Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 10/8 bl. 5-10
  • Die waarheid oor gewilde vierings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die waarheid oor gewilde vierings
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godsdiensteenkanting
  • ’n Fees met ’n masker van heiligheid
  • Gewilde vierings en jy
  • Wat is die oorsprong van Halloween?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die waarheid oor Allerheiligeaand
    Ontwaak!—2013
  • Gewilde vierings—Onskadelike pret?
    Ontwaak!—2001
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 10/8 bl. 5-10

Die waarheid oor gewilde vierings

HEKSE en spoke, pampoene en vreugdevure, lekkergoed of ’n poets. Die dinge wat kenmerkend van Allerheiligeaand is, kan maklik geïdentifiseer word. Maar wat skuil agter hierdie en soortgelyke vierings? Allerheiligeaand is in werklikheid die vooraand van Allerheiligedag. Die fees se naam klink dalk Christelik, maar dit verberg ’n oorsprong wat alles behalwe heilig is. Trouens, geleerdes sê dat Allerheiligeaand se oorsprong teruggevoer kan word tot ’n tydperk lank voor die Christelike godsdiens—die era toe die eertydse Kelte in Brittanje en Ierland gewoon het. Die Kelte het ’n maankalender gebruik en die jaar in twee seisoene verdeel—die donker wintermaande en die helder somermaande. Op die volmaan naaste aan 1 November het die Kelte die fees van Samhain gevier, wat “Somer se einde” beteken.a

Hierdie fees, wat die begin van die Keltiese nuwe jaar aangedui het, is aan die einde van die somer gevier wanneer die oes ingesamel is en die kuddes uit die weiveld gebring en op stal gehou is. Die Kelte het geglo dat hulle, namate die dae korter geword het, die son deur verskeie ritusse en offerandes nuwe krag moes gee. As ’n simbool van die ou jaar wat tot ’n einde kom, is alle vure geblus, en die nuwe jaar is ingelei met heilige vreugdevure waaruit alle lede van die gemeenskap kole geneem het om hulle vuurherde weer aan te steek. Hierdie vreugdevure—waarvan ’n mens vandag iets soortgelyks in Brittanje op Guy Fawkes-aand en in Brasilië se Junie-feeste kan sien—het ook na bewering bose geeste afgeskrik.

Daar is geglo dat die sluier tussen die menslike en die bonatuurlike wêreld op die fees van Samhain gelig is en dat goeie en bose geeste op die aarde ronddwaal. Die siele van die dooies het glo na hulle huise teruggekeer, en gesinne het voedsel en drank vir hulle besoekers uit die geestewêreld uitgesit in die hoop dat dit hulle sou paai en onheil sou afweer. Wanneer kinders dus vandag op Allerheiligeaand soos spoke of hekse aantrek en van huis tot huis gaan om lekkergoed te eis of met poetse te dreig, sit hulle onwetend die eertydse rituele van Samhain voort. Jean Markale sê in sy boek Halloween, histoire et traditions (Allerheiligeaand—geskiedenis en tradisies): “Deur iets in hulle hande te ontvang, bevestig hulle dat daar, op ’n simboliese vlak wat hulle nie verstaan nie, ’n broederlike uitruiling tussen die sigbare en die onsigbare wêreld plaasvind. Daarom is die maskerades op Allerheiligeaand . . . in werklikheid gewyde seremonies.”

Aangesien mense geglo het dat die skeiding tussen die fisiese en bonatuurlike ryke verdwyn, het hulle gedink dat mense maklik na die geesteryk kon oorgaan. Gevolglik was Samhain ’n besonder gunstige tyd om die geheime van die toekoms te ontsluit. Appels of haselneute, wat albei as die vrugte van heilige bome beskou is, is gebruik om voorspellings oor die huwelik, siekte en die dood te maak. Byvoorbeeld, appels waarop spesifieke merkies aangebring is, is in ’n groot bak water gesit. ’n Jong man of vrou was veronderstel om te kan sien wie sy of haar toekomstige huweliksmaat sou wees deur ’n appel net met die mond uit te haal. Hierdie vorm van waarsêery kom vandag nog voor in die Allerheiligeaand-speletjie waar daar so na appels gehap word.

Samhain is ook gekenmerk deur drinkpartye en was ’n tyd om alle inhibisies oorboord te gooi. “As hulle tradisionele waardes nie geminag het nie, het hulle dit omgekeer”, sê Markale. “Wat verbode was, is toegelaat, en wat toegelaat is, was verbode.” Allerheiligeaand weerspieël vandag nog hierdie gees, wat ongetwyfeld in groot mate verklaar waarom dit al hoe gewilder word. The Encyclopedia of Religion lewer kommentaar hieroor en sê dat Allerheiligeaand deesdae “’n tyd is wanneer volwassenes ook kultuurgrense kan ignoreer en hulle identiteit kan verloor deur hulle oor te gee aan ’n aand van onbeheerste uitbundigheid. Die kenmerkende Keltiese element van die fees as ’n jaarlikse geleentheid om die gewone werklikhede en verwagtinge te ontvlug, het dus tot in die twintigste eeu behoue gebly.”

Godsdiensteenkanting

Ná die aartappelskaarste in die 19de eeu het Ierse immigrante Allerheiligeaand en sy gebruike na die Verenigde State geneem. Van daar af het dit die afgelope paar jaar na Europa teruggekeer. Maar nie almal is ten gunste van die toenemende gewildheid van Allerheiligeaand nie. Die koerant Le Monde sê byvoorbeeld: “Allerheiligeaand, wat met Allerheiligedag en Allersieledag (1 en 2 November) saamval en dit selfs kan vervang, maak winkeleienaars gelukkig en geestelikes benoud.”

Kerkverteenwoordigers in Frankryk het hulle besorgdheid uitgespreek omdat die gewildheid van hierdie tradisionele Katolieke feesdae afneem ten gunste van Allerheiligeaand, en hulle sien dit as ’n teken van die “verheidening van die gemeenskap”. Stanislas Lalanne, woordvoerder vir Frankryk se Konferensie van Katolieke Biskoppe, meen dat Allerheiligeaand ‘die betekenis van lewe en dood verdraai’. Die biskop van Nice, Jean Bonfils, het gesê dat “hierdie fees en sy rituele niks met ons Mediterreense en Christelike kultuur in gemeen het nie”, en hy het Katolieke gewaarsku teen “die belangrikste fees van Sataniste regoor die wêreld”.

Hippolyte Simon, die biskop van Clermont-Ferrand, sê aangaande Franse wat hulle Katolieke tradisies ter wille van sulke heidense feeste prysgee: “Dit is asof die Franse gemeenskap op soek is na ’n soort burgerlike godsdiens wat Christelike simboliek kan vervang.” Hy skryf: “Op Allerheiligeaand word die dooies nageboots en keer hulle ‘geeste’ terug om ons bang te maak en met die dood te dreig. In teenstelling hiermee bevestig ons op Allerheiligedag dat die afgestorwenes lewe en dat ons die belofte het om weer met hulle verenig te word in die Stad van God.”—Vers une France païenne? (Op pad na ’n heidense Frankryk?)

In ’n soortgelyke trant het Carlo Maria Martini, die kardinaal van Milaan, Italië, ’n beroep op Italianers gedoen om Katolieke feesdae nie die rug toe te keer nie en verklaar dat Allerheiligeaand “nie eie [is] aan ons tradisie nie, wat van groot waarde is en moet voortbestaan. Allersieledag is ’n viering wat deel uitmaak van ons geskiedenis. Dit is die oomblik waarin hoop op die ewige lewe geopenbaar word, ’n oomblik waarin die Here dit aan ons duidelik maak dat die lewe meer behels as net dié op aarde.” Talle opregte Katolieke voel ongetwyfeld dieselfde. Maar is die onderskeid tussen Allerheiligeaand en Allersieledag werklik so duidelik as wat hierdie opmerkings te kenne wil gee? Wat bring ’n nadere ondersoek van die oorsprong van hierdie Katolieke feesdae aan die lig?

’n Fees met ’n masker van heiligheid

The Catholic Encyclopedia definieer Allerheiligedag as ’n fees om “al die heiliges, bekend en onbekend, te vereer”. Teen die einde van die tweede eeu het sogenaamde Christene mense begin vereer wat weens hulle geloof ’n marteldood gesterf het, en omdat hulle geglo het dat hierdie martelare reeds saam met Christus in die hemel was, het hulle tot hulle gebid om namens hulle voorspraak te doen. ’n Gereelde herdenking het op 13 Meib 609 of 610 G.J. begin toe pous Bonifacius IV die Panteon—die Romeinse tempel van al die gode—aan Maria en al die martelare toegewy het. Markale sê: “Die Romeinse gode het hulle plek aan die heiliges van die seëvierende godsdiens afgestaan.”

Die datum is na November verander onder pous Gregorius lll (731-741 G.J.), wat ’n kapel in Rome aan al die heiliges toegewy het en beveel het dat hulle op 1 November vereer moet word. Presies waarom hy dit gedoen het, is nie bekend nie. Maar dit kan wees omdat so ’n feesdag reeds op hierdie datum in Engeland gevier is. The Encyclopedia of Religion sê: “Samhain het regdeur die verchristeliking van Groot Brittanje ’n gewilde fees onder die Keltiese volk gebly. Die Britse kerk het probeer om hierdie belangstelling in heidense gebruike te laat afneem deur ’n Christelike viering op dieselfde datum as Samhain by die kalender te voeg. . . . Die Britse viering van Allerheiligedag gedurende die Middeleeue het moontlik aanleiding gegee tot die universele viering van hierdie fees deur die hele Christelike kerk.”

Markale wys op hoe die invloed van Ierse monnike gedurende hierdie tyd oor die hele Europa uitgebrei het. Die New Catholic Encyclopedia sê ook: “Die Iere het dikwels die eerste van die maand aan belangrike feeste toegeken, en aangesien 1 November ook die begin van die Keltiese winter aangedui het, sou dit ’n geskikte datum vir ’n fees van al die heiliges wees.” In 835 G.J. het pous Gregorius IV hierdie fees uiteindelik oral ingestel.

Die datum vir Allersieledag, wanneer gebede opgesê word om siele in die vaevuur te help om hemelse saligheid te verkry, is gedurende die 11de eeu deur die monnike van Cluny, Frankryk, op 2 November vasgestel. Hoewel Allersieledag na bewering ’n Katolieke feesdag is, is dit duidelik dat daar verwarring in die gedagtes van die gewone mense geheers het. Die New Catholic Encyclopedia meld dat “dit deur die Middeleeue heen ’n algemene opvatting was dat die siele in die vaevuur op hierdie dag as dwaalligte, hekse, paddas, ensovoorts kon verskyn”.

Die kerk was nie in staat om heidense opvattings uit die hart van sy kudde te verwyder nie en het dit bloot agter ’n “Christelike” masker verberg. The Encyclopedia of Religion beklemtoon hierdie feit en sê: “Die Christelike fees, die Fees van alle Heiliges, is ’n fees ter ere van die bekende en onbekende heiliges van die Christelike godsdiens net soos Samhain die Keltiese gode erken en vereer het.”

Gewilde vierings en jy

Hoe besorg moet jy nou eintlik wees oor die donker verlede van Allerheiligeaand en soortgelyke vierings? Allerheiligeaand is immers vir die meeste mense maar net ’n tyd om snaakse kostuums aan te trek en pret te hê. Maar sal jy nie saamstem dat dit vir ouers belangrik is om seker te maak dat die ontspanning waaraan hulle kinders deelneem, heilsaam is en nie skadelik nie?

’n Skoolinspekteur van Frankryk met meer as 20 jaar ondervinding in die onderwys is gevra watter invloed Allerheiligeaand op jong kinders het. Hy het gesê: “Ek is bekommerd oor die negatiewe gevolge wat dit op die lang termyn vir kinders kan inhou as hulle van huis tot huis gaan en volwassenes dreig om vir hulle lekkergoed te gee. Dit kan ’n selfsugtige en egosentriese persoonlikheid bevorder. Hulle leer dat hulle kan kry wat hulle wil hê deur druk uit te oefen, deur dinge met dreigemente te eis, deur ander bang te maak.” Ouers moet hulle dus afvra: ‘Watter “lesse” sal my kinders leer as hulle hierdie feesdag vier?’

Dit is nie verbasend nie dat baie gesinne vind dat dit hulle heelwat geld uit die sak jaag as hulle toegee aan kinders se eise vir lekkergoed en kostuums. “Allerheiligeaand . . . is nie ’n feesdag nie”, sê Robert Rochefort, die direkteur-generaal van Frankryk se Navorsingsentrum vir die Bestudering en Waarneming van Lewensomstandighede, “dit is die bemarking van ’n geleentheid.” Allerheiligeaand help met die stilte in die mark voor Kersfees. Met ander woorde, dit is net nog iets wat druk op mense plaas om geld te spandeer—geld wat hulle dikwels nie kan bekostig om te spandeer nie. Moet jy werklik die stroom in hierdie opsig volg?

Maar iets waaroor Christene selfs besorgder is, is die feit dat Allerheiligeaand en soortgelyke vierings deurtrek is van heidense gebruike. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek wil nie hê dat julle deelgenote met demone moet wees nie. Julle kan nie die beker van die Here en die beker van demone drink nie” (1 Korintiërs 10:20-22, New International Version). Hy het ook gevra: “Wat kan goedheid en boosheid in gemeen hê? Hoe kan lig en duisternis die lewe deel? Hoe kan daar harmonie tussen Christus en die duiwel wees? Wat kan ’n gelowige met ’n ongelowige in gemeen hê?” (2 Korintiërs 6:14-16, Phillips). Die Bybel veroordeel dus die hele idee om ’n Christelike masker op ’n heidense gebruik te sit!

Die Bybel waarsku ook teen die beoefening van spiritisme (Deuteronomium 18:10-12). Die meeste mense wat Allerheiligeaand vier, sal weliswaar beweer dat hulle Sataniese gebruike verwerp, maar ons moet nogtans in gedagte hou dat hierdie feesdag, wat sy geskiedenis betref, noue bande met die okkulte het. Dit kan dus ’n deur tot spiritisme wees, veral vir beïnvloedbare jongmense. Heidense ritusse en tradisies wat deurtrek is van spiritisme, het eenvoudig geen plek in Christelike aanbidding nie; dit is alles behalwe onskadelik.

Ten slotte moet ons in gedagte hou dat Allerheiligeaand, Allerheiligedag sowel as Allersieledag gegrond is op die opvattings dat die dooies ly of dat hulle die lewendes op die een of ander manier leed kan aandoen. Maar die Bybel toon duidelik dat hierdie opvattings nie waar is nie en sê: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Daarom gee die Bybel ons hierdie raad: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Prediker 9:10). Aangesien die dooies in ’n toestand van onbewustheid is en ander dus nie leed kan aandoen of self lyding kan verduur nie, hoef ons glad nie vir hulle bang te wees nie. Terselfdertyd is gebede om hulle te help, heeltemal nutteloos. Beteken dit dat daar geen hoop vir ons afgestorwe dierbares is nie? Nee. Die Bybel verseker ons dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees”.—Handelinge 24:15.c

Saam met kennis kom keusevryheid. Daar kan nie van ons verwag word om intelligente besluite te maak as ons nie oor al die feite beskik nie. Wat sal jy besluit ná ’n oorsig van die feite wat in hierdie reeks artikels bespreek is?

[Voetnote]

a Samhain is dalk nie, soos dikwels beweer word, die naam van die Keltiese god van die dood nie, maar eerder die naam van die fees. Volgens Jean Markale, ’n Franse kenner van die Keltiese beskawing, was dit waarskynlik Lugh, die god van lig, wat gedurende Samhain vereer is.

b Terloops, hierdie datum het saamgeval met die Romeinse fees Lemuria, wat op 9, 11 en 13 Mei gevier is om die siele van die dooies te paai en te voorkom dat hulle hulle familielede lastig val en beseer.

c Sien hoofstuk 9, “Wat gebeur met ons afgestorwe dierbares?” in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir meer inligting oor die Bybel se opstandingsleer.

[Lokteks op bladsy 6]

Allerheiligeaand bevorder die leuen dat die dooies lewe

[Lokteks op bladsy 7]

Keltiese voorspellings-ritusse het in Allerheiligeaand-speletjies bly voortleef

[Prent op bladsy 6]

Allerheiligeaand het sy oorsprong in ’n Keltiese fees, waarskynlik die aanbidding van Lugh, die god van lig

[Prent op bladsy 6]

Begraafplaas met ou Keltiese kruise

[Prente op bladsy 6, 7]

Om na appels te hap, is een van die speletjies wat van Keltiese oorsprong is

[Erkenning]

Uit die tydskrif: The Delineator October 1911

[Prent op bladsy 8]

Pous Bonifacius IV het die heidense Romeinse Panteon aan Maria en al die martelare van die kerk toegewy

[Prente op bladsy 9]

Watter invloed het Allerheiligeaand op jou kinders?

[Prente op bladsy 10]

Ware Christene geniet heilsame gesinsontspanning

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel