Skokkende vigs-statistiek!
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA
THEMBEKA is ’n 12-jarige meisie wat in ’n plattelandse dorpie in Suider-Afrika woon. Haar ouers het aan vigs gesterf, en sy moes toe vir haar drie sustertjies van tien, ses en vier jaar sorg. “Die meisies het geen inkomste nie en is heeltemal afhanklik van bure se goedhartigheid . . . ’n brood, ’n paar aartappels”, het ’n verslaggewer gesê. ’n Foto van die vier weeskinders het op die voorblad van ’n Suid-Afrikaanse koerant verskyn wat berig gelewer het oor die 13de Internasionale Vigs-konferensie wat gedurende Julie 2000, in Durban, gehou is.
Miljoene vigs-weeskinders is in dieselfde bootjie as Thembeka en haar jonger susters. Die konferensie het metodes bespreek om die groeiende vigs-krisis te hanteer, soos opvoeding oor die voorkoming van vigs deur die gebruik van kondome, die gebruik van goedkoper vigs-behandeling, wat nou beskikbaar is, en om meer fondse vir die ontwikkeling van vigs-entstowwe beskikbaar te stel. Die kwesbaarheid van vroue, veral jong meisies, is ook bespreek.
Dit is betreurenswaardig dat baie vigs-weeskinders teikens is vir mans wat glo dat seksueel oordraagbare siektes genees sal word as hulle geslagsomgang met ’n maagd het. Baie mans sal ook nie met ’n meisie trou nie, tensy sy eers ’n kind baar. Die gebruik van kondome word gevolglik as iets beskou wat hulle verhinder om te trou en kinders te hê.
Ongelukkig is baie meisies nie bewus van die gevaar van vigs nie. Die koerant Sowetan het kommentaar gelewer oor ’n verslag wat die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF) by die konferensie vrygestel het: “Unicef se opnames het bevind dat 51 persent van meisies tussen die ouderdomme van 15 en 19 in Suid-Afrika nie geweet het dat iemand wat gesond lyk met MIV besmet kan wees en dit aan hulle kan oordra nie.”
Nog ’n faktor by die verspreiding van vigs is die seksuele molestering van vroue. Ranjeni Munusamy, wat die konferensie bygewoon het, het in die Sunday Times van Johannesburg verslag gelewer en gesê: “Geweld teen vroue, die ontstellendste vorm van die man se mag, is nog steeds ’n groot hindernis om MIV te voorkom en te behandel. Die baie vorme wat dit aanneem—verkragting, bloedskande, vroueslanery en seksuele molestering—beteken dat seks dikwels afgedwing word, wat self ’n risikofaktor by MIV-besmetting is.”
Statistiek wat by die konferensie bekend gemaak is, was skrikwekkend, soos die bygaande tabel toon. Elke dag word 7 000 jongmense en 1 000 babas na raming met MIV besmet. In een jaar, 1999, het ongeveer 860 000 kinders in Afrika suid van die Sahara hulle onderwysers weens vigs verloor.
Volgens ’n opname wat deur die Mediese Navorsingsraad van Suid-Afrika gepubliseer is, is 4,2 miljoen mense in Suid-Afrika met MIV besmet, wat 1 uit elke 10 mense verteenwoordig. Die situasie in naburige lande is erger. The Natal Witness het verslag gelewer oor ’n skatting wat die Amerikaanse Sensusburo verskaf het: “Die bevolkings van party vigs-geteisterde Afrikalande sal binnekort begin daal namate miljoene aan die siekte sterf, en die lewensverwagting sal teen die einde van die dekade na ongeveer 30 afneem.”
Die vigs-tragedie is verdere bewys dat die mensdom in die “kritieke tye” lewe “wat moeilik is om deur te kom”, wat die Bybel voorspel het “in die laaste dae” sou gebeur (2 Timoteus 3:1-5). Mense wat God se Woord, die Bybel, liefhet, sien uit na ’n algehele en permanente oplossing vir vigs en alle ander probleme wat die mensdom teister. God se Koninkryk sal binnekort die beheer oor die aarde se aangeleenthede oorneem. In die nuwe wêreld van regverdigheid sal armoede en onderdrukking tot die verlede behoort (Psalm 72:12-14; 2 Petrus 3:13). Die aarde se bewoners sal dan volmaakte gesondheid geniet, en geeneen sal ooit weer sê: “Ek is siek” nie.—Jesaja 33:24.
[Lokteks op bladsy 14]
Wêreldwyd is daar ongeveer 13 000 000 vigs-weeskinders
[Tabel/Kaart op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
AANTAL VOLWASSENES (15 TOT 49 JAAR OUD) MET MIV/vigs, EINDE VAN 1999
Noord-Amerika 890 000
Karibiese Eilande 350 000
Latyns-Amerika 1 200 000
Wes-Europa 520 000
Oos- en Sentraal-Europa 410 000
Noord-Afrika en die Midde-Ooste 210 000
Afrika suid van die Sahara 23 400 000
Suid- en Suidoos-Asië 5 400 000
Oos-Asië en die Stille Oseaan 530 000
Australië en Nieu-Seeland 15 000
[Erkenning]
Bron: UNAIDS
[Grafiek/Prent op bladsy 15]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PERSENTASIE VOLWASSENES (15 TOT 49 JAAR OUD) MET MIV/vigs IN 16 AFRIKALANDE, EINDE VAN 1999
1 Botswana 35,8%
2 Swaziland 25,2
3 Zimbabwe 25,0
4 Lesotho 23,5
5 Zambië 20,0
6 Suid-Afrika 20,0
7 Namibië 19,5
8 Malawi 16,0
9 Kenia 14,0
10 S.A.R. 14,0
11 Mosambiek 13,2
12 Djibouti 11,7
13 Burundi 11,3
14 Rwanda 11,2
15 Côte d’Ivoire 10,7
16 Etiopië 10,6
[Erkenning]
Bron: UNAIDS
[Prent]
Thembeka saam met haar susters
[Erkenning]
Photo: Brett Eloff