Die Bybel se beskouing
Is dit verkeerd om te treur?
“WAT MEER IS, BROERS, ONS WIL NIE HÊ DAT JULLE ONKUNDIG MOET WEES AANGAANDE DIÉ WAT IN DIE DOOD SLAAP NIE, SODAT JULLE NIE TREUR SOOS DIE RES WAT GEEN HOOP HET NIE.”—1 TESSALONISENSE 4:13.
DIE Bybel bied ’n hoop vir afgestorwenes. Die opstandings wat Jesus laat plaasvind het, sowel as sy leringe, dui op ’n tyd wanneer die dooies opgewek sal word (Matteus 22:23-33; Markus 5:35, 36, 41, 42; Lukas 7:12-16). Hoe moet hierdie hoop ons raak? Die apostel Paulus se woorde wat hierbo aangehaal word, toon dat hierdie hoop ’n bron van vertroosting kan wees wanneer ’n geliefde sterf.
As jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, ken jy ongetwyfeld die emosionele pyn wat met so ’n tragedie gepaardgaan. Theresa, wie se man, met wie sy 42 jaar lank getroud was, kort ná ’n hartoperasie dood is, sê: “Dit was so ’n skok! My eerste gevoel was oorweldigende vrees. Toe het die verskriklike pyn gekom wat met verloop van tyd al hoe erger geword het. Ek het baie gehuil.” Dui so ’n reaksie op ’n gebrek aan geloof in Jehovah se belofte om die dooies op te wek? Beteken Paulus se woorde dat dit verkeerd is om te treur?
Bybelvoorbeelde van mense wat getreur het
Ons vind die antwoord op hierdie vrae wanneer ons Bybelvoorbeelde van mense wat getreur het, ondersoek. In baie gevalle het ’n routyd op die dood van ’n naaste familielid gevolg (Genesis 27:41; 50:7-10; Psalm 35:14). Die gevoelens wat met hierdie rou gepaardgegaan het, was dikwels baie intens.
Let op hoe party manne van geloof oor die dood van ’n geliefde getreur het. Abraham het byvoorbeeld sterk geloof gehad dat God die dooies kan opwek (Hebreërs 11:19). Al het hy hierdie oortuiging gehad, het hy, toe sy vrou gesterf het, “gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween” (Genesis 23:1, 2). Toe Jakob se seuns ’n leuen vertel en vir hom gesê het dat sy geliefde seun Josef gesterf het, het Jakob ‘sy klere geskeur en hom beween’ (Genesis 37:34, 35). Trouens, jare later het die gedagte aan sy dierbare seun se dood nog swaar op Jakob gerus! (Genesis 42:36-38). Koning Dawid het ook openlik en intens getreur oor die dood van sy twee seuns Amnon en Absalom. Hoewel hulle albei vir Dawid en sy gesin angs besorg het, was hulle nog steeds sy seuns, en hulle dood het hom baie hartseer gemaak.—2 Samuel 13:28-39; 18:33.
By tye het die hele nasie Israel getreur, soos toe hulle oor Moses se dood getreur het. Deuteronomium 34:8 sê vir ons dat die Israeliete 30 dae lank oor hom geween het.
Ten slotte is daar die voorbeeld van Jesus Christus. Sy goeie vriend Lasarus het gesterf. En toe Jesus sien hoe Lasarus se susters, Marta en Maria, en hulle vriende huil, het hy “in die gees gekreun en verontrus geword”. Hoewel hy geweet het dat hy ’n paar oomblikke later sy vriend sou opwek, het hy nogtans “trane begin stort”. Jesus was lief vir sy dierbare vriendinne Marta en Maria. Hy is dus diep geraak toe hy hulle smart oor hulle broer se dood gesien het.—Johannes 11:33-36.
Abraham, Jakob, Dawid en Jesus het almal groot geloof in Jehovah en in sy beloftes beoefen, en tog het hulle getreur. Was hulle smart ’n teken van geestelike swakheid? Was hulle droefheid ’n blyk van hulle gebrek aan geloof in die opstanding? Hoegenaamd nie! Om te treur, is ’n normale reaksie op die dood van ’n geliefde.
Waarom ons treur
Dit was nooit God se voorneme dat mense sterf nie. Jehovah se oorspronklike voorneme, soos geopenbaar aan Adam en Eva, was dat die aarde in ’n pragtige paradys omskep word met ’n liefdevolle, gelukkige gesin wat dit bewoon. Die dood sou net kom as daardie eerste mensepaar gekies het om ongehoorsaam aan Jehovah te wees (Genesis 1:28; 2:17). Ongelukkig was Adam en Eva wel ongehoorsaam, en weens hulle ongehoorsaamheid het ‘die dood tot alle mense deurgedring’ (Romeine 5:12; 6:23). Die dood is dus ’n wrede vyand wat nooit bedoel was om daar te wees nie.—1 Korintiërs 15:26.
Dit is dus net redelik dat die onnatuurlike dood van ’n geliefde diep emosionele pyn tot gevolg het vir diegene wat daardeur geraak word. Dit veroorsaak ’n baie groot leemte in hulle lewe. Theresa, die weduwee wat aan die begin genoem is, het oor haar man gesê: “Ek is seker dat ek hom in die opstanding weer sal sien, maar ek mis hom nou so baie. Dit is wat regtig seermaak.” Die dood van ’n ouer herinner ons moontlik aan ons eie sterflikheid. Die dood van ’n jong persoon pynig ons veral weens die tragedie van ’n lewe wat kortgeknip is.—Jesaja 38:10.
Ja, die dood is onnatuurlik. Die pyn wat dit bring, moet verwag word, en Jehovah beskou dit nie as ’n gebrek aan geloof in die opstanding om te treur nie. Soos die voorbeelde van Abraham, Jakob, Dawid, die nasie Israel en Jesus toelig, beteken die uiterlike blyke van die pyn in ons hart nie dat ons geestelik te kort skiet nie.a
Hoewel ons as Christene beslis weens die dood met droefheid gevul word, treur ons nietemin nie “soos die res wat geen hoop het nie” (1 Tessalonisense 4:13). Ons gee ons nie oor aan onredelike uiterstes wanneer ons treur nie, want ons is nie verward oor die toestand van die dooies nie. Ons weet dat hulle nie pyn of angs het nie, maar in ’n toestand is wat met ’n diepe, vreedsame slaap vergelyk kan word (Prediker 9:5; Markus 5:39; Johannes 11:11-14). Ons het ook volle vertroue dat Jesus, “die opstanding en die lewe”, sy belofte sal vervul om “almal wat in die gedenkgrafte is”, terug te bring.—Johannes 5:28, 29; 11:24, 25.
As jy dus tans treur, kan jy vertroosting vind in die wete dat Jehovah jou pyn verstaan. Mag hierdie wete en jou vertroue in die opstandingshoop jou droefheid verlig en jou help om jou verlies te verwerk.
[Voetnoot]
a Sien bladsye 14-19 van die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vir hulp om droefheid te verwerk.