Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 9/22 bl. 16-19
  • Vasgevang in ’n goue traan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vasgevang in ’n goue traan
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goud van die Noorde
  • Wat is amber?
  • Ontginning van die verlore skat
  • Van ruwe rots tot gepoleerde juweel
  • Kykie op ’n antieke woud
  • Herskepping van die verlede?
  • Die “goud” van die Noorde
    Ontwaak!—2001
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
  • ’n Paradys herwin van die woestyn
    Ontwaak!—2004
  • Van ons lesers
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 9/22 bl. 16-19

Vasgevang in ’n goue traan

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

’NMIER skarrel oor ’n boomstam, onbewus van die gevaar wat voorlê. Skielik sit een been vas, dan ’n ander, totdat die mier in die boom se heuningagtige hars vasgevang is. Nog ’n goue druppeltjie val op die mier. Dit is nou onmoontlik om te ontsnap. Uiteindelik val die klewerige hars waarin die mier vasgevang is, na die grond. Reën spoel die vasgevangde mier in ’n rivier in, waar dit in slyk begrawe word. Duisende jare later word die mier ontdek, perfek bewaar in ’n goue traan. Die hars het verhard en amber geword—een van die mens se kosbaarste skatte.

Hoeveel weet ons van amber? Kan amber en die insekte wat daarin vasgevang is, ons iets omtrent die verre verlede vertel? Kan dit gebruik word om lewensvorme te herskep wat lank reeds uitgesterf het?

Goud van die Noorde

Amber se geheimsinnige oorsprong en warm, goue prag fassineer die mens al duisende jare lank. Dit het boonop gelyk of amber verbasende eienskappe het! Ongeveer 600 v.G.J. het die Griekse wetenskaplike Tales waargeneem dat amber vere of klein stukkies strooi kan aantrek wanneer dit met lap gevryf word. Hierdie “verbasende eienskap” is statiese elektrisiteit. Trouens, in sommige tale is die woord vir “elektrisiteit” afgelei van die Griekse woord vir amber—elektron. Meer as tweeduisend jaar later het die Engelse geneesheer William Gilbert ontdek dat ander stowwe ook statiese elektrisiteit kan voortbring.

Tussen 54 en 60 G.J. het die Romeinse keiser Nero ’n leëroffisier gestuur om na die bron van hierdie kosbare stof te soek. Hy het noordwaarts gereis en dit gevind—die Baltiese kus—en teruggekeer met honderde kilogram amber. In Rome het die prag en veronderstelde vermoë van amber om die draer daarvan teen kwaad te beskerm, dit baie waardevol gemaak. Dit was ook ’n bestanddeel in geneesmiddels en salwe. Die Romeinse geskiedkundige Plinius het berig dat amber so gewild was dat daar groter waarde geheg is aan amberbeeldjies as aan ’n gesonde slaaf!

Die vroegste beskawings van noordelike Europa het amber, wat soms die goud van die Noorde genoem is, verruil vir yster, koper en ander goedere uit die Suide. Gedurende die Middeleeue het die Duitse Orde, wat kort tevore van die Kruistogte af teruggekeer het, streng beheer uitgeoefen oor die amberhandel in Europa en die verwerking daarvan. Die ongemagtigde versameling van amber was strafbaar met die dood.

Intussen het die Taino-Indiane ook amber ontdek op die Karibiese eiland Quisqueya, nou die Dominikaanse Republiek en Haïti. Toe Columbus Quisqueya in 1492 vir die eerste keer besoek het, het hy ’n jong hoofman op die eiland ’n string blink amberkrale gegee. Columbus was blykbaar verbaas toe die hoofman vir hom ’n paar skoene gegee het wat met amberkrale versier is!

Wat is amber?

Amber van die Dominikaanse Republiek is die verharde hars van ’n uitgestorwe tropiese breëblaarboom. Sekere verwante spesies, plaaslik bekend as algaroba, groei nog in die Karibiese gebied, sowel as in Sentraal- en Suid-Amerika. Maar die spesies wat die naaste verwant is aan die antieke Dominikaanse “amberboom”, word slegs in Oos-Afrika aangetref. Amber van die Baltiese streek in Europa kom van ’n keëldraende boom.

Hoe word amber gevorm? Eerstens word die bas van die boom op die een of ander manier oopgebreek—’n tak word afgebreek, die stam word oopgesny of die boom word deur boorkewers aangeval. Dan skei die boom die klewerige hars af om die wond te seël. Ongelukkige insekte of ander klein diertjies wat in die hars vasgevang word, word uiteindelik heeltemal daardeur omhul. Anders as die boom se sap, wat uit water en ander voedingstowwe bestaan, bestaan die hars uit mengsels van terpene, alkohole en esters. Hierdie chemiese stowwe dien as uitdroogmiddels en antibiotika. Dit balsem enige insek en plant daarin. Onder die regte omgewingstoestande verhard die hars stadig en word dit amber, sodat die inhoud daarvan duisende jare lank bewaar word. Amber is dus die gefossileerde hars van antieke bome.

Ontginning van die verlore skat

Hoewel amber regoor die wêreld gevind word, bevat slegs ongeveer 20 gebiede genoeg amber om die ontginning daarvan winsgewend te maak. Tans word die meeste amber in die Baltiese streek van Oos-Europa, in die Dominikaanse Republiek en in sommige dele van Mexiko ontgin.

Die ontginning van amber is ’n veeleisende taak. Baie wetenskaplikes glo dat die hars slegs in amber sal verander as dit onder die grond, gewoonlik in nat klei- of sanderige sediment, begrawe is. Baie myne in die Dominikaanse Republiek word in hoogliggende, ruwe terrein aangetref wat met welige, subtropiese woude oortrek is. Soms is steil bergpaadjies wat te voet of op ’n donkie aangedurf moet word, die enigste manier om hulle te bereik.

Party myne is oop, diep putte. Maar ander is nou tonnels wat tot 200 meter lank is. Omdat masjinerie en plofstof amber kan laat kraak, verg dit groot inspanning van die myners om die harde sandsteen en swaar klei met beitels, pikke en grawe weg te werk. Dikwels het die myners net ’n kers om te sien waar hulle werk.

Van ruwe rots tot gepoleerde juweel

Nadat die amber uit die rots verwyder is, neem die myner dit in die helder sonlig, was hy dit en beitel hy die rotsagtige kors aan die een kant af. Hy smeer dan olie op die blootgestelde oppervlak sodat hy binne-in die amber kan kyk. Hy soek na insluitsels—gefossileerde werweldiere, insekte of ander organiese materiaal wat dalk in die amber is. Insekinsluitsels kom in 1 uit 100 stukke Dominikaanse amber voor. In teenstelling hiermee word insekte in slegs 1 uit 1 000 stukke Baltiese amber gevind. Dit is deels omdat Baltiese amber gewoonlik ondeursigtig is, terwyl meer as 90 persent van Dominikaanse amber deursigtig is.

Die amber word sorgvuldig volgens grootte, vorm, kleur en inhoud gesorteer. Die meeste van die duisende stukke amber wat elke week uitgegrawe word, is klein. Maar nie almal nie. Een stuk Dominikaanse amber weeg ongeveer agt kilogram! Klein stukkies wat geen insluitsels het nie, word vir juweliersware gebruik, terwyl die waardevolste stukke na privaat versamelaars of museums gaan.

Die meeste amber kom voor in ryk skakerings van geel en goud. ’n Paar stukke blou amber word elke maand in die Dominikaanse Republiek ontgin. Groen amber is selfs seldsamer. Hierdie verskeidenheid kleure is blykbaar te wyte aan variasies in die chemiese samestelling van die hars en die minerale in die omliggende grond.

Kykie op ’n antieke woud

Omdat dit sulke unieke kenmerke het, het amber en sy “gevangenes” die welige tropiese ekosisteme waaruit hulle kom, oorleef. Die organiese materiaal in die meeste fossiele het versteen—die oorspronklike weefsel is deur minerale vervang. Daarenteen is amber self organies, net soos enige dier of plant wat dit bevat. As dit deursigtig is, kan die ou skatte daarin bestudeer en in drie dimensies gefotografeer word sonder om dit te beskadig. Amber is dus al ’n goue venster op die verlede genoem, want dit bevat nie net ’n rekord van insekte en klein werweldiere nie, maar ook van die plante en klimaat van ekosisteme wat lank reeds verdwyn het.

Wat is die waardevolste insluitsels? Dit hang baie af van die versamelaar se perspektief. Sommige van die waardevolste insluitsels is dié wat amberentoesiaste die drie skatte noem—skerpioene, akkedisse en paddas. Omdat hulle groter en sterker is as baie insekte, kon die meeste hulle maklik van die hars losgebreek het. Dié wat vasgevang is, was gewoonlik baie klein of is miskien weens siekte of beserings deur roofdiere verswak. Hoe seldsaam is sulke vondste? Baie seldsaam! Een versamelaar skat dat slegs 30 tot 40 skerpioene, 10 tot 20 akkedisse en 8 of 9 paddas al gevind is. Dié wat gevind is, is baie waardevol. ’n Stuk Dominikaanse amber wat ’n klein padda bevat, is in 1997 gevind, en die waarde daarvan word op meer as R500 000 geskat.

Vir party wetenskaplikes is ander soorte insluitsels selfs fassinerender. Omdat insekte dikwels vinnig vasgevang is, bevat baie stukke amber “kiekies” van antieke geskiedenis. Aanduidings van insekte se gedrag, soos dié van ’n roofdier en sy prooi, kan waargeneem word. Party insluitsels wat eiers, larwes wat uitbroei, spinnekopkokons met embrio’s of pasuitgebroeide spinnekoppe bevat, stel wetenskaplikes in staat om die stadiums van insekontwikkeling te bestudeer. ’n Stuk amber in ’n museum in Stuttgart, Duitsland, bevat ’n antieke kolonie van 2 000 miere.

Met behulp van insluitsels kan daar ook meer oor die flora van die antieke woud geleer word. Blomme, sampioene, mos, blare en sade wat in amber bewaar is, het dit moontlik gemaak om talle antieke plante en bome te identifiseer. Verder is wetenskaplikes redelik seker dat vyebome ook daar gegroei het, al het hulle geen blare of takkies van hierdie bome gevind nie. Waarom? Omdat verskeie perdebyspesies al in amber ontdek is—perdebye wat hulle weet slegs in vye lewe. Dit is dus redelik om aan te neem dat vyebome ook in die woud gegroei het.

Herskepping van die verlede?

’n Paar jaar gelede is ’n gewilde rolprent gebaseer op die veronderstelling dat dinosourusse gereproduseer kan word uit die DNS van dinosourusbloed in muskiete wat in amber vasgevang is. Baie wetenskaplikes twyfel of dit werklik moontlik is. Alle lewende dinge het hulle eie DNS waarin die gekodeerde instruksies is wat hulle oorgeërfde eienskappe bepaal. Maar hoewel wetenskaplike eksperimente klein fragmente DNS herwin het uit party insekte en plante wat in amber gevind is, het hierdie eksperimente nog lank nie uitgestorwe diere herskep nie.

Hierdie DNS is nie net beskadig nie, maar is ook onvolledig. Volgens een skatting is die herwinbare fragmente moontlik slegs ’n miljoenste van al die inligting in die organisme se genetiese kode. Om daardie kode te reproduseer, is al vergelyk met die taak om ’n boek met duisende bladsye uit een onvolledige sin te reproduseer.a

Hoe dit ook al sy, die idee om dinosourusse te kloon, het hernieude belangstelling in amber gewek, en daar is nou ambertentoonstellings in museums regoor die wêreld. By die Amberwêreld-museum in Santo Domingo, Dominikaanse Republiek, kan besoekers interaktiewe uitstallings geniet en amber onder kragtige mikroskope bestudeer. In ’n werkswinkel by die museum omskep vernuftige vakmanne ruwe amber in pragtige juweliersware en edelstene wat fossiele bevat.

Amber fassineer die mens al baie eeue lank. Vandag word amber as iets kosbaars beskou weens sy warm, geheimsinnige prag. Dit gee ons ook waardevolle insig in die verlede.

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 22 Maart 1995, bladsye 3-10, vir meer inligting oor genetika.

[Prente op bladsy 17]

Verskeie insekte en paddas is al in amber gevind

[Prente op bladsy 18]

Gepoleerde juweliersware word van klein stukkies amber gemaak

[Foto-erkennings op bladsy 17]

Insekte in amber op bladsye 2, 16 en 17 en juweliersware op bladsy 18: Cortesía Museo Mundo de Ambar, Santo Domingo RD - Foto Gianfranco Lanzetti; bladsy 17 padda: Cortesía Museo Mundo de Ambar, Santo Domingo RD e Nelson Fulgencio - Foto Gianfranco Lanzetti

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel