Taal in die natuur—die geheime van dierekommunikasie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA
DIE vermoë om te kan kommunikeer, is sonder twyfel een van die kosbaarste gawes wat aan die mensdom gegee is. Ons dra daardeur noodsaaklike inligting aan mekaar oor, hetsy mondelings of op ander maniere, soos deur middel van gebare. Vryheid van spraak is trouens in baie wêrelddele ’n omstrede saak. Daarom het party aangeneem dat kommunikasie tot die mens beperk is.
Maar navorsing toon dat diere inligting op ingewikkelde maniere uitruil wat mense dikwels dronkslaan. Ja, hulle “praat”, nie met woorde nie, maar deur sigbare seine soos om die stert te swaai, ’n oor vinnig te beweeg of vlerke te klap. Ander vorme van kommunikasie kan die gebruik van die stem insluit, soos ’n blaf, ’n brul, ’n grom of die sang van ’n voël. Party van die “tale” is voor die hand liggend vir mense, terwyl ander baie wetenskaplike studie verg om waar te neem.
Roofdiere!
Dit is middel-Julie. In die uitgestrekte Serengeti- Nasionale Park in Tanzanië trek derduisende wildebeeste noordwaarts na die Masai Mara- Wildreservaat in Kenia op soek na groener weivelde. Die vlaktes dreun met die klank van hoewe gedurende hierdie jaarlikse migrasie. Op die pad dreig daar egter gevaar. Oral langs die roete is daar roofdiere soos leeus, jagluiperds, hiënas en luiperds. Die wildebeeste sal ook hulle lewe waag wanneer hulle die Mararivier oorsteek, wat wemel van die krokodille. Hoe beskerm wildebeeste hulleself teen roofdiere?
Om die vyand te verwar, sal die wildebees, of ghnoe, vinnig oor ’n kort afstand hardloop en dan na die vyand toe omdraai, terwyl hy sy kop die hele tyd heen en weer swaai. Hy sal sy bene wild en woes rondgooi, wat ietwat lagwekkend is. Selfs ’n kwaai roofdier sal in sy spore vassteek wanneer hy hierdie ongewone dans sien. As die roofdier dan nog nader kom, sal die wildebees die vertoning herhaal. Dit maak die roofdier so deurmekaar dat hy dalk ná die konsert die stryd gewonne gee. Hierdie ongewone dans het die wildebees die twyfelagtige onderskeiding as die nar van die vlaktes gegee.
Die wildebees se kleiner neefs, die impalas, is bekend vir hulle reusagtige spronge. Vir baie is hierdie hoë spronge ’n vertoon van grasie en spoed. Maar in tye van gevaar maak hierdie wildsbok van sy reusagtige spronge gebruik om dit vir ’n roofdier moeilik te maak om sy bene by te kom. Die spronge, wat tot nege meter ver kan strek, gee die aanvaller ’n duidelike boodskap: “Volg my as jy kan byhou.” Min roofdiere is bereid om dit te doen net om die onwillige impala plat te trek!
’n Tyd om te eet
In die natuur moet baie roofdiere hulle jagvaardighede ontwikkel om goeie jagters te word. Jonges moet noukeurig aandag skenk terwyl hulle ouers hulle touwys maak. In ’n wildreservaat in Afrika is gesien hoe ’n jagluiperd, Saba, lewensbelangrike lesse van oorlewing aan haar welpies leer. Nadat sy ’n Thomson-gasel wat besig was om te wei meer as ’n uur lank bekruip het, het sy die ongelukkige bok met ’n reuse-sprong gevang en gewurg—maar sonder om hom dood te maak. Oomblikke later het Saba die halfbewuste dier voor haar welpies neergegooi, wat verbasend genoeg huiwerig was om op die prooi toe te sak. Hierdie jong jagluiperds het verstaan waarom hulle ma vir hulle ’n lewendige dier gebring het. Sy wou hê dat hulle moes leer hoe om die gasel dood te maak. Elke keer wanneer die prooi probeer opstaan en weghardloop het, het die uiters opgewonde welpies hom platgetrek. Die gasel was uiteindelik so uitgeput dat hy die stryd gewonne gegee het. Saba het hulle met goedkeuring van ’n afstand af dopgehou.
Party diere maak soveel geraas as moontlik terwyl hulle kos soek. ’n Trop gevlekte hiënas sal grom, snork en giggel terwyl hulle agter prooi aan hardloop. Wanneer die prooi doodgemaak is, sal ander hiënas na die fees genooi word deur middel van die hiënas se berugte “lag”. Hiënas jag egter nie altyd vir kos nie. In die natuur is hulle onder die ergste van die kosrowers—hulle gebruik allerhande metodes om ander roofdiere te teister sodat hulle hulle prooi kan afneem. Hulle is daarvoor bekend dat hulle selfs leeus van hulle maaltyd af verdryf! Hoe kry hulle dit reg? Hulle is luidrugtige diere en sal ’n verskriklike lawaai opskop in ’n poging om die vretende leeus te versteur. As die katte die geraas ignoreer, sal die hiënas meer opgewonde raak en groter kanse waag. Omdat hulle vrede versteur is, sal die leeus dikwels die karkas prysgee en wegbeweeg.
Onder bye is die soektog na kos ’n komplekse ritueel. Ingewikkelde wetenskaplike studies het aan die lig gebring dat die heuningby ander in die korf deur middel van ’n dans inlig oor die ligging, tipe en selfs die kwaliteit van die kos wat gevind is. Op sy liggaam dra ’n by monsters van die kos, soos nektar of stuifmeel, terug na die ander bye in die korf. Deur ’n dans in die vorm van ’n syfer agt te doen, is hy nie net in staat om die rigting na die voedselbron aan te wys nie, maar ook die afstand aan te dui wat gedek moet word. Pas op! Daardie by wat om jou zoem, samel dalk belangrike inligting in om terug huis toe te neem. Hy dink dalk dat jou parfuum sy volgende maaltyd gaan wees!
Kontak word behou
Min klanke is so indrukwekkend soos die gebrul van ’n leeu gedurende ’n stil nag. Verskeie redes is al vir hierdie vorm van kommunikasie gegee. ’n Mannetjie se magtige gebrul waarsku almal dat hy in die gebied is; kom nader op jou eie risiko. Maar aangesien die leeu ’n sosiale kat is, sal hy ook brul om kontak met ander lede van die trop te behou. Dit is gewoonlik ’n sagter, minder kragtige brul. Een aand het ’n mannetjie elke 15 minute gebrul totdat ’n neef uit die verte geantwoord het. Hulle het nog 15 minute met mekaar bly “praat” totdat hulle uiteindelik ontmoet het. Die gebrul het toe opgehou.
Sulke kontak versterk nie net goeie verhoudinge nie, maar bied ook beskerming teen slegte weerstoestande. ’n Hen sal verskeie geluide maak wat verskillende boodskappe aan haar kuikens oordra. Maar die kenmerkendste geluid is die lang, lae kirgeluid wat in die aande gemaak word, wat aandui dat sy nes toe gekom het om te slaap. Die kuikens wat oral rondloop, luister na hulle ma se roep en kom onder haar vlerke bymekaar vir die aand.—Matteus 23:37.
Om ’n maat te vind
Het die melodie van sangvoëls jou al ooit in jou spore laat vassteek? Vind jy dit nie fassinerend om te hoor hoe hulle die note sing nie? Maar het jy geweet dat die laaste ding waaraan hulle dink, is om jou te vermaak? Hulle sang is ’n manier om belangrike boodskappe oor te dra. Alhoewel sang partykeer ’n manier is om gebied af te baken, word dit ook dikwels gebruik om potensiële maats aan te trek. Volgens The New Book of Knowledge “sing hulle 90 persent minder” wanneer die mannetjie en wyfie mekaar gevind het.
Partykeer neem dit meer as net goeie sang om ’n maat te kry. Party wyfies vereis dat ’n “bruidsprys” betaal moet word voordat ’n mannetjie hulle goedkeuring kry. ’n Wewervoëlmannetjie sal dus sy nesbouvaardighede moet demonstreer voordat hy verdere toenadering kan soek. Mannetjies van ander spesies sal bewys dat hulle vir ’n gesin kan sorg deur letterlik die wyfie te voer.
Die ingewikkelde maniere waarop diere kommunikeer, is nie net ’n manier waarop hulle in hulle fisiese behoeftes voorsien nie, maar verminder ook bakleiery en bevorder vrede in die natuur. Aangesien verdere navorsing oor dierekommunikasie gedoen word, het ons nog nie die laaste van hierdie “‘taal’ in die natuur” gehoor nie. Hoewel ons dit nie ten volle verstaan nie, strek dit die een wat dit gemaak het, Jehovah God, tot eer.
[Venster/Prente op bladsy 18, 19]
Olifante se “geluidlose kommunikasie”
Op ’n warm middag in die uitgestrekte Amboseli- Nasionale Park in Kenia lyk dit nie asof enigiets die groot trop olifante pla nie. Tog is die lug gevul met “olifantspraak”, wat wissel van ’n gerommel, wat ’n laefrekwensieklank is, tot hoëfrekwensieklanke, soos ’n getrompetter of korter plofklanke. Party van die geluide bevat komponente wat onder die omvang van menslike gehoor is en tog so kragtig is dat dit deur ’n olifant gehoor kan word wat etlike kilometers daarvandaan is.
Vir deskundiges op die gebied van dieregedrag is die ingewikkelde maniere waarop olifante belangrike boodskappe oordra, nog steeds ’n raaisel. Joyce Poole bestudeer kommunikasiekonsepte tussen Afrika-olifante al meer as 20 jaar lank. Sy het tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie groot diere, wat vir hulle gesogte ivoortande bekend is, gevoelens toon wat in baie min diere gevind word. “Wanneer ’n mens olifante se merkwaardige gedrag dophou tydens ’n familie- of groepbegroetingseremonie, [of by] die geboorte van ’n nuwe familielid . . . is dit moeilik om te dink dat hulle nie baie sterk emosies voel nie, wat maar net beskryf kan word met woorde soos vreugde, geluk, liefde, gevoelens van vriendskap, uitgelatenheid, genot, plesier, medelye, verligting en respek”, sê Poole.
Wanneer hulle mekaar ná ’n lang tyd weer ontmoet, verander hulle begroetings in ’n groot rumoer wanneer lede met koppe omhoog en gevoude, flappende ore na mekaar toe hardloop. Soms sal ’n olifant selfs sy slurp in ’n ander olifant se bek sit. Hierdie begroetings gee die olifante blykbaar ’n diep gevoel van vreugde, asof hulle sê: “Man, dis wonderlik om jou weer te sien!” Sulke bande hernieu die ondersteuningsnetwerk wat lewensbelangrik vir hulle oorlewing is.
Olifante het klaarblyklik ook ’n sin vir humor. Poole vertel dat sy gesien het hoe olifante die hoeke van hulle bekke optrek in wat sy ’n glimlag genoem het, terwyl hulle hulle koppe swaai sodat dit lyk of iets hulle geamuseer het. Sy het eenkeer ’n speletjie begin speel waaraan die diere deelgeneem het, en hulle het hulle 15 minute lank op ’n totaal verspotte manier gedra. Twee jaar later het dit gelyk asof party van die olifante weer vir haar “geglimlag” het, dalk omdat hulle die speletjie met haar onthou het. Die olifante vermaak mekaar nie net met speletjies nie, maar boots ook klanke na. Gedurende ’n navorsingsprojek het Poole ’n klank gehoor wat anders as die gewone olifantroepe was. Toe die saak ondersoek is, is daar voorgestel dat die olifante die geluid van vragmotors nageboots het wat daar naby verbygery het. En hulle het dit blykbaar vir die pret gedoen! Dit is asof olifante rede soek om opgewonde te raak.
Baie is al gesê oor die manier waarop olifante blykbaar treur wanneer rampspoed ’n familielid tref. Poole het eenkeer ’n koei gesien wat drie dae lank oor haar doodgebore kalfie waggestaan het en het dit só beskryf: Haar “gesigsuitdrukkings” het gelyk “soos dié van ’n hartseer, terneergedrukte persoon: haar kop en ore het gehang, die hoeke van haar bek het ondertoe getrek”.
Diegene wat olifante vir ivoor doodmaak, dink nie aan die ‘sielkundige trauma’ van die weesolifantjies wat dalk gesien het hoe hulle moeders doodgemaak is nie. Hierdie kalfies bring die eerste paar dae in ’n weeshuis vir diere deur, waar hulle oor hulle “hartseer” probeer kom. ’n Oppasser het vertel hoe die weesolifantjies in die oggend “skreeu”. Die gevolge kan etlike jare ná die dood waargeneem word. Poole meen dat die olifante weet dat die mens vir hulle lyding verantwoordelik is. Ons sien uit na die tyd wanneer mens en dier in vrede sal saamleef.—Jesaja 11:6-9.
[Prent op bladsy 16]
Malgasse wat mekaar groet
[Prent op bladsy 17]
’n Wildebees voer ’n wilde dans uit om die vyand te verwar
[Prent op bladsy 17]
Die hiëna se berugte “lag”
[Erkenning]
© Joe McDonald
[Prent op bladsy 18]
Die heuningby se dans