Navigasie met behulp van water, sterre en wind
IS JY bang dat jy van die rand van die aarde sal afval? Waarskynlik nie. Maar in die ou tyd was dit iets wat sommige matrose klaarblyklik gevrees het. Baie het altyd land in sig gehou terwyl hulle gevaar het. Maar ander dapper seevaarders het hulle vrese opsygesit en die oop see aangedurf.
Ongeveer 3 000 jaar gelede het Fenisiese seemanne uit hulle tuishawens aan die ooskus van die Middellandse See gevaar om in Europa en Noord-Afrika handel te dryf. In die vierde eeu v.G.J. het ’n Griekse ontdekkingsreisiger, Piteas, reg om Brittanje en moontlik tot by Ysland gevaar. En lank voordat die eerste Europese skepe die Indiese Oseaan bereik het, het Arabiese en Chinese seevaarders van die Ooste dit reeds deurkruis. Trouens, die eerste Europeër wat na Indië gevaar het, Vasco da Gama, het veilig daar aangekom met die hulp van ’n Arabiese stuurman, Ibn Majid, wat Da Gama se skepe tydens die 23 dae lange reis oor die Indiese Oseaan gestuur het. Hoe het hierdie eertydse seevaarders genavigeer?
Gisbestek was hulle lewenslyn
Die vroeë seevaarders moes op gisbestek staatmaak. Dit het vereis dat die seevaarder drie dinge weet, soos die prent hieronder toon: (1) sy skip se beginpunt, (2) sy spoed en (3) sy koers. Dit was maklik om te weet wat die beginpunt is. Maar hoe kon die koers bepaal word?
Christophorus Columbus het in 1492 ’n kompas gebruik om sy koers te bepaal. Maar kompasse was eers van die 12de eeu G.J. af in Europa beskikbaar. Toe daar nog nie kompasse was nie, het stuurmanne met behulp van die son en die sterre genavigeer. Wanneer wolke hulle sig belemmer het, het seevaarders hulle posisie bepaal met behulp van die lang, reëlmatige oseaandeinings wat deur bestendige winde voortgebring is. Hulle het verslag gehou van die rigting van hierdie deinings in verhouding tot die son en sterre wanneer dit opgekom en gesak het.
Hoe het hulle hulle spoed bepaal? Een manier was om te kyk hoe lank dit die skip geneem het om verby ’n voorwerp te beweeg wat by die boeg in die water gegooi is. Later het hulle ’n akkurater metode gebruik wat behels het dat ’n stuk hout oor boord gegooi word wat aan ’n tou vasgemaak is waarin knope ewe ver uitmekaar gemaak is. Die drywende hout het die tou uitgetrek terwyl die skip vorentoe beweeg het. Ná ’n vasgestelde tyd is die tou teruggetrek en die aantal uitgetrekte knope getel. Dit het die skip se spoed aangedui in knope—seemyle per uur—’n afstandsmaat wat vandag nog gebruik word. Noudat die seevaarder geweet het wat sy spoed is, kon hy bereken hoe ver sy skip in ’n dag gevaar het. Hy het dan ’n lyn op ’n seekaart getrek om aan te dui hoe ver hy gevorder het.
Seestrome en sywinde kon die skip natuurlik van koers af stoot. Die seevaarder het dus van tyd tot tyd bereken watter aanpassings gemaak moes word om die skip op koers te hou en dit neergeskryf. Hy het elke dag aangegaan waar hy die vorige dag opgehou het—hy het gemeet, bereken en sy vooruitgang op sy kaart aangedui. Wanneer die skip uiteindelik anker gegooi het, was hierdie daaglikse aantekeninge op sy kaart ’n permanente verslag van hoe die skip sy bestemming bereik het. Columbus het meer as 500 jaar gelede met behulp van gisbestek van Spanje na Noord-Amerika en terug gevaar. Sy noukeurig getekende kaarte stel hedendaagse seemanne in staat om dieselfde roete te volg as wat hy op sy merkwaardige seereis gevolg het.
Seevaart met behulp van die sterre
Hoe het die seevaarders van die ou tyd die hemelliggame gebruik om te navigeer? Hulle het oos en wes bepaal deur te kyk na die posisie van die son wanneer dit opgekom en gesak het. Met sonop kon seevaarders sien hoe ver die son geskuif het deur die posisie daarvan met die sterre te vergelyk wat nog sigbaar was. Snags kon hulle hulle posisie vasstel met behulp van Polaris—die Noordster—wat ná skemer lyk of dit amper reg bo die Noordpool lê. Verder suid het ’n helder sterrebeeld wat die Suiderkruis genoem word, hulle gehelp om die Suidpool te vind. Op ’n helder nag kon seevaarders op alle seë dus hulle koers met behulp van ten minste een verwysingspunt in die hemelruim nagaan.
Maar dit was nie die enigste sterrebakens nie. Byvoorbeeld, die Polinesiërs en ander seevaarders van die Stille Oseaan kon die naghemel soos ’n padkaart lees. Een van die tegnieke wat hulle gebruik het, was om na ’n ster te stuur wat hulle geweet het op die horison, in die rigting van hulle bestemming, opkom of sak. Gedurende die nag het hierdie seevaarders ook die stand van ander sterre nagegaan om seker te maak dat hulle op koers is. As hulle van koers af was, het die hemelliggame hulle gewys hoe om weer op koers te kom.
Hoe betroubaar was hierdie stelsel? Toe Europese seevaarders dikwels nog naby die kus gebly het omdat hulle bang was dat hulle van die rand van ’n plat aarde sou afval, het Pasifiese seevaarders blykbaar groot afstande tussen betreklike klein eilandjies op die oop see afgelê. Meer as 1 500 jaar gelede het Polinesiërs byvoorbeeld die Marquesas-eilande verlaat en noord oor die uitgestrekte Stille Oseaan gevaar. Teen die tyd dat hulle Hawaii bereik het, het hulle 3 700 kilometer afgelê! Volgens eilandlegendes het eertydse Polinesiërs heen en weer tussen Hawaii en Tahiti gevaar. Party geskiedkundiges sê dat hierdie verslae niks meer as legendes is nie. Maar hedendaagse seevaarders het daardie selfde roete gevolg deur met behulp van die sterre, oseaandeinings en ander natuurverskynsels te navigeer—sonder instrumente.
Deur die wind aangedryf
Seilskepe is aan die genade van die wind oorgelewer. Met ’n bries van agter kon ’n vaartuig teen ’n redelike spoed voortbeweeg, maar ’n teenwind het die skip aansienlik stadiger gemaak. ’n Windstilte, soos wat dikwels in die doldrums—die streek om die ewenaar—ondervind is, het geen vooruitgang beteken nie. Mettertyd het seevaarders heersende seewinde ontdek wat gehelp het om hoofseeroetes vir seilskepe op die oop see tot stand te bring. Seevaarders het goed van hierdie winde gebruik gemaak.
As die winde natuurlik van voor gewaai het, kon dit ook rampspoed en die dood meebring. Toe Da Gama byvoorbeeld in 1497 van Portugal na Indië se legendariese Malabarkus vertrek het, het die heersende winde hom na die Suid-Atlantiese Oseaan gewaai en hom toe suidooswaarts na Afrika om die Kaap die Goeie Hoop teruggedryf. Maar in die Indiese Oseaan het hy die moeson teëgekom—winde wat seisoenaal van rigting verander. Vroeg elke jaar kom die somermoeson in die suidwestelike deel van die Indiese Oseaan op, en maande lank waai dit alles op see in die rigting van Asië. Laat in die herfs neem die wintermoeson oor. Dit kom uit die noordooste en waai in die rigting van Afrika. Maar Da Gama het Indië in Augustus verlaat en het kort voor lank met ongunstige winde te kampe gehad. Terwyl dit 23 dae geneem het om ooswaarts oor die Indiese Oseaan te vaar, het sy terugvaart byna drie maande geduur. As gevolg van hierdie vertraging was daar ’n tekort aan vars kos, en baie van sy bemanning het aan skeurbuik gesterf.
Slim seevaarders op die Indiese Oseaan het geleer om die kalender sowel as die kompas na te gaan. Skepe wat ooswaarts verby die Kaap die Goeie Hoop gevaar het, moes teen die vroeë somer na Indië vertrek, anders sou hulle dalk maande lank vir gunstige winde moes wag. Daarenteen het skeepskapteine laat in die herfs van Indië na Europa vertrek sodat hulle die somermoeson kon vryspring. Die roete oor die Indiese Oseaan was dus soos ’n wisselende eenrigtingstraat—seeverkeer tussen Europa en Indië se Malabarkus het dikwels net in een rigting op ’n slag beweeg.
Navigasie maak vooruitgang
Tyd het verbygegaan en die navigasiekuns het uiteindelik ’n nuwe rigting ingeslaan. Meganiese instrumente het seevaarders minder afhanklik gemaak van raaiwerk en van wat met die blote oog gesien kan word. Die astrolabium en later die akkurater sekstant—toestelle wat die hoogte van die son of ’n ster bo die horison bepaal—het seevaarders in staat gestel om hulle breedteligging noord of suid van die ewenaar vas te stel. Die chronometer—’n betroubare, seewaardige horlosie—het hulle die vermoë gegee om hulle lengteligging, hulle oos- of wesposisie, vas te stel. Hierdie instrumente was baie akkurater as gisbestek.
Vandag dui girokompasse noord aan sonder ’n magnetiese naald. Met die Globale posisiebepalingstelsel kan ’n mens jou presiese posisie met die druk van ’n paar knoppies vasstel. Elektroniese instrumente vervang dikwels papierkaarte. Ja, navigasie het ’n presiese wetenskap geword. Maar al hierdie ontwikkelinge gee ons net groter respek vir die moed en vaardigheid van die eertydse seevaarders wat hulle vaartuie oor uitgestrekte, oop seë gestuur het met niks meer as hulle kennis van die water, sterre en wind nie.
[Diagram/Prente op bladsy 12, 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Gisbestek
Gisbestek is noukeurig aangeteken vir toekomstige seereise
1 Beginpunt
↓
2 Spoed ’n Stuk hout, ’n tou waarin knope ewe ver
uitmekaar gemaak is en ’n tydtoestel is gebruik
om spoed te bereken
↓
3 Koers Koers is bepaal deur die seestrome, sterre, son
en wind waar te neem
[Prente]
Kompas
Sekstant
[Prent op bladsy 14]
Vandag maak hipertegnologiese instrumente navigasie ’n presiese wetenskap
[Erkenning]
Kværner Masa-Yards