Krag uit die getye
Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada
ENERGIE! Die hedendaagse samelewing het ’n onlesbare dors daarna. En sedert die olieverbod van 1973 wat ’n geweldige toename in oliepryse tot gevolg gehad het, soek wetenskaplikes na ’n alternatief vir fossielbrandstof. Die onlangse oorlog in die Persiese Golf het getoon hoe ernstig die nasies ’n moontlike onderbreking in olievoorrade uit die Midde-Ooste beskou.
Eksperimentele projekte wat eenmaal voorgestel is maar in minder kritieke tye opsy gestoot is, word nou herondersoek. Byvoorbeeld, wat van die oseaan se magtige getye? Kan hulle ekonomies benut word om elektrisiteit op te wek?
’n Paar jaar gelede het Kanadese ingenieurs begin om die fenomenale getye van Fundybaai waar te neem. Die baai is geleë tussen twee van Kanada se Atlantiese kusprovinsies, Nova Scotia en Nieu-Brunswyk, en is bekend vir sy getye—wat van die hoogstes in die wêreld is, met ’n styging van tot 16 meter. Getykragstasies was reeds in Frankryk en die Sowjetunie in werking, waarom dan nie in Kanada nie?
’n Volwaardige projek is dus voorgestel wat 4 800 megawatt—6,5 miljoen perdekrag—elektriese energie sou opwek. (Vergelykenderwys wek ’n hele kernkragstasie in nabygeleë Nieu-Brunswyk slegs 600 megawatt op.) Die koste van so ’n getykragprojek sal egter astronomies wees—dit is in 1981 geraam op ongeveer R12 500 000 000!
Die proefaanleg
Die regering het oordeelkundig opgetree en eers die fondse voorsien vir ’n proefaanleg om die ontwerp en doeltreffendheid daarvan te toets. Dit word die Annapolis-getykragprojek genoem en is geleë in ’n dam in die Annapolisrivier, wat in die Annapoliskom invloei, ’n getyrivierkom wat op sy beurt in Fundybaai, naby die dorp Annapolis Royal, Nova Scotia, invloei. Nadat die aanleg teen ’n koste van R154 miljoen voltooi is, het dit in 1984 begin om elektrisiteit op te wek.
Meer as 40 000 mense het die Annapolis-getykragprojek in ’n onlangse jaar besoek, waarvan party tot van Siberië en China af gekom het. Met die eerste oogopslag kan die aanleg egter teleurstellend voorkom omdat jy net ’n eenvoudige betonbunker van twee verdiepings op ’n verhoogde pad sien—daar is min aanduiding dat dit Noord-Amerika se eerste getykragstasie is.
Verder sien jy nie daar ’n groot personeel van besige ingenieurs nie. Die aanleg word beheer deur rekenaars wat ongeveer 100 kilometer daarvandaan geleë is, en dit het slegs ’n paar onderhoudsmense aan diens nodig. Tog wek die stasie jaarliks 30 miljoen kilowatt-uur se krag op—genoeg om 8 000 huise van krag te voorsien. Hoe doen hy dit?
Hoe dit werk
Die geheim van die aanleg se sukses lê in ’n uitgrawing van oor die 30 meter onder die oppervlakte weggesteek—die wateraangedrewe turbine. Die manier waarop dit werk, is verbasend eenvoudig. Die turbine word op ’n klein eilandjie geplaas wat aan albei kante deur ’n verhoogde pad met die kus verbind is. As die getye in Fundybaai stoot, vloei water uit die Annapoliskom deur sluise in die damwal tot in ’n groot opgaardam bokant die damwal. Wanneer die gety sy hoogste punt bereik, word al die sluise toegemaak.
Wanneer die gety onderkant die damwal sak (met tot 4,6 meter), gaan die sluise oop en loop die opgaardam deur die turbine in die Annapoliskom in leeg. Die krag van die stromende water draai die turbine en wek dus elektrisiteit op. Aangesien die aanleg in werking is wanneer water uitvloei, wek dit slegs ongeveer 11 of 12 uur per dag krag op.
Om aan hierdie vereistes te voldoen, is ’n eksperimentele turbine van 7,6 meter in deursnee ontwikkel. Die magnetiese pole van die ontwikkelaar, wat elektrisiteit opwek wanneer die turbine draai, is aan die kant van die turbine vasgeheg en draai daarmee saam. (Konvensionele turbines draai gewoonlik ’n as wat die ontwikkelaar aandryf.) Die resultaat is ’n kompakter turbine wat doeltreffend is wanneer die snelheid van die water relatief laag is.
Sal die soutgehalte van die water vir die toerusting probleme skep? Die korroderende uitwerking van soutwater is ’n groot probleem, maar ingenieurs het daaraan aandag gegee deur ’n baie klein elektriese stroom in die waterkanaal te plaas om korrosie teë te werk.
Die toekoms van getykrag
As die groter getyaanleg wat vir Fundybaai beplan word, gebou word, sal dit meer as honderd turbines met die gemiddelde grootte van die een by Annapolis bevat. Hulle sal in ’n agt kilometer lange verhoogde pad deur die oostelike deel van die baai geplaas word.
Maar dit kan ernstige probleme veroorsaak as Fundybaai gedeeltelik opgedam word om elektrisiteit op te wek. In die eerste plek is die ontsaglike konstruksiekoste ’n rede tot kommer. Daarbenewens is daar besorgdheid oor skade aan die omgewing. Die moontlikheid dat die getye in Fundybaai met ’n hele paar sentimeter kan verander, kan tot gevolg hê dat groot dele van die kus met soutwater oorstroom word. Die migrasiepatrone van visse kan ook verander word sodat elwe nie na vars water toe kan terugkeer nie.
Nogtans hou Noord-Amerika se eerste getykragstasie, die proefprojek by Annapolis, aan om krag vir Oos-Kanada se elektrisiteitsnetwerk op te wek. Tog is dit net ’n klein druppeltjie nader daaraan om die nasie se groot dors na energie te les.
[Prent op bladsy 26]
Opgaardam
Die getykragstasie laat water terugvloei wanneer die oseaangety sak
Beheersluise maak oop om die gety te laat inkom en maak toe om die opgaardam vol te hou
Fundybaai
[Erkenning]
Courtesy of Nova Scotia Power Corporation