Die wêreld se langste padtonnel
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN NOORWEË
AS JY indrukwekkende berge en fjords wil sien, moet jy na die weste van Noorweë kom! Jy sal asemrowende natuurtonele sien! Daarbenewens getuig die nou, kronkelende paaie en die talle tonnels van die mens se vindingrykheid. Onlangs is ’n nuwe tonnel voltooi—’n ingenieursprestasie wat enige van sy soort oortref. Dit is die Laerdal-tonnel, die wêreld se langste padtonnel—’n hoofweg wat 24,5 kilometer lank en deur soliede rots geboor is! Stel jou voor dat jy by die ingang van die tonnel inry, met die wete dat daar in net ’n paar minute meer as ’n 1 000 meter van die berg bo jou sal wees!
Waarom was so ’n lang tonnel nodig? Dit is ’n belangrike deel van die vernaamste verbinding tussen die twee grootste stede in Noorweë, naamlik Oslo (die hoofstad, in die ooste) en Bergen (langs die weskus). Gedurende die winter is ander bergpaaie tussen hierdie stede moeilik begaanbaar weens die sneeu en wind. Daar was dus ’n groot behoefte aan ’n nuwe roete wat in slegte weer betroubaar sou wees. In 1992 het die Noorweegse parlement besluit dat die nuwe hoofweg ’n tonnel tussen die klein gemeenskappe van Aurland en Laerdal sou insluit. Ná vyf jaar van konstruksie is die tonnel in November 2000 amptelik geopen. Hoe is hierdie ingenieursprestasie behaal? Hoe veilig is die tonnel? Hoe voel dit om daardeur te ry? Kom ons kyk.
Die uitdagings van konstruksie
Die tonnel verbind Laerdal en Aurland, maar eintlik het die werk op drie plekke tegelykertyd begin. ’n Span het aan weerskante van die berg begin en ’n derde groep aan ’n twee kilometer lange ventilasietonnel, wat 6,5 kilometer van die Laerdal-ingang by die hooftonnel moes aansluit. Hoe kon die drie spanne die boorwerk koördineer om seker te maak dat hulle mekaar diep binne die berg sou ontmoet? Satellietnavigasiestelsels is gebruik om die presiese beginpunt van elke span te bepaal, en laserstrale is gebruik om te wys waar hulle moes boor. Hierdie laserstrale het die beweging van die boormasjiene beheer om te verseker dat die gate vir die plofstowwe op presies die regte plek geboor sou word.
Vir elke ontploffing is ongeveer 100 gate geboor wat elk 5,2 meter diep was. Die gate is met sowat 500 kilogram plofstof gevul, wat ongeveer 500 kubieke meter vergruisde klip opgelewer het. Hierdie puin is dan met vragmotors verwyder. Voordat hulle verder kon boor, moes hulle eers die mure en dak van die tonnel versterk. Lang staalboute is gebruik, en die oppervlak is bespuit met veselversterkte beton, wat as spuitbeton bekend staan. Elke span het weekliks sowat 60 tot 70 meter gevorder. In September 1999 is daar deurgebreek en het die twee spanne wat aan die hooftonnel gewerk het, mekaar ontmoet, met ’n afwyking van ongeveer 50 sentimeter! Soos wat beplan is, is die tonnel veertien maande later geopen. Die projek het uiteindelik ongeveer R1,2 miljard gekos.
Hoe is ventilasie voorsien?
Dit is altyd ’n uitdaging vir tonnelingenieurs om goeie luggehalte in tonnels te verseker. Aangesien dit amper 20 minute neem om deur die Laerdal-tonnel te ry, is dit veral belangrik dat die lug skoon genoeg moet wees dat ’n mens dit kan inasem. Hoe het hulle dit reggekry?
Die twee kilometer lange ventilasietonnel, wat 6,5 kilometer van die Laerdal-ingang is, loop tot by ’n nabygeleë vallei en dien as ’n skoorsteen, of ’n uitlaat. Vars lug word aan weerskante van die tonnel ingesuig, en besoedelde lug ontsnap deur die ventilasietonnel. Twee kragtige waaiers in die ventilasietonnel—met ’n gesamentlike maksimumkapasiteit van 1,7 miljoen kubieke meter per uur—kan gebruik word om die lugtoevoer te verhoog as die lug baie besoedel is. Hierdie stelsel voorsien genoeg vars lug aan die Laerdal-kant van die tonnel; maar meer was nodig vir die Aurland-kant, wat langer is. Gevolglik is 32 kleiner waaiers, impulswaaiers, in die dak van die tonnel geïnstalleer om die lugtoevoer na die ventilasietonnel te verhoog. Maar terwyl hierdie lug van die Aurland-kant al die pad na die opening van die ventilasietonnel vloei, word dit meer en meer besoedel. Hoe kon hierdie probleem opgelos word?
Die oplossing was om ’n suiweringsinstallasie in ’n 100 meter lange parallelle tonnel te bou wat 9,5 kilometer van die Aurland-ingang af is. Hierdie tonnel is aan weerskante met die hooftonnel verbind. Die lug in die hooftonnel word in hierdie parallelle tonnel ingesuig, waar tot 90 persent van die stof en stikstofdioksied verwyder word.
