Leer by die eerste-eeuse Christene
“Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie.”—Kolossense 2:8.
DIT is hoe die apostel Paulus die eerste-eeuse Christene gewaarsku het teen die gevare wat dit inhou om menslike filosofie blindelings te volg. Hulle kon bly by die betroubare leiding wat deur Jesus en sy apostels gegee is, leringe waarby hulle alreeds baie baat gevind het, of hulle kon as prooi weggevoer word deur die voortdurend veranderende teorieë van mense, ’n weg wat alreeds vir miljoene mense pyn en lyding veroorsaak het.—1 Korintiërs 1:19-21; 3:18-20.
Lewe “volgens Christus” se voorbeeld
Die kruisvaarders van sowat ’n duisend jaar gelede het nie begryp dat dit baie meer behels om “volgens Christus” se voorbeeld te lewe, as om net te sê dat hulle navolgers van Jesus Christus is nie (Matteus 7:21-23). Dit beteken om heeltemal in ooreenstemming met Jesus se leringe te lewe, soos dit in God se geïnspireerde Woord, die Bybel, gevind word (Matteus 7:15-20; Johannes 17:17). “As julle in my woord bly,” het Jesus Christus gesê, “is julle werklik my dissipels” (Johannes 8:31). “Almal [sal] weet dat julle my dissipels is,” het hy gesê, “as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Daardie kruisvaarders is in werklikheid as prooi weggevoer deur die “leë bedrog volgens die oorlewering van mense”. Dit is dus te verstane waarom die gewone mense mislei is as ’n mens in ag neem dat hulle godsdiensleiers, hulle biskoppe, “as manne van oorlog roem verwerf het”. ’n “Oorlogsugtige gees het so algemeen onder die geestelikes geword”, sê die Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature deur McClintock en Strong, “dat hulle altyd bereid was om oorlog te ondersteun as hulle enigiets [daaruit] kon kry”.
Wat het tot hierdie betreurenswaardige situasie aanleiding gegee? Ná die dood van die eerste-eeuse Christenapostels het afvallige kerkleiers al hoe verder van Christus se leringe afgewyk, net soos God se Woord voorspel het (Handelinge 20:29, 30). ’n Verdorwe kerk het uiteindelik al hoe meer betrokke geraak by die sekulêre staat. In die vierde eeu het die Romeinse keiser Konstantyn hom op sy sterfbed kwansuis tot die Christelike godsdiens bekeer. Toe, sê die Cyclopedia, het die feit dat “die afgodiese vaandels deur die banier van die Kruis vervang is, elke Christen verplig om as ’n soldaat te dien”.
Christene was natuurlik glad nie onder so ’n verpligting nie. Maar die “oorredende argumente” van menslike filosofie het gelei tot ernstige skendings van alles wat Christus verteenwoordig het (Kolossense 2:4). Uiters misleidende argumente word al lank gebruik om oorloë en konflikte tussen mense te regverdig. Maar vir ’n mensliewende of godvresende persoon om betrokke te raak by “die boosaardigheid van oorlog, soos dit in antieke of hedendaagse tye beoefen is”, sê die Cyclopedia, “kan vir geen oomblik vereenselwig word met . . . die beginsels van die Christelike godsdiens nie”.
Die godsdienste buite die Christendom het hulle ook deur die eeue heen tot oorlog gewend. Net soos die kerke van die Christendom het hulle ook lede van hulle eie godsdiens doodgemaak, sowel as ander mense weens nasionale, politieke en godsdiensverskille. Hulle het geweld of dreigemente van geweld gebruik om ander te dwing om hulle oortuigings aan te neem. In ’n poging om hulle oogmerke te bereik, het sommige van hulle ’n hand gehad in die menseslagtings van die geskiedenis. Hulle verskil glad nie van die godsdienste van die Christendom nie.
Afgeskeie van die wêreld
Waarom was dit vir die eerste-eeuse Christene moontlik om nie by die bloedige oorloë en politiek van hulle tyd betrokke te raak nie? Twee basiese beginsels het hulle gehelp. Eerstens, daar was die opdrag van Jesus aan die apostel Petrus toe Petrus ’n swaard gebruik het om hom te verdedig: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Tweedens, die woorde van Jesus aan Pilatus toe hy Jesus oor sy koningskap uitgevra het: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie.”—Johannes 18:36.
Hoe het die eerste-eeuse Christene daardie beginsels toegepas? Hulle het hulle in alle opsigte afgeskeie van die wêreld gehou en heeltemal neutraal gebly wanneer dit by politieke en militêre aangeleenthede gekom het (Johannes 15:17-19; 17:14-16; Jakobus 4:4). Hulle het geweier om die wapen teen hulle medemens op te neem. Dit is duidelik uit die geskiedenis dat die eerste-eeuse Christene nie by die Joodse nasionalistiese bewegings of die keiserlike leërs van Rome aangesluit het nie. Terselfdertyd het hulle nie vir die politieke leiers probeer voorskryf wat om te doen nie, aangesien dit die verantwoordelikheid van daardie regeringsleiers was.—Galasiërs 6:5.
