Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 7/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nege-en-sewentigmiljoen vroue word “vermis”
  • Die langste padtonnel is geopen
  • Bedreigde diere keer terug na Israel
  • Nog voordele van borsvoeding
  • Steeds op soek na geskikte werk
  • Masada in gevaar?
  • Wees versigtig vir die son
  • Belangstelling in priesterdom neem af
  • Die wêreld se langste padtonnel
    Ontwaak!—2002
  • Masada—Waarom het dit gebeur?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die stryd om ’n tonnel
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 7/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

Nege-en-sewentigmiljoen vroue word “vermis”

’n Opname wat gemaak is van “Indië, Pakistan, Bangladesj, Nepal, Sri Lanka, Boetan en die Maledive, wat deur die VN gefinansier is, het getoon dat ongeveer 79 miljoen vroue ‘in Suid-Asië vermis’ word weens diskriminasie teen vroue, beide voor en ná hulle geboorte”, sê ’n Reuters-verslag. Die vroue word “vermis” as gevolg van aborsies sowel as “kindermoord en die voortrekkery van babaseuntjies in die gebied wanneer kos uitgedeel word”. Laasgenoemde duur glo tot en met volwassenheid voort, wat chroniese voedingsprobleme by vroue tot gevolg het. Daar is “’n hoë sterftesyfer onder jong meisies en vroue van vrugbare leeftyd”, het die verslag gesê. Die syfer van 79 miljoen is gebaseer op die feit dat daar slegs 94 vroue vir elke 100 mans in die gebied is, terwyl die verhouding wêreldwyd 106 vroue vir elke 100 mans is.

Die langste padtonnel is geopen

Die wêreld se langste padtonnel is in Noorweë geopen, berig die koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung. Die Laerdal-tonnel is 24,5 kilometer lank en verbind Noorweë se twee grootste stede, Oslo en Bergen. Vroeër moes motoriste kies tussen ’n kronkelende bergpad en ’n veerbootrit oor ’n fjord. Veiligheid in die nuwe tonnel was van groot belang. Dit het ’n omdraaiplek elke 500 meter, reusagtige vuurvaste waaiers wat rook en giftige gasse deur ’n ventilasieskag kan uittrek, asook gesofistikeerde noodstelsels. Omdat baie mense bang is vir lang tonnels, verdeel groot plazas die Laerdal-tonnel in vier dele. Die mure van hierdie plazas is met blou ligte verlig om die indruk van daglig en vars lug te skep. Maar ’n opname het getoon dat 25 persent van Noorweërs—uit vrees vir ongelukke of brande—nie die tonnel sal gebruik nie.

Bedreigde diere keer terug na Israel

Volgens ’n artikel in die Israeliese koerant Haaretz is baie diere wat van Israel verdwyn het, besig om terug te keer. Jakkalse en troppe wolwe is terug in die Negeb en die Golanhoogland. Met die laaste telling het die aantal arende in noordelike Israel tot 450 gestyg. Selfs ’n luiperd is al in Galilea gesien. Daar is voorheen gedink dat luiperds in hierdie gebied uitgesterf het, en wolwe was op die randjie van uitwissing. Maar nou is hierdie roofdiere terug, asook hulle prooi—wildsbokke, ibekse en takbokke. Hoewel party diere vanself terugkeer, is ander in hulle vorige habitat teruggeplaas. Dit sluit wilde-esels in; waarvan meer as 100 weer eens in die Negeb gevind word.

Nog voordele van borsvoeding

“Wil jy jou baba se IK verhoog?” vra die tydskrif Psychology Today. “Dit is dalk so maklik as om borsmelk bo ’n gekoopte melkformule te kies.” Twee natuurlike vetsure wat in borsmelk voorkom—dokosaheksaënoësuur (DHS) en aragidoonsuur (AS)—maak blykbaar ’n verskil in senuwee-ontwikkeling. Toetse het getoon dat “kinders wat beide DHS en AS ingeneem het, beter as ander groepe gevaar het wat geheue, die oplossing van probleme en taalontwikkelingsvaardighede betref”, sê die tydskrif, wat toon dat natuurlike borsmelk die beste is.

“Navorsing werp ook lig op die rede waarom mense so baie hou van die kossoorte van hulle kultuur”, sê die tydskrif Science. “Vroue wat wortelsap gedrink het terwyl hulle swanger was of geborsvoed het, het ’n voorliefde vir wortels by hulle kinders ontwikkel. . . . Die navorsing toon dat borsvoeding beter as melkformules is omdat borsvoeding dit vir kinders makliker maak om nuwe kossoorte te aanvaar”, en hulle leer “watter kossoorte veilig is—wat die belangrikheid van ’n gesonde dieet vir swanger en sogende moeders beklemtoon”.

