Van ons lesers
Oseane Ek het vandag die reeks “Die oseane onthul hulle diepste geheime” (22 November 2000) gelees. Ek is lief vir die natuur, maar die geheime van die diepsee was vir my onbekend. Namate ’n mens meer omtrent die aarde en sy wonders leer, hoe groter moet jou respek in werklikheid word vir hierdie dinamiese planeet en sy oneindig wyse Skepper.
C. F., Italië
Dankie vir hierdie fassinerende reeks. Ek het nog altyd gewonder waarom Jehovah organismes soos die buiswurm gemaak het as die meeste mense nie eers van hulle bestaan weet nie. Ek het van die gedeelte gehou wat sê dat hierdie diertjies Jehovah se besorgdheid oor reinheid op die aarde weerspieël—’n gesindheid wat ons ook moet hê.
H. S., Brittanje
Toe ek hierdie reeks lees, was dit asof ek self die seebodem besoek en na die wonders van die oseaan kyk, terwyl ek ’n breedvoerige en ingeligte verduideliking kry. Julle aanbieding het my gehelp om God se eienskappe duideliker te sien uit die dinge wat hy geskep het.
J.M.M., Zambië
Dit is een van die interessantste reekse wat ek nog in die Ontwaak! gelees het. Dit lewer verdere bewys dat net ’n intelligente Wese ons planeet met alles daarop kon geskep het. Sulke artikels versterk ons begeerte om ons Grootse Skepper te dien.
S. G., Brasilië
Vaders wat nie daar is nie My pa het die huis verlaat toe ek ses jaar oud was. Ek is nou 20, en ek het hom sedertdien nie weer gesien nie. Ek het altyd gedink dat dit my skuld is dat hy weggegaan het en dat hy nie lief was vir my nie. Die artikel “Jongmense vra . . . Waarom het my pa ons verlaat?” (22 November 2000) het al my vrae beantwoord. Dankie dat julle die gevoelens verstaan van kinders wie se pa’s die huis verlaat het.
K. M., Japan
Ek en my man is meer as twee jaar gelede geskei. Ek het alles in my vermoë gedoen om my seun sover te kry om oor die egskeiding te praat, maar niks het gewerk nie. My seun het nou vir die eerste keer erken dat hy deur die egskeiding geraak is. Dit was ’n groot deurbraak. Hy is stadig maar seker besig om sy hart oop te maak. Ek kan nie sê hoe dankbaar ek is dat julle jongmense so baie met al hulle bekommernisse help nie.
D. H., Verenigde State
Met die uitsondering van een kort stelling het die artikel gesê dat vaders die huis verlaat weens hulle eie slegte gedrag. Maar dit lyk of al hoe meer vrouens hulle mans verlaat. Ná 18 jaar van getroude lewe het my vrou ’n promiskue lewe begin lei. Ek moes noodgedwonge my eie huis verlaat. Ek voel ek moes hierdie kant van die saak stel.
L. G., Verenigde State
Soos jy tereg noem, het ons erken dat party vaders die huis verlaat weens die slegte gedrag van hulle vrou. Baie van die beginsels wat in die artikel bespreek is, sal ook op hierdie situasie van toepassing wees.—RED.
Narkose In die artikel “Van pyn tot narkose” (22 November 2000) sê julle dat daar voor die 1840’s geen narkose was nie. Operasies is lank voor die 1840’s suksesvol uitgevoer deur Seisjoe Hanaoka in Japan.
S. A., Japan
Die mediese wêreld het oor die algemeen nie narkose voor die 1840’s gebruik nie. Maar die “Kodansha Encyclopedia of Japan” sê dat Seisjoe Hanaoka (1760-1835) ’n verdowingsmiddel voorberei het wat “mafoetsoesan” genoem is deur “ses eenvoudige kruie” te meng. Hy “het dit in 1805 met welslae gebruik in ’n operasie vir borskanker—ongeveer 40 jaar voor eter vir die eerste keer by Massachusetts se Algemene Hospitaal in Boston gebruik is”. Seisjoe het sy verdowingsmiddel daarna in verskeie operasies gebruik.—RED.