Mites en feite oor bejaardes
Daar is baie mites oor bejaardheid. “Ageing—Exploding the Myths”, ’n publikasie van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Verouderings- en Gesondheidsprogram, lê die valsheid van party van hierdie mites bloot. Beskou ’n paar voorbeelde.
Mite: Die meeste bejaardes woon in die nywerheidswêreld.
Feit: Eintlik woon meer as 60 persent van die wêreld se 580 miljoen bejaardes in ontwikkelende lande. Al hoe meer mense in hierdie lande bereik ’n hoë ouderdom weens beter gesondheidsorg en verbeteringe in sanitasie, behuising en voeding.
Mite: Bejaardes het niks om by te dra nie.
Feit: Bejaardes lewer groot bydraes deur werk te doen waarvoor hulle nie betaal word nie. Ongeveer 2 miljoen kinders in die Verenigde State word byvoorbeeld deur hulle grootouers versorg, met 1,2 miljoen wat in hulle grootouers se huis woon. Bejaardes voorsien dus blyplek, kos en opvoeding en dra kulturele waardes aan hulle kleinkinders oor wat dit vir moeders en vaders moontlik maak om aan te hou werk. In die nywerheidswêreld sal baie vrywilligersorganisasies ook nie sonder die hulp van bejaardes kan funksioneer nie. Hulle is ook belangrike versorgers. In party ontwikkelende lande, waar tot 30 persent van die volwassenes vigs het, versorg bejaardes hulle besmette volwasse kinders, en ná hulle dood sal die grootouers hulle verweesde kleinkinders moet grootmaak.
Mite: Bejaardes verlaat die arbeidsmag omdat hulle nie meer hulle werk kan doen nie.
Feit: Hulle verlaat meer dikwels die arbeidsmag weens ’n gebrek aan opvoeding of opleiding of weens ouderdomisme (vooroordeel teenoor die bejaardes) en nie weens ouderdom self nie.
Mite: Bejaardes wil nie werk nie.
Feit: Bejaardes kry dikwels nie werk waardeur hulle geld kan verdien nie ten spyte van hulle gewilligheid en vermoë om aan te hou werk. Veral gedurende tye van werkloosheid word daar dikwels geredeneer dat bejaardes moet ophou werk om vir jonger werksoekers plek te maak. Maar die vroeë onttrekking van ouer werkers uit die arbeidsmag beteken nie noodwendig werksgeleenthede vir jonger mense nie. ’n Jonger werklose werksoeker het dalk nie die vaardighede wat nodig is om die plek van die ouer werker in te neem nie. Ouer werkers met ondervinding help om te verseker dat die produktiwiteit en stabiliteit van die arbeidsmag gehandhaaf word.
Met hierdie feite in gedagte, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), moet die wêreldgemeenskap sy bejaarde bevolking as ’n bron van kundigheid beskou wat goed benut kan word. Alexandre Kalache, groepleier van die WGO se Verouderings- en Gesondheidsprogram, sê derhalwe dat “lande . . . hulle bejaarde bevolking nie as ’n probleem moet sien nie, maar as ’n moontlike oplossing vir probleme”. En dit is ’n feit.