Steeds op soek na geskikte werk

Onder die opskrif, “Geskikte werk vir almal—steeds ’n droom”, lewer die Duitse koerant Hannoversche Allgemeine Zeitung verslag oor die seminaar “Wêreldwye Dialoog”, wat by die wêreldtentoonstelling EKSPO 2000 in Hannover gehou is. Hoewel die beginsel van gelyke betaling vir gelyke werk vir mans en vroue in 1951 en ’n verbod op kinderarbeid in 1973 aangeneem is, is 150 miljoen mense regoor die wêreld sonder werk, het 850 miljoen te min werk en moet 250 miljoen kinders werk. Die helfte van die wêreldbevolking lewe op ’n bietjie meer as twee rand per dag. En ten spyte van alle pogings het die kloof tussen ryk en arm groter geword pleks van kleiner. Die belange van ryk en arm lande is ook baie anders. Terwyl Europese politici aandele-opsieskemas en die invloed van vakbonde bespreek, moet hulle kollegas in ontwikkelende lande veel meer fundamentele kwessies probeer oplos, soos basiese skoolopleiding vir almal en werkskepping vir die opkomende geslag.

Masada in gevaar?

“Masada moenie weer verower word nie!” is ’n strydkreet wat Jode geïnspireer het terwyl hulle die hedendaagse nasie van Israel gebou het. “Maar Masada kan moontlik weer verower word”, sê ’n NBC-persverklaring, “letterlik deur die natuurkragte.” Die gewilde toeristeplek “is bo een van die planeet se onstabielste verskuiwingslyne geleë: die Dooie See-skeurvallei”. Krake verdeel die berg se kranse in honderde stukke, waarvan party moontlik deur ’n aardbewing losgeskud kan word. Trouens, rekenaarontleding het getoon dat verskeie dele aan die kant van die oostelike Slangpad op die punt was om af te breek, en dit is alreeds met 18 meter lange staalstawe versterk. Maar die ruïnes van ’n paleis wat koning Herodes aan die noordelike kant van Masada gebou het, “is ook op onstabiele grond” en moet versterk word. Werk aan hierdie gedeelte het nog nie begin nie weens ’n tekort aan fondse. Dit was by Masada, 100 kilometer van Jerusalem af, waar ’n groep van 967 Joodse rebelle byna 2 000 jaar gelede die beleëring deur die Romeinse leër twee jaar lank weerstaan het. Die nag voordat die Romeine deur hulle versterkings gebreek het, het die Jode na bewering verkies om eerder selfmoord te pleeg as om hulle oor te gee.

Wees versigtig vir die son

Langdurige blootstelling aan die son sonder voldoende beskerming kan velkanker veroorsaak, sê ’n artikel in die Mexikaanse koerant El Universal. Volgens die dermatoloog Adriana Anides Fonseca het sonstraling ’n kumulatiewe uitwerking wat oor die algemeen ná die ouderdom van 50 as kwaadaardigheid sigbaar word. Sy stel voor dat ’n mens ’n sonskermmiddel aansmeer 30 minute voordat jy jou aan die son blootstel en dit weer elke drie of vier uur aansmeer nadat jy in die water was of wanneer jy baie sweet. Mense met ’n ligte vel het ’n sonskermmiddel met ’n beskermingsfaktor bo 30 of 40 nodig; en mense met ’n donker vel, een met 15 tot 30. Selfs dan moet ’n mens onthou dat ’n sonskermmiddel sonbrand nie heeltemal sal keer nie, en sonbrandmiddels kan sake vererger omdat dit veroorsaak dat jy dieper brand. ’n Mens moet besonder versigtig wees om babas teen direkte blootstelling aan die son te beskerm omdat hulle vel se verdedigingsmeganismes nog nie ten volle ontwikkel is nie.

Belangstelling in priesterdom neem af

Katolieke ouers is “nie meer trots om te sê: ‘My seun, die priester’ nie”, sê The New York Times. “Katolieke leiers . . . is deeglik bewus daarvan dat ’n vername rede vir die tekort aan priesters die feit is dat te min Katolieke ouers bereid is om hulle kinders aan te spoor om priesters te word.” Van die redes wat gegee word, is kleiner Katolieke gesinne, waar “dit moeiliker is om te aanvaar dat jou enigste seun by ’n ongehude priesterdom aansluit”, sê die artikel. “Daarbenewens het die aansien van die priesterdom oor die laaste dekade afgeneem met elke nuusberig oor kindermishandeling deur priesters, het ouers in onderhoude gesê.” ’n Opname onder Katolieke wat die bedrywigste in die kerk is, wat deur die Nasionale Konferensie van Katolieke Biskoppe aangevra is, het getoon dat twee derdes van die ouers hulle kinders nie sal aanmoedig om ’n beroep as ’n priester of ’n non te volg nie. Volgens Edward J. Burns, ’n priester en verteenwoordiger van die groep, sal ’n jong, ongetroude paartjie by ’n familiereünie glad nie gekritiseer word as hulle sou sê dat hulle saamleef nie. Tog sal ’n jong man wat die priesterdom oorweeg, deur familielede opsy geneem en gevra word: “Is jy seker jy weet wat jy doen?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel