Gras—nie net die groenigheid onder jou voete nie
VIR party is dit net die groen goed buite die huis wat gesny moet word. Vir boere en sokkerspelers daarenteen hou dit verband met hulle werk. En vir kinders is dit die ideale speelplek. Maar verwys die woord gras net na grasperke, plase en speelvelde?
As jy in ’n woonstelblok in die stad woon, meen jy dalk dat jy baie min met enige soort gras te doen kry. Maar byna almal van ons kom daagliks in kontak met die een of ander soort gras en die produkte wat daarvan gemaak word. Wat is gras nou eintlik? En hoe gebruik ons dit?
Wat is gras?
Kom ons beskou hierdie nederige plant van naderby. Buiten plante wat volgens die wetenskap in die grasfamilie (Gramineae of Poaceae) ingedeel word, beskou sommige mense riete en biesies ook as gras. Maar net die grasfamilie is glo ware gras. Hierdie grassoorte het gewoonlik ’n paar kenmerke in gemeen. Kyk ’n bietjie mooi na wat jy dink ’n grasstingel is.
Is die stingel rond en hol, en het dit knope of litte? Is die bladskyf lank, plat en smal met parallelle are, en kom dit uit ’n skede wat om die stingel vou? Is die opeenvolgende blare aan weerskante van die stingel, sodat dit twee vertikale rye vorm? Is die wortels eerder ’n fyn, gekoekte netwerk as ’n penwortel met vertakkings? Is die blomme—as jy hulle hoegenaamd kan sien—onopvallend en klein, en vorm dit ’n aar, ’n pluim of ’n aarpluim? As jy op al hierdie vrae ja geantwoord het, behoort die plant waarskynlik tot die grasfamilie.
Hoewel daar groot ooreenkomste in die voorkoms van die grasfamilie is, is daar tog ’n verbysterende verskeidenheid, met tussen 8 000 en 10 000 soorte. Die hoogte van die plante wissel tussen 2 sentimeter en 40 meter, by sekere bamboessoorte. Gras maak ’n groot deel uit van die plantegroei wat die aarde bedek. En geen wonder nie, want dit is een van die aanpasbaarste plantgroepe op aarde—dit groei in poolstreke en woestyne, in tropiese reënwoude en teen winderige berghange. Hele plantegroeistreke—soos die steppes, llanos, pampas, prêries en savannes—word deur gras oorheers.
Die sukses van verskeie grassoorte is onder meer te danke aan die feit dat dit so gehard is. In teenstelling met ander plante is die groeipunt van gras nie aan die voorpunt nie, maar bo die knope. En nuwe uitloopsels groei dalk uit stingels wat horisontaal bo-op of onder die grond groei. Wanneer die grassnyer of die bees se tande die puntjie afsny, hou gras dus aan groei, terwyl baie ander plante sal ophou groei. As jy jou gras dus gereeld sny, benadeel dit die ander plante, maar dit kan die grasperk dig en pragtig maak.
Daarbenewens, as die wind die stingel omgebuig het of as dit platgetrap is, kan die meeste grassoorte weer self regop kom deur vinniger te groei aan die kant wat naaste aan die grond is. Om hierdie redes herstel gras gewoonlik vinnig nadat dit beskadig is, wat dit ’n voorsprong bo ander plante gee in die stryd om sonlig. En ons kan bly wees dat gras so ’n taai plant is. Ons maak immers daarop staat.
’n Veelsydige plant
Gras is nie alleen die oorvloedigste blomdraende plantfamilie op aarde nie, maar ook die belangrikste. ’n Plantkundige het gesê dat gras die vernaamste deel van ons dieet is. Dit is “soos ’n dam wat die mensdom teen hongersnood beskerm”. Probeer onthou wat jy vandag geëet het. Het jy vir ontbyt ’n bord graankos geëet wat gemaak is van giers, rys, hawer of sorghum? Wel, dan het jy grassaad geëet. Of dalk het jy ’n broodrolletjie of ’n ander soort brood geëet. Die meel wat gebruik is, is van grassaad gemaak—koring, rog, gort en ander graansoorte is almal grasse. Mieliepap en vlapoeier asook tortillas wat van mieliemeel gemaak word, is geen uitsondering nie. Ja, jy het reg geraai—mielies is ook ’n gras. Het jy suiker in jou tee of koffie gedrink? Meer as die helfte van alle suiker word gemaak van suikerriet, wat ook ’n gras is. Selfs melk en kaas is in ’n sekere sin verwerkte gras, aangesien dit gewoonlik deur koeie, skape en bokke geëet word.
Wat van jou middagete? Pasta sowel as pizzakors word van koringmeel gemaak. Hoenders en ander pluimvee word dikwels graan gevoer. Beeste word allerhande grasse gevoer. Die eiers, pluimvee en beesvleis wat ons eet, is dus in groot mate die produkte van gras wat deur ’n dier se metabolisme verwerk is. En jy kan gras ook drink. Buiten melk word talle gewilde soorte alkoholiese drank van gras gemaak: bier, whiskey, rum, saki, kwas en die meeste vodkas.
Moet nou nie bekommerd wees as jou geliefkoosde dis nie genoem is nie. Dit is eenvoudig onmoontlik om al die kossoorte wat van gras gemaak word, op te noem. Volgens party skattings kom meer as die helfte van die kilojoules wat wêreldwyd ingeneem word, van grasse. Dit is geen wonder nie, want tot 70 persent van alle bewerkte land word met gras bedek!
Maar gras word nie net vir kos gebruik nie. As die mure van jou huis van klei en strooi gemaak is, is dit die gras wat dit sterk maak. In verskillende wêrelddele word dakke met gras gedek. In Suidoos-Asië word bamboes vir steierwerk, pype, meubels, mure en baie ander dinge gebruik. Matte en mandjies word van gras geweef, en dit is die grondstof waarvan gom en papier gemaak word. Moenie van jou klere vergeet nie. Die meeste diere waarvan ons wol en leer kry, eet gras. Die grassoort Arundo donax lewer die riet vir houtblaasinstrumente, soos die klarinet. Daar is nog geen ander materiaal gevind wat vir hierdie doel so goed werk soos die natuurlike riet nie.
Gras bedek en versier ’n groot deel van die aarde. En wat ’n pragtige, rustige en kalmerende toneel is ’n groen weiveld of ’n netjiese grasperk tog nie! Gras is ’n baie groot bron van suurstof, weens die magdom groen plante wat dit insluit. Die fyn worteltjies beskerm ook die grond teen erosie. As ons dink aan hoe veelsydig gras is, is dit nie verbasend dat die gebruik en verbouing daarvan ’n lang geskiedenis het nie.
Die geskiedenis van gras
Die eerste vermelding van gras kan in die Bybel se skeppingsverslag gevind word. Op die derde skeppingsdag het God gesê: “Laat die aarde gras voortbring” (Genesis 1:11).a Al die groot beskawings het op die een of ander grassoort staatgemaak. Byvoorbeeld, die Egiptenare, Grieke en Romeine het koring en gars as stapelvoedsel geëet; die Chinese, giers en rys; die Indusvolk, koring, gars en giers en die Majas, Asteke en Inkas, mielies. En die eindelose steppes het die nodige gras voorsien wat as voer gedien het vir die perde van die Mongoolse leërs. Ja, gras was nog altyd vir die mensdom baie belangrik.
Wanneer jy weer ’n wuiwende koringland sien of ’n geil, groen weiveld of nederige grassies wat deur die plaveisel van ’n sypaadjie groei, kan jy gerus ’n oomblik nadink oor hierdie wonderlike en uiters veelsydige plantfamilie. Jy sal dalk ook die Groot Ontwerper daarvan, Jehovah God, wil dank soos die psalmis toe hy gesing het: “O Jehovah my God, u is baie groot. . . . Hy laat groen gras uitspruit vir die diere, en plante tot nut van die mens, om voedsel uit die aarde te laat voortkom . . . Loof Jah!”—Psalm 104:1, 14, 31-35.
[Voetnoot]
a Die eertydse skrywer van hierdie teks het moontlik nie ’n onderskeid getref tussen grasagtige plante en wat nou as ware grasse beskou word nie.
[Diagram/Prente op bladsy 16, 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Bou van grasplante
Vernaamste bloeiwyses van gras
Aar
Pluim
Aarpluim
Veselagtige wortels
Skede
Bladskyf
Stingel
Knoop
[Prent op bladsy 18]
Het jy vandag jou gras geëet?
[Prent op bladsy 18]
Of het jy dit gedrink?
[Prent op bladsy 18]
Jy kan ook in iets woon wat daarvan gemaak is
[Prent op bladsy 18]
Hulle eet ook gras