“Molmense”
KOUE winters. ’n Netwerk van moltreintonnels van 1100 kilometer wat ten minste ’n bietjie warmer as die stad daarbuite is. ’n Groeiende bevolking van haweloses—volgens een skatting 75 000 van hulle. In New York-stad, VSA, het daardie drie faktore saam ’n onrusbarende stedelike verskynsel geskep: tonnelbewoners, of “molmense”, soos sommige hulle noem. Op loopbrûe en trappe, in verlate voorraadkamers, tonnels en ander verwaarloosde hoekies van hierdie reusedoolhof het hulle klein woonplekkies afgebaken. In een treintonnel in Manhattan wat lank nie gebruik is nie, het hordes van hulle in verlate betonsteenkoolhokke, alkowe en op lyste ingetrek. Party het selfs pondokkies in die tonnel gebou.
Maar die tonnellewe is moeilik. Rotte so groot soos katte skarrel in die donker rond. Die treine wat deur die tonnels dreun en die geëlektrifiseerde derde spoor veroorsaak jaarliks die dood van tientalle mense. Die polisie patrolleer die spoorlyne gereeld om die haweloses uit te jaag. Dan kom die opvolgwerkers, wat die tydelike woonplekke afbreek. Hulle sleep banke en matte, radio’s en televisies uit en krap selfs muurpapier van die mure van sommige tonnelskuilings af.
Wanneer die polisie weg is, keer die haweloses terug. Een polisieman het vir The New York Times gesê dat al die pogings om die haweloses te verwyder hulle bloot ’n kort rukkie binne die tonnelstelsel van woonplek laat verander. “Dit is ’n korttermynoplossing”, is hoe hy dit gestel het. Maar haweloosheid is nouliks ’n korttermynprobleem. Volgens een skatting is daar in die Verenigde State alleen tot tweemiljoen haweloses. In net een jaar het hulle getalle met ’n onrusbarende 18 persent toegeneem. Dit is duidelik dat ons ’n langtermynoplossing nodig het. Dit is wat die mens se Skepper in die Bybel belowe—’n tyd wanneer alle mense op aarde hulle eie huise sal kan bou en bewoon, terwyl hulle ’n lewe vry van die sombere gesig van armoede en haweloosheid sal geniet.—Jesaja 65:21-23.