Ons beskou die wêreld
Rotte en mense in ’n wedloop om voedsel
Volgens die Wetenskaplike en Industriële Navorsingsorganisasie van die Australiese Gemenebes (CSIRO) word daar wêreldwyd vir elke tien babarotte wat gebore word, een mensebaba gebore. Elke dag moet daar ongeveer 360 000 ekstra monde gevoed word, maar 3 600 000 pasgebore rotte soek ook kos. Indonesië het byvoorbeeld ’n bevolking van ongeveer 230 miljoen mense, en sowat 60 persent van hulle is afhanklik van rys vir hulle daaglikse energiebehoeftes. Maar in daardie land eet rotte elke jaar ongeveer 15 persent van die rysoes op. “Dit beteken dat die rys wat die rotte eet, meer as 20 miljoen Indonesiërs ’n hele jaar lank kan voed”, sê CSIRO-wetenskaplike dr. Grant Singleton.
Hoendersop—’n natuurlike middel teen verkoue
Hoendersop word al lank as ’n boereraat vir respiratoriese kwale, soos verkoues, gebruik. In die boek Food—Your Miracle Medicine verduidelik dr. Irwin Ziment, ’n longspesialis aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles, hoe dit werk: “Soos met die meeste proteïenryke kossoorte, bevat hoender die natuurlike aminosuur sisteïen, wat vrygestel word wanneer jy sop maak. Sisteïen se chemiese samestelling toon ’n verbasende ooreenkoms met die geneesmiddel asetielsisteïen, wat dokters vir pasiënte met brongitis en respiratoriese infeksies voorskryf.” Hierdie geneesmiddel, wat oorspronklik uit hoendervere en -vel verkry is, is ’n mukoliet, dit wil sê dit verdun en bevorder die vloei van mukus in die neus, keel en longe. Hoendersop het ’n soortgelyke uitwerking. Om die sop ’n selfs doeltreffender dekongestiemiddel te maak, stel dr. Ziment voor dat ’n mens knoffel, uie en sterk speserye, soos brandrissies, byvoeg.
Die Franse en die bonatuurlike
Ondanks hulle reputasie as rasionele mense glo baie Franse nog steeds aan die bonatuurlike. Volgens ’n verslag in die Franse dagblad Le Monde het navorsers gevind dat “’n derde van die bevolking glo dat ’n mens se karaktertrekke deur sterretekens bepaal word, terwyl ’n kwart in horoskopiese voorspellings glo”. Ongeveer 50 persent glo aan geloofsgenesing en telepatie. Dit is verbasend dat navorsing getoon het dat ’n belangstelling in die wetenskap mense nie hulle geloof in die bonatuurlike laat prysgee nie. Daarenteen is diegene met baie min wetenskaplike kennis geneig om minder liggelowig te wees as diegene wat ’n baie goeie begrip van die wetenskap het.
Dodelike sonsteek
Die tydskrif Time het kommentaar gelewer oor die Amerikaanse sportster Korey Stringer wat weens sonsteek gesterf het, en het verduidelik dat liggaamsweet moontlik nie vinnig genoeg in warm, bedompige weer verdamp om die liggaam gedurende strawwe inspanning af te koel nie. Dit kan tot sonsteek lei, wat gekenmerk word deur ’n potensieel dodelike styging in liggaamstemperatuur. Gevaartekens van sonsteek kan die volgende insluit: duiseligheid, hoofpyn, naarheid, swakheid, verwardheid, vinnige pols en ’n warm, droë, rooi vel. Om die slagoffer se lewe te red, moet sy liggaamstemperatuur onmiddellik met yswater, yssakke of op ’n ander manier verlaag word. Maar voorsorg is beter as nasorg. “Probeer om nie gedurende die warmste deel van die dag te oefen nie. Dra los klere sodat lug om jou liggaam kan sirkuleer. En sorg dat jy baie vloeistowwe inneem”, veral water, stel Time voor. “Alkohol, tee en koladrankies, wat urineermiddels is, kan in werklikheid vloeistofverlies verhoog.”
Tabakmaatskappye se twyfelagtige praktyke
Geheime dokumente van tabakmaatskappye het aan die lig gebring dat hulle “rokers doelbewus mislei om te dink dat hulle sigarette rook wat minder teer en nikotien bevat as wat werklik die geval is”, berig die Britse tydskrif New Scientist. Om een voorbeeld te noem: in 1990 het die Europese Unie bepaal dat ’n sigaret ’n maksimum van 15 milligram teer kan bevat en het hulle ook ’n beperking op die nikotieninhoud gestel. Om aan die beperkings op teer en nikotien te voldoen, het een maatskappy se dokumente egter getoon dat hulle nie die sigarette verander het nie, maar doelbewus die standaarde gemanipuleer het deur die manier waarop die stowwe gemeet word, te verander. Hoe kon hulle met so iets wegkom? “Die maatskappye het dit reggekry omdat hulle in werklikheid die tabakkomitee beheer [wat] bepaal hoe hierdie toetse gedoen moet word”, berig New Scientist. Stella Bialous van die Wêreldgesondheidsorganisasie sê: “Dit toon hoe nutteloos hierdie regulasies is om die publiek te beskerm.”
Oudste gedrukte advertensie
Chinese argeoloë het die wêreld se oudste, gedrukte papieradvertensies opgegrawe wat tot nog toe gevind is, berig China se People’s Daily Online. Twee stukke toedraaipapier, wat ongeveer 700 jaar oud is en blykbaar gebruik is om olieverfpigment te verpak, is in ’n graf in China se Hunan-provinsie opgegrawe. “Daar is 70 Chinese karakters boaan die regterkant van die papier wat die verskillende produkte asook die gehalte en kenmerke daarvan beskryf, en die adres van die winkel is ook op die papier gedruk”, sê die berig. Van die advertensie se bewoording stem verbasend ooreen met hedendaagse advertensies. Dit sê gedeeltelik: “In vergelyking met ander olieverf is die kleur van ons produk uniek.” Die verslag meld dat papier in die 12de-eeu na Europa gekom het en dat Gutenberg die drukkuns eers in die 15de-eeu uitgevind het. Dit sê verder: “In China kan die maak van papier tot 105 n.C. teruggevoer word, toe Ts’ai Loen die eerste vel papier gemaak het; wat die drukkuns betref, het China reeds in [die] 9de-eeu houtblokdrukwerk gedoen.”
Kerkhandel
Aangesien kerke regoor die Verenigde State se bywoningsyfers dieselfde bly en hulle bydraes afneem, begin hulle sekulêre ondernemings om hulle rekeninge te help betaal. “Dit is die toekoms van elke progressiewe kerk”, sê Stephen Munsey, senior pastoor van die Familie-Christensentrum in Munster, Indiana. Volgens The Wall Street Journal sluit kerke se kommersiële bedrywighede ’n verskeidenheid dinge in—party verkoop koffie en oliebolle in die kerk se voorportaal en ander bedryf selfs volwaardige restaurante op die kerkgronde. ’n Kerk in Jacksonville, Florida, het ’n winkelsentrum naby hulle kerkgebou geopen. In die sentrum is daar onder meer ’n reisagentskap, ’n skoonheidsalon en ’n restaurant wat tradisionele Afro-Amerikaanse kos bedien. Die kerk se stigter en biskop, Vaughn McLaughlin, sê: “Jesus wil hê dat ons met die talente wat hy ons gegee het, moet woeker.” Hy het bygevoeg dat die kerk se ondernemings in die jaar 2000 ’n inkomste van meer as R23 miljoen opgelewer het.
Skadelose dagga?
“Bewerings dat dagga skadeloos is, is deur ’n nuwe verslag weerlê wat waarsku dat die middel sterker word en dat dit tot ernstige langtermyn gesondheidsprobleme kan lei”, berig The Independent van Londen. Professor Heather Ashton van die Newcastle-universiteit, Engeland, sê: “Dagga het ’n uitwerking op byna elke stelsel in die liggaam. Dit kombineer baie van die eienskappe van alkohol, kalmeermiddels, pynstillers en hallusinogene.” Dit is daarvoor bekend dat dit ’n mens se bestuursvaardighede ernstig belemmer. Dit kan ook ernstige geestesiektes veroorsaak, onder andere skisofrenie; doen vyf keer meer skade aan die longe as sigarette; kan seldsame keelkankers veroorsaak en kan tot noodlottige hartaanvalle by sommige jong gebruikers lei. In die 1960’s het een daggasigaret gewoonlik 10 milligram THC bevat, ’n chemiese stof wat die brein aantas. “Nou, met meer gesofistikeerde kweekmetodes, kan ’n daggasigaret 150mg THC bevat en tot 300mg as dit met ’n bietjie hasjisj-olie gemeng word”, verduidelik die koerant.
Verstaan jy jou dokter?
“Daar is kommunikasieprobleme tussen dokters en pasiënte”, berig Brasilië se Folha de S. Paulo. In ’n opname by die pediatriese afdeling vir noodgevalle by een hospitaal in Sao Paulo het 25 persent van die ouers wat hulle kinders vergesel het, die dokter se spreekkamer verlaat sonder dat hulle verstaan het wat daar gebeur het, 24 persent kon nie die voorskrif lees nie omdat dit so lelik geskryf is en 90 persent kon nie die dokter se naam onthou nie. Verskeie faktore dra by tot hierdie agteruitgang in kommunikasie. Dit sluit die volgende in: “vinnige en onpersoonlike” konsultasies wat pasiënte “wantrouig [laat voel] en ontevrede [maak] met die dokter se diagnose”, die onnodige gebruik van mediese terme en die feit dat dokters weens moderne mediese toetse nie meer soveel vrae hoef te vra soos in die verlede nie. Volgens die verslag het ’n psigiater nog ’n faktor genoem—die “emosionele muur” wat baie dokters opbou “om hulleself teen pyn, lyding, angs en vrees vir die dood te beskerm”.