Jongmense vra . . .
Waarom is dit vir my so moeilik om verblyf te deel?
“Ek is netjies, baie netjies. Maar wanneer ek tuis kom, lê my woonstelmaat op die vloer uitgestrek en kyk TV—en daar is oral papiere en springmielies. Elke keer wanneer ek huis toe kom, stel ek my voor wat ek gaan sien en dan sê ek vir myself: ‘Ek wil nie daar ingaan nie.’”—David.
“My woonstelmaat was ’n bedorwe brokkie. Sy het seker gedink dat sy ’n bediende gehad het wat daar by ons woon. En sy wou dinge altyd op haar manier gedoen hê.”—Renee.a
“WANNEER jy leer om ’n vreemdeling se eienaardighede te duld, leer jy moontlik hoe om buigsaam en toegeeflik te wees”, het ’n artikel in die U.S. News & World Report gesê. “Maar die leerproses is dikwels pynlik.” Enigiemand wat al ooit verblyf moes deel, sal dalk saamstem.
Baie universiteitstudente deel verblyf met iemand om die hoë koste van opvoeding te verminder. Ander jongmense trek saam met ’n woonstelmaat in omdat hulle onafhanklik van hulle ouers wil wees. Onder jong Christene het talle besluit om verblyf te deel sodat hulle geestelike belange kan nastreef (Matteus 6:33). Hulle vind dat dit hulle help om as voltydse bedienaars te dien wanneer hulle uitgawes met iemand deel. ’n Kamermaat is ook partykeer deel van ’n sendeling se lewe en van Betheldiens by verskeie takkantore van Jehovah se Getuies.b
Ontwaak! het met ’n aantal jong mans en vroue gepraat wat verblyf met iemand gedeel het. Almal het saamgestem dat ’n woonstelmaat baie meer kan wees as net iemand wat help om die huur te betaal—’n woonstelmaat kan ’n bron van kameraadskap wees, iemand om mee te praat en om dinge mee saam te doen. “Ons het wakker gebly en meisiepraatjies gepraat of net na rolprente gekyk”, sê Lynn. “’n Woonstelmaat kan jou ook aanmoedig”, sê Renee. “Partykeer wanneer jy werk, al jou rekeninge probeer betaal, die predikingswerk probeer doen, is dit aangenaam om ’n woonstelmaat te hê om jou aan te moedig.”
Dit kan nietemin ’n groot uitdaging wees om saam met iemand te bly—veral iemand wat aanvanklik feitlik ’n vreemdeling is. U.S. News & World Report het die volgende aangaande universiteite gesê: “Al probeer baie universiteite hard om geskikte kamermaats bymekaar te plaas, is onbevredigende situasies algemeen.” Daar was selfs al gevalle waar konflikte tussen kamermaats op fisiese geweld uitgeloop het! Daarom het webruimtes op die Internet verskyn wat studente toelaat om uiting te gee aan hulle skynbaar eindelose frustrasies wat hulle kamermaats betref. Waarom is dit dikwels moeilik om verblyf met iemand te deel?
Saam met ’n vreemdeling
“Om saam met ’n vreemdeling in te trek, is nogal ’n interessante ondervinding”, sê Mark. “Jy weet nie regtig hoe hy gaan wees nie.” Trouens, die gedagte om saam met iemand te bly met wie jy dalk baie min of niks in gemeen het nie, kan nogal verontrustend wees. Christene behoort weliswaar heelwat in gemeen te hê, asook baie om oor te praat. David sê nietemin: “Ek het baie vrese oor ’n kamermaat gehad.”
Maar David se kamermaat het toe baie dieselfde agtergrond as hy gehad. Maar nie alle kombinasies werk so goed nie. Mark sê: “My eerste kamermaat het nie juis veel gesels nie. Wanneer ’n mens in ’n beperkte ruimte saamwoon, is dit regtig nodig dat jy gesels. Maar hy wou nie. Dit het my werklik begin pla.”
Verskille in agtergrond kan nog oorsake van spanning wees. Lynn sê: “Wanneer jy uit die huis trek, wil jy dinge op jou manier doen. Maar jy kom gou agter dat daar ander mense is om in ag te neem.” Ja, wanneer jy die veilige hawe van jou gesin se huis verlaat, kan dit ’n groot skok wees om uit te vind hoe anders ander mense dinge beskou.
Verskillende agtergronde, verskillende maniere
Baie hang af van die opleiding—of gebrek aan opleiding—wat ’n persoon van sy of haar ouers ontvang het (Spreuke 22:6). Jong Fernando sê: “Ek is ’n netjiese persoon, en my kamermaat was slordig. Neem byvoorbeeld die klerekas: Hy het daarvan gehou om goed oral rond te gooi. Ek het daarvan gehou om dinge op te hang.” Soms kan die verskil in standaarde baie groot wees.
Renee sê: “Ek het ’n woonstelmaat gehad wie se slaapkamer letterlik soos ’n varkhok gelyk het! Ek het ook al woonstelmaats gehad wat nie die tafel afdek en afvee nadat hulle geëet het nie of wat hulle skottelgoed twee of drie dae lank in die opwasbak los.” Ja, wanneer dit by huiswerk kom, lyk dit asof party woonstelmaats die verpersoonliking van die woorde in Spreuke 26:14 is: “’n Deur bly op sy spil draai en die luiaard op sy slaapbank.”
Aan die ander kant is dit ook nie juis aangenaam om saam met iemand te bly wat oornetjies is nie. ’n Jong vrou met die naam Lee sê van een kamermaat: “Volgens haar moes daar elke uur skoongemaak word. Ek is geensins slordig nie, maar het partykeer goed, soos boeke, op my bed gelos. En sy het gevoel dat sy die situasie moes kontroleer.”
Kamermaats het dalk ook hulle eie idees oor persoonlike higiëne. Mark verduidelik: “My kamermaat staan op die nippertjie op. Hy hardloop net wasbak toe, maak sy hare effe nat en dan is hy by die deur uit.”
Verskille in agtergrond en persoonlikheid kan keuse van vermaak en ontspanning beïnvloed. “Ons hou nie van dieselfde soort musiek nie”, sê Mark van sy kamermaat. Wanneer daar egter wedersydse respek is, kan sulke verskille voordelig wees—dit kan albei kamermaats help om hulle smaak uit te brei. Maar sulke verskille loop alte dikwels op konflik uit. “Ek hou van Spaanse musiek”, sê Fernando, “maar my kamermaat kritiseer dit altyd.”
Die telefoon —’n probleem
Die gebruik van die telefoon kan een van die grootste oorsake van konflik wees. Mark sê: “Ek gaan graag vroeg bed toe. Maar my kamermaat gesels tot laat op die telefoon. Na ’n ruk kan dit irriterend raak.” Lynn sê ook: “Partykeer het my woonstelmaat se vriende drie- of vieruur in die oggend gebel. Wanneer sy nie daar was nie, moes ek opstaan en die telefoon antwoord.” Hulle oplossing? “Ons het seker gemaak dat elkeen van ons ons eie telefoon gehad het.”
Maar nie alle jongmense kan bekostig om hulle eie telefoon te hê nie, en baie moet noodgedwonge met ander deel. Dit kan soms tot groot spanning aanleiding gee. Renee sê: “Een van my woonstelmaats het ’n kêrel gehad, en sy was dikwels ure lank op die telefoon. Een maand het sy oproepe van meer as R1 000 gemaak. Sy het verwag dat elkeen van ons ’n deel daarvan betaal, aangesien ons almal ooreengekom het om die rekening gelykop te deel.”
Om bloot toegang tot die telefoon te kry, kan ’n ander geskilpunt wees. “Ek het saam met iemand gebly wat ouer as ek was”, sê Lee. “En ons het net een telefoon gehad. Ek was heeltyd op die telefoon omdat ek baie vriende gehad het. Sy het nooit enigiets gesê nie. Ek het aangeneem dat sy vir my sou sê as sy die telefoon wou gebruik. Ek besef nou dat ek onbedagsaam was.”
Gebrek aan privaatheid
“Elkeen het tyd vir homself nodig”, sê David. “Partykeer moet ek net ontspan en niks doen nie.” Dit kan egter ’n uitdaging wees om private tye te vind wanneer jy jou blyplek met iemand deel. “Ek hou daarvan om soms op my eie te wees”, sê Mark. “Daarom is die gebrek aan privaatheid vir my die moeilikste. Ek en my kamermaat het dieselfde roetine. Gevolglik is dit moeilik om privaatheid te vind.”
Selfs vir Jesus Christus was dit soms nodig om alleen te wees (Matteus 14:13). Dit kan dus frustrerend wees wanneer die teenwoordigheid van iemand saam met wie jy bly, dit moeilik maak, indien nie onmoontlik nie, om te lees, te studeer of te peins. Mark sê: “Dit is moeilik om te studeer omdat daar altyd iets gebeur. Vriende kom vir hom kuier, hy is op die telefoon of hy kyk TV of luister na die radio.”
Maar ongeag hoe uitdagend dit ook al mag wees om verblyf te deel, duisende jongmense het ’n sukses daarvan gemaak. Verdere artikels in hierdie reeks sal ’n paar praktiese maniere bespreek om dit makliker te maak om saam met iemand te bly.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Hoewel hierdie raad tot jongmense gerig word, is dit moontlik ook nuttig vir ouer mense wat verblyf met iemand moes begin deel nadat hulle omstandighede verander het, soos in die geval van weduweeskap.
[Prent op bladsy 16, 17]
Verskille in musieksmaak kan ’n uitdaging bied
[Prent op bladsy 18]
’n Gebrek aan bedagsaamheid kan spanning veroorsaak