Landmeting—Wat is dit?
DIE Egiptenare het hulle “touspanners” genoem. Wie was hulle? Hulle was ’n eertydse gilde wat daarvoor verantwoordelik was om elke jaar, nadat die Nylrivier sy walle oorstroom het, vir belastingdoeleindes weer elkeen se stuk grond af te baken. Hierdie manne was die voorlopers van die hedendaagse beroepsmense wat landmeters genoem word.
Vandag word landmeters dikwels langs hoofweë en op boupersele gesien. Maar jy het dalk al gewonder: ‘Presies wat is landmeting?’
“Landmeting het hoofsaaklik twee onderafdelings”, sê Science and Technology Illustrated. Hulle is “(1) om dit wat reeds bestaan, op te meet, om die ligging daarvan op te teken en daardie gegewens te gebruik om ’n kaart of beskrywing saam te stel; of die teenoorgestelde daarvan, (2) om bakens op te rig wat grense aandui of wat bepaal waar bouers volgens so ’n plan of beskrywing moet bou. Landmeting bepaal, of merk, die posisie van punte op, onder of selfs bo die oppervlak van die aarde.”
Die geskiedenis van landmeting
Die tuin van Eden was blykbaar die eerste stuk grond wat afgebaken is. Die Bybel toon verder dat daar landmeters in Israel was wat eiendomsgrense en eienaarskap bepaal het. Spreuke 22:28 sê: “Moenie ’n grens van lank gelede, wat jou voorvaders gemaak het, verskuif nie.” Die Romeine het selfs ’n god gehad met die naam Terminus, wat oor grense toesig gehou het en ’n klip as simbool gehad het.
Romeinse akwadukte en paaie, waarvan baie nog bestaan, getuig van die verbasende prestasies van die eertydse Romeine op die gebied van landmeetkunde. Vroeë landmeters het met beperkte middele indrukwekkende resultate behaal. In ongeveer 200 v.G.J. het die Griekse sterrekundige, wiskundige en aardrykskundige Eratostenes die aarde se omtrek bereken.
In ongeveer 62 G.J. het Hero van Aleksandrië in sy boek Dioptra getoon hoe die beginsels van meetkunde op landmeting toegepas kan word. En tussen 140 en 160 G.J. het Claudius Ptolemeus ’n metode gevolg wat Hippargos uitgewerk het, en ’n lys opgestel met die lengte- en breedtegrade van 8 000 plekke in die bekende wêreld.
Teen die 18de eeu het die Cassini-familie, oor ’n tydperk van vier geslagte, die eerste wetenskaplike landwye opmeting van Frankryk voltooi en La Carte de Cassini daaruit saamgestel. Die boek The Shape of the World sê dat “Frankryk die voortou geneem het op die gebied van die wetenskaplike kartografie; Brittanje was tweede; en Oostenryk en Duitsland was kort op hulle hakke. In die res van Europa het landwye opmetings gedurende die eerste dekades van die negentiende eeu iets algemeens geword.” Wat lande buite Europa betref, is die Groot Trigonometriese Opmeting van Indië in 1817 onderneem om die kartering van Indië te voltooi. Dit is aangevoer deur George Everest, na wie die hoogste berg ter wêreld vernoem is.
Hierdie vroeë landmeters het soms onder toestande gewerk wat alles behalwe ideaal was. Die Historical Records of the Survey of India, tot en met 1861, toon dat die opmetingspan deur koors geteister is, en blykbaar het skaars 1 uit 70 na Engeland teruggekeer. Ander landmeters is deur wilde diere aangeval of het byna van die honger doodgegaan. En tog is mans aangetrek deur die feit dat hulle in die buitelug kon werk en deur die mate van onafhanklikheid wat landmeting hulle gegee het.
Een groep Indiërs wat die Pandits genoem is, het in die geskiedenis bekendheid verwerf vir hulle fassinerende werk in Nepal en Tibet. Wette en verdrae het buitelanders verbied om hierdie lande binne te gaan, en daarom het hierdie landmeters hulle as Boeddhistiese lamas, of priesters, vermom om daar te kan ingaan. Ter voorbereiding vir hulle geheime werk het elkeen geleer hoe om ’n myl met presies 2 000 treë af te meet. ’n Bidsnoer met honderd krale is gebruik om hulle treë te tel en afstande te bereken.
Baie mense, soos die voormalige Amerikaanse presidente Washington, Jefferson en Lincoln, het ook landmeterswerk gedoen. Party sê selfs dat Lincoln se politieke sukses gedeeltelik te danke was aan sy landmeterswerk, wat hom in noue kontak met sy landgenote gebring het.
Hedendaagse landmeting
Die soorte landmeting wat gewoonlik in ons omgewing gedoen word, word in drie kategorieë ingedeel. Eerstens is daar wetlike, of kadastrale, opmeting, wat te doen het met die vasstelling van wetlike eiendomsgrense. Wanneer grond onderverdeel moet word om huise te bou of wanneer die regering die ligging van nuwe strate, paaie of hoofweë wil bepaal, sal landmeters die grond verdeel en die wetlike planne teken.
’n Ander soort landmeting word topografiese opmeting genoem. Dit behels dat die grootte, vorm en helling van ’n stuk grond bepaal word, sowel as die ligging van paaie, heinings, bome, bestaande geboue, dienste, ensovoorts. Siviele ingenieurs, argitekte, struktuuringenieurs en ander professionele mense gebruik hierdie akkurate inligting oor die ligging van die terreinvoorwerpe op en om die stuk grond wat ontwikkel gaan word. Dit stel hulle in staat om hulle planne hiervolgens te teken en in sommige gevalle hierdie voorwerpe by hulle ontwerpe in te sluit.
Wanneer die ontwerpe en planne goedgekeur is en alles gereed is vir die bouprojek om te begin, moet hulle nog bepaal presies waar alles moet kom. Op hierdie stadium sal ’n verbyganger dikwels sien hoe die derde kategorie, konstruksie-opmeting, gedoen word. Die landmeters sorg dat al die belangrike punte, lyne en hoogtemerke daar is vir die bouers sodat hulle kan verseker dat die dienste, paaie en so meer presies is waar dit op die planne aangedui word.
Kleinskaalse landmeting, waarin daar gewerk word met afstande van nie meer as 19 kilometer nie, word vlakopmetings genoem. Maar landmeting wat op ’n groot skaal gedoen word, verg ’n geodetiese opmeting, wat die kromming van die aarde se oppervlak in ag neem. Dit kom gewoonlik ooreen met ’n land se nasionale koördinaatnet wat met lengtelyne en breedtelyne verband hou.a Hierdie soort werk word uiters noukeurig gedoen.
Hedendaagse landmeting het ook begin om van spesiale satelliete gebruik te maak deur middel van globale posisiebepalingstelsels. Met behulp van draagbare instrumente kan landmeters nou posisies op die aarde se oppervlak vinnig en met groot akkuraatheid bepaal. Ander soorte landmeting waarvan ons dalk gewoonlik nie bewus is nie, is onder andere fotogrammetriese opmetings, foto’s van die terrein wat met spesiale kameras geneem word wat aan satelliete gemonteer is, en hidrografiese opmetings, waarvolgens kuslyne bepaal word, sowel as die diepte en die terrein van riviere, mere, oseane en ander watermassas.
Die uitwerking op ons lewe
Byvoorbeeld, die Golden Gate-brug in Kalifornië, VSA, is in 1937 oopgestel. In 1991 is dit weer opgemeet om die presiese ligging daarvan op te teken. As daar ’n aardbewing plaasvind en die brug beweeg, kan die spanning op die brug nou bereken word en regstellende maatreëls getref word om te verseker dat die struktuur sterk genoeg en die publiek veilig is. Op ’n kleiner skaal het ’n ski-oord in Vermont landmeters gebruik om die ski-hellings veiliger te maak en wêreldklas ski-toestande te voorsien.
Daarbenewens sal veranderinge in die aardkors in China gemonitor word met behulp van gegewens wat van satellietlandmeting verkry word, met die hoop dat die impak van aardbewings op die bevolking van daardie land verminder kan word.b En of dit nou die huis is wat jy besit, die paaie waarop jy ry, die kantoor waarin jy werk of die gebou waar jy skoolgaan, ’n landmeter was waarskynlik by al hierdie bouprojekte betrokke.
Ja, landmeters het beslis ’n tasbare uitwerking op ons lewe. Of hulle nou toue of satelliete gebruik, hulle het nog altyd probeer om sin en orde in ons komplekse wêreld te bewerkstellig. En solank as wat ons aanhou om te bou en van die wêreld om ons te leer, sal landmeters ongetwyfeld nodig wees. Wanneer jy dus weer landmeters langs die pad sien werk, sal jy hulle veeleisende beroep ’n bietjie beter verstaan.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Daardie nuttige denkbeeldige lyne”, wat in die Ontwaak! van 8 Maart 1995 verskyn het, vir verdere inligting oor lengte- en breedtelyne.
b Sien die artikel “Vulkane—Is jy in gevaar?” in die Ontwaak! van 8 Mei 1996 vir verdere inligting.
[Venster/Prente op bladsy 22]
Presisie-instrumente
Elektroniese afstandsmeter—Bereken afstande deur ’n elektroniese straal of puls voort te bring wat na die instrument teruggekaats word deur middel van spesiale spieëls by die punt wat vasgestel moet word.
Teodoliete en tagimeters—’n Teodoliet (links) meet hoeke, en ’n mikroskoop is daaraan geheg sodat ’n mens deur middel van ’n stelsel van lense, interne spieëls en prismas die hoekmetings wat baie vergroot word, kan sien. Van die akkurater teodoliete kan hoeke meet wat maar een boogsekonde groot is, soos wanneer ’n sirkel in 1 296 000 gelykvormige segmente verdeel word. Tagimeters (regs) kan ook opmetings elektronies doen en gegewens opneem wat in die veld versamel is, onder andere hoeke, afstande en beskrywings. Die inligting kan dan na die kantoor teruggeneem en na ’n rekenaar oorgedra word sodat die berekeninge en tekenwerk gedoen kan word.
[Prent op bladsy 21]
’n Outydse waterpas
[Prent op bladsy 21]
Egiptiese “touspanners” was die voorlopers van hedendaagse landmeters
[Erkenning]
Borromeo/Art Resource, NY