Albastersnywerk—die antieke kuns van Volterra
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË
Stel jou ’n stof voor wat in die natuur voorkom waaruit vloeiende, fyn uitgesnyde voorwerpe maklik gemaak kan word—’n veelkleurige klip waarvan die prag, deurskynendheid en aarpatrone dit ’n geskikte medium maak om ryklik versierde kunsvoorwerpe en fantastiese beeldjies uit te sny. Weet jy wat dit is?
DIT is ’n beskrywing van albaster. Ons het min omtrent hierdie klip geweet voor ons die tradisionele sentrum vir die vervaardiging daarvan in Italië besoek het—die stad Volterra in Toskane.
Albastersnywerk het ’n lang geskiedenis in Volterra, wat teruggevoer kan word na die dae van die Etruskiërs, die antieke inwoners van die streek. Tussen al die artefakte wat ons in die plaaslike Etruskiese museum bewonder het, was honderde albasterlykbusse—reghoekige klipkissies waarin die as van die afgestorwene ná verassing begrawe is—wat dateer uit die vierde tot die eerste eeu v.G.J. Hierdie klipkissies is ryklik versier met reliëfsnywerk, wat dikwels tonele insluit van die afgestorwene se veronderstelde reis na die hiernamaals.
Die Etruskiërs was natuurlik nie die enigstes wat albaster in antieke tye gebruik het nie. Die Egiptenare het ook baie daarvan gebruik. Daar is egter ’n verskil in die chemiese samestelling tussen hierdie Oosterse albaster—waarna die Bybel ook verwys—en die veel sagter Volterraanse kalkalbaster.
Marmer is ook op groot skaal in antieke Griekse en Romeinse kuns gebruik, maar in vergelyking met hierdie “edele” materiaal is kalkalbaster as ’n minderwaardige stof beskou. Dit is ’n sagter, brosser klip, wat maklik gekrap kan word, en het dus in vergelyking met marmer altyd ’n ondergeskikte rol in die argitektuur en kuns gespeel. Albasterbeeldhouwerk is nie bestand teen blootstelling aan die elemente nie. In die argitektuur word albaster hoofsaaklik vir binneversiering gebruik. Maar omdat albaster so sag is, is dit ’n uiters geskikte medium waaruit fyn detail gesny kan word.
Ontwikkeling van ’n bedryf
Daar is geen bewys van albastervervaardiging in Volterra in die eeue ná die tyd van die Etruskiërs en Romeine nie. Maar geskiedkundige verslae bevat verwysings na die kuns in die middel van die 16de eeu. In daardie tyd het Francesco de’ Medici, die aartshertog van Toskane, ’n seldsame en pragtige vaas wat op ’n draaibank gemaak is, by ’n Volterraanse vakman gekoop en dit as ’n geskenk aan die hertog van Beiere gegee. In die 17de eeu het plaaslike vakmanne kunsvoorwerpe en klein sierstukke gemaak. Die kuns het gedurende die 18de eeu aansienlik uitgebrei, en goeie reproduksies van klassieke beeldhouwerk is gemaak. Teen hierdie tyd het Volterraanse albaster regdeur Europa en elders gesog geword.
Gedurende hierdie tydperk het Marcello Inghirami Fei, ’n plaaslike edelman wat bekend was vir sy kunstalent en sakevernuf, die albasterhandel bevorder. Hy het pas ontdekte ondergrondse afsettings van die mineraal begin ontgin, en in 1791 het hy ’n skool gestig waar meer as 100 vakleerlinge die kuns kon leer onder leiding van meerstervakmanne wat van verskillende gebiede van Italië en oorsee gebring is. Die bedryf het floreer.
Die agt of nege albasterwerkswinkels wat in 1786 bestaan het, het teen 1830 tot 60 vermeerder. In daardie jare het sowat 50 avontuurlustige Volterraanse handelaars die markte van Europa tot die Amerikas, Indië en die Verre-Ooste besoek om hoëgehalteprodukte van albaster te verkoop. Party het baie ryk geword. Die bloeitydperk het tot 1870 geduur, maar sedertdien het die handel in albasterprodukte wipplank gery. Nietemin bly albastervervaardiging een van die pilare van die plaaslike ekonomie.
’n Middagwandeling in Volterra
Met sy stil, nou, geplaveide strate, klipgeboue, skilderagtige straathoeke en sonnige piazzas, in die bekoorlike Toskaanse platteland, het Volterra ’n atmosfeer van sy eie. Dit voel of ons teruggevoer is na die Middeleeue. Een somermiddag tydens ’n wandeling saam met vriende gaan ons spesifiek na die Porta all’Arco, ’n indrukwekkende Etruskiese geboë poort, wat uit die vierde eeu v.G.J. dateer en deel is van die Middeleeuse stadsmure.
Ons staan stil voor winkelvensters en bewonder die groepe voëls in vlug, kragtige, steierende perde en grasieuse mensefigure—alles in albaster, maar met die deurskynendheid van matglas. In gewelfde vertoonkamers is daar pragtige urns wat met druiwetrosse en -blare versier is asook reproduksies van klassieke beeldhouwerk sowel as geperforeerde en uitgekerfde vase, kandelaars, skaakstelle, juweelkissies en talle ander ornamente.
Wanneer ons vriende ons belangstelling opmerk, neem hulle ons na stowwerige werkswinkels sodat ons self kan sien hoe vakmanne pragtige produkte van die rou albaster maak. Ons vind uit dat eiervormige rotse, wat tussen twee kilogram en een ton weeg, oneweredig versprei is in Volterra se ondergrondse kalklae. Die klip word gemyn uit oop steengroewe of uit tonnels wat tot 280 meter diep is. Die albaster kom in verskillende kleure voor, van ’n deurskynende wit tot ivoor en geel, van ’n rooierige kleur tot donkerbruin en van grysgroen tot swart, baie met verskillende aarpatrone en grade van ondeurskynendheid.
In die verskillende werkswinkels wat ons besoek, sien ons verskillende produksietegnieke. Ons ontmoet vir Gloria, wat besig is om fyn versierings op ’n bord te ets, en vir Franco, wat besig is om ornamente op ’n draaibank te maak. Talle ronde voorwerpe word so gemaak, van borde en bakke tot ligtoebehore en lampe—waarvoor deurskynende albaster uiters geskik is. Dit lyk of hulle gereedskap en handewerk deurmekaar rondlê—raspers en vyle, houthamers en beitels, druklugmasjiene, sandpapier en halfklaar borsbeelde. Daar word vir ons gesê dat die mense- en dierefigure wat die rakke vol staan, gebruik word as modelle vir die reproduksie van soortgelyke voorwerpe.
Alles is bedek met ’n dik laag wit albasterpoeier. Selfs hierdie stof word gebruik. Standbeeldjies word op groot skaal vervaardig deur ’n mengsel van albasterpoeier en poliëstergom in vorms te giet—maar hierdie produkte moenie verwar word met die egte handgemaakte voorwerpe nie, soos baie vakmanne gou sal uitwys.
Sterk meningsverskille
Daar word gesê dat Volterrane albasterstof in hulle bloed het, en terwyl ons met vriendelike vakmanne gesels, word dit gou duidelik dat daar sterk meningsverskille onder hulle oor hulle eeue oue kunsvorm is. Party beweer dat goedkoop voorwerpe met min of geen artistieke waarde nie die goeie naam van ’n produk bederf wat tradisioneel van hoë gehalte was. Ander voer aan dat daar plek op die mark is vir ’n verskeidenheid produkte, van unieke kunswerke tot ornamente wat in massa geproduseer is. Dit is nie ’n nuwe geskil nie, en dit is nog lank nie verby nie. Genadelose mededinging en handelsbelange oorskadu per slot van rekening soveel menslike aktiwiteite, en dit sal waarskynlik voortgaan om ’n uitwerking op die bedryf te hê.
Maar een ding is seker. Die kunsvermoë wat ons Skepper aan die mens gegee het, sal vir ewig bestaan. Wat ons op ons besoek aan Volterra gesien het, is net een voorbeeld van die fassinerende vaardighede wat almal sal kan vervolmaak wanneer hulle die vervulling van Jehovah God se profetiese woorde sien: “Die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut.”—Jesaja 65:22.
[Prente op bladsy 26]
1. Albasterklip word gemyn uit tonnels wat tot 280 meter diep is. 2. ’n Vakman maak ’n vaas op ’n draaibank. 3. ’n Ryklik versierde albasterurn. 4. ’n Moderne albasterbeeldhouwerk