Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 8/22 bl. 11-14
  • Veranderende gesindhede teenoor bejaardheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Veranderende gesindhede teenoor bejaardheid
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Algemene veronderstellings
  • Gesindhede teenoor bejaardheid
  • ’n Grys vloedgolf
  • Die toneelstuk word herskryf
  • ’n Groot bydrae
  • Probeer bedrywig bly
  • Mites en feite oor bejaardes
    Ontwaak!—2001
  • Jehovah sorg met teerheid vir sy bejaarde knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Ware Christene eer bejaardes!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die verouderingsproses—’n realistiese beskouing
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 8/22 bl. 11-14

Veranderende gesindhede teenoor bejaardheid

OP WATTER ouderdom is jy oud? Die antwoord hang blykbaar af van wie jy vra. Tieners sal maklik enigiemand bo 25 in hierdie kategorie plaas.

Daarenteen bereik operasangers eers baie later in die lewe hulle fleur. En ’n verslag in Australië se koerant The Sun-Herald sê aangaande diegene wat vasbeslote is om die korporatiewe leer te klim: “Vandag se werklikheid is dat jy nooit suksesvol sal wees as jy dit nog nie teen 40 reggekry het nie.”

Algemene veronderstellings

Party neem dalk aan dat mense wat ouer is, ongeluksvatbaar is, stadig leer en liggaamlik vinnig agteruitgaan. Is dit redelik om sulke veronderstellings te maak? Wel, volgens statistiek van die Wêreldgesondheidsorganisasie is daar in die hele Europese streek “by elke derde padsterfte iemand betrokke wat jonger as 25 is”. Daarbenewens gaan ’n mens tussen die ouderdomme van 30 en 40 liggaamlik die vinnigste agteruit, en daar is geen bewyse dat ’n gesonde persoon se verstandelike vermoë afneem namate hy ouer word nie.

Wat van die veronderstelling dat bejaardes noodwendig sieklik is? “’n Algemene mite is dat veroudering en siekte sinoniem is”, sê The Medical Journal of Australia. Feit is dat baie bejaardes ’n redelike mate van gesondheid geniet en hulleself nie as oud beskou nie. Party voel soos die Amerikaanse staatsman Bernard Baruch, wat gesê het: “Vir my is iemand wat oud is, altyd vyftien jaar ouer as ek.”

Maar waarom word daar dikwels teen ouer mense gediskrimineer en is hulle soms selfs die skyf van openlike vooroordeel? Die antwoord het tot ’n groot mate met gesindhede teenoor bejaardheid te doen.

Gesindhede teenoor bejaardheid

“Amerikaners is behep met jeugdigheid en het die media se beskouing van bejaardes verdraai”, beweer Max Frankel in The New York Times Magazine. “Bejaardes is feitlik uit die mediabedryf verban”, sê hy. Dit help moontlik om ’n moderne paradoks te verduidelik wat The UNESCO Courier waargeneem het: “’n Samelewing het . . . nog nooit soveel vir sy oudste lede gedoen nie. Hulle vind baat by ekonomiese en maatskaplike beskerming, maar die beeld wat die samelewing van hulle het, is baie negatief.”

Selfs die mediese beroep is nie vry van hierdie vooroordeel nie. The Medical Journal of Australia sê: “Baie dokters, asook die gemeenskap oor die algemeen, dink dat dit te laat is om mense wat ouer as 65 is, voorkomende behandeling te gee. . . . Die negatiewe gesindheid . . . het beteken dat ouer mense uit talle belangrike studies uitgesluit is.”

Dieselfde tydskrif voer aan: “’n Negatiewe gesindheid teenoor bejaardes, om hulle as ‘oud’ te bestempel, kan as ’n verskoning gebruik word om minderwaardige mediese sorg te voorsien. Baie algemene, maar klein, funksionele probleme soos swak sig en gehoor word oor die hoof gesien of as ’n normale deel van veroudering aanvaar. . . . ’n Verandering in gesindheid teenoor bejaardes is die kern van ’n doeltreffende voorkomende program.”

“Miskien het die tyd aangebreek om die tradisionele definisie van wat bejaardheid is, op ’n positiewe wyse te hersien, ten minste in ontwikkelde lande”, het die Britse mediese tydskrif The Lancet aanbeveel. Waarom is dit belangrik? Die tydskrif verduidelik: “’n Gewysigde definisie kan ’n einde maak aan die wanhoop en pessimistiese voorspellings wat alte dikwels gebruik word om vooroordele aan te vuur oor die ‘vloedgolf’ bejaardes wat ’n ‘onregverdige deel’ van skaars mediese hulpbronne gebruik.”

’n Grys vloedgolf

Die waarheid is dat die grys golf reeds hier is—en dit is nie net ’n golf nie, maar ’n stygende gety. “Wêreldwyd sal die aantal mense wat 65 jaar en ouer is, tussen 1955 en 2025 viervoudig toegeneem het, en hulle persentasie van die totale bevolking sal verdubbel het”, berig The UNESCO Courier.

Die aantal bejaardes in Indië is reeds meer as die hele bevolking van Frankryk. En daar word gesê dat 76 miljoen van die sogenaamde geboortegolfgeslag—diegene wat in die 18 jaar ná die Tweede Wêreldoorlog gebore is—gedurende die volgende halfeeu in die Verenigde State sal aftree. Hoewel hierdie neiging in die rigting van ’n verouderende wêreldbevolking vir baie ekonome en gesondheidswerkers ’n rede tot kommer is, plaas dit ook druk op party van ons vooropgesette idees oor veroudering.

Die toneelstuk word herskryf

Party vergelyk die lewe met ’n toneelstuk wat uit drie bedrywe bestaan. Daar word verwag dat jeugdige opwinding en opvoeding die eerste bedryf sal oorheers. Die verantwoordelikhede om ’n gesin groot te maak en die voortdurende werksdruk bepaal die stemming van die tweede bedryf. Vir die derde bedryf word die toneelspelers aangemoedig om onder die kollig uit op ’n stoel te gaan sit en terneergedruk vir die slotgordyn te wag.

Maar weens verskeie redes, insluitende ongelooflike vooruitgang in gesondheidsorg en higiëne gedurende die 20ste eeu, het die tyd wat “toneelspelers” nou gedurende die “derde bedryf” van die verhoog af is, met tot 25 jaar toegeneem. Baie is nie meer tevrede om terug te sit en ledig af te tree nie. Die toename in hierdie bedrywige bejaardes begin vereis dat die toneelstuk herskryf word.

’n Groot bydrae

Die algemene siening dat die meeste ouer mense van ander afhanklik is, is eenvoudig nie waar nie. The New York Times Magazine het berig dat “die meeste bejaardes [in die Verenigde State] selfonderhoudende, middelklasverbruikers is met meer bates as jong paartjies . . . en [dat] sosioloë die verskyning van ’n kragtige groep . . . welgestelde ouer mense waarneem”. Philip Kotler, ’n professor van bemarking aan die Noordwestelike Universiteit in die Verenigde State, het hieroor kommentaar gelewer. “Bemarkers”, het hy gesê, “sal binnekort besef dat die aantreklikste demografiese teikenmark welgestelde verbruikers is wat 55 jaar en ouer is.”

Die bydrae wat bedrywige ouer mense maak, strek baie verder as geldelike invloed. The Sunday Telegraph van Sydney het gesê dat “grootmoeders [in Australië] nou die helfte van alle informele werkverwante kindersorg voorsien, en meer as ’n derde van die werkende vroue laat die kinders se grootmoeder na hulle omsien terwyl hulle by die werk is”.

In plekke soos die Franse stad Troyes word die versamelde wysheid van die bejaardes as ’n waardevolle hulpbron beskou. Hierdie wysheid word ontgin wanneer ouer mense buite skoolure gebruik word om kinders vaardighede soos houtwerk, glasmakery, klipbrekery, bouwerk en loodgieterswerk te leer. Benewens die feit dat hulle ander leer, gaan ouer mense ook in groot getalle skool toe om verskeie vaardighede aan te leer.

Volgens The UNESCO Courier van Januarie 1999 sê “die Internasionale Vereniging van Universiteite van die Goue Jare, met sy hoofkantoor in Parys,” dat “daar meer as 1 700 universiteite vir senior burgers regoor die wêreld is”. Aangaande hierdie universiteite sê die tydskrif: “Hoewel hulle strukture en bestuursmetodes van land tot land grootliks verskil, het al die universiteite vir die bejaardes gewoonlik ’n begeerte om ouer mense te help om ’n volle deelname aan die kulturele en maatskaplike lewe te hê.” Een van hierdie instellings in Japan het volgens berig 2 500 studente!

“Die netto bydrae van ouer mense tot hulle families en gemeenskappe is groot, hoewel dit moeilik is om te bereken, aangesien die meeste daarvan sonder vergoeding gedoen word”, sê Alexandre Kalache, groepleier van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Verouderings- en Gesondheidsprogram. Hy sê: “Lande . . . moet hulle bejaarde bevolking nie as ’n probleem sien nie, maar as ’n moontlike oplossing vir probleme . . . , allereers as ’n hulpbron om benut te word.”

Ons vermoë om ons goue jare te geniet, kan ongetwyfeld beïnvloed word deur die idees en vooroordele van ander, maar dit word in ’n groot mate ook deur ons eie gesindheid teenoor die lewe bepaal. Wat kan jy persoonlik doen om verstandelik en fisies bedrywig te bly, selfs as jou liggaam ouer word? Lees asseblief die venster op bladsye 12 en 13, en let op wat party ouer mense sê hulle geheim is om bedrywig te bly en die lewe te geniet.

Probeer bedrywig bly

Jy sal sien dat ’n gemeenskaplike kenmerk van hierdie bedrywige ouer mense die feit is dat hulle aanhou om ’n betekenisvolle werkrooster te volg—hetsy vir sekulêre werk of as vrywillige werkers. Hulle doen ook gereeld oefeninge, behou ’n lewendige belangstelling in mense van alle ouderdomsgroepe en bevredig hulle basiese geestelike behoeftes. Soos jy moontlik oplet, sal hierdie geheime van ’n gelukkige, bedrywige lewe oud en jonk tot voordeel strek.

Op die oomblik is die ongemaklike waarheid dat jy selfs terwyl jy hierdie artikel lees, ook ouer word (Prediker 12:1). Jy sal egter verstandig wees as jy ag slaan op die opsomming in die Bulletin of the World Health Organization: “Net soos gesondheid noodsaaklik is vir ’n bedrywige lewe, staan ’n bedrywige lewe die beste kans om ’n gesonde lewe te wees.”

[Venster/Prente op bladsy 12, 13]

Hulle bly bedrywig en geniet die lewe

◼ SUID-AFRIKA: Piet Wentzel, 77, is ’n voltydse vrywillige werker.

“Ek besef dat gereelde oefening belangrik is as ek liggaamlik fiks wil bly. Die laaste paar jaar werk ek in my eie tuintjie. Ek voel soos ’n ander mens ná sulke oefening. Om die meeste gedoen te kry, probeer ek my motiveer met die beginsel: ‘Besluiteloosheid is die dief van tyd; uitstellery is sy grootste medepligtige.’”

[Prent]

“Ek besef dat gereelde oefening belangrik is.”—Piet

◼ JAPAN: Josjiharoe Sjiozaki, 73, werk as ’n eiendomskonsultant.

“Ek het lendejig, hoë bloeddruk en Ménière se siekte. Ek ry vier dae per week met ’n fiets van my huis af kantoor toe; soontoe en terug is dit 12 kilometer. Dit is goeie oefening vir my omdat dit my rug nie ooreis nie, maar tog my beenspiere versterk. Ek probeer om in vrede met ander te leef, insluitende my bure. Ek probeer om nie ander se tekortkominge en foute te soek nie. Ek het tot die besef gekom dat mense vinniger reageer wanneer hulle aangemoedig word as wanneer hulle gekritiseer word.”

[Prent]

“Ek probeer om nie ander se tekortkominge te soek nie.”—Josjiharoe

◼ FRANKRYK: Léone Chalony, 84, is ’n voltydse evangeliedienaar.

“Dit was vir my baie moeilik toe ek in 1982 afgetree het, omdat ek lief was vir my werk as ’n haarkapster. Ek het geen verpligtinge gehad nie en het gevolglik ’n pionier geword, soos voltydse evangeliedienaars van Jehovah se Getuies genoem word. Die feit dat ek baie Bybelstudies met belangstellendes hou, het my gehelp om verstandelik bedrywig te bly. Ek het nie ’n motor nie, daarom loop ek baie. Dit hou my gesond.”

[Prent]

“Die feit dat ek baie Bybelstudies hou, help my om verstandelik bedrywig te bly.”—Léone

◼ BRASILIË: Francisco Lapastina, 78, is ’n voltydse vrywillige werker.

“Ek neem nie gewoonlik aanstoot wanneer iemand my seermaak of ignoreer nie. Ek neem aan dat die persoon onder druk is en probleme het. Ons almal het dae wanneer ons nie lus is vir mense nie. Ek probeer om nie ’n wrok te koester nie en probeer onthou dat mense my moet verdra. Dit het my gehelp om talle ware vriende te maak.”

[Prent]

“Ek probeer om nie ’n wrok te koester nie.”—Francisco

◼ AUSTRALIË: Don Maclean, 77, het nog ’n werksweek van 40 uur.

“Vier jaar nadat ek ’n hartomleidingsoperasie ondergaan het, geniet ek nog steeds uitstekende gesondheid. Ek het nie hierdie operasie as ’n permanente einde aan my bedrywige lewe beskou nie. Ek gaan stap nog steeds elke dag, soos ek al jare lank doen. Toe ek jonk was en gesien het hoe ander voor hulle tyd oud word, was ek altyd vasbeslote om nie toe te laat dat ek daardie gemoedstemming aanneem nie. Ek skep werklik behae daarin om mense te leer ken en gesprekke aan te knoop. As geestelike dinge ’n deel van ons lewe is, sal ons ervaar wat in Psalm 103:5 beskryf word: ‘Jehovah versadig jou siel met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend.’”

[Prent]

“Moenie voor jou tyd oud word nie.”—Don

◼ JAPAN: Tsjijoko Tsjonan, 68, is ’n voltydse evangeliedienaar.

“As ’n mens gesond wil bly, moet jy nie spanning laat opbou en uitgeput raak nie. Ek probeer om dinge nie te ernstig op te neem nie en vind dat dit my help as ek van tyd tot tyd ’n verandering van roetine het. Ek het onlangs die abakus begin leer sodat ek my vingers en my verstand kan oefen. Ek dink dit is goed om nuwe dinge te begin.”

[Prent]

“Ek dink dit is goed om nuwe dinge te begin.”—Tsjijoko

◼ FRANKRYK: Joseph Kerdudo, 73, is ’n voltydse vrywillige werker.

“’n Belangrike manier om met waardigheid oud te word, is om so lank as moontlik bedrywig te bly. Werk lei tot bevrediging, en jy moet op jou dieet let en die nodige veranderinge aanbring. Ek dink dat dit ’n mens anders maak wanneer jou lewe ’n doel het. Ek dink geestelikheid is baie belangrik om gesond te bly. Voordat ek een van Jehovah se Getuies geword het, was ek baie besluiteloos en pessimisties. Kennis van Bybelwaarhede is ’n buitengewone krag wat ’n mens die verstandelike krag gee om verskillende situasies die hoof te bied.”

[Prent]

“Geestelikheid is baie belangrik.”—Joseph

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel