Ons beskou die wêreld
Rustelose ruimtevaart
Nadat die ruimtevaarder Jerry Linenger in 1997 vyf maande aan boord die Russiese ruimtestasie Mir deurgebring het, het hy gesê dat die verandering van dag na nag elke 90 minute, terwyl Mir om die aarde gewentel het, sy slaappatrone erg versteur het. Waarom? Omdat hulle energie wou bespaar, was sonlig wat deur die vensters geskyn het, Mir se vernaamste ligbron. “’n Dag-nag-siklus, wat 15 keer per dag herhaal word, begin jou ná ’n ruk aantas”, het Linenger gesê. Met verwysing na die uitwerking wat die onreëlmatige slaappatrone op twee van sy mederuimtevaarders gehad het, het hy gesê: “Hulle sou aan die slaap raak en langs jou verby dryf.” Volgens die tydskrif New Scientist “sal toekomstige langafstandsendings slegs suksesvol wees” as maniere gevind word om te voorkom dat ruimtevaarders se daaglikse ritmes versteur word. Anders “kan dit ’n groot probleem wees om te keer dat ruimtevaarders op lang ruimtereise insluimer”.
Vrugtevlieë het dit eerste gedoen
Dit is voorwaar ’n uitdaging vir ingenieurs om ’n enjin te ontwerp wat die regte hoeveelheid brandstof en suurstof meng om ’n motor teen verskillende snelhede aan te dryf en wat nog steeds te alle tye skoon brand. Motorontwerpers kry dit reg deur gebruik te maak van “’n stelsel van kleppe wat die brandstof- en lugtoevoer onmiddellik kan aanpas na gelang van hoeveel krag nodig is”, sê The New York Times. Maar navorsers wat die vrugtevlieg by die Universiteit van Würzburg in Duitsland bestudeer, het onlangs gevind dat vrugtevlieë al lank ’n verbasend soortgelyke metode gebruik om die regte hoeveelheid suurstof in te neem en koolstofdioksied vry te stel en terselfdertyd nie te veel waterdamp te verloor nie. Die vrugtevlieg het klein openinge, wat spirakels genoem word, op sy borsstuk en agterlyf wat hy gebruik om die “behoorlike uitwisseling van asemhalingsgasse [te reguleer] terwyl hy waterverlies verminder”, sê die koerant. Dit voeg by dat die openinge “in die loop van net ’n paar sekondes heeltemal oop of toe kan gaan, met talle tussenposisies”.
Deur die liefde bedwelm
Om verlief te raak, kan by baie mense ’n gevoel van euforie laat ontstaan, sê El Universal, ’n koerant van Mexikostad. Dit verhoog die konsentrasie van neurotransmittors soos dopamien in die brein. Die gesinsielkundige Giuseppe Amara sê dat party mense nie hierdie gevoel van euforie wil verloor nie en dus op die een persoon na die ander verlief raak sonder om ’n blywende verhouding op te bou. Die gevoel van euforie kan maande of selfs tot twee jaar lank voortduur. Hierdie gevoelens verdwyn dan geleidelik, en die persoon kan die volgende fase ingaan, waarin die vlak van die hormoon oksitosien toeneem, wat tot ’n gevoel van liefde en diepe gehegtheid lei. Hoewel die euforiese fase van romantiese liefde baie aangenaam is, sê Amara, kan dit ’n mens se oordeel vertroebel sodat jy nie die tekortkominge van die ander persoon sien nie. Gevolglik, sê El Universal, beveel spesialiste aan dat paartjies nie trou voordat hulle “mekaar goed genoeg ken om ’n goeie verhouding te handhaaf” nie.
Al hoe meer mense in Spanje skei en gaan uitmekaar
“Ons hoef nie daarmee tevrede te wees om ons hele lewe lank net een huwelik te hê nie”, sê Inés Alberdi, sosioloog en skrywer van die boek La nueva familia española (Die nuwe Spaanse gesin). Soos berig is in die koerant El País voel baie Spaanse egpare blykbaar ook so. Volgens ’n onlangse studie deur die Departement van Justisie skei of gaan elke tweede egpaar in Spanje uitmekaar. Deskundiges voorspel dat huweliksverbrokkeling verder sal toeneem as gevolg van veranderende beskouings van die huwelik en omdat vroue groter ekonomiese onafhanklikheid geniet. “Egpare is nie juis selfopofferend nie, [en] jongmense is nie bereid om enigiets te verdra nie”, verduidelik Luis Zarraluqui, president van die Spaanse Vereniging van Gesinsprokureurs. “Die aantal verbrokkelde huwelike neem [selfs] onder ouer persone skerp toe, veral wanneer hulle aftree-ouderdom bereik.” Tradisionele godsdiensopvattings kan nie hierdie tendens stuit nie. Hoewel 85 persent van Spanjaarde verklaarde Katolieke is, het die aantal egpare wat skei of uitmekaar gaan, in die afgelope 20 jaar met 500 persent toegeneem.
Gevare van die deursteekgier
Dit is ’n baie gewilde gebruik om gaatjies deur verskillende liggaamsdele te steek om juwele te dra—veral onder jongmense. “Ongelukkig dink hulle selde aan die gevolge van hierdie stap”, sê die Poolse tydskrif Świat Kobiety. “Die tydperk van jeugdige opstandigheid gaan verby, en ’n wenkbrou vol metaalversiersels word nie langer as aantreklik beskou nie.” En hoewel die versiersels dalk verwyder kan word, sal dit littekens agterlaat. As ’n mens gaatjies deur die vel in jou gesig steek, kan dit ook senuwees en bloedvate beskadig en tot “gevoelloosheid” lei, sowel as “infeksies en wonde wat lank neem om gesond te word”. Bakterieë floreer in die mond omdat dit “klam en warm” is, en daarom lei dit dikwels tot infeksies en selfs tandbederf wanneer deursteekjuwele in die mond gedra word. Vetsiste in die vorm van harde knoppies kan ontwikkel as gaatjies deur plekke met baie vetselle gesteek word, soos die naeltjie en die ore. Die artikel waarsku dat “metaalversiersels dikwels nikkel bevat. Mense wat allergies is vir hierdie metaal, kan allergiese reaksies ondervind, soos swelling en ’n jeukerige uitslag.”
“Minderwaardige kosmetiese chirurgie”
Oor die afgelope tien jaar het regsgedinge ná verbroude plastiese chirurgie met 117 persent in Frankryk toegeneem, sê die nuustydskrif Le Point, met 1 uit elke 3 gevalle weens operasies aan die borste. Volgens spesialiste is tot 30 persent van kosmetiese operasies nie heeltemal bevredigend nie, en sommige pasiënte het selfs gesterf weens komplikasies ná die operasie. Dr. Pierre Nahon, wat self ’n kosmetiese chirurg is, het hom uitgespreek teen wat hy “minderwaardige kosmetiese chirurgie” noem en gesê: “Ons kan almal ’n operasie wat gewoonlik twee uur neem, binne 20 minute uitvoer. Maar die resultaat is nie dieselfde nie.” Volgens Le Point “is hulle kieskeuriger oor hulle prokureurs as oor hulle chirurge”.
Kommer oor gesondheidsorg in Europa
Daar is groot ontevredenheid oor gesondheidsdienste in sommige Europese lande. Syfers wat deur die Europese Kommissie bekend gemaak is, toon dat baie mense in Portugal, Griekeland en Italië voel dat hulle gesondheidsorg onvoldoende is. Europese gesondheidsdienste is wel onder groot druk. Namate die aantal bejaardes in die bevolking toeneem, kry al hoe meer mense siektes soos Alzheimer se siekte. Aan die ander kant meen gesondheidsamptenare dat Europeërs beter na hulle gesondheid kan omsien. Volgens die nuusbrief EUR-OP News is “diëte, ’n onaktiewe lewenswyse en die oormatige inname van versadigde vette as gevaarlike tendense geïdentifiseer”, en “die aantal oorgewig mans en ondergewig vroue . . . is aan die toeneem”.
Geweld teen predikante
“Predikante word deur aggressiewe middelklasgemeentelede wat hulle humeur verloor het, uitgeskel en aangerand in geskille oor troues en doopplegtighede”, berig The Sunday Telegraph van Londen. Volgens ’n studie onder 1 300 geestelikes in die suidoostelike deel van Engeland is meer as 70 persent van hulle oor ’n tydperk van twee jaar uitgeskel, ongeveer 12 persent aangerand en 22 persent met geweld gedreig. Volgens dr. Jonathan Gabe, hoof van die navorsingspan by die Universiteit van Londen se Royal Holloway-kollege, is die probleem dat “gemeentelede, om die minste te sê, beledigend is as hulle nie hulle sin kan kry nie”. Hy het ook die slegte gedrag van gemeentelede toegeskryf aan “’n verbruikersgemeenskap wat al hoe aanmatigender word en ’n afname in die publiek se respek vir openbare figure en vertroue in hierdie persone”. As gevolg hiervan bied sommige bisdomme onder andere opleiding in selfverdediging aan om geestelikes te help om gewelddadige gemeentelede te hanteer.