Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 5/8 bl. 20-21
  • Keur God oorlog goed?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Keur God oorlog goed?
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorloë van eertydse Israel
  • Die uitwerking van Christus se onderrigting
  • Hedendaagse oorlogvoering
  • Die eertydse Israeliete het oorlog gevoer – Hoekom doen ons dit nie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Is oorlog versoenbaar met die Christelike godsdiens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Leer by die eerste-eeuse Christene
    Ontwaak!—2002
  • Oorlog
    Ontwaak!—2017
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 5/8 bl. 20-21

Die Bybel se beskouing

Keur God oorlog goed?

HOE dikwels het heersers, generaals en selfs geestelikes nie al in die naam van God oorlog verklaar of dit gesteun nie! In 1095, met die seën van pous Urbanus II, het die Eerste Kruistog gereed gemaak om die “heilige stad” Jerusalem vir die Christendom te herwin. Maar voordat hulle hulle doelwit bereik het, is een groep kruisvaarders uitgewis deur die Turke, wie se ywer vir Allah net so groot soos die kruisvaarders se geloof in die Drie-eenheid was.

In Augustus 1914, tydens die Eerste Wêreldoorlog, het ’n jong Duitser uit sy kamp geskryf: “As daar geregtigheid en Goddelike leiding in die geskiedenis is—en daarvan is ek heeltemal seker—dan moet ons die oorwinning behaal.” In dieselfde maand het tsaar Nikolaas II Rusland se leërmagte teen Duitsland gestuur met dié woorde: “Ek stuur my opregte wense aan my dapper troepe en my grootmoedige bondgenote. God is met ons!”

Dit het miljoene soldate moedig na die front laat gaan, vas oortuig dat God aan hulle kant is. Baie mense dink dat God sulke gevegte toelaat as die prys vir vryheid, en hulle verwys na die oorloë in die Hebreeuse Geskrifte (oor die algemeen die Ou Testament genoem) om dit te staaf. Is hulle vertolking van God se Woord korrek?

Die oorloë van eertydse Israel

Jehovah God het beveel dat Israel veg om die verdorwe Kanaäniete uit die Beloofde Land uit te roei (Levitikus 18:1, 24-28; Deuteronomium 20:16-18). Net soos God goddelose mense in Noag se dag met ’n vloed en in die geval van Sodom en Gomorra met vuur gestraf het, het hy ook die nasie Israel as sy swaard van teregstelling gebruik.—Genesis 6:12, 17; 19:13, 24, 25.

Volgens die Bybel het Israel ander stryde onder God se leiding gevoer, gewoonlik om onuitgelokte vyandelike aanvalle af te weer. Wanneer die nasie aan Jehovah gehoorsaam was, het hulle die oorloë gewen (Eksodus 34:24; 2 Samuel 5:17-25). Maar dit het gewoonlik rampspoedige gevolge gehad wanneer Israel dit gewaag het om in stryd met Goddelike opdragte te gaan veg. Dink aan die geval van koning Jerobeam. Hy het ’n direkte profetiese waarskuwing geïgnoreer en sy ontsaglike leër laat optrek om ’n burgeroorlog teen Juda te voer. Toe die stryd uiteindelik geëindig het, was 500 000 van Jerobeam se soldate dood (2 Kronieke 13:12-18). Selfs getroue koning Josia het eenmaal gewikkel geraak in ’n oorlog wat nie syne was nie. Dié onbesonne besluit het hom sy lewe gekos.—2 Kronieke 35:20-24.

Wat toon hierdie gebeure? Dat die besluit om oorlog te voer in eertydse Israel by God berus het (Deuteronomium 32:35, 43). Hy het sy volk om bepaalde redes laat veg. Maar daardie redes is lank reeds nie meer geldig nie. Wat meer is, Jehovah het voorspel dat diegene wat hom dien, “aan die einde van die dae . . . van hulle swaarde ploegskare [sal] smee” en “nie meer [sal] leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4). Dit is duidelik dat Bybelse oorloë nie hedendaagse konflikte regverdig nie, waarvan nie een onder God se leiding of op sy bevel geveg word nie.

Die uitwerking van Christus se onderrigting

Terwyl Jesus op die aarde was, het hy getoon hoe haat met onselfsugtige liefde vervang kan word, deur dié opdrag te gee: “Julle [moet] mekaar . . . liefhê net soos ek julle liefgehad het” (Johannes 15:12). Hy het ook gesê: “Gelukkig is die vredeliewendes” (Matteus 5:9). Hier beteken die Griekse woord vir ‘vredeliewend’ meer as net ’n toestand van kalmte. Dit beteken om werklik vrede aan te kweek, om daadwerklik welwillendheid te bevorder.

Toe Jesus gevange geneem is, het die apostel Petrus hom met ’n dodelike wapen probeer verdedig. Maar die Seun van God het hom berispe en gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Hoe het die eerste-eeuse Christene daardie woorde toegepas? Let op die volgende aanhalings.

“’n Deeglike ondersoek van al die beskikbare inligting, tot die tyd van Markus Aurelius [121-180 G.J.], [toon] dat geen Christen ’n soldaat geword het nie; en dat geen soldaat in militêre diens aangebly het nadat hy ’n Christen geword het nie.”—The Rise of Christianity.

“Die gedrag van die [vroeë] Christene was baie anders as dié van die Romeine. . . . Aangesien Christus vrede verkondig het, het hulle geweier om soldate te word.”—Our World Through the Ages.

Omdat Christus se dissipels geweier het om in die keiser se legioene te dien, het die Romeine baie van hulle doodgemaak. Waarom het Christene so ’n ongewilde standpunt ingeneem? Omdat Jesus hulle geleer het om vredemakers te wees.

Hedendaagse oorlogvoering

Stel jou die verskriklike situasie voor as Christus se volgelinge in verskillende leërs teen mekaar sou geveg het en mekaar probeer doodmaak het. So ’n scenario sal teenstrydig met Christelike beginsels wees. Diegene wat die God van die Bybel gehoorsaam, sal beslis niemand leed aandoen nie—nie eers hulle vyande nie.a—Matteus 5:43-45.

Dit is duidelik dat God nie hedendaagse vleeslike oorlogvoering tussen mense seën nie. Omdat ware Christene vredeliewend is, staan hulle die vrede voor wat wêreldwyd deur God se Koninkryk teweeggebring sal word.

[Voetnoot]

a Die Bybel maak melding van “Har–Magedon”, wat ook “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” genoem word. Dit verwys nie na menslike oorlogvoering nie, maar na God se selektiewe vernietiging van kwaaddoeners. Daarom kan Har–Magedon nie gebruik word om hedendaagse menslike konflikte te regverdig of om te probeer bewys dat God dit seën nie.—Openbaring 16:14, 16; 21:8.

[Prent op bladsy 20]

Generaal Francisco Franco van Spanje, hier saam met ’n paar Katolieke geestelikes

[Erkenning]

U.S. National Archives photo

[Prent op bladsy 21]

Soldate word deur Grieks-Ortodokse priesters geseën voordat hulle op 11 Junie 1999 na Kosowo vertrek

[Erkenning]

AP Photo/Giorgos Nissiotis

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel