Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 11/8 bl. 14-18
  • Kartago—Die stad wat Rome byna tot ’n val gebring het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kartago—Die stad wat Rome byna tot ’n val gebring het
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die fondament van die stad
  • Die ontstaan van ’n ryk
  • In die skadu van Baäl
  • ’n Stryd om oppermag
  • Die Puniese oorloë
  • “Delenda est Carthago!”
  • Die “Rome van Afrika”
  • Kinderoffers—waarom so verfoeilik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Deel 6—Die sesde wêreldmoondheid—Rome
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Hoe om tekste in jou Bybel te kry
    Nog onderwerpe
  • Studie nommer 3—Die plasing van gebeurtenisse in die tydstroom
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 11/8 bl. 14-18

Kartago—Die stad wat Rome byna tot ’n val gebring het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

AAN die noordkus van Afrika, in die buitewyke van Tunis, die hoofstad van Tunisië, lê die ruïnes van die eertydse stad Kartago. Die toeris sal nie kwalik geneem word as hy dit heeltemal miskyk nie, want daar is nie juis veel om te sien nie. Tog is daar op hierdie terrein die oorblyfsels van een van die grootste stede van die oudheid—een wat Rome so amper verslaan het. Volgens die Romeinse geskiedskrywer Livius “het hierdie stryd tussen die twee rykste stede in die wêreld konings en volke in spanning gehou”, want niks minder nie as wêreldoorheersing het in hierdie geskil op die spel gestaan.

Die fondament van die stad

In die tweede millennium v.G.J. het die Fenisiërs net in ’n smal strook land langs die Mediterreense kus gewoon, wat noord en suid van die hedendaagse Libanon lê. Hulle was goeie seevaarders en het weswaarts gegaan op soek na goud, silwer, yster, tin en lood. Hulle het hout (soos die beroemde seders van die Libanon), persrooigekleurde materiaal, parfuum, wyn, speserye en ander vervaardigde artikels hiervoor geruil.a

So ver as wat die Fenisiërs weswaarts gereis het, het hulle nedersettings langs die kus van Afrika, Sisilië, Sardinië en suidelike Spanje—moontlik die Bybelse Tarsis—gestig (1 Konings 10:22; Esegiël 27:2, 12). Volgens oorlewering is Kartago in 814 v.G.J. gestig, ongeveer 60 jaar voor sy mededinger, Rome. Serge Lancel, ’n spesialis op die gebied van die antieke geskiedenis van Noord-Afrika, sê: “Die stigting van Kartago, om en by die einde van die negende eeu v.C., was honderde jare lank ’n beslissende faktor in die politieke en kulturele lot van die westelike deel van die Middellandse See.”

Die ontstaan van ’n ryk

Volgens die geskiedskrywer François Decret het Kartago ’n ryk begin bou op ’n skiereiland wat gelyk het soos “’n reuseanker wat in die see gegooi is”. Deur voort te bou op die grondslag wat deur sy Fenisiese voorgangers gelê is, het Kartago sy handelsnet—wat hoofsaaklik die invoer van metale behels het—tot ’n groot trust ontwikkel en so sy monopolie deur sy magtige vloot en huurtroepe behou.

Die Kartagers was nooit tevrede om op hulle louere te rus nie en was voortdurend op die uitkyk na nuwe markte. Omstreeks 480 v.G.J. het die seevaarder Himilco vermoedelik die tinryke Cornwallis in Brittanje bereik. Ongeveer 30 jaar later het Hanno, ’n lid van een van die vooraanstaande families van Kartago, glo ’n ekspedisie van 60 skepe met 30 000 mans en vroue aan boord gelei om nuwe kolonies te stig. Hanno het deur die Straat van Gibraltar en langs die kus van Afrika af gevaar en het moontlik die Golf van Guinee en selfs Kameroen bereik.

As gevolg van hierdie ondernemingsgees en sulke vindingryke sakevernuf, het Kartago na bewering die rykste stad in die antieke wêreld geword. “Teen die begin van die derde eeu [v.G.J.] het die stad weens sy tegniese kennis, sy vloot en sy handelsvermoë . . . die belangrikste stad geword”, sê die boek Carthage. Die Griekse geskiedskrywer Appianus het van die Kartagers gesê: “Hulle was so magtig soos die Grieke en so ryk soos die Perse.”

In die skadu van Baäl

Hoewel die Fenisiërs deur die hele westelike Middellandse See-gebied versprei was, is hulle deur hulle godsdiensopvattings verenig. Die Kartagers het die Kanaänitiese godsdiens van hulle Fenisiese voorvaders geërf. Kartago het eeue lank elke jaar ’n afvaardiging na Tirus gestuur om by die tempel van Melkart offerandes te bring. Die vernaamste gode in Kartago was die goddelike paar Baäl-Hammon, wat “Here van die Vuurpan” beteken, en Tanit, wat met Astarte vereenselwig word.

Die berugste kenmerk van die Kartaagse godsdiens was kinderofferandes. Diodorus Sikulus sê dat die Kartagers in 310 v.G.J. gedurende ’n aanval op die stad meer as 200 kinders van adellike geboorte geoffer het om Baäl-Hammon te paai. The Encyclopedia of Religion sê: “Om ’n onskuldige kind as ’n plaasvervangende offerande te bring, was die allerhoogste daad van versoening, wat moontlik bedoel was om die welsyn van familie asook van die gemeenskap te verseker.”

In 1921 het argeoloë die gebied ontdek wat hulle, na aanleiding van die Bybelse uitdrukking in 2 Konings 23:10 en Jeremia 7:31, Tofet genoem het. In opgrawings is verskeie grondlae gevind met kruike wat die verkoolde oorblyfsels van diere (wat as plaasvervangende offerandes gebruik is) en jong kinders bevat het en wat onder grafsuile met gelofte-inskripsies begrawe is. Daar word geskat dat die Tofet die oorblyfsels van meer as 20 000 kinders bevat wat gedurende net een tydperk van 200 jaar geoffer is. Vandag beweer party revisioniste dat die Tofet bloot ’n begraafplaas was vir kinders wat doodgebore is of wat gesterf het voor hulle oud genoeg was om in die nekropolis begrawe te word. Maar volgens Lancel, wat vroeër aangehaal is, “kan die werklikheid van Kartaagse menseoffers nie onvoorwaardelik ontken word nie”.

’n Stryd om oppermag

Toe Tirus in die sesde eeu v.G.J. begin agteruitgaan het, het Kartago oor die Fenisiërs in die weste begin regeer. Maar die opgang van Kartago het nie sonder teenstand geskied nie. Vroeër was Puniese en Griekse handelaars in ’n stryd gewikkel om beheer oor die seë te verkry, en omstreeks 550 v.G.J. het oorlog uitgebreek. In 535 v.G.J. het die Kartagers met die hulp van hulle Etruskiese bondgenote die Grieke van die eiland Korsika af verdryf en die beheer oor Sardinië oorgeneem.b Gevolglik het die stryd tussen Kartago en Griekeland vir die beheer oor Sisilië—’n eiland van groot strategiese belang—hewiger geword.

Rome het terselfdertyd sy mag begin uitoefen. Verdrae tussen Kartago en Rome het die handelsvoorregte van Kartago verseker en die Romeine toegang tot Sisilië verbied. Maar namate Rome die Italiaanse skiereiland onderwerp het, het hulle die toenemende invloed van Kartago so naby Italië as ’n bedreiging begin beskou. Die Griekse geskiedskrywer Polubios van die tweede eeu v.G.J. het gesê: “Die Romeine het gesien . . dat die Kartagers nie net oor Afrikac nie, maar ook oor groot dele van Spanje gesag gevoer het en dat hulle al die eilande in die Sardiniese en Tirrheense See beheer het. As die Kartagers Sisilië ingeneem het, sou hulle die lastigste en gevaarlikste bure word, aangesien hulle Italië aan alle kante sou omring en elke deel van die land sou bedreig.” Sekere persone in die Romeinse Senaat het weens kommersiële oorwegings daarop aangedring dat daar in Sisilië ingegryp word.

Die Puniese oorloë

In 264 v.G.J. het ’n krisis in Sisilië die Romeine ’n verskoning gegee om in te gryp. Rome het ’n ooreenkoms verbreek en ’n afdeling soldate gestuur, wat die sogenaamde Eerste Puniese Oorlog ontketen het. Hierdie oorlog, wat gekenmerk is deur van die grootste seeslae van die oudheid, het meer as 20 jaar lank geduur. Die Kartagers is uiteindelik in 241 v.G.J. verslaan en gedwing om Sisilië te verlaat. Rome het ook Korsika en Sardinië by hulle afgeneem.

Om vir hierdie verliese te vergoed, het Hamilcar Barca, ’n Kartaagse generaal, begin om die mag van Kartago te herstel deur ’n ryk in Spanje op te bou. ’n “Nuwe Kartago”—Cartagena—is aan die suidooskus van Spanje gestig, en binne ’n paar jaar het Spanje se minerale rykdom die skatkiste van Kartago weer vol gemaak. Dit was onvermydelik dat hierdie uitbreiding tot konflik met Rome sou lei, en in 218 v.G.J. het oorlog weer uitgebreek.

Aan die spits van die Kartaagse leër was een van Hamilcar se seuns, Hannibal, wat “Begunstig deur Baäl” beteken. Hy het in Mei 218 v.G.J. uit Cartagena vertrek op ’n geskiedkundige opmars deur Spanje en Gallië en het die Alpe met sy leër van Afrikane en Spanjaarde sowel as byna 40 olifante oorgesteek. Die Romeine is onverhoeds betrap en het verskeie verpletterende nederlae gely. Op 2 Augustus 216 v.G.J., gedurende die slag van Cannae—“een van die verskriklikste rampe wat die Romeinse leër ooit getref het”—het Hannibal se leër ’n Romeinse strydmag wat twee keer soveel as hulle was, vernietig en byna 70 000 van die vyand doodgemaak terwyl hulle self net 6 000 man verloor het.

Rome was so te sê binne hulle bereik! Die Romeine het egter geweier om die stryd gewonne te gee en het die volgende 13 jaar ’n uitputtingsoorlog teen Hannibal se troepe gevoer. Toe Rome ’n leër na Afrika toe gestuur het, is Kartago deur sy bondgenote in die steek gelaat en in Spanje en Sisilië verslaan. Gevolglik was Kartago genoodsaak om Hannibal terug te roep. Die volgende jaar, in 202 v.G.J., het die Romeinse generaal Skipio Afrikanus die leër van Hannibal by Zama, suidwes van Kartago, verslaan. Die Puniese stad moes sy vloot afstaan, is militêre onafhanklikheid geweier en moes ’n groot som geld as oorlogsbelasting oor ’n tydperk van 50 jaar betaal. Wat Hannibal betref, hy het later in ballingskap gegaan en het om en by 183 v.G.J. selfmoord gepleeg.

“Delenda est Carthago!”

Vrede het in so ’n mate hernieude voorspoed vir Kartago meegebring dat dit aangebied het om die oorlogsbelasting in net tien jaar af te betaal. Die geswore vyande van Kartago het sulke groeikrag sowel as politieke hervormings as uiters gevaarlik beskou. Die bejaarde Romeinse staatsman Kato het byna twee jaar lank, tot sy dood toe, elkeen van sy toesprake voor die Senaat afgesluit met die slagspreuk: “Delenda est Carthago!”, wat beteken “Kartago moet vernietig word!”

Uiteindelik, in 150 v.G.J., het ’n beweerde verbreking van ’n verdrag die Romeine die verskoning gegee waarvoor hulle gewag het. ’n Oorlog, wat as “’n vernietigingsoorlog” beskryf is, is verklaar. Drie jaar lank het die Romeine die stad se verdedigingswerke van 30 kilometer beleër, waarvan party meer as 12 meter hoog was. Hulle het uiteindelik, in 146 v.G.J., tot in die stad deurgebreek. Projektiele het op die Romeinse troepe neergereën terwyl hulle deur die nou straatjies beweeg het en in bloedige gevegte gewikkel was. Die eertydse verslag is op grusame wyse bevestig toe argeoloë mensebeendere onder die verstrooide klipblokke gevind het.

Ná ses verskriklike dae het sowat 50 000 uitgehongerde inwoners wat skuiling gesoek het in die Byrsa—die versterkte heuweltop—hulle oorgegee. Ander het teregstelling of slawerny probeer vermy deur hulleself in die tempel van Esmun toe te sluit en dit aan die brand te steek. Die Romeine het wat van die stad oorgebly het, afgebrand, Kartago is totaal verwoes en seremonieel vervloek, en mense is verbied om daar te woon.

Rome het dus binne 120 jaar die imperialistiese doelwitte van Kartago vernietig. Die geskiedskrywer Arnold Toynbee het gesê: “Die eintlike kwessie van Hannibal se Oorlog was of die komende Hellenistiese universele staat ’n Kartaagse Ryk of ’n Romeinse Ryk moes wees.” “As Hannibal gewen het”, sê die Encyclopædia Universalis, “sou hy sekerlik ’n universele ryk soortgelyk aan dié van Aleksander gestig het.” Op die ou end het die Puniese Oorloë die begin van Romeinse imperialisme aangedui, wat dit uiteindelik tot wêreldoorheersing gelei het.

Die “Rome van Afrika”

Kartago het skynbaar finaal tot ’n einde gekom. Nogtans het Julius Caesar net ’n eeu later besluit om ’n kolonie daar te stig. Dit is ter ere van hom Colonia Julia Carthago genoem. Romeinse ingenieurs het moontlik 100 000 kubieke meter grond verskuif en die boonste deel van die Byrsa gelykgemaak om ’n ontsaglike verhewe plein te vorm—en om alle spore van die verlede uit te wis. Tempels en swierige openbare geboue is daar opgerig. Met verloop van tyd het Kartago ‘een van die weelderigste stede in die Romeinse wêreld’ geword, die grootste stad in die Weste naas Rome. ’n Teater, ’n amfiteater, groot warmwaterbaddens, ’n akwaduk van 132 kilometer en ’n sirkus waarin 60 000 toeskouers kon sit, is gebou om in die behoeftes van sy 300 000 inwoners te voorsien.

Die Christelike godsdiens is teen ongeveer die middel van die tweede eeu G.J. in Kartago bekend gestel en het vinnig daar toegeneem. Tertullianus, die beroemde teoloog en apologeet, is om en by 155 G.J. in Kartago gebore. Weens sy geskrifte het Latyn die amptelike taal van die Westerse Kerk geword. Cyprianus, die derde-eeuse biskop van Kartago wat ’n hiërargiese geestelikestelsel met sewe ordes saamgestel het, het in 258 G.J. ’n marteldood in die stad gesterf. ’n Ander Noord-Afrikaan, Augustinus (354-430 G.J.), wat die grootste denker van die Christelike oudheid genoem word, het ’n groot rol gespeel in die vermenging van kerkleerstellings met Griekse filosofie. Die Noord-Afrikaanse kerk het so ’n groot invloed gehad dat een geestelike gesê het: “Dit is jy, O Afrika, wat ons geloof met die grootste geesdrif bevorder. Wat jy besluit, word deur Rome goedgekeur en deur die leiers van die aarde gevolg.”

Maar Kartago se dae was getel. Sy lot was weer eens onlosmaaklik verbonde aan dié van Rome. Namate die Romeinse Ryk agteruitgegaan het, het Kartago ook. In 439 G.J. is die stad verower en deur die Vandale geplunder. Die vernietiging van die stad is kortliks uitgestel deur die Bisantynse verowering van die stad ’n eeu later. Maar dit kon nie standhou voor die Arabiere wat vinnig besig was om Noord-Afrika te verower nie. In 698 G.J. is die stad verower, en daarna is sy stene gebruik om die stad Tunis te bou. In die daaropvolgende eeue is die marmer en graniet wat vroeër die Romeinse stad versier het, geplunder en uitgevoer om die katedrale van Genua en Pisa, in Italië, en moontlik selfs Kantelberg, in Engeland, te bou. Nadat Kartago een van die rykste en magtigste stede van die ou tyd was, nadat dit ’n ryk was wat byna die wêreld oorheers het, is dit uiteindelik in ’n onherkenbare puinhoop verander.

[Voetnote]

a Die naam Fenisiese kom van die Griekse woord Phoinix, wat “persrooi” en ook “palmboom” beteken. Hiervan kom die Latynse woord Poenus, waarvandaan ons die byvoeglike naamwoord “Punies” kry, wat “Kartaags” beteken.

b Die noue band tussen die Kartagers en die Etruskers het eeue lank bestaan en het Aristoteles beweeg om te sê dat dit gelyk het of die twee nasies een staat vorm. Sien die Ontwaak! van 8 November 1997, bladsye 24-7, vir meer inligting oor die Etruskers.

c “Die Kartagers het die gebied om Kartago Afrika genoem. Dit het later na alle bekende streke van die vasteland verwys. Die Romeine het hierdie naam behou toe hulle die gebied ’n Romeinse provinsie gemaak het.”—Dictionnaire de l’Antiquité—Mythologie, littérature, civilisation.

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ROME

MIDDELLANDSE SEE

KARTAGO (ruïnes)

[Prent op bladsy 14]

Die oorblyfsels van die Romeinse warmwaterbaddens

[Prent op bladsy 15]

Fenisiese skepe vervoer seders van die Libanon

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prent op bladsy 15]

Glashangertjies is as gelukbringers gedra

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prent op bladsy 16]

Die Kartagers het begrafnismaskers in grafte geplaas om bose geeste af te weer

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prent op bladsy 16]

Kindermoord was deel van die Kanaänitiese aanbidding wat deur die Kartagers geërf is. Hier is ’n grafsteen van ’n kind wat geoffer is

[Prent op bladsy 17]

Ruïnes van die Puniese stad, wat in 146 v.G.J. deur die Romeine vernietig is

[Prent op bladsy 17]

Hannibal word beskou as een van die grootste militêre stratege wat nog gelewe het

[Erkenning]

Alinari/Art Resource, NY

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel