Die jongste reeks van Die Rotsgebergte
ONS was doodmoeg toe ons ons kampstofie uithaal en ontbyt begin maak. Ons het ’n rit van bykans 5 000 kilometer van New York na Wyoming in vyf dae afgelê. Terwyl ons ontbyt geëet het, het ons die natuurskoon om ons ingedrink.
Die helder sonlig was verblindend, die lug fris en vars. Maar dit was heeltemal anders as enige van ons vorige pieknieks langs die pad—die uitsig was asemrowend! Ons het naby die oewer van die Jackson-meer in die Grand Teton- Nasionale Park gesit en eet. Voor ons het die majestueuse berge gelê. Tydens ons 16 000 kilometer lange toer deur die Weste was daar niks heeltemal so skouspelagtig nie. Ons het geweet dat ons hierheen sou terugkom as ons ooit weer die geleentheid sou kry.
Grand Teton is sowat 4 200 meter hoog, en ’n dosyn ander pieke in hierdie bergreeks is hoër as 3 700 meter. Hoewel dit beslis nie sommer net heuweltjies is nie, is dit ook nie van die hoogste bergreekse nie. Na gelang van die rigting waaruit jy die Tetonreeks in ’n voertuig nader, sal jy dit miskien nie eers raaksien nie. Aan die westekant sal jy dalk net ’n geringe helling sien—niks watwonders nie! Maar aan die oostekant verrys hierdie berge skielik uit die vlaktes en toring hulle meer as ’n kilometer en ’n half bo die vallei daaronder uit. Dit is werklik ontsagwekkend.
Ons tweede besoek
Nadat ons jare lank daaroor gedroom het, het ons uiteindelik wel teruggekeer. Dié keer het ons na Jackson Hole, Wyoming, gevlieg en met ’n voertuig noord na die Tetongebergte gery. Kom gerus saam, dan begin ons ons dag by die juweelagtige Jenny-meer, ’n gletsermeer wat net onder die hoogste pieke van hierdie bergreeks lê.
Ons vel tintel van die koel, vroeë oggendlug. Die son is nog nie op nie, maar ons is nie alleen nie. Ander dapper siele wat die koue trotseer, is ook al vroeg uit die vere. Party fotograwe wil die prag van die berge wat deur die eerste oggendstrale in skakerings van pienk en goud gebaai is, op film vaslê. Skielik steek ons in ons spore vas—’n groot takbokooi staar ons aan! Sy verstyf, lyk op haar hoede en onrustig, want haar kleintjie wei skaars nege meter van ons af. Versigtig haal ons ons kamera uit. Ons hou asem op, lig die kamera, stel dit in en neem die foto. Nou kan ons weer asemhaal; en dit is nou maar eers die begin van ons dag by die Jenny-meer.
Saam met ’n groep voetslaners klim ons op ’n boot wat toeriste heen en weer vervoer, en kort voor lank is ons aan die onderpunt van ’n een en ’n half kilometer lange voetslaanpad wat opgaan na Inspiration Point. Ons klim van die boot af en word spoedig deur die koel luggie van die woud om ons verwelkom. Namate ons al hoe hoër met die voetslaanpad klim, word die meer daaronder al hoe kleiner. Ons begin die gedruis van watervalle in die verte hoor. Uitasem kom ons uit die woud uit en gaan staan ons op ’n rotsbank. Ons geniet die helder oggendlig en asem die koel berglug met diep teue in. Onder ons lê die Jenny-meer uitgestrek, ’n glinsterende saffierblou kol. Die meer, omring deur ’n strook bome wat op ’n opvallende heuwel staan, lyk soos die werk van ’n meesterjuwelier.
Bokant ons toring die bergpieke uit wat die Cathedral-groep genoem word. In die 1930’s het dr. Fryxell, ’n natuurkenner wat hierdie reeks bestudeer het, geskryf: “[Hierdie pieke] met hulle gespitste kruine wat bo alles uittoring, laat ’n mens jou blik en denke selfs hoër rig.” Vol verwondering drink ons die prag van Inspiration Point in. Dit voel reeds of ons inspanning beslis die moeite werd was. Maar daar is nog meer om te sien.
Die voetslaanpad is nou verbasend gelyk hier waar dit al met die onderkant van die Cascade Canyon langs kronkel. Rotsagtige kranse troon weldra hoog bokant ons uit en waterstrome stort teen hulle wande af. Ons wonder: ‘Watter natuurkragte het hierdie plek so gevorm?’ Skielik keer ’n opgewonde kind ons voor. Sy kan skaars haar opgewondenheid beheers. Uitasem fluister sy: “Ons het ’n elk gesien! Kom gou, dan kan julle hom ook sien!”
Vir eers vergeet ons van hoe die berge gevorm is. Ons gryp ons kamera en maak gereed om een van die pragtige diere wat in hierdie park aangetref word, af te neem. Die meisie lei ons na ’n uitkykpunt. Met gedempte stemme beduie die res van haar gesin vir ons waar om te kyk. Daar, in ’n vleiagtige deel langs die rivier, sien ons die elkbul. Kamera in die hand staar ons in verwondering, en ons fluister onder mekaar hoe gelukkig ons is om op die regte oomblik hier te wees.
Geologie en plate
Daar is soveel om te sien dat ’n mens maklik kan vergeet om te vra oor die geologiese geskiedenis van hierdie buitengewone landskap. Die park probeer egter soveel moontlik doen om die publiek goed in te lig deur verskeie pamflette uit te gee en groepstaptoere te reël wat deur natuurbewaarders gelei word.
Hulle het verduidelik dat die grond onder ons voete dalk redelik stewig voel, maar dat dit op ’n manier soos ’n gevriesde meer in die lente is—nie so solied as wat dit lyk nie! Geoloë het die teorie begin aanvaar dat die aardkors uit ’n aantal tektoniese plate bestaan en dat hierdie plate, wat op seë van gesmelte rots rus, beweeg. Die deel van die teorie wat vir ons interessant is, is dat dit tot die vorming van bergreekse kan lei wanneer hierdie plate teen mekaar bots.
In die geval van die Tetonreeks het een plaat blykbaar amper soos ’n hefboom gewerk en die ander plaat opgestoot. Die gevolg is wat geoloë ’n breukgebergte noem. Hulle sê dat die Tetonreeks, in geologiese terme, redelik onlangs gevorm is. Ons parkpamflet noem dit dus “die jongste en treffendste reeks in die Rotsgebergte”.
Water en ys as beeldhouers
Hierdie antwoorde was fassinerend, maar het selfs meer vrae laat ontstaan. Ons het aan ons staptoer by die Jenny-meer gedink. Waarom het daardie pieke so ’n ruwe voorkoms gehad? En wat van daardie opvallende heuwel om die meer, waarop die bome so welig groei? Die geoloë se antwoord? Water is vir al hierdie dinge verantwoordelik. Die teorie is dat gletsers een of ander tyd in die verre verlede die canyons van die Tetonreeks uitgekerf het. Die heuwel om die meer, wat ’n gletserpuinhoop genoem word, is deur bewegende ys gevorm. Hierdie gletserpuinhoop het ’n deel van die gletser, wat teen daardie tyd gesmelt was, teruggehou en so ook die vrugbaarder grond behou.
Hierdie teorie verklaar dus waarom die plantlewe rondom die meer so welig is, veral in vergelyking met die dorre voorkoms van die gruisbeddings en wildeals van die nabygeleë vlaktes. Ons belangstelling was geprikkel, en ons het die natuurbewaarder aangespoor om ons meer te vertel. ’n Ander natuurverskynsel, het sy gesê, was verantwoordelik vir die ruwe voorkoms van daardie bergpieke. Sy het dit ysbeitelwerk genoem. Water loop in die rotsskeure in en sit uit wanneer dit vries. Die druk laat stukke rots uiteindelik losbreek en gee dit ’n gebeitelde voorkoms. Ons het haar hartlik bedank vir haar verduideliking en haar entoesiasme oor hierdie berge.
Die diere
Buiten die merkwaardige geologiese aspekte is daar ook volop dierelewe in hierdie gebied. Dit het ons bootrit op die welbekende Snake-rivier nog onvergeetliker gemaak. Terwyl ons die natuurskoon geniet het, het ons witkoparende en visvalke dopgehou wat in die lug sweef en dan afduik na die rivier toe om vis te vang. Ons gids op die boot, ’n opgeleide bioloog, het iets genoem wat ons verbaas het. Al is die witkoparend groter en lyk hy indrukwekkender, is die visvalk in werklikheid ’n beter visvanger. Hy het ons vertel dat hy al gesien het hoe arende vis van visvalke steel. En jou waarlik, daar sien ons toe hoe ’n witkoparend op ’n jong visvalk afpeil. Die visvalk het sy vangs net daar gelos en weggevlieg.
Dit was vir ons werklik opwindend om die wilde diere in hulle natuurlike habitat te sien. Die Nasionale Wapitihert-reservaat is hier naby, en baie van die wapitiherte bring die somer in die Grand Teton- Nasionale Park deur. Ons het dikwels van die pad af getrek om na die troppe wapiti’s te kyk wat lui-lui aan die wei was. Ander kere het ons op die stoep van ons blyplek gesit en gesien hoe ’n elk rustig tussen die wilgers wei. Saans het dit gelyk asof hierdie diere die skares kom vermaak wat versamel het om hulle dop te hou. En al was ons moeg, het ons ’n bietjie langer buite vertoef om met verwondering te kyk na iets wat ons as stadsbewoners so selde sien—’n byna swart hemelruim vol glinsterende sterre.
Op ons laaste dag was daar vir ons ’n spesiale afskeidsgeskenk. Ons was half met vrees en half met ontsag vervul toe ons tussen ’n trop bisons deurgery het. Die trop groot, wollerige diere was aan albei kante van die pad versprei. Hoe graag sou ons tog nie wou bly nie! Maar dit was tyd om te gaan.
Terwyl ons in die vliegtuig gesit en wag het om op te styg, het ons oor ons besoek nagedink. Ons het ons verlustig in wat vir ’n kort tydjie ons s’n was—die berge, die berglug en die diere. Hoe opwindend was dit tog om ons jarelange begeerte te vervul om die Tetonreeks weer te besoek! Die jongste reeks van die Rotsgebergte is werklik pragtig.
[Venster/Prent op bladsy 19]
Wenke vir besoekers
Laat genoeg tyd toe om aan die dunner lug gewoond te raak. Die valleivloer is meer as 1 800 meter bo seespieël. Sommige toeriste wat van laerliggende dele afkomstig is, kan die simptome van hoogtesiekte ondervind, soos hoofpyn of geïrriteerdheid. Dit sal dalk raadsaam wees as ouer mense, veral dié met hartprobleme of asemhalingsiektes, hulle dokter raadpleeg voordat hulle so ’n tog aanpak.
Goeie voorbereiding is nodig voordat jy op ’n staptoer gaan. Hou in gedagte dat die hoogte en die halfdor toestande jou liggaam gou kan laat ontwater. Neem genoeg water saam.
Dit is ’n wildreservaat met talle groot en pragtige, maar wilde, diere. Party besoekers wil graag na aan die diere kom, maar hulle reaksie kan onvoorspelbaar wees. Luister na die wildbewaarders se raad oor hoe ’n mens wilde diere in hulle habitat moet behandel en volg daardie raad. Die wildbewaarders se wenke is nie net interessant nie, maar kan ook lewensreddend wees.
[Kaarte op bladsy 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GRAND TETON-NASIONALE PARK
[Prent op bladsy 16, 17]
Die Moranberg, Tetonreeks
[Prent op bladsy 17]
Bo-Cascade Canyon
[Prent op bladsy 18]
Bison
[Prent op bladsy 18]
Witkoparend
[Prent op bladsy 18]
’n Sonsondergang in die Tetongebergte
[Prent op bladsy 18]
Elkbul