Met hierdie ventilasiestelsel en suiweringsproses kan tot 400 motors per uur sonder enige probleem deur die Laerdal-tonnel ry. Sensors in die tonnel monitor die luggehalte en reguleer die werking van die ventilasiestelsel. As die besoedelingsvlak te hoog word, sal die tonnel vir verkeer gesluit word, maar tot dusver was dit nie nodig nie.
Hoe veilig is dit?
Sommige mense is bang om deur ’n tonnel te ry. Dit, tesame met die feit dat daar onlangs ernstige ongelukke en brande in verskeie Europese tonnels was, het veiligheid ’n hoë prioriteit in die Laerdal-tonnel gemaak. Wat is gedoen om die tonnel veilig te maak?
’n Beheersentrum in Laerdal monitor voortdurend die verskillende veiligheidstelsels in die tonnel, en as ’n gevaarlike situasie sou ontstaan, sal die tonnel gesluit word. Baie voorsorgmaatreëls is getref sodat die tonnel vinnig gesluit en ontruim kan word. Verder is daar noodtelefone elke 250 meter en twee brandblussers elke 125 meter. Die beheersentrum registreer outomaties die posisie van enige brandblusser wat verwyder word. As een verwyder word, waarsku rooi verkeersligte bestuurders om nie die tonnel binne te gaan nie, en tekens en ligte in die tonnel wys vir bestuurders om die tonnel in die veilige rigting te verlaat, weg van die gevaar af. Daar is omdraaiplekke vir motorbestuurders elke 500 meter en 15 plekke waar groter voertuie kan omdraai. Die tonnel is ook toegerus met ’n radio-antenna-stelsel waardeur motoriste oor hulle motorradio’s oor ’n situasie ingelig kan word. Teltoestelle en kamerastelsels monitor alle verkeer wat in en uit die tonnel gaan. Die verkeersdepartement beskou dit as ’n baie veilige stelsel as ’n mens in ag neem dat die verkeersdigtheid betreklik laag is.
Wat maak hierdie tonnel uniek?
Hoe voel dit om deur die tonnel te ry? ’n Belangrike oogmerk wat die ingenieurs wou bereik, was om dit vir bestuurders ’n aangename ondervinding te maak om deur die tonnel te ry sodat hulle veilig sou voel en ook veilig sou bestuur. Om dit reg te kry, is die binnekant van die tonnel ontwerp met die hulp van onder meer verkeersielkundiges by ’n navorsingsinstituut, professionele beligtingsingenieurs en ’n bestuurnabootser.
Wat was die resultaat? Wel, die tonnel is nie heeltemal reguit nie. Effense draaie help bestuurders om wakker te bly, en tog kan hulle 1 000 meter voor hulle sien. Draaie maak dit ook makliker om die afstand na aankomende verkeer te skat. Drie groot grotagtige bergsale maak die rit minder eentonig. Dit skep die illusie dat jy deur vier korter tonnels ry, en nie net deur een lang tonnel nie. Spesiale beligting in hierdie sale, met geel of groen lig op die vloer en blou lig teen die dak, laat dit lyk of daglig inkom en die son opkom. Die effek wat hierdeur geskep word, saam met goeie beligting al langs die tonnel, laat die meeste bestuurders veilig en op hulle gemak voel.
Nou kan reisigers die unieke ondervinding geniet om deur die wêreld se langste padtonnel te ry. Danksy hierdie moderne ingenieursprestasie is daar nou ’n betroubare verbinding tussen die ooste en die weste van Noorweë. Dit lewer kragtige bewys van wat die mens kan doen wanneer hy sy vaardigheid en vindingrykheid op ’n konstruktiewe manier gebruik.
[Diagram/Prent op bladsy 25]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die tonnelroete
Laerdal ← → Aurland
[Diagram/Kaart op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die Laerdal-tonnel
Hoofweë
↑ Na Laerdal
→ E16 na Oslo
* Impuls-waaiers op hierdie plekke
Rigting van lugvloei
↓
bergsaal
↓
Waaier-stasie → ventilasie-tonnel
↑
*
↓
bergsaal
↑
*
lugsuiwerings-installasie
↑
*
bergsaal
*
↑
*
↑
Rigting van lugvloei
Aurland
↓ E16 na Bergen
1 myl
1 kilometer
[Erkenning]
Statens vegvesen, Sogn og Fjordane
[Kaart op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
NOORWEË
Laerdal-tonnel
Bergen E16 OSLO
[Prent op bladsy 25]
Laerdal-ingang
[Prent op bladsy 25]
’n Skets van die lugsuiweringsinstallasie
[Prent op bladsy 25]
Dwarsdeursnee van tonnel, met staalboute wat mure en dak versterk
[Prent op bladsy 26]
Die tonnel het sowat 100 noodtelefone en byna 400 brandblussers
[Prent op bladsy 26]
Daar is drie bergsale met spesiale beligting
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Kaart: Foto: Leiv Bergum; lugsuiweringsinstallasie: ViaNova A/S; alle ander foto’s op bladsye 24-6: Statens vegvesen, Sogn og Fjordane