Sweef saam met die wind
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA
“KRY DADELIK VIR MY ’N BIETJIE TAF EN TOU, EN EK SAL VIR JOU IETS WYS WAT DIE WÊRELD SAL VERBAAS!”—JOSEPH-MICHEL MONTGOLFIER, 1782.
SJOEP! ’n Vlam skiet op in ’n kleurvolle ballon en laat dit stadig opstyg. As ’n mens met ’n pragtige, reënboogkleurige materiaalbal hemelwaarts sweef, verbly dit die hart en bring dit verligting van die gejaagde lewe. Volgens ’n man wat al lank ’n warmlugballongeesdriftige is, is dit “rustig en nogtans opwindend”.
Ballonvaart boei die mens al sedert Joseph-Michel en Jacques-Étienne Montgolfier in die vroeë 1780’s die eerste ballon suksesvol laat opstyg het. (Sien venster hieronder.) Tog het ballonvaart as ’n plesiersport eers sedert die 1960’s aan die gang gekom, met die bekendstelling van brandwerende weefstof sowel as ’n veilige en goedkoop metode om propaan te verbrand, wat gebruik word om die lugtemperatuur in die ballon te laat styg en te reguleer.
’n Kykie van naderby
As ’n mens ’n pragtige ballon van naderby bekyk, sien jy stroke kleurvolle materiaal wat aanmekaargewerk is en van bo na onder nouer word. Party ballonne is 15 meter wyd en meer as 25 meter hoog wanneer dit vol lug is.
Verbeeldingryke ballonvaarders gee uiting aan hulle persoonlikheid en dink hulle eie fatsoene en groottes uit, wat wissel van diere tot bottels en selfs tot narre. Wat die ontwerp ook al is, die vliegbeginsels bly dieselfde vir hierdie stil lugvaartuie.
Die ballonvaarder sowel as die passasiers is saam in ’n ligte, stewige gondel, of mandjie, wat met kabels aan die ballon vas is en reg onder die ballon se opening hang. Party mandjies word van aluminium gemaak. Kyk weer net bokant die mandjie. Jy sal die brander en reguleerder sien wat op ’n metaalblad net onder die opening van die ballon vas is. Die brandstoftenks is in die mandjie.
Maak gereed om op te styg
’n Vliegtuig het ’n lang aanloopbaan nodig om op te styg. Maar al wat vir ’n warmlugballon nodig is, is ’n kleinerige oop stuk veld. Dit is van die allergrootste belang dat ’n plek gevind word waar daar geen hindernisse reg bokant die ballon is nie. Wil jy graag in hierdie stil vaartuig gaan vlieg? Selfs voordat jy in die mandjie klim, moet ’n paar stappe ter voorbereiding gedoen word.
Eerstens word die pap ballon op die grond uitgesprei, windaf van die mandjie, wat op sy kant lê. Lug word dan met behulp van ’n groot gemotoriseerde waaier by die ballonopening ingeblaas. Daarna word die ballon met warm lug gevul sodat dit van die grond af lig en die mandjie regop tel. Al die toerusting word dan vir oulaas nagegaan, met inbegrip van die brandstofverbindings, sowel as die kleptou en skeurlyn om seker te maak dat dit tot in die mandjie afhang. Nou kan die passasiers inklim, en die ballonvaarder kan opstyg. Party ballonvaarders het radiotoerusting by hulle en is gereeld in aanraking met die grondpersoneel wat in ’n voertuig agter hulle aan ry om die ballon en passasiers op te laai wanneer hulle land.
Sweef saam met die wind
Die meeste ballonvaarders verkies hoogtes van ongeveer 100 meter sodat hulle rustig oor die platteland kan dryf en kan sien wat daaronder aangaan. Op hierdie hoogte kan ’n mens selfs hoor as mense op die grond lag en skreeu. Van die grond af lyk dit pragtig, en dit laat ’n mens dink aan ’n veertjie wat op ’n sagte bries sweef. Party ballonvaarders styg gereeld tot hoogtes van 600 meter of hoër. Maar dit is nie raadsaam om sonder ’n suurstofvoorraad op ’n hoogte van meer as 3 000 meter te bly nie.—Sien die venster “Hoogtevlug”.
Hoe kom jy af as jy eers bo is? Swaartekrag. En jy kan jou daling beheer deur die gasklep se tou te trek en van die warm lug te laat ontsnap. Horisontale vlug is egter ’n ander saak. Die ballonvaarder is aan die elemente oorgelewer. “Elke vlug is anders, want die winde bepaal die rigting en spoed”, verduidelik ’n ervare ballonvaarder. En lugstrome op verskillende hoogtes kan die spoed en rigting verander. Dit is nie ongewoon dat die wind op 100 meter bo die aardoppervlak in een rigting beweeg en op 200 meter in die teenoorgestelde rigting nie.
Aangesien die ballon teen die spoed van die wind beweeg, voel dit of jy botstil in die lug hang terwyl die aarde onder jou draai. “Ballonvaarders sweef in so ’n mate saam met die wind [dat] hulle ’n kaart kan uitsprei sonder dat dit wegwaai as hulle eers bo is”, sê die tydskrif Smithsonian.
Hoe om ’n ervare ballonvaarder te word
Die beste tyd vir ’n ballonvlug is wanneer daar die minste lugbeweging is. Dit is gewoonlik kort ná sonsopkoms of kort voor sonsondergang. Oggende word verkies, aangesien die atmosfeer dan gewoonlik koeler is en die ballon makliker styg. Met laatmiddagvlugte bestaan die gevaar dat daar nie genoeg daglig sal wees nie.
Dit verg baie oefening om ’n ervare ballonvaarder te word. Die sleutel is om ’n lugmassa te vind wat in die gewenste rigting beweeg en om daarin te bly. Ervare ballonvaarders kry iets onder die knie wat as trapsgewyse styging beskryf kan word. Hulle klim tot op ’n sekere hoogte en stabiliseer die vaartuig. Dan, nadat die brander ’n kort tydjie gebrand het, styg warm lug na die bopunt van die ballon, wat die stil vaartuig hoër laat klim.
Die regte vlamritme en volgehoue aandag is noodsaaklik sodat die ballonvaarder nie beheer oor die ballon verloor nie. Al word sy aandag net kortliks afgelei, kan dit ’n skielike daling tot gevolg hê. ’n Wakker ballonvaarder hou in gedagte dat die hittebron gewoonlik 15 tot 18 meter onder die bopunt van die ballon is en dat dit dus 15 tot 30 sekondes kan duur voordat die hitte van ’n ontvlamming die vaartuig laat beweeg.
Die landing kan opwindend wees, veral as daar ’n sterk wind waai en die ruimte beperk is! Onder sulke omstandighede, sê ’n ballondeskundige, “is ’n vinnige, stamperige landing op die regte plek beter as ’n sagte landing in die leeuhok van ’n dieretuin”. ’n Stadige daling is egter die wenslikste wanneer windtoestande ideaal is.
Warmlugballonvaart, ’n kleurvolle tydverdryf, sal in gewildheid bly toeneem terwyl baie mense aan spoedwedvaarte, tydwedvaarte en feeste deelneem en ander bloot vlieg omdat hulle dit geniet.
[Venster/Prente op bladsy 14, 15]
DIE VROEË GESKIEDENIS VAN BALLONVAART
Joseph-Michel en Jacques-Étienne Montgolfier, seuns van ’n welgestelde papiervervaardiger van Annonay, Frankryk, kry in die geskiedenis die eer daarvoor dat hulle die eerste warmlugballon gebou en laat opstyg het. Hulle aanvanklike eksperimente gedurende die vroeë 1780’s is met papierballonne uitgevoer, wat na hulle mening weens die rook van brandende strooi en wol opgestyg het. Kort voor lank het hulle besef dat die verhitte lug dit laat opstyg het.
Later, nadat hulle materiaalballonne begin maak het, het hulle gesien dat hulle groter hoogtes kon bereik en ’n swaarder vrag kon optel wanneer hulle al hoe groter ballonne laat opstyg het. In Junie 1783 het hulle die grootste ballon wat hulle tot op daardie tydstip gebou het, van die openbare plein in Annonay af laat opstyg. Dit het ongeveer tien minute lank hemelwaarts gesweef voordat dit aarde toe gedaal het.
Met daardie prestasie het hulle besluit dat dit tyd was om ’n ballon te laat opstyg wat mense vervoer. Maar eers het duisende toeskouers in September 1783 in Versailles bymekaargekom om ’n ballon met ’n hoenderhaan, ’n eend en ’n skaap aan boord te sien opstyg. Al drie het die vlug van agt minute sonder enige slegte gevolge oorleef. Kort daarna, op 21 November 1783, is die eerste vlug met mense aan boord onderneem. Lodewyk XVI is oorreed om twee edelmanne die eer te laat geniet. Hulle het van Château de la Muette af opgestyg en ongeveer agt kilometer ver oor Parys gesweef. Ná ongeveer 25 minute het hulle ’n noodlanding gedoen toe die ballon aan die brand geraak het.
Omstreeks dié tyd het die Akademie vir Wetenskappe in Parys belangstelling in hierdie uitvinding getoon. Professor Jacques Charles, een van die bekendste fisici van die tyd, het met twee slim werktuigkundiges, Charles en M. N. Robert, saamgewerk en die eerste waterstofgevulde ballon gebou, wat hulle op 27 Augustus 1783 getoets het. Dit het 45 minute lank oor ’n afstand van sowat 24 kilometer gesweef en het as ’n Charlière bekend geword. Hierdie soort ballon is vandag nog in feitlik sy oorspronklike vorm in gebruik.
[Venster op bladsy 17]
HOOGTEVLUG
’n Engelsman met die naam Henry Coxwell het as die vernaamste hoogtevlug-ballonvaarder bekend geword. In September 1862 het hy van James Glaisher van die Britse Meteorologiese Vereniging die opdrag gekry om hom vir wetenskaplike waarnemings baie hoog in die lug op te neem. Hulle het tot op ’n hoogte van oor die nege kilometer opgestyg, sonder enige suurstofapparaat!
Nadat hulle ’n hoogte van meer as 8 000 meter bereik het en in die koue, dun lug swaar begin asemhaal het, het Coxwell voorbereidings getref om te daal. Maar omdat die ballon voortdurend in die rondte gedraai het, het die gasklep se tou verstrengel geraak, en Coxwell moes in die touwerk inklim om die ineengestrengelde tou los te kry. Glaisher was reeds bewusteloos, en Coxwell moes die tou met sy tande trek, aangesien sy hande styf was van die koue. Eindelik het hulle begin daal.
Albei mans het later voldoende herstel om die ballon stadiger te laat daal. Hulle het ’n hoogte van byna 10 000 meter bereik, ’n rekord wat meer as ’n eeu lank gestaan het. Hulle vlug in ’n ballon met ’n oop mandjie tel onder die grootste lugvaartprestasies, aangesien hulle dit sonder ’n suurstofvoorraad gedoen het, met die minimum beskermende klere en met feitlik geen kennis van die bo-atmosfeer nie.
[Prent op bladsy 15]
Die binnekant van ’n ballon terwyl dit met lug gevul word
[Prent op bladsy 15]
Die ballon word met warm lug gevul sodat dit kan opstyg en vlieg
[Prent op bladsy 16]
Ongewone ballonfatsoene