Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g97 11/8 bl. 24-27
  • Die Etruskers—’n Raaisel wat steeds voortleef

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Etruskers—’n Raaisel wat steeds voortleef
  • Ontwaak!—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Raaiselagtige herkoms
  • Hoe hulle geleef en vooruitgegaan het
  • Hoe Etruskers die lewe geniet het
  • Vreemde godsdiensopvattings
  • Inlywing en ondergang
  • ’n Blywende erfenis
  • Die oorsprong van die hel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Albastersnywerk—die antieke kuns van Volterra
    Ontwaak!—2002
  • Kartago—Die stad wat Rome byna tot ’n val gebring het
    Ontwaak!—2001
  • Hoe om tekste in jou Bybel te kry
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—1997
g97 11/8 bl. 24-27

Die Etruskers—’n Raaisel wat steeds voortleef

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN FRANKRYK

“Die mag van etrurië was só groot dat die naam daarvan wêreldwyd bekend was.”—Livy, Eerste-eeuse Geskiedskrywer.

WAT die Etruskers betref, voel jy dalk dat selfs die ABC van die onderwerp vir jou onbekend is. Maar as die taal wat jy praat die Latynse alfabet gebruik, het jy onwetend ’n deel daarvan aan die Etruskers te danke. As dit nie vir die Etruskers was nie, sou die Latynse alfabet met a, b, g (soos die Griekse alfa, beta, gamma of die Hebreeuse alef, bet, gimel) begin het. Maar al weet filoloë dat die Etruskiese alfabet met a, b, c begin het, is die Etruskiese taal steeds moeilik om te verstaan. En dít is maar net een aspek van die Etruskiese raaisel.

Deur die eeue heen het geskiedkundiges gegis oor die oorsprong van hierdie uiters merkwaardige beskawing. Toe die Etruskers se mag in die vyfde eeu v.G.J. ’n hoogtepunt bereik het, het hulle ’n federasie van 12 stede gevorm met ’n uitgebreide Europese en Noord-Afrikaanse handelsnetwerk. Net vier eeue later is hulle egter heeltemal deur die groeiende Romeinse mag verswelg. Maar wat weet ons van die Etruskers, en waarom leef die raaisel voort?

Raaiselagtige herkoms

Geskiedkundiges, argeoloë en taalkundiges wonder al lank oor die herkoms van die Etruskers. Het hulle uit Lidië, ’n provinsie van Klein-Asië, geëmigreer soos Herodotus gedink het, of was hulle boorlinge van Italië soos Dionisius van Halikarnassos in die eerste eeu v.G.J. beweer het? Is dit moontlik dat hulle van herkoms verskil het? Wat die antwoord ook al is, die etniese en kulturele verskille tussen hulle en die omliggende volke was so groot dat ons nou nie meer seker kan wees waarvandaan hulle gekom het nie.

Ons weet egter wel dat die Etruskers van die agtste eeu v.G.J. af deur die hele Sentraal-Italië heen gedy het. Die Romeine het hulle Tusci, of Etrusci, genoem, en die gebied wat hulle bewoon het, tussen die Arnorivier in die noorde en die Tiberrivier in die suide, het as Toskane bekend geword. Die Etruskiese beskawing het ’n tyd lank ongeveer 50 Italiese volke oorheers.

Hoewel die Etruskiese taal in wese ’n vroeë vorm van die Griekse alfabet gebruik, wat dit oënskynlik maklik maak om te ontsyfer, verskil dit in werklikheid grootliks van enige ander bekende taal. Die grootste deel van die woordeskat wat deur die Etruskers gebruik is, kan nie vertaal word nie. Hulle letterkundige werke was egter volop, aangesien boeke ’n belangrike rol in hulle kultuur gespeel het, veral met betrekking tot godsdiensaangeleenthede. Hoewel duisende voorbeelde van Etruskiese inskripsies vandag nog bestaan—op grafstene, blompotte en albaste sarkofae—bevat hulle betreklik min teks en help hulle dus nie veel om die herkoms en betekenis van Etruskiese woorde te verklaar nie.

Hoe hulle geleef en vooruitgegaan het

Die Etruskiese volk was in onafhanklike stadstate georganiseer wat aanvanklik deur konings en later deur magistrate regeer is. Hierdie stede het ’n Etruskiese bond gevorm, ’n vrye godsdiens-, ekonomiese en politieke vereniging. Party van die Etruskiese huise het lopende water gehad en was langs geplaveide strate met afvoerslote geleë. Drooglegging van grond is op groot skaal gedoen. Etruskiese konings het Rome verander van ’n groep dorpies na ’n sierlike, ommuurde stad wat toegerus is met ’n netwerk afvoerkanale, waaronder die Cloaca Maxima wat vandag nog besigtig kan word.

Die Etruskers het gedy as gevolg van die ryk mineraalafsettings in gebiede onder hulle beheer, soos die ystermyne op die nabygeleë eiland Elba. Om hulle dors na metaal te versadig, het die Etruskers yster, silwer en koper verwerk—en selfs tin van die Britse Eilande af ingevoer. Buiten hierdie rykdom het die gebied waar hulle gewoon het ook vrugbare landbougrond en weivelde gehad, wat graan, olywe en druiwe sowel as timmerhout gelewer het. Hierdie natuurlike hulpbronne sowel as uitgebreide binnelandse en oorsese handel was die rede vir die Etruskers se florerende ekonomie.

Die Etruskers was groot seevaarders. In 540 v.G.J. het ’n gekombineerde vloot van Etruskiese en Kartaagse skepe die Grieke verslaan en sodoende die Etruskers se oorsese handel verseker. Hulle was gereed vir die stryd, aangesien hulle die ramskip uitgevind het wat ’n oorlogskip was. Produkte soos die welbekende bucchero-erdewerk (swart erdewerk) is per skip na afgeleë Spanje en Egipte uitgevoer. Die Etruskers het wyn deur middel van handelsroetes oor land na Gallië (Frankryk) en Germanië (Duitsland) uitgevoer en sodoende hulle roem uitgebrei.

Hoe Etruskers die lewe geniet het

Die Etruskers se kunswerke is bronne van inligting wat nog die beste bewaar is en die meeste omtrent hulle onthul. As ’n volk wat lief was vir weelde, het die Etruskers oordadige goue juweliersware gemaak, waaronder oorringe, borsspelde, hangertjies, armbande en halssnoere. Die manier waarop hulle ingewikkelde sierade met filigraan- en granuleringsontwerpe gemaak het deur piepklein korreltjies goud te gebruik, is selfs vandag nog ’n raaisel. Buiten groot drinkbekers, bakke, koppies en eetserviese in silwer en ander edelmetale het die Etruskers ook ander gesogte materiale, soos ivoor, in hulle beeldhou- en sneewerk gebruik.

Die vele beeldhouwerke, kunswerke en muurskilderye wat al gevind is, lewer bewys van die Etruskers se liefde vir genot. Hulle het daarvan gehou om na strydwawedrenne, bokswedstryde, stoeigevegte en atletiek te kyk. Die koning het hierna gekyk terwyl hy dalk op ’n ivoorstoel gesit het en omring is deur slawe wat tydens veroweringstogte gevange geneem is. Sy pers mantel, ’n simbool van sy status, is later deur die Romeine oorgeneem. Tuis het hy vir maaltye langs sy vrou gesit en ontspan terwyl hy deur sy slawe bedien is en na die musiek van die fluit of dubbelfluit geluister het en iemand vir hom gedans het.

In skrille kontras met die Grieke of die Romeine het vroue in die Etruskiese gemeenskap ’n posisie van sosiale gelykheid geniet. Hulle kon eiendom besit en het sosiale geleenthede bygewoon. Etruskiese dames het hulle eie name en vanne gehad, wat ’n bewys is van hulle aanspraak op wetlike regte.

Vreemde godsdiensopvattings

’n Eerste-eeuse geskiedkundige het die Etruskers beskryf as “’n volk wat meer as enige ander aan godsdiensgebruike toegewy is”. Die Etruskers het ’n magdom gode aanbid en het ’n voorliefde vir drie-eenhede gehad tot wie se eer hulle driedelige tempels, of tempels met drie vertrekke, gebou het. Elke vertrek het een beeld bevat. Die Etruskiese beskawing het rondom mistiese Babiloniese opvattings gedraai. Die opvatting van ’n hiernamaals en ’n onderwêreld was die belangrikste. Lyke is begrawe of veras. Indien hulle veras is, is die as in askruike met verskillende vorme geplaas. Die askruike is in ’n grafkelder geplaas saam met alles wat nodig geag is vir lewe in die onderwêreld, en dit het gepaardgegaan met rituele, offerandes en drankoffers. Die mure van die rykes se grafte is met kleurvolle muurskilderye versier wat ’n verskeidenheid tonele, soms demone of ’n klein dieretuin van skrikwekkende wesens, uitgebeeld het. Soos een bron sê: “Die Etruskers was nog altyd lief vir ’n monster.”

Die Etruskiese gebruik van hepatoskopie, die studie van die lewer as ’n vorm van waarsêery, kan na Babilon teruggevoer word. (Vergelyk Esegiël 21:21.) Die gode was die middelpunt van elke aspek van hulle lewe en besluitneming. Die mense het dinge op die aarde of in die lug as voorbodes beskou. Waarsêery was só algemeen dat gebruike van dié aard as disciplina Etrusca, die Etruskiese wetenskap, bekend geword het.

Inlywing en ondergang

Die eeue oue lyn Etruskiese konings wat oor Rome geheers het, het in 509 v.G.J. tot ’n einde gekom. Dit was ’n voorteken van toekomstige dinge. In die noorde is die Etruskers deur die Kelte bedreig, wie se invalle die Etruskers se beheer oor die gebied verswak het. Vanuit die suide het voortdurende grensgeskille met die Italiese volke hulle magsgrondslag ondermyn en binnelandse maatskaplike spanning aangewakker.

Teen die derde eeu v.G.J. was die Etruskiese grondgebied onder Romeinse heerskappy. ’n Tydperk van Romeinse kulturele verryking, of romanisering, het dus begin. Toe Romeinse burgerskap in 90 v.G.J. aan alle Italiese volke verleen is, het die laaste spore van die Etruskiese identiteit uiteindelik verdwyn. Daar is van die Etruskers verwag om Latyn te praat en hulle is by die Romeinse wêreld ingelyf. Min Romeinse geleerdes het blykbaar ’n poging aangewend om die Etruskiese letterkundige werke te vertaal of selfs net te bewaar. Die Etruskiese beskawing het dus verdwyn en ’n raaisel agtergelaat. Maar dit het ook ’n erfenis nagelaat.

’n Blywende erfenis

Die Etruskiese nalatenskap kan selfs vandag nog in Rome gesien word. Die Romeine is hulle Kapitolynse tempel wat aan die drie-eenheid van Jupiter, Juno en Minerva toegewy is; hulle driedelige tempels; hulle eerste stadsmure en die afvoerkanaal wat die Forum gedreineer het aan die Etruskers verskuldig. Selfs die Kapitolynse wolvin (Lupa Capitolina), die simbool van Rome, is van Etruskiese herkoms. Die Romeine het boonop etlike Etruskiese gebruike oorgeneem, soos die spele wat gevegte tot die dood toe en gevegte met diere ingesluit het. (Vergelyk 1 Korintiërs 15:32.) Paulus het in een van sy illustrasies ongetwyfeld die soort triomftog in gedagte gehad wat van Etruskiese herkoms was.—2 Korintiërs 2:14.

Etruskiese simbole is ook op groot skaal gebruik. Die Etruskiese priesterstaf, wat na ’n herderstaf lyk, is blykbaar die oorsprong van die staf wat deur die Christendom se biskoppe gebruik word. Die Etruskiese bylbundel (stokke wat rondom ’n byl saamgebind is) is as ’n simbool van gesag deur die Romeine, as ’n embleem tydens die Franse Revolusie en in die 20ste eeu deur die Italiaanse Fascistiese party gebruik.

Ten spyte van doelbewuste pogings deur argeoloë om die verlede op te grawe, bly die Etruskers se herkoms en vele aspekte van hulle lewe steeds ’n raaisel.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ETRURIË

ITALIË

[Prente op bladsy 24, 25]

1. Kapitolynse wolvin, simbool van die stad Rome, ’n reproduksie van die Etruskiese bronsbeeld uit die vyfde eeu v.G.J.

2. Inskripsies in Etruskies (regs) en Fenisies (links) op twee goue plate ter ere van Uni (Astarte)

3. Etruskiese sarkofaag van ’n egpaar

4. ’n Etruskiese gewelfde poort uit die vierde eeu v.G.J. Die Romeine het by die Etruskers geleer hoe om boë te bou

5. Etruskiese krater en voetstuk uit die sewende eeu v.G.J. wat gebruik is om wyn in te meng

[Erkenning]

Goue plate: Museo Nazionale di Villa Giulia, Roma; sarkofaag en krater: Musée du Louvre, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel