Die raaiselagtige getye van Evripos
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND
AAN die oostekant van Griekeland, naby die stad Khalkis, skei ’n nou seestraat die vasteland van die eiland Évvoia. Dit is die Evripos-kanaal. Dit is agt kilometer lank en wissel in wydte van 1,6 kilometer tot net 40 meter. Op sy vlakste plek is dit net ses meter diep. Die naam Evripos, wat “vinnige stroom” beteken, is ’n goeie beskrywing van die soms onstuimige vloei van die kanaal se water, wat dikwels ’n snelheid van bykans 20 kilometer per uur bereik. Maar vreemd genoeg, op party dae beweeg die stroom met min krag heen en weer of hou dit selfs heeltemal op met vloei! Baie mense wat Khalkis besoek, kom na ’n klein bruggie oor die kanaal om hierdie ongewone getyverskynsel te sien.
Getye ontstaan as gevolg van die aantrekkingskrag wat die son en maan op die aarde se seë uitoefen. Daarom verander getye volgens die aarde se posisie in verhouding tot die son en die maan. Gedurende die tyd van die nuwemaan lê die son en die maan aan dieselfde kant van die aarde. Gedurende die volmaan is hulle aan teenoorgestelde kante van die aarde. In albei gevalle werk die son en maan saam om die hoogste getye te laat ontstaan.
Die Evripos-kanaal ondervind gewoonlik elke 24 uur of so twee hooggetye en twee laaggetye. Die stroom vloei 6 uur en 13 minute lank in een rigting, staan kortliks stil en vloei dan weer in die teenoorgestelde rigting. Dit volg 23 of 24 dae van die maanmaand hierdie gereelde patroon. Maar gedurende die laaste vier of vyf dae van die maand gebeur ongewone dinge. Op party dae vloei die stroom net in een rigting. Op ander dae verander dit tot 14 keer van rigting!
Pogings om die verskynsel te verduidelik
Die verskynsel van Evripos slaan waarnemers al duisende jare lank stom. Volgens volksoorlewering het Aristoteles, van die vierde eeu v.G.J., hier verdrink toe hy in die kanaal gespring het uit wanhoop omdat hy nie die raaisel van die getye kon oplos nie. In werklikheid het hy homself nie probeer verdrink nie, maar eerder die getye probeer verduidelik. In sy werk Meteorologica het hy geskryf: “Dit lyk asof die see deur die nou gaping vloei weens die omliggende land. Dit vloei van ’n kleiner watermassa in ’n groter watermassa omdat die grond heen en weer beweeg.” Aristoteles het verkeerdelik gedink dat die grond self heen en weer beweeg het as gevolg van die golwe van die see en as gevolg van die aardbewings wat dikwels in die omgewing plaasvind. Sowat ’n eeu later het die Griekse sterrekundige Eratostenes besef dat “die see aan elke kant [van die kanaal] ’n verskillende vlak het”. Hy het gedink dat die strome voorkom omdat die twee oewers van die seestraat verskillende hoogtes het.
Selfs vandag word die onreëlmatigheid van die getye van Evripos nie ten volle verstaan nie. Maar dit is duidelik dat die gewone stroom die gevolg is van ’n verskil in watervlak aan die twee ente van die kanaal. Dit veroorsaak dat water vinnig afspoel van die hoër vlak na die laer vlak. Die verskil kan tot 40 sentimeter wees, en dit kan van die brug by Khalkis gesien word.
Waarom die verskil?
Hoe kan die verskil in die watervlakke verduidelik word? Die inkomende getystroom van die oostelike Middellandse See vertak wanneer dit Évvoia-eiland bereik. Die westelike vertakking vloei in die suidelike kant van die kanaal in. Maar die oostelike vertakking moet heeltemal om die eiland gaan voordat dit die kanaal aan die noordekant binnegaan. Hierdie langer roete vertraag die oostelike stroom se aankoms by Evripos met sowat ’n uur en ’n kwart. Onder hierdie omstandighede kan die seevlak en gevolglik die waterdruk aan die een kant van die kanaal baie hoër wees as aan die ander kant. Die hoër druk laat die gewone getystrome sterker deur Evripos vloei.
Maar wat van die onreëlmatige strome? Gedurende die eerste en laaste kwartier van die maan werk die swaartekrag van die son teen die maan se swaartekrag pleks van dit te versterk. Terwyl die maan ’n laaggety laat ontstaan, probeer die aantrekkingskrag van die son ’n hooggety veroorsaak. Gevolglik is daar gedurende hierdie tye ’n kleiner verskil tussen die seevlakke aan die noordelike en die suidelike kante van die kanaal. Die krag van die stroom is dus swakker. Soms, wanneer daar wind is, word die stroom heeltemal geneutraliseer en kom dit tot stilstand.
Daar is natuurlik selfs meer wat ons oor die stroom se interessante, raaiselagtige werking kan vertel. As jy ooit in Griekeland is, kan jy gerus na Évvoia kom en self die fassinerende verskynsel van die getye van Evripos waarneem!
[Kaarte op bladsy 12, 13]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
MIDDELLANDSE SEE
EGEÏESE SEE
ÉVVOIA
Khalkis
Die Straat van Evripos
GRIEKELAND
ATENE
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prent op bladsy 13]
Lugfoto van die Straat van Evripos