Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 8/8 bl. 21-23
  • Navigasie met behulp van die sterre

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Navigasie met behulp van die sterre
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Twee vroeë teorieë
  • Eksperimentele seereise
  • Eertydse navigasiemetodes
  • Navigasie met behulp van water, sterre en wind
    Ontwaak!—2003
  • Die kano—Kanada se “volmaakte vervoermiddel”
    Ontwaak!—2010
  • Kaptein James Cook—Onverskrokke ontdekkingsreisiger van die Stille Oseaan
    Ontwaak!—1995
  • Die sterre en die mens—Is daar ’n verband?
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 8/8 bl. 21-23

Navigasie met behulp van die sterre

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN HAWAII

EEUE voor Christophorus Columbus oor die Atlantiese Oseaan gevaar het, het Polinesiese seevaarders duisende kilometer ver in houtkano’s oor die Stille Oseaan gevaar en tussen die eilande van die Polinesiese driehoek genavigeer. Hoe het die eertydse Polinesiërs die talle eilandgroepe ontdek wat in hierdie uitgestrekte gebied gevind word? Het hulle hierdie eilande per ongeluk ontdek?

Hoe kon die Polinesiërs, as hulle presies geweet het waarnatoe hulle vaar, hulle kano’s daarheen navigeer sonder enige kaarte, magnetiese kompasse of die ander instrumente wat Westerse ontdekkingsreisigers gebruik het?

Die antwoord op hierdie vraag werp nie net lig op hoe vindingryk die Polinesiese navigasiemetodes was nie, maar gee ons ook groter respek vir die orde en ontwerp van ons wêreld sowel as die heelal.

Twee vroeë teorieë

Nie alle wetenskaplikes en geleerdes dink dat die Polinesiërs akkuraat van eiland tot eiland kon navigeer nie. Thor Heyerdahl, ’n Noorweegse ontdekkingsreisiger, het geteoretiseer dat die Polinesiërs oorspronklik van Suid-Amerika afkomstig was en dat die seevaarders die Pasifiese eilande bereik het deur saam met die heersende seestrome en winde te dryf.

Om hierdie teorie te toets, het Heyerdahl en vyf ander Skandinawiese bemanningslede op ’n balsahoutvlot van die weskus van Peru af gevaar. Hulle het in die Stille Oseaan uitgevaar totdat hulle vlot deur die weswaartse seestrome meegevoer is. Nadat hulle 101 dae lank en 7 000 kilometer ver gevaar het, het Heyerdahl en sy bemanning die Raroia-ringeiland in die Tuamotu-eilandgroep bereik. Heyerdahl het dus op ’n dramatiese manier getoon dat die Polinesiërs moontlik wel van Suid-Amerika gekom het deur saam met die heersende seestrome te dryf. Maar Heyerdahl se eksperiment het nie alle geleerdes oortuig nie.

Een van dié wat skepties was, was Andrew Sharp, ’n geskiedkundige van Nieu-Seeland. In sy boek Ancient Voyagers in Polynesia, wat in 1963 geskryf is, het hy talle argeologiese en taalkundige bevindinge aangehaal ter ondersteuning van die meer tradisionele beskouing onder geskiedkundiges en kenners—dat die Polinesiërs oorspronklik uit die weste gekom het. Maar hy het hom ook teen enige beskouings uitgespreek dat die Polinesiërs groot seevaarders was.

Hoewel Sharp toegegee het dat die seevaarders hulle kano’s oor kort afstande kon navigeer, het hy beweer dat dit vir die Polinesiërs onmoontlik was om presies te weet waarheen hulle gaan as hulle verder as 500 kilometer moes vaar. Hy het gemeen dat dit blote toeval was as hulle gedurende ’n langer reis op enige eiland afgekom het.

Eksperimentele seereise

Dr. David Lewis, van Nieu-Seeland, het gemeen dat Heyerdahl en Sharp die eertydse Polinesiërs se vermoë as seevaarders en navigators onderskat het, en hy het besluit om te bewys dat eertydse navigasiemetodes doeltreffend was. Hy het in 1965 ’n reis van meer as 3 000 kilometer van Tahiti na Nieu-Seeland in ’n moderne katamaran sonder ’n kompas afgelê en slegs met behulp van die sterre, son en oseaandeinings genavigeer! Lewis se reis het belangstelling gewek in tradisionele navigasietegnieke en eertydse migrasieroetes. Een van die persone wat van hierdie prestasie kennis geneem het, was Ben Finney.

Finney, ’n professor van antropologie aan die Universiteit van Hawaii, het baie jare lank die ontwerp en konstruksie van eertydse Polinesiese kano’s bestudeer. Hy en ’n paar van sy kollegas by die Polinesiese Seevaartvereniging het ’n 20 meter lange dubbelrompkano gebou, wat hulle Hokule‛a genoem het, ’n Hawaiïese woord wat “Ster van vreugde” beteken. Hoewel die Hokule‛a van sintetiese materiaal gemaak is en nie van tradisionele materiaal soos koahout nie, is die vaartuig ontwerp sodat dit dieselfde bou, voorkoms en werkverrigting as eertydse kano’s sou hê.

Op 1 Mei 1976 het die Hokule‛a sy eerste seereis onderneem toe dit van die Hawaiïese eiland Maui na Tahiti vertrek het. Omdat die Polinesiese kuns om koers te bepaal en met behulp van die sterre te navigeer, verlore gegaan het, moes ’n navigator buite die grense van die Hawaiïese eilande gevind word. Mau Piailug, ’n meesternavigator van Mikronesië, is dus gekies om die Hokule‛a op sy seereis te navigeer. Dit het die Hokule‛a 31 dae geneem om die reis van etlike duisend kilometer na Tahiti af te lê.

Die suksesvolle reis het gelei tot ’n kulturele oplewing regdeur Polinesië en ’n hernieude belangstelling in eertydse navigasie en kano-konstruksie. In die daaropvolgende jare is soortgelyke seereise tussen die eilande van die Polinesiese driehoek onderneem, soos Hawaii, Nieu-Seeland (ook bekend as Aotearoa), Rarotonga (in die Cook-eilande) en die Paaseiland (ook bekend as Rapa Nui). Baie van hierdie seereise is deur Nainoa Thompson gelei, ’n Hawaiïese navigator wat onder Piailug gestudeer het.

Eertydse navigasiemetodes

Presies hoe het die Polinesiërs dit reggekry om oor afstande van duisende kilometers sonder instrumente te navigeer? Volgens Dennis Kawaharada van die Polinesiese Seevaartvereniging was die son hulle vernaamste verwysingspunt. Die presiese punte waar dit opkom en ondergaan, dien gedurende die dag as rigtingaanwysers. Snags bepaal die navigator die koers van die kano deur gebruik te maak van die punte waar die sterre opkom en ondergaan.

Al is daar geen ster wat opkom of ondergaan in die spesifieke rigting waarin die kano vaar nie, kan ander sterre in die hemel as verwysingspunte gebruik word. Benewens die sterre gebruik navigators ook die maan en die vyf sigbare planete om op koers te bly.

Gedurende die middag en op bewolkte nagte wanneer geen sterre gesien kan word nie, kan die navigator sy koers bepaal deur gebruik te maak van winde en oseaandeinings (in verhouding tot die punte waar die son opkom en ondergaan). Volgens Kawaharada is “deinings golwe wat verder beweeg as die windstelsels of storms waardeur hulle gevorm is of golwe wat voortbeweeg nadat die storm waardeur dit gevorm is, bedaar het”.

Gevolglik is deiningpatrone ’n betroubaarder verwysingspunt as golwe, wat deur veranderlike plaaslike winde gevorm word. Omdat die deinings in ’n reguit lyn beweeg, kan die navigator die kano stuur sodat dit in die regte rigting vaar. Die fisiese beweging van die kano terwyl dit direk teen die oseaandeinings in of parallel daarmee beweeg, sê vir die navigator of die vaartuig in die regte rigting vaar.

Bewyse dui daarop dat die eertydse Polinesiërs in staat was om hemelliggame en natuurkragte te gebruik om hulle kano’s oor duisende kilometers volgens ’n vasgestelde koers te navigeer. Maar hoewel die navigators vindingryk was, sou nie een van hulle metodes gewerk het as daar nie patrone was waarvolgens die rigtingaanwysers beweeg het nie, soos die punte waar die sterre opkom en ondergaan.

Meer as 2 700 jaar gelede het die profeet Jesaja die Grootse Skepper, Jehovah God, geloof vir die orde wat in die hemelruim gesien kan word, toe hy geskryf het: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—Jesaja 40:26; Psalm 19:1.

Die psalmis is ook geïnspireer om te skryf dat God “die getal van die sterre [bepaal]; hy noem hulle almal by hulle name” (Psalm 147:4). Die Polinesiërs was bewus van die orde van die sterre in die hemelruim bo hulle en kon dit gebruik om die uitgestrekte Stille Oseaan te verken. Lewer dit nie bewys dat ons heelal die handewerk van ’n hoogs intelligente en georganiseerde Skepper is nie?

[Kaart/Prente op bladsy 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Fidji

POLINESIESE DRIEHOEK

Hawaii

Samoa

Tonga

Nieu-Seeland

Cook- eilande

Tahiti

Marquesas- eilande

Tuamotu- eilandgroep

Tubuaï- eilande

Paaseiland

[Prent]

Die dubbelrompkano “Hawai‘iloa” is in 1993 met meer tradisionele materiaal gebou as sy susterboot, die “Hokule‘a”

[Erkenning]

Hawai‘iloa op bladsye 21 en 23: © Monte Costa

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel