Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/8 bl. 4-7
  • Die oorsprong van haat

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die oorsprong van haat
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onkunde en vrees
  • Waarom soveel geweld?
  • Verstande word besoedel
  • Die enigste manier om haat uit te wis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Hoekom is daar soveel haat? – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
  • Waarom soveel haat?
    Ontwaak!—1997
  • Hoekom is daar ’n siklus van haat?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe) – 2022
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/8 bl. 4-7

Die oorsprong van haat

HAAT het vroeg in die mensegeskiedenis reeds kop uitgesteek. Die Bybelverslag in Genesis 4:8 (NW) sê: “Terwyl hulle in die veld was, het Kain sy broer Abel aangeval en hom doodgemaak.” “En waarom het hy hom doodgemaak?” vra die Bybelskrywer Johannes. “Omdat sy eie werke goddeloos was, maar dié van sy broer regverdig” (1 Johannes 3:12). Abel was die slagoffer van een van die algemeenste oorsake van haat: jaloesie. Spreuke 6:34 (NW) sê: “Die woede van ’n man is jaloesie.” Vandag veroorsaak jaloesie oor ander se sosiale stand, rykdom, middele en ander voordele voortdurend konflikte tussen mense.

Onkunde en vrees

Maar jaloesie is net een van die talle oorsake van haat. Haat word dikwels ook deur onkunde en vrees aangeblaas. “Nog voor ek geleer het om te haat, het ek geleer om te vrees”, het ’n jong lid van ’n gewelddadige rassistegroep gesê. Sulke vrees spruit meestal uit onkunde voort. Volgens The World Book Encyclopedia is bevooroordeelde mense geneig om menings te huldig “sonder om die beskikbare bewyse in ag te neem. . . . Bevooroordeelde individue is geneig om die feite wat met hulle vooropgesette menings bots, te verdraai, verkeerd voor te stel of selfs te ignoreer.”

Waar kom hierdie menings vandaan? Een inligtingsdiens op die Internet sê: “Die geskiedenis is verantwoordelik vir baie kulturele stereotipes, maar ons eie persoonlike geskiedenis is ook verantwoordelik vir baie van ons vooroordele.”

In die Verenigde State het die slawehandel byvoorbeeld gelei tot ’n lang geskiedenis van spanning tussen talle blankes en Afrikane—spanning wat tot vandag toe nog bestaan. Ouers dra dikwels hulle negatiewe menings omtrent rasse aan hulle kinders oor. Een blanke rassis het erken dat hy gevolglik negatiewe gevoelens oor rasse ontwikkel het “sonder dat hy ooit enige kontak met swart mense gehad het”.

Dan is daar ook diegene wat dink dat mense wat anders is, niks werd is nie. Hierdie mening word dalk gebaseer op een onaangename voorval met iemand van ’n ander ras of kultuur. Dit laat hulle tot die drastiese gevolgtrekking kom dat almal van daardie ras of kultuur ongewenste eienskappe moet hê.

Hoewel onverdraagsaamheid op individuele vlak reeds iets leliks is, kan dit dodelik wees wanneer ’n hele nasie of ras onverdraagsaam is. Die beskouing dat ’n mens se nasionaliteit, velkleur, kultuur of taal jou beter as ander maak, kan lei tot onverdraagsaamheid en xenofobie (die afkeer van almal en alles wat vreemd is). Gedurende die 20ste eeu is sulke onverdraagsaamheid dikwels op ’n gewelddadige wyse geopenbaar.

Dit is interessant dat haat en onverdraagsaamheid nie noodwendig met velkleur of nasionaliteit verband hou nie. Die navorser Clark McCauley van die Universiteit van Pennsilvanië skryf dat “’n arbitrêre verdeling van individue in twee groepe, selfs deur net ’n muntstuk op te skiet, genoeg is om ’n samehorigheidsgevoel binne die groepe te laat ontstaan”. ’n Graaddrieonderwyseres het dit bewys toe sy, as deel van ’n welbekende eksperiment, haar klas in twee groepe verdeel het—kinders met blou oë en kinders met bruin oë. Binne ’n kort tydjie het die twee groepe aggressief teenoor mekaar begin optree. Selfs bande op grond van nietighede soos ’n voorkeur vir dieselfde sportspan kan in gewelddadige konflikte ontaard.

Waarom soveel geweld?

Maar waarom word daar so dikwels op gewelddadige wyse aan sulke vyandighede uiting gegee? Navorsers het hierdie kwessies al deeglik ondersoek en kan nog steeds net met teorieë vorendag kom. Clark McCauley het ’n volledige bibliografie saamgestel van die navorsing wat al oor mensegeweld en -aggressie gedoen is. Hy haal een studie aan wat toon dat “geweld verband hou met oorloë wat gevoer en gewen word”. Die navorsers het gevind dat daar “in nasies wat aan die Eerste en die Tweede Wêreldoorlog deelgeneem het, veral nasies wat aan die wenkant van hierdie oorloë was, meer moorde gepleeg is nadat die oorlog verby was”. Ons leef volgens die Bybel in ’n tydperk van oorloë (Matteus 24:6). Kan dit wees dat sulke oorloë op die een of ander manier bygedra het tot die toename in ander vorme van geweld?

