Jongmense vra . . .
Hoe kan ek ’n goeie woonstelmaat vind?
“Sonder woonstelmaats is daar geen manier waarop ek as ’n voltydse evangeliedienaar kon gedien het en nog huur asook water en ligte betaal het nie.”—Lynn.a
WANNEER jongmense die huis verlaat, is hulle dikwels geskok as hulle uitvind presies hoeveel dit kos om in die ‘werklike wêreld’ te leef. Baie bied die hoë lewenskoste die hoof deur uitgawes met een of meer woonstelmaats te deel.
Maar soos ’n vorige artikel in hierdie reeks getoon het, kan dit werklik ’n uitdaging wees om saam met iemand—veral ’n volslae vreemdeling—te bly.b Dit is selfs die geval met jong Christene wat saam bly om as voltydse evangeliedienaars te dien. Ongeag wat jou bepaalde situasie is, as jy dit oorweeg om saam met iemand te bly, is dit net redelik dat jy “praktiese wysheid” aan die dag lê wanneer jy daardie persoon kies.c—Spreuke 3:21.
Die gevaar van slegte omgang
Talle jong volwassenes wend hulle na kennisgewingborde, geklassifiseerde advertensies in koerante en die Internet om potensiële woonstelmaats te vind. Maar vir jong Christene hou sulke bronne ernstige gevare in. Dit sal moontlik daartoe lei dat jy mense ontmoet wat nie aan dieselfde geloof as jy behoort nie en nie dieselfde sedes of standaarde het nie. Is dit eng of antisosiaal om net saam met iemand te wil bly wat aan dieselfde geloof as jy behoort? Nee, dit is die verstandige weg. Die Bybel self waarsku: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.”—1 Korintiërs 15:33.
Beskou byvoorbeeld ’n jong vrou met die naam Lee. Sy was nog nie ’n gedoopte Christen toe sy in ’n universiteitskoshuis gaan bly het nie. “Dit was ’n gevaarlike omgewing”, sê sy. “Van die meisies het huis toe gekom en gevind dat hulle kamermaat besig is om seks te hê.” Om daar te woon, het gou ’n negatiewe invloed op Lee se geestelikheid gehad. “Ek het baie min van die Christelike vergaderinge bygewoon”, erken sy. Dit is nie verbasend dat haar gedrag geleidelik versleg het nie. “Eendag het ek gevloek, en een van die meisies het gevra: ‘Keur Jehovah dit goed?’” Hoe vernederend tog! Gelukkig het Lee uit daardie onheilsame omgewing weggekom en geestelike vooruitgang begin maak. Maar haar ondervinding lig toe hoe gevaarlik dit kan wees om saam met mense te bly wat nie jou standaarde respekteer nie.
Hoe om gepaste woonstelmaats te vind
Waar kan jy dan soek? Begin by julle plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Interessant genoeg, diegene wat voltydse evangeliedienaars is, ontmoet dikwels ander geestelikgesinde jongmense by die skole en vergaderinge wat spesiaal vir voltydse verkondigers gehou word.d Ouers, ouer manne in die plaaslike gemeente, reisende opsieners en ander kan ook help; hulle weet dalk van ’n paar jongmense wat gepaste woonstelmaats kan wees.
Om vir ander te sê dat jy ’n woonstelmaat soek, kan ook baie help. Hoe meer mense jy vertel, hoe gouer sal jy dalk ’n woonstelmaat kry (Prediker 11:6). Vra bowenal dat Jehovah jou help om ’n woonstelmaat te kry, en vertrou op hom om jou pogings te seën.—1 Johannes 5:14, 15.
Kry die nodige inligting
Nadat jy ’n moontlike woonstelmaat gevind het, is julle dalk gretig om saam in te trek. Maar dit is verstandig om eers ’n bietjie navraag te doen. Word daardie persoon “gunstig vermeld deur die broers” in sy of haar gemeente? (Handelinge 16:1, 2). Dalk kan jy en jou ouers direk met geestelik bekwame mense praat wat hom of haar ken. Jy kan vra: ‘Watter soort reputasie het hierdie persoon? Is hy of sy emosioneel en geestelik stabiel? Neem hy of sy aan die predikingswerk en aan die vergaderinge deel? Is hierdie persoon bekend vir sy onberispelike gedrag?’
Onthou: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word” (Spreuke 13:20). “My woonstelmaat is baie geestelikgesind”, sê David. “Dit help my om geestelik te bly.” Renee, wat al ’n hele paar woonstelmaats gehad het, sê ook: “Van my woonstelmaats het voorgestel dat ons elke aand saam ’n hoofstuk uit die Bybel lees. Aangesien my ouers nie Getuies is nie, het ons nooit ’n gesinsbybelstudie gehad nie. Dit was dus vir my wonderlik om ’n ‘gesinstudie’ saam met my woonstelmaats te kon hê!” Ja, dit kan waarlik ’n seën wees om ’n woonstelmaat te hê wat jou liefde vir geestelike dinge deel.
Praat sake uit
Daarna moet julle bymekaarkom en sake bespreek. Sulke gesprekke kan julle help bepaal of julle oor die weg gaan kom. Interessant genoeg, ’n studie waaroor die tydskrif Communication Research Reports berig het, het getoon dat woonstelmaats wat op dieselfde manier kommunikeer “die meeste tevrede was met hulle woonstelmaats en die meeste van mekaar gehou het”. As jy dus die soort persoon is wat openhartig en sosiaal is en wat jou maklik uitdruk, sal jy dalk probleme ondervind as jy saam met iemand bly wat teruggetrokke of stil is of geneig is om ’n alleenloper te wees.
Hoewel jy nie julle bespreking iets soos ’n polisieondervraging wil maak nie, sal dit dalk nuttig wees om die onmiddellike doelwitte en planne van ’n moontlike woonstelmaat te bespreek. Wil hy of sy geestelike vooruitgang maak of stel hy of sy bloot daarin belang om uit ’n gespanne situasie by die huis weg te kom? Lynn wys op ’n ander probleem wat kan ontstaan: “Ek het ’n woonstelmaat gehad wat ’n kêrel gehad het, en hy was heeltyd daar en het tot laat in die aand gebly.” Vir Lynn was hulle liefdesblyke onvanpas en ontstellend. Sulke probleme kan soms vermy word as ’n paar basiese reëls voor die tyd vasgestel word. Renee sê byvoorbeeld: “Ons het ’n reël gehad dat ouens nie ná ’n sekere tyd kon kuier nie.” Dit sal ook goed wees as albei woonstelmaats ooreenkom dat hulle nooit alleen in die kamer of woonstel saam met iemand van die teenoorgestelde geslag sal wees nie.
Dit is dalk ook die moeite werd om dinge te bespreek soos stokperdjies, voorkeure en musieksmaak. “Ek sal graag saam met iemand wil bly wat van dieselfde soort dinge hou as ek, wat ’n soortgelyke persoonlikheid het, wat daarvan hou om dieselfde dinge te doen”, sê Mark. As ’n mens se smaak verskil, beteken dit natuurlik nie noodwendig dat julle nie saam kan bly nie. Die werklike kwessie is: Hoe buigsaam is julle albei? Is julle gewillig om verskille te verdra en aanpassings te maak sodat julle mekaar in ag neem?
Lee stel voor: “Jy moet ook vra wat die ander persoon van die reëling verwag. Party mense verwag dat jy hulle beste vriend en beste maat moet wees. Maar dis nie waarin ek belangstel nie.” David sê eweneens: “Ek hou van ’n woonstelmaat saam met wie ek dinge kan doen, maar wat nie voel dat hy altyd moet saamkom wanneer ek dinge saam met ander mense wil doen nie.” Vind ook uit of die persoon daarin belangstel om jou maat in die evangelisasiewerk te wees en of hy of sy iets anders in gedagte het, soos om in ’n anderstalige gemeente te dien.
Laastens moet julle seker maak dat julle nie kwessies ignoreer soos koskook (weet een van julle hoe?), om huishoudelike take te deel, die gebruik van persoonlike toestelle, plek in die kas, meubels, pakplek en troeteldiere nie. As julle hierdie sake uitpraat, kan dit misverstande en gekrenkte gevoelens voorkom. Spreuke 20:18 sê: “Deur raad word planne stewig bevestig.”
“Welvoeglik en volgens reëling”
Nog ’n nuttige beginsel word in Lukas 14:28 gevind, waar dit sê: ‘Bereken die koste.’ Ja, probeer uitwerk wat julle lewenskoste gaan wees. Hoeveel gaan julle vir huur moet betaal? Vir kos? Vir water en ligte? Gaan julle ’n telefoon deel? Indien wel, hoe gaan julle die rekening opdeel? “Ek sou beslis seker maak dat ’n meisie haar deel van die uitgawes kan betaal voordat ek haar as ’n woonstelmaat aanvaar”, sê Lynn. Die Internettydskrif The Next Step sê tereg: “Woonstelmaats wat nie die huur of vir kos help betaal nie . . . of wat baie water en elektrisiteit gebruik, lei tot spanning wat niemand nodig het nie.”
“Partykeer is die kwessie nie hoeveel nie”, sê Renee, “maar wanneer!” Sy verduidelik: “Ons moet ons huurgeld teen die derde van die maand betaal. Maar partykeer sal ’n woonstelmaat vir die naweek weggaan voordat sy haar deel betaal het, en dan moet ek die eienaar om verskoning vra.” Dit is ongetwyfeld verstandig om alles “welvoeglik en volgens reëling” te doen en nie belangrike sake aan die toeval oor te laat nie (1 Korintiërs 14:40). Dit is dikwels verstandig om ooreenkomste op skrif te stel.
As jy versigtig en verstandig is, staan jy ’n groter kans om ’n woonstelmaat te kry wat vir jou ’n seën sal wees en nie ’n bron van ergernis nie. Maar sê nou probleme en persoonlikheidsverskille ontstaan? ’n Toekomstige artikel sal hierdie situasies bespreek.
[Voetnote]
a Van die name is verander.
b Sien die artikel “Waarom is dit vir my so moeilik om verblyf te deel?” wat in ons nommer van 22 April 2002 verskyn.
c Omdat baie vandag om onsedelike redes saamlewe, moet ons beklemtoon dat hierdie artikel woonstelmaats van dieselfde geslag bespreek wat om finansiële redes en gerieflikheidshalwe saam bly.
d Voltydse evangeliedienaars het die voorreg om die Pionierdiensskool by te woon. Vergaderinge met voltydse evangeliedienaars word ook saam met jaarlikse kringbyeenkomste gehou.
[Prent op bladsy 26]
Daar is gevare daaraan verbonde om saam met mense te bly wat nie by Bybelsedes bly nie
[Prent op bladsy 26]
Voordat jy instem om saam met iemand te bly, moet julle bymekaarkom en belangrike kwessies bespreek