Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g98 2/8 bl. 16-17
  • Die Maanberge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Maanberge
  • Ontwaak!—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Wonderlike uitsig
  • ‘U is majestueuser as die berge’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Berge—Waarom ons hulle nodig het
    Ontwaak!—2005
  • Gletsers op die ewenaar
    Ontwaak!—2005
  • Berge—meesterstukke in die skepping
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1998
g98 2/8 bl. 16-17

Die Maanberge

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

DIT was ’n gerug wat eeue oud was: Iewers in Sentraal-Afrika was daar sneeubedekte berge—die ware oorsprong van die Nyl. Maar die gedagte aan sneeu naby die ewenaar in Afrika het onwaarskynlik gelyk. Tog het die Griekse aardrykskundige Ptolemeus al vroeg in die tweede eeu G.J. beweer dat hierdie berge bestaan en hulle Lunae Montes—die Maanberge—genoem.a

Eeue lank het mense tevergeefs probeer om hierdie berge te vind. Maar toe, eendag teen die einde van die negentiende eeu, het die ontdekkingsreisiger Henry Stanley—wat beroemd is omdat hy dr. David Livingstone gevind het—dit met ’n gelukskoot gesien. ’n Wolkbedekking, wat die berge vir vorige ontdekkingsreisigers verberg het, het ’n kort rukkie oopgetrek en Stanley ’n pragtige blik op ’n groep sneeubedekte pieke gegee. Hy het die Maanberge gevind. Maar hy het dit by die naam genoem wat die plaaslike inwoners destyds gebruik het: Ruwenzori, wat “Reënmaker” beteken.

Vandag word daar oor die algemeen saamgestem dat die Ruwenzoriberge maar ’n geringe rol daarin speel om water aan die Nyl te voorsien. Nietemin staan hulle nog steeds algemeen as die Maanberge bekend. En ondanks talle ontdekkingsreise is hierdie ontsagwekkende bergreeks nog steeds in ’n waas van geheimsinnigheid gehul. Aangesien die Ruwenzoriberge net noord van die ewenaar lê, vorm dit ’n natuurlike grens tussen Uganda en die Demokratiese Republiek van die Kongo, en dit strek oor ’n gebied wat sowat 130 kilometer lank en 50 kilometer breed is.

In teenstelling met die meeste berge in Oos-Afrika, wat ’n vulkaniese oorsprong het, is die Ruwenzoribergreeks ’n reusagtige stuk aardkors wat duisende jare gelede deur geweldige geologiese druk opwaarts gestoot is. Hoewel die Ruwenzoriberge se toppunt 5109 meter hoog is, is die berge selde sigbaar. Die bergreeks is byna die hele tyd deur mis en wolke omhul.

Soos die naam te kenne gee, het die Ruwenzoriberge ’n buitengewoon hoë reën- en sneeuval, en die “droë seisoen” is net effens droër as die “reënseisoen”. Dit kan dus gevaarlik wees om hier te loop; in party gebiede kom die modder tot by ’n mens se middellyf! Die swaar reëns het ’n aantal pragtige klein mere uitgekalwe, wat vogtigheid aan die buitengewoon digte plantegroei verskaf wat die berghange soos ’n kombers bedek. Trouens, die Ruwenzoriberge is die tuiste van ’n aantal ongewone plante, waarvan party geweldig groot word.

Byvoorbeeld, die reusagtige harige vingers wat lobelia genoem word, is gewoonlik op ander plekke nie langer as 30 sentimeter nie, maar in die Ruwenzoriberge kan hulle tot 6 meter lank word. Die senecio’s, of reusekruiskruide, lyk soos groot koolkoppe wat bo-op vertakte stamme sit. Daar is mosbedekte heidebome wat 12 meter hoog is. Blomme van alle kleure en geure maak die natuurskoon nog mooier. Daar is ook ’n veelsoortige voëlbevolking, waarvan party net in die Ruwenzoriberge voorkom. Teen die laer hange is daar olifante, sjimpansees, bosbokke, luiperds en stompape.

’n Wonderlike uitsig

Diegene wat met die bergpaadjies opstap, gaan deur ’n tropiese reënwoud en steek die Bujukurivier verskeie kere oor. Wanneer hulle ’n hoogte van 3000 meter bereik, kan hulle tot heel onder in die Skeurvallei sien—’n ongelooflike uitsig!

Hoër op is die onderste deel van die Bigomoeras, ’n gebied van polgras en heidebome. Die modder is hier dikwels kniediep. ’n Steil klim na die boonste deel van die Bigomoeras en Bujukumeer, aan die bopunt van die Bujukuvallei, sowat 4000 meter hoog, gee ’n mens ’n wonderlike uitsig op die berge Baker, Luigi di Savoia, Stanley en Speke, die bekendste pieke in die bergreeks.

Hoër op is die permanente Elenagletser. Hier moet ’n mens sneeuspore, oftewel klimysters, aantrek en ’n tou en ysbyle gebruik om teen die gletser uit te klim. Daarna moet ’n mens oor die Stanleyplato loop op pad na Margheritapiek aan die bopunt van die berg Stanley, die hoogste piek in die Ruwenzorigebergte. Wanneer ’n mens van daardie hoogte afkyk, is die panoramiese uitsig op pieke, valleie, woude, strome en mere waarlik ontsagwekkend.

Hierdie bergreeks is egter nog geensins oorwin nie. Die Ruwenzoriberge het die geheime daarvan nog net begin openbaar. Baie omtrent die bergreeks se geologie, dierelewe en plantlewe is nog onbekend. Die Ruwenzoriberge bly dus in geheimsinnigheid gehul—met geheime wat net die wyse en almagtige Skepper daarvan ten volle ken. Ja, hy is waarlik die Een “aan wie die pieke van die berge behoort”.—Psalm 95:4, NW.

[Voetnoot]

a Volgens die boek The Nile deur Emil Ludwig kon die eertydse plaaslike inwoners nie die sneeu op die berge verklaar nie. Hulle het dus geglo dat “die berge die maanlig na hulle toe afgetrek het”.

[Prente op bladsy 17]

1. Digte wolke bedek Ruwenzori gewoonlik

2. “Reënmaker” se swaar reëns bevogtig die mosbedekte hange

3. Met die voetpad langs is daar baie blomme en geure

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel