Jongmense vra . . .
Hoe kan ek vir my skoolmaats getuig?
“Ek was besig om velddiens te doen toe ek skielik iemand wat ek ken, raakgeloop het. Ek het my lam geskrik! Die persoon wat saam met my gewerk het, moes inspring en vir my praat.”—Alberto.
“Ek het geweet dat een van my klasmaats in hierdie straat gebly het, toe laat ek my broer by al die deure praat. Ná ’n ruk het hy ’n bietjie moeg geraak en my gevra om die volgende deur te doen. Ek het geklop, en—ag, nee—dit was hy! Ek was so benoud!”—James.
JONGMENSE voel dikwels dat dit nie “cool” is om oor godsdiens te praat nie. Maar onder ware Christene waardeer jongmense hulle godgegewe voorreg om ander van hulle geloof te vertel. Duisende jong Getuies van Jehovah neem dus aan die deur-tot-deur-predikingswerk deel. Maar party doen dit met die vrees dat hulle dalk ’n skoolmaat sal raakloop. “Ek raak nog steeds senuweeagtig wanneer ek mense ontmoet wat saam met my op skool was”, sê Jennifer, selfs al is sy ’n hele paar jaar al uit die skool.
As jy ’n jong Christen is, voel jy dalk soms dieselfde. Ons is natuurlik almal bang om verwerp te word; dus is dit heeltemal normaal om ’n bietjie angstig te voel wanneer jy met ’n skoolmaat oor godsdiens moet praat.a Maar daar is geen rede om toe te laat dat vrees jou terughou nie. Onthou jy die man wat in die Bybel “Josef van Arimatea” genoem word? Hy het die dinge geglo wat hy van Jesus geleer het. Nogtans beskryf die Bybel Josef as iemand “wat ’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim weens sy vrees vir die Jode” (Johannes 19:38). Hoe sal jy byvoorbeeld voel oor ’n vriend wat julle vriendskap geheim wou hou? (Lukas 12:8, 9). Daarom is dit nie verbasend dat God van alle Christene verwag om “openbare bekendmaking” van hulle geloof te doen nie (Romeine 10:10). Dit sluit in dat jy met jongmense in julle skool praat.
Josef van Arimatea het sy vrese oorkom, ten minste tot die mate dat hy toestemming gaan vra het om Jesus se liggaam te begrawe. Hoe kan jy jou vrese oorkom?
Ontwikkel gretigheid om te getuig
Die apostel Paulus was beslis nie skaam om ander van sy geloof te vertel nie. In Romeine 1:15 sê hy dat hy gretig is om die Bybel se boodskap bekend te maak. Waarom was hy so gretig? Hy sê in vers 16: “Ek skaam my nie vir die goeie nuus nie; dit is trouens God se krag tot redding vir elkeen wat geloof het.” Wat van jou? Het jy regtig seker gemaak dat wat jy glo die waarheid is? (Romeine 12:2). Is jy persoonlik daarvan oortuig dat die Bybel se boodskap “God se krag tot redding” is?
Dit is nie genoeg om bloot die Christelike vergaderinge saam met jou ouers by te woon nie. “Dis maklik om maar net vergaderinge toe te gaan”, sê ’n meisie, Deborah, “omdat jou ouers sê jy moet. Maar wanneer mense my vrae oor die Bybel gevra het, het ek nie geweet hoe om dit te beantwoord nie.” ’n Meisie met die naam Mi Jang sê ook: “Ons moet vir onsself bewys dat dit die waarheid is.”
Wat kan jou motiveer om jou kennis van die Bybel aan ander mee te deel? Bestudeer dit op jou eie. ’n Jong persoon met die naam Sean sê: “Wanneer jy jou eie studie van die Bybel begin doen, begin jy die waarheid jou eie maak. Jy studeer omdat jy wil.” Dit is waar dat nie almal van nature ywerig is om te studeer nie. “Ek hou nie van lees nie”, erken Shevon. “Dit was vir my in die begin moeilik om Die Wagtoring en Ontwaak! te lees of om elke dag die Bybel te lees. Maar mettertyd het ek dit begin doen.”
Watter resultate lewer so ’n ywerige studie? Die apostel Paulus sê: “Geloof volg . . . op wat gehoor word” (Romeine 10:17). Namate jou geloof en oortuiging sterker word, sal jou gesindheid beslis verander. ’n Brasiliaanse meisie, Elisângela, het tot dié gevolgtrekking gekom: “Dis ’n eer om ’n Christen te wees, nie iets om oor skaam te wees nie.” Namate jou geloof sterker word, sal jy beslis meer gemotiveerd voel om met ander—insluitende jou klasmaats—te praat. Paulus het gesê: ‘Ons beoefen geloof, en daarom spreek ons’ (2 Korintiërs 4:13). Hoe kan jy immers ‘rein wees van die bloed’ van ander as jy lewegewende kennis weerhou van die jongmense wat jy elke dag sien?—Handelinge 20:26, 27.
