Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 5/8 bl. 10-11
  • Winkelsentrums—plekke vir sake en plesier

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Winkelsentrums—plekke vir sake en plesier
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die nadele van winkelsentrums
  • Getuieniswerk op die markplein
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoe om jou kooplus te beteuel
    Ontwaak!—2013
  • Verkondig die goeie nuus oral
    Ons Koninkryksbediening—1996
  • Wat van ’n bietjie uithang?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 5/8 bl. 10-11

Winkelsentrums—plekke vir sake en plesier

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

INKOPIES—dit lyk of mense dit óf geniet óf haat. Maar met die koms van die winkelsentrum is hierdie taak, wat voorheen vervelig was, vir baie heelwat aangenamer gemaak.

Die konsep van die winkelsentrum is niks nuuts nie. Dit kom in baie opsigte ooreen met die mark—wat ’n handelsentrum sowel as ’n plek vir skinderpraatjies was. In 1859 het die Franse handelaar Aristide Boucicaut gehelp om die konsep van die mark aan te pas toe hy ’n afdelingswinkel oopgemaak het. ’n Verskeidenheid artikels kon daar verkoop word. Afdelingswinkels het kort voor lank oral in Europa en die Verenigde State oopgemaak.

Frank Woolworth was een van dié wat uit hierdie idee munt geslaan het. Teen Maart 1912 was daar byna 600 winkels wat sy naam gedra het. Mettertyd het die idee van afdelings- en spesialiteitswinkels onder een dak tot vandag se welbekende winkelsentrum gelei. Winkelsentrums bied oor die algemeen vir kleinhandelaars goeie geleenthede om sake te doen—een winkelsentrum het byvoorbeeld met ’n jaarlikse omset van sowat R2,5 miljard gespog.

Die gerief van klante is ’n belangrike aspek wat tydens die beplanning van ’n winkelsentrum in gedagte gehou word. Een manier om dit te verseker, is om hulle iets te ete te bied. Restaurante en kitskosverskaffers maak seker dat gelukkige, tevrede klante waarskynlik langer sal vertoef. Nog ’n slimstreek van die verbruikerswese is om hulle op mense se begeertes toe te spits en nie op hulle behoeftes nie. Een koerant het gesê dat ’n winkelsentrum ’n plek is “waar ’n voorstedelike huisvrou in ’n lugversorgde, neonverligte wonderwêreld na luukshede kan kyk wat letterlik miljoene dollars kos en voor haar uitgesprei lê—die koninklike allegaartjie van die verbruikersgemeenskap”.

Die volgende stap is natuurlik om die klant sover te kry om te koop wat hy begeer. ’n Beproefde manier om dit te doen, is om inkopies aangenaam te maak! Adverteerders probeer om nie net een geslag as teikengroep uit te sonder nie. Maar soos hierbo getoon is, is vroue hulle vernaamste teiken. Bestuurders van winkelsentrums en adverteerders probeer al van die begin af om vroue, insluitende moeders met kinders, te oortuig om hulle winkelsentrums te ondersteun. Trouens, kindersorgfasiliteite, vermaak vir jongmense, bioskope en videospeletjiearkades maak dit vir klante moontlik om nie net by winkelsentrums inkopies te doen nie, maar ook om te gesels en bymekaar te kom. En koffiewinkels bied ’n ontspanne atmosfeer om mekaar te ontmoet en te rus. Vir sportiewe klante is daar ’n ysskaatsbaan in een Australiese winkelsentrum en ’n kegelbaan in ’n ander.

Dit lyk of winkelsentrums ook ’n groot aantrekkingskrag vir jongmense het. “Ek het baie vriende wat hierheen kom”, sê een jong persoon. “Elke keer wanneer ek hiernatoe kom, loop ek iemand raak wat ek ken. . . . Dit is ons plek, by hierdie tafel.” Maar talle bejaardes geniet dit ook om gereeld na winkelsentrums te gaan. “Ek kom hierheen vir die vriendskap”, sê ’n vrou wat 86 jaar oud is. “Dit is die vriendelikste plek wat ek ken. . . . Daarsonder sou my lewe ellendig gewees het.”

Daarenteen meen baie klante dat die winkelsentrum aan die beskrywing voldoen wat in die boek Shelf Life gegee word—dat dit ’n “verkoopmasjien” is. Die tydskrif The Humanist gaan selfs verder en beskryf winkelsentrums as “daardie deel van ons kultuur wat mense se waarde aan hulle beursies meet”. In so ’n atmosfeer moet ’n mens natuurlik gebalanseerd wees sodat jy nie deur materialisme verstrik word nie.—Matteus 6:19-21.

Die nadele van winkelsentrums

Party vermy winkelsentrums omdat dit vir hulle moeilik is om tussen ’n klomp mense in ’n beperkte ruimte te wees. En party winkelsentrums raak beslis baie besig, veral oor naweke. Een winkelsentrum in Sydney, Australië, word byvoorbeeld in een jaar deur byna 19 miljoen mense besoek—wat gelykstaande is aan die hele bevolking van Australië. Maar skares mense frustreer nie net klante nie. En dit lyk of probleme met winkeldiefstal toeneem wanneer groot groepe jongmense winkelsentrums besoek. Daarom sê die tydskrif SundayLife!: “Een van die grootste maatskaplike probleme met die winkelsentrumkultuur is om die groot groepe jongmense te hanteer wat daar bymekaarkom.”

Nog ’n probleem waarmee party winkeliers te kampe het, is huurgeld wat voortdurend styg. “Dit veroorsaak dat sommige sakeondernemings bankrot gaan”, het een van die huurders gesê. Die tydskrif Forbes stel dit so: “Winkelsentrums kan mooigemaak word en stylvoller huurders inbring. Maar dit is nie goedkoop nie.” Die artikel voorspel selfs dat winkelsentrums in Amerika ’n moontlike afname in verkope sal ondervind—wat slegte nuus is vir daardie land se 1 900 streekwinkelsentrums. “Hulle klante word al hoe minder”, het die artikel gesê.

Wat hou die toekoms in vir hierdie groot winkelsentrums? Soos met baie dinge in die lewe, sal ons moet wag en sien wat gebeur. Maar een ding lyk seker: Mense sal dit altyd geniet om na ’n plek toe te gaan waar hulle sake en plesier kan meng!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel