Van ons lesers
Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) Toe ek die Ontwaak! van 22 Augustus 2001 ontvang het, met die titel “Hoe om posttraumatiese stres te verwerk”, was ek so verras dat ek nie kon ophou huil nie. Ek het voortdurend gebid dat Jehovah my moet leer hoe om my PTSV te verwerk. Ek het gedink dat ek niks werd is nie en ek het my selfrespek begin verloor. Vandag het ek die antwoord op my gebede gekry. Ek kan nie beskryf hoeveel hierdie artikels vir my beteken het nie, geestelik sowel as emosioneel.
C. K., Japan
Ek is ’n 40-jarige volwassene wat aan posttraumatiese stresversteuring ly weens my kinderjare. Julle artikels het my gebede beantwoord. Hulle was so aanmoedigend en positief. Dankie vir sulke insiggewende artikels. Hou so aan!
R.D.M., Verenigde State
Dit is moeilik om die pyn en lyding te beskryf wat deur hierdie versteuring veroorsaak word. My pa was ’n alkoholis, en van kleins af is ek aan sy woede en geweld blootgestel. Ek is ook seksueel gemolesteer. Ek was bly dat die artikel uitgewys het dat mense met PTSV geneig is om hulleself te veroordeel en baie aanmoediging nodig het. Ek bedank Jehovah hartlik en ook almal van julle vir hierdie wonderlike artikels.
Y. S., Japan
Artikels soos dié help ons emosioneel en versterk ons ook verstandelik sodat ons beter kan doen. Hou asseblief aan om sulke nodige artikels te skryf wat ons help om onsself te verstaan!
C. L., Verenigde State
Ek is met PTSV gediagnoseer, maar al wat ek van die versteuring geweet het, is dat ’n mens terugflitse ondervind. Julle artikels het besonderhede omtrent die simptome verduidelik. Ek het myself verkwalik en gedink dat my geestelikheid skerp afgeneem het. Maar die punt dat ons moet dink aan hoe Jehovah ons sien, nie hoe ons onsself sien nie, het my baie gehelp.
J. S., Japan
Dit was moeilik om hierdie artikels te lees omdat ek soveel gehuil het. Die afgelope twee jaar kry ek terugflitse en nagmerries van die aand toe my oupa in my arms aan ’n hartaanval gesterf het. By Christelike vergaderinge was ek die meeste van die tyd in trane. Hierdie inligting het my gehelp om te verstaan waarom ek nog steeds sulke intense pyn ervaar. Nou weet ek waar om hulp te soek—by my liefdevolle en sorgsame hemelse Vader en sy organisasie.
P. T., Australië
Ek het my man vyf jaar gelede in ’n motorongeluk verloor, en ’n jaar later het ek ongewone fisiese simptome begin ervaar. Toe ek hierdie artikel ontvang het, was ek oortuig dat Jehovah en sy organisasie hierdie saak die beste verstaan. Net dié wete het my weer die nodige krag gegee om aan te gaan. My innige dank vir al die werk wat julle doen!
A. K., Japan
Bybellees Ek wil julle uit die diepte van my hart bedank vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek Bybellees genotvoller maak?” (22 Augustus 2001). Ek is 17 jaar oud. Ek het altyd halfpad deur die Bybel opgehou om dit te lees. Soms was dit net omdat ek gevoel het dat ek te besig is, en ander kere het ek gedink dat wat ek gelees het, my nie regtig sou kon help nie. Maar die jongmense in die artikel geniet regtig hulle Bybellees en vind baat daarby. Ek kon nie help om dit ook te wil lees nie. Nou wil ek aanhou probeer en nie opgee nie.
Y. T., Japan