Party jong Christene voel egter onbekwaam om met ander oor die Bybel te praat. “As jy nie weet wat om te sê nie”, sê ’n jong man met die naam Joshua, “is dit nie eintlik lekker om te getuig nie.” Weer eens sal ’n dieper begrip van die Bybel jou help om dit op ’n bekwame manier te hanteer (2 Timoteus 2:15). In gemeentes van Jehovah se Getuies kan jongmense die gemeentelike ouer manne nader en hulp vra om hulle onderrigvermoë te ontwikkel. ’n Duitse jeugdige, Matthias, sê: “Toe ek regtig met mense begin praat het—en nie net Bybellektuur aangebied het nie—het ek dit begin geniet om velddiens te doen.”
Laastens kan jy tot God bid om jou te help om met vrymoedigheid te spreek (Handelinge 4:29). Die apostel Paulus het God se hulp in hierdie verband ervaar. In 1 Tessalonisense 2:2 sê hy: ‘Ons het deur middel van ons God die vrymoedigheid bymekaargeskraap om met groot worsteling die goeie nuus van God tot julle te spreek.’ Volgens een naslaanwerk kan hierdie stelling weergegee word as “God het die vrees uit ons harte geneem”. Bid dus gerus tot God en vra hom om vrees uit jou hart te neem.
Identifiseer jouself
In ooreenstemming met jou gebed kan jy ’n baie moedige stap neem. ’n Britse meisie, Chic, gee die volgende raad: “Vertel jou skoolmaats dat jy ’n Christen is.” Jy wil nie ’n ‘dissipel in die geheim’ wees nie. ’n Meisie met die naam Rebecca erken dat sy op ’n tyd doodbang was om iemand wat sy ken, in die predikingswerk raak te loop. Maar sy het ontdek dat hulle, “wanneer jy hulle vertel dat jy ’n Christen is en dat jy van deur tot deur getuig, partykeer sal vra: ‘Wel, sal jy ooit na my deur toe kom?’”
Maar waarom wag vir ’n toevallige ontmoeting? Soek na geleenthede by die skool om jou geloof te verkondig. Onthou die vrae wat die apostel Paulus gevra het: “Hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?” (Romeine 10:14). Jy is in die heel beste posisie om jou klasmaats te help om te hoor. ’n Jong meisie, Iraida, sê: “Skool is ’n gebied waarin net ons kan getuig.” Baie jongmense benut dus hierdie situasie deur informeel te getuig.
Soms is daar egter klastake wat jou die geleentheid bied om Bybelwaarhede aan ander te vertel. ’n Britse meisie met die naam Jaimie vertel: “Ons was besig om evolusie in die wetenskapklas te bespreek, en ek het my oortuigings verduidelik. Een van die seuns het my begin spot en het gesê dat Jehovah se Getuies minderwaardig is en nie verdien om in die skoolstelsel te wees nie. Maar die ander kinders in die klas het onmiddellik vir my opgekom.” Haar reputasie as ’n voorbeeldige Christen het blykbaar vrugte afgewerp. Jaimie voeg by: “As gevolg daarvan het ek die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? by ’n klasmaat gelaat.”b
’n Veertienjarige meisie in Roemenië met die naam Roxana vertel ’n soortgelyke ondervinding: “My onderwyser het aangekondig dat daar ’n klasbespreking sou wees oor alkohol, tabak en dwelms. Daarom het ek die Ontwaak! van 22 Maart 2000, oor die onderwerp ‘Hoe jy kan ophou rook’, saamgeneem. ’n Klasmaat het die tydskrif gesien, dit geneem en wou dit nie teruggee nie. Nadat sy dit gelees het, het sy gesê dat sy vasbeslote is om op te hou rook.”
Jy sal moontlik nie altyd so ’n gunstige reaksie kry nie. Maar Prediker 11:6 spoor ons aan: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie.” Selfs al is daar geen gunstige reaksie nie, sal jy die grondslag lê vir ’n aangenamer bespreking as jy ooit ’n skoolmaat in die huis-tot-huis-bediening teëkom. ’n Britse meisie, Jessica, sê: “Dit is eintlik makliker om vir skoolmaats te getuig omdat jy hulle alreeds ken.” Jy sal miskien verbaas wees om te sien hoe nuuskierig party van jou skoolmaats oor jou oortuigings is.
Almal sal jou nou wel nie vriendelik ontvang nie. Maar Jesus het hierdie praktiese raad gegee: “Oral waar iemand julle nie inneem nie of na julle woorde nie luister nie, skud die stof van julle voete af wanneer julle uit daardie huis . . . uitgaan” (Matteus 10:14). Met ander woorde, jy hoef nie te voel dat jý verwerp word nie. Vertrek eenvoudig vreedsaam en soek na iemand wat gewilliger is om te luister. Vroeër of later sal jy opregtes van hart vind wat na die waarheid honger en gewillig sal wees om te luister. Sal dit nie wonderlik wees as een van hulle ’n skoolmaat is nie? Indien wel, sal jy bly wees dat jy jou vrees te bowe gekom het om vir jou klasmaats te getuig.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Sê nou ek ontmoet een van my skoolmaats?” wat in ons nommer van 22 Februarie 2002 verskyn het.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Lokteks op bladsy 12]
“Wanneer jy jou eie studie van die Bybel begin doen, begin jy die waarheid jou eie maak.”—Sean.
[Prent op bladsy 10]
Moenie bang wees om jou as ’n Christen te identifiseer nie
[Prent op bladsy 10]
Klastake bied dikwels geleenthede om Bybelwaarhede aan ander te vertel