraag. Die ondersteuning van ons Christenbroers was ook ’n groot hulp. Toe ons die gedenkdiens by die Koninkryksaal in Sedona gehou het, waar ons jare lank gewoon het, het die bure meer Navajo-Indiane gesien as wat hulle nog ooit gesien het. Die broers en susters van die reservaat het al die pad gekom om ons te ondersteun, ’n afstand van meer as 300 kilometer.
Dit is ’n seën om die geestelike vooruitgang te sien wat Ben se jonger broer, Phillip, gemaak het. Hy het goeie geestelike doelwitte en bring ons baie vreugde. Hy het al verskeie Bybelstudies gehou, insluitende een met ’n onderwyser. Maar ons almal sien daarna uit om Ben weer in die nuwe wêreld te sien wat Jehovah belowe het.—Job 14:14, 15; Johannes 5:28, 29; Openbaring 21:1-4.
Ons is geseën met ’n liefdevolle, ondersteunende familie. My aangenome seun Jonathan dien Jehovah saam met sy vrou, Kenna, en dieselfde geld vir my jongste seun uit my eerste huwelik, Chris, en sy vrou, Lorie. Ons kleinseuns Woodrow en Jonah hou studentetoesprake in die Teokratiese Bedieningskool. My pa is in 1987 oorlede, maar op 84 is my ma nog in Jehovah se diens bedrywig, en so ook my broer, John, en sy vrou, Cherry.
Ek het uit ondervinding geleer dat Jesus se woorde waar is: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie . . . Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.” Selfs nou kan kuns ’n baie jaloerse heer wees. Ek het dus geleer dat dit belangrik is om gebalanseerd en versigtig te wees sodat my kuns nie weer die belangrikste plek in my lewe inneem nie. Dit is baie beter om die apostel Paulus se raad te volg: “My geliefde broers, word standvastig, onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat julle arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korintiërs 15:58.
[Voetnoot]
a J. F. Rutherford het die leiding onder Jehovah se Getuies geneem tot en met sy dood in 1942.
[Prent op bladsy 18, 19]
My vliegtuig in 1996 in Chinle
[Prent op bladsy 19]
’n Bronsbeeld met die naam “Geen tyd vir speletjies nie”
[Prent op bladsy 21]
’n Vergadering vir Bybelstudie waar ons Koninkryksaal sedertdien gebou is
[Prent op bladsy 21]
Saam met my vrou, Karen
[Prent op bladsy 21]
Ons getuig by ’n tipiese Navajo-hogan