Ander navorsers soek na ’n biologiese verklaring vir die aggressie onder mense. Een navorsingstudie het sekere vorme van aggressie met die “lae vlakke van serotonien in die brein” probeer verbind. Nog ’n gewilde veronderstelling is dat aggressie in ons gene opgesluit lê. Haat “is dalk selfs in groot mate oorerflik”, het een politoloog geredeneer.

Die Bybel self sê dat onvolmaakte mense met slegte eienskappe en tekortkominge gebore word (Genesis 6:5; Deuteronomium 32:5). Daardie woorde is natuurlik op alle mense van toepassing. Maar nie alle mense haat ander sommer voor die voet nie. Dit is iets wat aangeleer word. Die bekende sielkundige Gordon W. Allport het dus opgemerk dat daar by babas “byna geen . . . tekens van instinktiewe, vernietigende gedrag [is nie]. . . . Die baba is positief ingestel en reageer op amper elke soort stimulus en elke soort persoon.” Sulke waarnemings bewys dat aggressie, vooroordeel en haat hoofsaaklik aangeleerde gedrag is! Hierdie skynbare vermoë van mense om haat aan te leer, word genadeloos uitgebuit deur voorstanders van haat.

Verstande word besoedel

Leiers van verskeie haatgroepe, soos die neo-Nazistiese skinheads en die Ku Klux Klan, neem die voortou hierin. Hierdie groepe is dikwels daarop uit om jongmense wat vatbaar is vir indrukke en uit disfunksionele gesinne kom, by hulle te laat aansluit. Jongmense wat onseker en minderwaardig voel, dink dalk dat haatgroepe hulle die gevoel gee dat hulle êrens hoort.

Die Wêreldwye Web is veral ’n kragtige instrument wat party al gebruik het om haat te bevorder. Volgens ’n onlangse opname is daar moontlik tot 1 000 webwerwe met haatpropaganda op die Internet. Die tydskrif The Economist haal die eienaar van een haatwebwerf aan wat spog: “Die Net het ons die geleentheid gegee om ons menings aan honderdduisende mense bekend te maak.” Sy webwerf sluit ’n “Kinderblad” in.

Wanneer tieners deur die Internet blaai op soek na musiek, kan hulle op skakels na webwerwe afkom waar haatmusiek afgelaai kan word. Sulke musiek is gewoonlik oorverdowend en gewelddadig, met lirieke waarin kragtige, rassistiese boodskappe oorgedra word. Hierdie webwerwe bied weer skakels na nuusgroepe, kletskamers of ander webwerwe wat haat bevorder.

Sommige haatwebwerwe het spesiale blaaie met speletjies en bedrywighede vir jongmense. Een neo-Nazistiese webwerf probeer die Bybel gebruik om rassisme en anti-Semitisme te regverdig. Die groep het ook ’n blad saamgestel vir blokkiesraaisels met rassistiese kommentare. Wat is die doel daarvan? “Sodat ons die jong lede van die wit ras kan help om ons stryd te verstaan.”

Maar nie alle voorstanders van haat is van die ekstremistiese buitekring nie. ’n Sosioloog wat oor die onlangse konflikte in die Balkan geskryf het, het aangaande sekere gerespekteerde skrywers en diegene wat hulle menings in die openbaar lug, gesê: “Ek was verstom om te sien dat [hulle] ’n styl aanneem wat hulle landgenote se slegste drange bevredig, hulle hartstogtelike haat aanblaas, hulle oordeel belemmer deur te redeneer dat geen gedrag onaanvaarbaar is nie . . . en die werklikheid verkeerd voorstel.”

’n Mens moet ook nie die rol van die geestelikes in hierdie verband ignoreer nie. In sy boek Holy Hatred: Religious Conflicts of the ’90’s maak die skrywer James A. Haught hierdie skokkende opmerking: “’n Groot ironie van die 1990’s is dat godsdiens—wat kwansuis ’n bron van goedhartigheid en besorgdheid oor mense is—die voortou geneem het as die vernaamste faktor wat tot haat, oorlog en terrorisme bydra.”

’n Mens kan dus sien dat die oorsake van haat talryk en ingewikkeld is. Beteken dit dan dat die mens nooit sal kan ophou om die foute van sy haatgevulde geskiedenis te herhaal nie? Kan enigiets op ’n individuele vlak sowel as op ’n wêreldskaal gedoen word om die onenigheid, die onkunde en die vrees teë te werk wat haat verwek?

[Lokteks op bladsy 6]

Vooroordeel en haat is aangeleerde gedrag!

[Prent op bladsy 4]

Ons word nie gebore met gevoelens van haat . . .

. . . en onverdraagsaamheid nie

[Prent op bladsy 7]

Haatgroepe gebruik die Internet om jongmense by hulle te laat aansluit

[Prent op bladsy 7]

Godsdiens het al dikwels konflikte aangeblaas

[Erkenning]

AP Photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel