Kinderoffers—waarom so verfoeilik?
“En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.”—Jeremia 7:31.
IN DIE dae van Judese konings Agas en Manasse het die nasie Israel verstrik geraak in die verdorwe aanbidding van hulle buurvolke. Dit het die opoffering van hulle kinders aan Molog ingesluit (2 Kronieke 28:3; 33:6, 9). Hoewel koning Josia later baie van die ‘verfoeisels’ afgeskaf het, “het die HERE Hom nie afgewend van sy groot toorngloed waarmee sy toorn teen Juda ontvlam het oor al die terginge waarmee Manasse Hom geterg het nie” (2 Konings 23:10, 26). Waarom nie? Wat het die oortreding so afstootlik gemaak dat dit nie vergewe kon word nie?
“Kinderoffers was ’n prominente kenmerk van die aanbidding van die Feniciese Malik-Baäl-Kronos”, sê Funk en Wagnall se Jewish Encyclopedia. Die Feniciërs het oorspronklik in die noordelike kusstreke van Kanaän gewoon. Omdat hulle ’n seevarende volk was, het hulle kolonies dwarsdeur die Mediterreense gebied gestig, en oral het hulle hulle verfoeilike kinderofferritus met hulle saamgeneem. ’n Onlangse argeologiese vonds by die ou Feniciese stad Carthago (nou ’n voorstad van Tunis in Tunisië, Noord-Afrika) werp lig op die volslae verdorwenheid van hierdie gebruik.
Die plek is al in 1921 ontdek. Maar sedert die sewentigerjare is intensiewe opgrawings gedoen weens die uitbreiding van die hedendaagse stad in daardie rigting. Daar is ontdek dat die plek ’n yslike begraafplaas vir geofferde kinders was. Die blad Biblical Archaeology Review berig:
“Van die agtste eeu v.C. tot die tweede eeu v.C. het moeders en vaders van Carthago die beendere van hulle kinders hier begrawe nadat hulle die kinders aan die god Baäl-Hammon en aan die godin Tanit geoffer het. Teen die vierde eeu v.C. het die Tofet [van die Bybelse Tofet] moontlik 6 000 vierkante meter beslaan, met nege begraafvlakke.” Soortgelyke begraafplase is in Sicilië, in Sardinië en elders in Tunisië ontdek. Al hierdie plekke was eens Feniciese kolonies. In die Carthaagse begraafplaas het die navorsers talle klipbakens gevind met voorstellings van die godin Tanit daarop. Sy word vereenselwig met die Kanaänitiese godin Astarte, die vrou van Baäl. Onder die bakens is erdekruike begrawe gevind, sommige helder versier, met die verkoolde bene van die slagoffers daarin.
As aanduiding van die omvang van die gebruik sê die verslag: “Deur die digtheid van die kruike in ons opgrawingsgebied as standaard te gebruik, skat ons dat daar tussen 400 en 200 v.C. nie minder nie as 20 000 kruike daar begrawe kon gewees het.” Hierdie enorme getal is des te skokkender wanneer ’n mens in gedagte hou dat die bevolking van Carthago in sy bloeityd net ongeveer 250 000 was, berig die artikel.
Inskripsies op die klipbakens toon dat kinders geoffer is om geloftes te vervul wat hulle ouers in ruil vir gunste aan Baal of Tanit gemaak het. Range en titels op die bakens dui aan dat die gebruik veral gewild was by die hoër stand, klaarblyklik om die seën van die gode te verseker op hulle pogings om hulle rykdom en invloed te verkry en te behou. In sommige kruike is die oorskot van twee of drie kinders gevind, moontlik van dieselfde gesin, te oordeel na die ouderdomsverskille.
As die gebruik onder die Feniciërs skokkend was, moet onthou word dat Manasse “Juda en die inwoners van Jerusalem verlei [het] om meer kwaad te doen as die nasies wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdelg het” (2 Kronieke 33:9). Dit was geen oordrywing toe Jehovah gesê het nie: “Hulle het hierdie plek gevul met die bloed van onskuldiges” (Jeremia 19:4). Die artikel in Review het tereg opgemerk: “Die toenemende argeologiese en epigrafiese getuienis, soos deur die Carthagers self voorsien, dui sterk daarop dat die klassieke en Bybelse skrywers geweet het waarvan hulle praat.”
Aangesien Jehovah die afgodsaanbiddende Kanaänitiese nasies “verdelg” het, het hy nie die ontroue Israeliete gespaar nie. Hulle het in 607 v.G.J. hulle verdiende loon uit die hand van die Babiloniërs ontvang. Jehovah sal eweneens vandag rekenskap eis van almal wat, regstreeks of onregstreeks, deel het aan die vergieting van die bloed van miljoene der miljoene deur verfoeilike gebruike soos oorlog, moord en aborsie.—Openbaring 19:11-15.