Die kano—Kanada se “volmaakte vervoermiddel”
DIE Franse ontdekkingsreisiger Samuel de Champlain het die Atlantiese Oseaan oorgesteek en met die St. Lawrencerivier opgevaar in wat vandag Kanada is. Hy het weldra ’n groot hindernis teëgekom waar Montreal vandag geleë is: die Lachine-stroomversnellings. Enige pogings om sy bote by die stroomversnellings verby te kry, sou tevergeefs wees, het hy in 1603 in sy joernaal geskryf. Die digte woud het dit onprakties gemaak om te voet te reis. Hoe het Champlain en sy manne hulle reis dan voortgesit?
Hulle het die voorbeeld van die inheemse mense gevolg en kano’s gebruik. “Met die kano’s”, het Champlain gesê, “kan ’n mens vryelik en vinnig deur die hele land reis, net so maklik op die klein riviere as op die grotes.”
Die “volmaakte vervoermiddel”
Kanada se mere en riviere was inderdaad ideale hoofweë, en die kano is as die volmaakte vervoermiddel beskou. Dit het die Indiane in staat gestel om die land te verken, te jag en goedere te vervoer. Die ontwerp en boumetodes van kano’s het natuurlik verskil, weens faktore soos die doel waarvoor dit gebruik is asook natuurlike hulpbronne. Mense aan Kanada se weskus het byvoorbeeld boomkano’s gemaak deur reuserooiseders uit te hol. Die uitgeholde boomstomp is dan met water en warm klippe gevul. Dit het die hout sag gemaak sodat dit die regte vorm gegee kon word. Party van hierdie kano’s kon tot twee ton dra, en hulle was vinnig sowel as veilig op see, waar hulle gebruik is om groot seesoogdiere, insluitende walvisse, te jag.
Die bekendste Noord-Amerikaanse kano was moontlik die berkebaskano, wat van die buitebas van berkebome gemaak is. Berkebas is duursaam sowel as waterdig, grootliks te danke aan ’n stof wat betulinol genoem word. Die bas is ook buitengewoon buigsaam en sterk. “’n Berkebaskano kan deur stroomversnellings gaan wat ’n kano van hout en seil sal beskadig”, verduidelik die kanomaker David Gidmark.
Die materiaal waarvan die berkebaskano’s gemaak is, het ook berkehout, sederhout, sparwortels en boomhars ingesluit. Omdat al hierdie materiale in die woud voorgekom het, kon kano’s nogal maklik reggemaak word. Verder was die vaartuie redelik lig en kon hulle dus maklik om gevaarlike stroomversnellings en ander hindernisse gedra word. Hulle was ook omgewingsvriendelik. Wanneer ’n kano nie meer gebruik kon word nie, het dit bloot na die ekosisteem teruggekeer, net soos ’n boom wat omgeval het.
Die boumetodes was indrukwekkend. Die inheemse mense “gebruik glad nie spykers en skroewe nie, maar werk en bind alles aanmekaar”, het ’n 19de-eeuse waarnemer gesê. “Die nate, steke en knope is so eweredig, sterk en kunstig dat jy vir niks beters kan vra nie.”
Voor die era van die trein was die kano die vinnigste en betroubaarste vervoermiddel in groot dele van Kanada. Selfs nadat treine in gebruik geneem is, het kanovaart nie onmiddellik tot ’n einde gekom nie, want mense het dikwels per trein sowel as kano gereis.
Kano’s het so ’n belangrike rol gespeel in die lewe in vroeë Noord-Amerika dat dit die kultuur sowel as die opvattings van die inheemse mense beïnvloed het. Byvoorbeeld, volgens party legendes was dit kano’s, en nie die Bybelse ark nie, wat oorlewendes veilig deur ’n groot vloed geneem het.
Hedendaagse kanovaart
Kanovaart is nog steeds gewild in Kanada, maar hoofsaaklik as ’n vorm van ontspanning. Ongelukkig raak geskikte bome vir die bou van goeie berkebaskano’s al hoe skaarser. Ander materiale is egter geredelik beskikbaar, insluitende aluminium, seil, hout en veselglas.
Bill Mason, ’n beroemde kanovaarder, het nog ’n dimensie aan kanovaart verleen toe hy gesê het: “’n Kanorit op ou waterweë is ’n goeie manier om ons verlore verhouding met die natuur en die Skepper wat dit alles so lank gelede gemaak het, te herontdek.” Baie mense sal heelhartig hiermee saamstem!
[Venster/Prent op bladsy 11]
DIE KAJAK
Die Innuïete woon in ’n deel van Kanada waar daar geen woude is nie. Maar dit het hulle nie gekeer om vaartuie te maak nie. Die Innuïete het robbe- en kariboevelle sowel as bene en dryfhout wat op die Arktiese kus uitgespoel het, as grondstowwe gebruik. Dierevet het gehelp om die vaartuie waterdig te maak. Die resultaat was die kajak.
Die opvallendste verskil tussen ’n kajak en ’n gewone kano is die feit dat die kajak grotendeels aan die bokant toe is, wat ’n mate van beskerming teen die elemente bied en die kajak in staat stel om om te rol sonder om veel water te skep. Moderne kajakke word gewoonlik van veselglas en ander sintetiese stowwe gemaak.
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Library of Congress