In die tweede eeu G.J. het Justinus die Martelaar geskryf dat die Christene ‘van hulle swaarde ploegskare gesmee’ het (Miga 4:3). In reaksie op die besware teen die Christene se posisie het Tertullianus gevra: “Sou dit geoorloof wees om die swaard jou beroep te maak wanneer die Here sê dat hy wat die swaard gebruik, deur die swaard sal vergaan?”
‘Wees eerder aan God as heerser gehoorsaam as aan mense’
Die feit dat die vroeë Christene geweier het om oorlog te voer, het dit nie vir hulle maklik gemaak nie. Dit het ingedruis teen die algemeen aanvaarde opvattings van die dag. Celsus, ’n vyand van die Christelike godsdiens, het hulle posisie bespot. Hy het geglo dat elkeen die wapen moet opneem wanneer diegene in gesagsposisies dit vereis het. Ondanks hewige teenstand het die vroeë Christene geweier om menslike filosofie te volg wat in stryd was met die leringe van Christus. “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”, het hulle gesê.—Handelinge 4:19; 5:29.
In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies hulle voorbeeld gevolg. In Nazi-Duitsland het hulle byvoorbeeld volstrek geweier om by Hitler se moorddadige oorloë betrokke te raak. Hulle was bereid om wrede vervolging te verduur, selfs te sterf indien nodig, eerder as om hulle Christelike neutraliteit te skend. Blykbaar het die Nazi’s die “helfte van hulle opgesluit en ’n kwart tereggestel” omdat hulle by Bybelbeginsels gebly het (Of Gods and Men). Gevolglik is nie een van die tienmiljoene mense wat in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het, deur ’n Getuie van Jehovah doodgemaak nie. Eerder as om ander dood te maak, was die Getuies bereid om hulle eie lewe op te offer, soos baie wel gedoen het.
’n Les wat ons kan leer
Wat kan ons uit die geskiedenis leer? Een van die lesse is ongetwyfeld dat menslike filosofie telkens tot haat en bloedvergieting onder nasies en volke gelei het. Prediker 8:9 sê tereg: ‘Die mens het oor die mens geheers tot sy nadeel.’ En die onderliggende rede hiervoor word in Jeremia 10:23 gevind, waar God se Woord sê: “Ek weet . . . dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” Nee, God het mense nie geskep om sonder hom ’n sukses van hulle lewe te maak nie. Hulle is nie hierdie vermoë gegee nie. Dit is deur die hele geskiedenis heen bewys.
As individue kan ons natuurlik nie verander wat die leiers van die nasies doen wanneer hulle die tragedies van die verlede herhaal nie, en ons het ook nie die gesag om hulle te probeer oorreed om ’n sekere weg in te slaan nie. Maar ons hoef nie deur hulle konflikte meegesleur en daarvan deel te word nie. Jesus het van sy volgelinge gesê: “Hulle [is] geen deel van die wêreld . . . nie” (Johannes 17:14). Om te voorkom dat ons betrokke raak by hierdie wêreld se konflikte, moet ons toelaat dat God se Woord, die Bybel, ons lewe rig—nie die voortdurend veranderende menslike filosofieë nie.—Matteus 7:24-27; 2 Timoteus 3:16, 17.
’n Wonderlike toekoms
God se onfeilbare Woord werp nie net lig op die hede en die verlede nie. Dit gee betroubare leiding vir die toekoms (Psalm 119:105; Jesaja 46:9-11). Dit skets ook ’n duidelike beeld van wat God se voorneme met hierdie planeet is. Hy sal nie toelaat dat die mens die aarde vernietig deur die waansinnige misbruik van die geweldige vermoëns wat die wetenskap en tegnologie hulle gegee het nie. Hy sal seker maak dat hierdie aarde in ’n paradys omskep word, soos hy hom dit oorspronklik voorgeneem het.—Lukas 23:43.
God se Woord sê hieroor: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word” (Spreuke 2:21, 22). Dit sal binnekort gebeur, aangesien hierdie veelbewoë tye daarvan bewys lewer dat ons in “die laaste dae” van hierdie huidige goddelose stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1-5, 13). En ons lewe beslis diep in hierdie laaste dae; die oorblywende tyd is min. Bybelprofesie sê: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17; Daniël 2:44.
God sal binnekort ‘die verderwers van die aarde verderf’ en hierdie huidige gewelddadige wêreld vervang met ’n nuwe wêreld waarin ‘regverdigheid sal woon’ (Openbaring 11:18; 2 Petrus 3:10-13). Dan sal hy “elke traan van [die oorlewendes se] oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:1-4). Oorloë en geweld sal vir ewig tot die verlede behoort, aangesien die profesie in Jesaja 2:4 ten volle verwesenlik sal word: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.” Jy kan ook daardie wonderlike, ewige toekoms geniet as jy uit die lesse van die geskiedenis leer.—Johannes 17:3.
[Lokteks op bladsy 11]
Jehovah se Getuies het by die eerste-eeuse Christene geleer
[Prent op bladsy 8, 9]
Jesus het gesê dat sy Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie
[Prent op bladsy 10]
God se Woord belowe ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde