Die nasies leer nog steeds nie
“Watter lesse sou ons tog nie geleer het as die mens uit die geskiedenis kon leer nie! Maar passie en partyskap verblind ons oë, en die lig wat ondervinding ons bied, is ’n lantern agter op die skip wat slegs op die golwe agter ons skyn!”—Samuel Taylor Coleridge.
STEM jy saam met die Engelse digter Samuel Coleridge? Is dit moontlik dat ons so verblind kan word deur die passie, of geesdrif, vir ’n saak dat ons die tragiese foute van vorige geslagte herhaal?
Die Kruistogte
Dink byvoorbeeld aan party van die dinge wat mense gedurende die Kruistogte gedoen het. In 1095 G.J. het pous Urbanus II “Christene” aangespoor om die Heilige Land by die Moslems af te neem. Konings, baronne, ridders en burgers in al die lande onder Urbanus II se beheer, het aan hierdie oproep gehoor gegee. Volgens een Middeleeuse geskiedskrywer was daar “feitlik geen volk wat volgens die wet van die Christus gelewe het”, wat hulle nie gehaas het om die saak te ondersteun nie.
Die geskiedskrywer Zoé Oldenbourg sê dat die meeste kruisvaarders “vas geglo het dat [hulle] direk in God se diens tree wanneer hulle die kruis opneem”. Volgens haar het hulle hulleself beskou as “vernietigende engele wat die kinders van die duiwel aanval”. Hulle het ook geglo dat “almal wat gesterf het, die martelaarskroon in die hemel sou ontvang”, sê die skrywer Brian Moynahan.
Die kruisvaarders het moontlik nie geweet dat hulle vyand iets soortgelyks geglo het nie. Islamitiese soldate, sê die geskiedskrywer J. M. Roberts in sy boek Shorter History of the World, het ook in die stryd getree met die oortuiging dat hulle vir God veg en “dat hulle na die paradys [in die hemel] sou gaan as hulle op die slagveld teen die ongelowiges sou sneuwel”.
Albei kante is geleer dat hulle ’n regverdige oorlog voer—wat deur God goedgekeur en geseën is. Godsdiens- en politieke leiers het hierdie oortuigings gevoed en hulle onderdane se gemoedere laat opvlam. En albei kante het onbeskryflike gruweldade gepleeg.
Watter soort mense?
Watter soort mense het hierdie verskriklike dinge gedoen? Die meeste van hulle was gewone mense—nie baie anders as die mense van vandag nie. Baie van hulle is ongetwyfeld aangedryf deur idealisme en ’n begeerte om die oënskynlike ongeregtighede in die wêreld van hulle tyd reg te stel. Hulle is so deur hulle emosies aangevuur dat hulle blykbaar onbewus was van die feit dat hulle in hulle stryd om “geregtigheid” niks anders as ongeregtigheid, pyn en lyding oor honderdduisende onskuldige mans, vroue en kinders gebring het wat in die oorlogsgebied vasgekeer was nie.
Is dit nie wat dikwels deur die geskiedenis heen gebeur het nie? Het charismatiese leiers nie tallose miljoene mense—by wie dit normaalweg nooit sou opgekom het om so iets te doen nie—herhaaldelik beweeg om wrede en barbaarse oorloë teen hulle godsdiens- en politieke teenstanders te voer nie? Die feit dat albei kante oorlog verklaar het en beweer het dat God aan hulle kant is, het regverdiging verleen aan die gewelddadige onderdrukking van politieke en godsdiensteenstand. Dit was deel van ’n goed gevestigde patroon wat baie eeue lank die belange van tiranne bevorder het. Dit, sê Moynahan, is wat “die meesterbreine agter die Slagting sowel as die hedendaagse etniese suiweraars van ondersteuning verseker het, net so seker as wat dit die eerste kruistog ontketen het”.
‘Maar vandag sal redelike mense mos nie toelaat dat hulle so gemanipuleer word nie’, sê jy dalk. ‘Is ons nie nou baie meer beskaafd nie?’ Dit behoort so te wees. Maar het die mens werklik uit die lesse van die geskiedenis geleer? Wie kan in alle eerlikheid sê dat dit die geval is wanneer ons na die geskiedenis van die afgelope honderd jaar kyk?
Die Eerste Wêreldoorlog
Die patroon wat deur die Kruistogte vasgestel is, is byvoorbeeld tydens die Eerste Wêreldoorlog herhaal. Dit is “een van die paradokse van 1914”, sê Roberts, “dat groot getalle mense van alle partye, gelowe en klasse in elke land, verbasend genoeg, blykbaar heel gewillig en tevrede was om te gaan oorlog maak”.
Waarom was groot getalle gewone mense ‘gewillig en tevrede om te gaan oorlog maak’? Omdat hulle waardes en oortuigings, soos in die geval van diegene voor hulle wat so gewillig was om te gaan oorlog maak, deur die filosofieë van die dag gevorm is. Terwyl party deur ’n strewe na vryheid en geregtigheid aangedryf is, is daar min twyfel dat baie beweeg is deur ’n arrogante oortuiging dat hulle nasie beter was as ander en dus verdien het om te heers.
Hulle is gekondisioneer om te glo dat oorlog ’n onafwendbare deel van die natuurlike verloop van sake is—’n soort “biologiese noodsaaklikheid”. “Sosiale Darwinisme”, sê die skrywer Phil Williams, het byvoorbeeld die idee bevorder dat oorlog ’n aanvaarbare manier is om “die spesies uit te wis wat nie verdien om voort te bestaan nie”.
Elkeen het natuurlik gedink dat wat hulle doen, reg was. Wat was die gevolg? Volgens die skrywer en geskiedkundige Martin Gilbert het “regerings” gedurende die Eerste Wêreldoorlog “rassisme, patriotisme en militêre vernuf gepropageer”—en mense het blindelings gevolg. Die ekonoom John Kenneth Galbraith het gedurende die oorlog op die platteland in Kanada grootgeword. Hy het gesê dat mense oral om hom gepraat het van “die ooglopende dwaasheid van die konflik in Europa”. “Intelligente mense . . . raak nie betrokke by sulke malligheid nie”, het hulle gesê. Maar weer eens het hulle. Met watter gevolge? Ongeveer 60 000 Kanadese soldate was onder die meer as negemiljoen krygsmanne wat aan weerskante van die skokkende stryd gesterf het wat later die Eerste Wêreldoorlog genoem is.
Hulle het niks geleer nie
Binne die volgende twee dekades het dieselfde gees weer kop uitgesteek met die opkoms van Fascisme en Nazisme. Fasciste het “simbole en mites, tradisionele propagandamiddele, [begin gebruik] om mense se emosies te wek”, skryf Hugh Purcell. ’n Besonder doeltreffende middel wat hulle gebruik het, was die kragtige mengsel van godsdiens en politiek, deurdat hulle vir God se seën op hulle troepe gebid het.
Iemand wat “’n meester van skaresielkunde sowel as ’n briljante redenaar” was, was Adolf Hitler. Soos met baie volksopruiers van die verlede, sê Dick Geary in Hitler and Nazism, het Hitler geglo dat ‘die massas nie deur hulle verstand nie, maar deur hulle emosies gelei word’. Hy het hierdie menslike swakheid uitgebuit deur vernuftig gebruik te maak van die eeue oue tegniek om mense se haat teen ’n gemeenskaplike vyand te rig—soos toe hy “die vrese en gegriefdheid van die Duitsers teen die Jode laat draai het”, sê Purcell. Hitler het die Jode beswadder deur te sê: ‘Die Jode is die verderwers van die Duitse nasie.’
Wat skrikwekkend omtrent hierdie hele tydperk is, is dat miljoene oënskynlik ordentlike mense maklik opgesweep is om massamoord te pleeg. “Hoe kon die mense van ’n sogenaamd beskaafde land die afgryslike barbaarsheid van die Nazi-staat nie net geduld het nie, maar selfs daarby betrokke geraak het?” vra Geary. En dit was nie net ’n “beskaafde” land nie, maar ook ’n sogenaamde Christenland! Hulle is hierby betrek omdat hulle die filosofieë en planne van mense bo die leringe van Jesus Christus verkies het. En hoeveel opregte, idealistiese mans en vroue is sedertdien oorgehaal om afgryslike gruweldade te pleeg!
Die Duitse filosoof Georg Hegel sê: “Ondervinding en die geskiedenis leer ons dat nasies en regerings nog nooit enigiets uit die geskiedenis geleer of die beginsels toegepas het wat daaruit afgelei kan word nie.” Baie stem dalk nie saam met Hegel se lewensfilosofie nie, maar min sal hierdie stelling betwis. Ongelukkig lyk dit of mense dit baie moeilik vind om enigiets uit die geskiedenis te leer. Maar hoef dit met jou die geval te wees?
’n Duidelike les wat gewis geleer moet word, is die volgende: Om die tragedies van vorige geslagte te vermy, het ons iets baie betroubaarders nodig as feilbare menslike filosofieë. Maar as ons denke nie deur menslike filosofie gerig word nie, waardeur moet dit dan gerig word? Meer as ’n duisend jaar voor die tyd van die Kruistogte het die dissipels van Jesus Christus getoon wat dit beteken om volgens die ware Christelike weg—en die enigste redelike weg—te lewe. Kom ons ondersoek wat hulle gedoen het om te voorkom dat hulle by die bloedige konflikte van hulle dag betrek word. Maar sal nasies van vandag leer hoe om dit te doen en sodoende konflikte vermy? En ongeag wat die nasies doen, hoe sal God ’n einde bring aan al hierdie menselyding?
[Prente op bladsy 6]
Barbaarsheid en lyding was nog altyd ’n kenmerk van konflikte tussen mense
[Prente op bladsy 7]
Bo: Vlugtelinge in oorloggeteisterde gebied
Hoe kon sogenaamd beskaafde mense by sulke onbeskryflike dade van geweld betrokke raak?
[Erkennings]
Rwandese vlugtelinge: UN PHOTO 186788/J. Isaac; ineenstorting van die World Trade Center: AP Photo/Amy Sancetta