Vullisverwydering deur deskundiges uit die insekwêreld
NET meer as 150 jaar gelede het mense uitgebreide riool- en vullisverwyderingstelsels begin ontwikkel. Daar was egter reeds ’n deskundige op die gebied van vullisverwydering—’n miertjie wat in tropiese Amerika gevind word.
’n Tipiese kolonie van ongeveer ’n miljoen blaarsnyermiere lewe in ’n groot ondergrondse nes. Verskillende lede van die arbeidsmag het verskillende toewysings. Party miere maak stukkies blare bymekaar, wat ’n ander groep tot ’n pulp kou. Die tuiniermiere gebruik die pulp om eetbare swamme in kamers binne-in die nes te kweek. Hulle verwyder ook enigiets wat infeksies kan versprei, soos skadelike swamme, dooie miere of miere wat besig is om dood te gaan, asook verrottende materiaal. Maar hoe raak die miere van hulle vullis ontslae?
Britse wetenskaplikes by die Universiteit van Sheffield het die antwoord gevind, berig die koerant The Independent. Naby die tuinkamers is groter kamers waar die vullis geberg word. Miere wat met die vullis werk, bring hulle lewe daar deur en dolf die vullis om om verrotting aan te help, wat weer siekteveroorsakende bakterieë vernietig. Die tuiniermiere gaan nooit die vulliskamers binne nie. Hulle bring die vullis tot binne-in ’n tonnel, waar die vulliswerkers dit kom haal. Hierdie doeltreffende vullisbeheerstelsel voorkom enige gevaar van besmetting en beskerm die kolonie se gesondheid.
Jehovah God het nie net insekte geskep wat instinktiewe wysheid besit nie, maar het ook vir die Israeliete meer as 3 500 jaar gelede praktiese gesondheidsriglyne gegee. Die toepassing van hierdie wette sou voorkom dat voedsel- en waterbronne besmet word, dat aansteeklike siektes versprei en sou verseker dat daar op ’n veilige manier van rioolvullis ontslae geraak word. Hoeveel lyding en sterftes kan tog voorkom word deur hierdie beginsels na te volg!—Levitikus 11:32-38; Numeri 19:11, 12; Deuteronomium 23:9-14.